Alles begin met Anna. Annemari Coetser
Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Alles begin met Anna - Annemari Coetser страница 7

Название: Alles begin met Anna

Автор: Annemari Coetser

Издательство: Ingram

Жанр: Историческая литература

Серия:

isbn: 9780798176187

isbn:

СКАЧАТЬ en dan staan sy met haar fyn oprygsteweltjies op sy nommertwaalfs en hulle wals oor die sitkamervloer terwyl hy ’n wysie neurie.

      Toemaar, hy weet waar in die huis hy haar sal kry. Sy is nooit ver weg van Gertjie nie.

      “Kyk hoe sterk is hy, Vader,” en sy laat die baba sy klein vuisie om haar vinger vou. “Die stoute klein mannetjie!” kraai sy wanneer hy woes in die waskom skop dat die badkamervloer onder water is.

      Sowat 30 myl van Nicolaas af woon Hester en Hendrik Coetzee, Ma Annatjie se geliefde broer. Nie lank ná haar dood nie sterf ook hulle eie tweeling kort ná geboorte. Die twee seuntjies was net te swak om die uitgerekte kraamtyd te oorleef. Twee dolke deur die ouerharte.

      Twee maande later, te midde van haar eie hartseer, bied Hester aan om Nicolaas te gaan bystaan met die versorging van die moederlose Gertjie. Sy verloor onmiddellik haar hart op die babaseuntjie. Ná ’n week hou sy en Hendrik kamerparlement.

      “My man, kan ons nie maar vir Nicolaas sê ons sal Gertjie as ons eie aanneem nie? Dan maak ons hom as ’n Coetzeetjie groot. Nicolaas het in elk geval nie veel erg aan die kindjie nie.”

      “Ek weet darem nie, vrou. ’n Pa bly ’n pa. Hy’s miskien nou net onbeholpe, maar later sal hy wel …”

      “Asseblief, Hendrik?”

      “Sal dit regverdig wees teenoor ons eie kinders?”

      “Sê nou ons word nie weer met ’n kindjie geseën nie?” Hester is betraand. “Dis nie … Gertjie sal nie die tweeling se plek inneem nie, maar my dae is leeg sonder hulle.”

      “Wat dan van Anna?”

      “Ek weet, dit pla my ook. Anna is baie lief vir hom. Maar sy’s nog klein, my man. Die oomblik wanneer Gertjie weg is, sal sy hom ver­geet.”

      Vir Nicolaas is hulle voorstel ’n verrassing, maar heimlik ook ’n verligting. Hulle sit en praat die aand toe Anna slaap lank daaroor. Nooit moet dit agterna gesê kan word dat Gertjie sonder ernstige besinning na familie aangegee is nie.

      “Ek weet as ek instem, kry Gertjie liefdevolle ouers, maar …” Nicolaas sluk.

      Hester staan op en gaan sit langs hom. Sy sit haar hand op syne. “Swaer, ons sal hom grootmaak asof hy ons eie is. Hendrik en ek het daardie kindjie klaar lief, nè, Hennie?”

      Toe haar man knik, sê sy: “Ons sal hom altyd goed versorg, ek belowe. Miskien kan ons hom nog laat leer.”

      “Ja, swaer,” sê Hendrik. “Ons sal hom al die geleenthede gee wat ons ons eie kinders bied. Ons mag miskien nie baie geld hê nie, maar aan liefde sal dit hom nooit ontbreek nie.”

      “Nou ja, dan is dit maar reg.” Nicolaas sug. “Maar ek wil hê hy moet sy van behou wanneer julle hom aanneem. Hy moet ’n Van der Walt bly. Ek weet nie wat Anna daarvan sal sê nie, maar …” Hy sit kop vooroor. “Ek sal vir aia Sina sê om sy goedjies te pak.”

      Só val die kaarte vir al drie partye reg, asof deur ’n Hoër Hand beplan. Maar ’n vyfjarige dogtertjie huil haarself elke aand aan die slaap.

      “Ons gaan Gertjie nog dikwels sien,” belowe haar pa, maar kom nie sover om te gaan kuier nie.

      Anna treur só dat sy later haar skoolwerk begin verwaarloos. Nicolaas raas en praat mooi, maar sy bly ontroosbaar. Selfs ’n paar rapse help nie.

      Hy het gou ander dinge op die brein. Die lieflike Tjaartina Olivier is een daarvan.

      “Vader gaan weer trou,” kondig hy ses maande ná Annatjie se dood aan. “Jy gaan weer ’n moeder hê, Anna. Is dit nou nie goeie nuus nie? En miskien is daar later nog broers en susters vir jou.”

      “Hulle is nie Gertjie nie.”

      Anna bly dwalend, die swierige bruilof en nuwe moeder ten spyt.

      “Wat is dit tog met die kind?” vra Tjaartina oplaas ergerlik. Sy is swanger en die hitte maak haar gedaan.

      Nicolaas haal sy skouers op. “Ek dink sy verlang nog na Gertjie.”

      “Nou vat haar in hemelsnaam na die mense toe en kry klaar. Haar lip is so lank dat sy dit nog gaan raaktrap. Maar, Nicolaas, dit moenie ’n gereelde ding raak nie. So ’n rondflentery by jou vorige skoonfa­milie is onbetaamlik. En bowendien, jy bederf vir Anna. Sy’s al heeltemal te groot vir haar skoene.”

      Anna is in die sewende hemel toe sy Gertjie weer sien. Hy is die beste, mooiste boetie wat ’n mens kan droom om te hê! Hy herken haar nog, daarvan is sy seker, want kyk net die wakker ogies en breë glimlag toe hy haar sien. Hoe kon haar vader hom weggee? Van al die mense op die hele aardbol deel nét hulle twee dieselfde bloed.

      ’n Paar keer gaan kuier Nicolaas en Anna nog vir Gertjie, maar dis moeilik om ongesiens weg te glip. Tjaartina is so vrugbaar dat sy pal in die ander tyd is of ’n nuwe baba soog, en dan het sy Anna se hulp nodig.

      Lang tye gaan verby sonder dat hulle by die Coetzees uitkom. Hester en Hendrik bly ook maar weg van Nicolaas se kwaai nuwe vrou af. Toe Gertjie ses word, pleit die elfjarige Anna weer by haar pa dat hulle tog vir Gertjie moet gaan kuier.

      Die twee kinders wat mekaar vasgryp, die trane wanneer Nicolaas moet ry, ontstig hom elke keer.

      Op pad terug vra Anna uit die bloute: “Dink Vader Gertjie was ’n goeie ruiling?”

      “Hoe bedoel jy nou, my kind?”

      “Soos Vader soms ’n slagskaap ruil vir tien pond wors of twaalf hoenders, sodat ons ’n verandering van spyse kan hê?”

      Nicolaas se aandag is nie by haar vraag nie. Sy is dit al gewoond.

      “Ek wonder net … was dit darem vir oom Hendrik en tant Hester ’n goeie ruiling? ’n Lewendige Gertjie vir ’n dooie tweeling?”

      Dít het hy gehoor. Maar hy antwoord nie, staan net op en lê die karwats in oor die karperde se rûe.

      Anna sien haar boetie nooit weer nie. Nicolaas weier om haar soontoe te neem en maak nooit weer met sy seun kontak nie. Twee jaar later trek die Coetzees na die Wes-Transvaal, vir alle praktiese doel­eindes vir Anna so ver en onbereikbaar soos die maan.

1.jpg

      Anna met van haar halfbroers en -susters

      Die Here neem en die Here gee – of in omgekeerde volgorde. Nicolaas het allengs elf kinders by Tjaartina. (Net soveel kinders as wat sy verlore seun, Gertjie, uiteindelik op Sannies­hof sou hê.)

      Net een foto van Anna het behoue gebly. Sy was sestien jaar oud. ’n Hele norring kinders staan sedig langs haar – vyf van haar halfboeties en -sussies. Haar taak is om hulle die Trap der Jeugd te leer sodat hulle kan lees en skryf. Sy moet ook sorg dat hulle hul boere­matriek slaag, naamlik om te katkiseer in die kerk.

      HOOFSTUK 2

      ’n Elleridder

      Desember 1935

      Die winkel is vandag buitengewoon stil.

      As СКАЧАТЬ