Название: Alles begin met Anna
Автор: Annemari Coetser
Издательство: Ingram
Жанр: Историческая литература
isbn: 9780798176187
isbn:
Sy kom gou agter dat sy gek is oor dans. Nie dat sy so goed is daarmee nie, al probeer sy hard om by te bly by Hein. Maar hy lag vir haar kort treetjies en swaai haar sommer van haar voete af. Dit doen iets aan haar maag, of iewers ’n bietjie ondertoe, wanneer hy so lekker lag dat die plooitjies om sy oë kreukel. Sy hand pas lekker stewig om haar dun middeltjie en sy wye broekspype flap teen sy bene wanneer hulle in die rondte draai. Haar een arm is oor sy skouer, hy hou haar ander hand styf vas. Hulle vingers is ineengestrengel. Sy mond is teen haar wang, sodat sy die Brylcreem in sy hare kan ruik. Miskien nog ’n soen? Hier voor al die mense? Nee, dis net ’n ligte vegie van sy lippe oor hare, maar dit jaag rillings van lekkerkry teen haar ruggraat af.
Met Hein is die lewe vol grappies, nes Poppie daarvan hou. Partykeer moet sy haarself knyp by die besef dat sy nou al die sondes pleeg waarteen sy haar lewe lank gewaarsku is. Maar wat daarvan? Sy het haar mos voorgeneem om alle dinge te ondersoek en die gevolge te dra. Sy het nog net nie begin rook nie, maar eendag gaan sy dit tog probeer. Sussie Anna kry die papelellekoors as sy moet uitvind, maar tot dusver put sy pure genot uit kaartspel, drank, dans en begeerte, baie dankie.
Een aand bel Faan. Juig my siel met blye galme! Hy vertel haar dat hy nou ’n nooientjie het.
“Een van die dae kom stel ek haar aan jou voor. Ek moet net seker maak dat sy nie ’n skerp mes of gif inpak nie. Ek praat so baie van jou, sy slaan skoon in groen kolle uit wanneer sy jou naam hoor.”
“Ja, ja,” lag Poppie. “Weet sy ook dat jy so ’n vleier is? Maar ek’s bly vir jou onthalwe. En sê vir haar sy het ’n kêrel duisend.”
Laat een lentemiddag klop Hein aan haar kamerdeur. Vandag het hy blinkgekamde hare, pure beeslek.
“Kom kyk wat staan hier buite in die straat,” sê hy en trek haar aan die hand gangaf. Sy het al haar skoene uitgeskop, maar hy is so opgewonde dat hy haar nie eens die kans wil gun om dit aan te trek nie.
Reg voor die losieshuis staan ’n wynrooi kar met wielspeke wat blink in die son.
“En dit?” Poppie slaan haar hand voor haar mond. “Wie se mooi kar is dit? Die magistraat s’n?”
“Myne, skattebol.” Hein druk sy wysvinger teen sy bors. “Hierdie man het nou sy eie ryding.”
“Het jy ’n lening by die landboukoöperasie gekry?”
Hy lag. “Hulle sal tog vir my geld leen.”
“Juis.” Sy loop eina-voet saam met hom om die kar.
“Dis ’n Vauxhall Light Six,” verduidelik hy. “1934 se model. Is sy nie spoggerig nie? En sy kan loop, hoor! Twaalf perdekrag, jy kan jou amper verbeel jy voel die perde onder die enjinkap beur.”
Vir Poppie is meganiese goeters nie juis sierlik nie, maar staan jy langs die kar, sien jy hoe die hoog opgesnyde modderskerms so ’n elegante S-kurwe oor die wiele maak. Soos ’n vrou se skouers in die nuwe mode van prominente skouerkussings. Aan die kar se voorkant sit twee ronde, blink koplampe en net voor die passasiersdeur sit die spaarwiel.
Hein hou die voorste passasiersdeur vir haar oop. “Klim in, dan vat ek jou vir ’n spin.”
Sy wip ligvoets op die trappie en dan tot in die motor, kaalvoet en al. Hein stap om en skuif agter die stuurwiel in.
“Kyk, hier sit die gear lever,” beduie hy. “En dis die choke. Voel die leeroortreksel. Spiff, nè?” Hy tel haar hand op en hou dit op die stuurwiel vas. “Hulle sȇ dís nou die kar waarvan almal praat. En kyk die reenveër.”
Poppie kyk en sy voel. Sy oe en aa, vryf oor die knoppies en streel die sitplekke. Sy leun agtertoe en bewonder die knus agtersitplek en die mooi reghoekige vensters.
Hein draai die sleutel en die enjin vat dadelik. “Hou vas!” roep hy. “Sy versnel skitterend.”
Poppie is ’n koningin toe hulle straataf ry. Soos koning George seker vir sy onderdane wuif, wil sy ook vir die mense waai. Hierdie kar is definitief nie ’n kaalvoetkar nie. Sy moes eintlik haar nuwe wit skoene met die oop toonpunte aangehad het.
Hein druk die toeter en jaag om die draaie sodat sy moet vashou om nie teen hom te val nie.
Toe hy later voor die losieshuis stilhou, sê hy: “Ek het ’n kluitjie gebak. Dis my pa se kar, maar hy’t gesê ek kan dit leen net wanneer ek wil. My oudste broer gaan eendag die plaas erf en ek vermoed dis my pa se manier om die skaal darem so effens in my guns te laai.”
“Bedrieër!” Sy knyp hom liggies aan die bobeen. “Ek het dit in elk geval vermoed, want jy’s net so ’n kerkmuis soos ek. Hoekom hou jy nie van boer nie? Jy’t dan op die plaas grootgeword.”
Hy trek ’n gesig. “Juis. Droogte, hael, swak oeste. Nee wat, dis nie my idee van ’n genotvolle lewe nie. Ek het geen trek vir boerdery nie. My heil lê eerder in die openbare sektor.”
Hein se ouers boer op die plaas Stampriet in die Senekal-distrik. Dit gaan glo broekskeur weens die droogte, maar die Schmidts se interpretasie van broekskeur verskil sekerlik van die Nienabers s’n.
Hy neem Poppie die volgende Sondag Bethlehem toe sodat hy haar suster en broer kan ontmoet. Eintlik seker eerder om met sy pa se nuwe motor te spog, maar Poppie sien geen kwaad daarin nie.
Soos afgespreek, gaan laai hulle vir Sussie Anna ná die oggenddiens by die kerk op. Poppie se oë bly op haar ousus se gesig. Wat gaan haar eerste indruk van Hein wees, en van die feit dat hy met geleende vere pronk? Haar sus kan dwarsdeur mense se aanstellery sien – dit leer sy by haar werk.
Maar Sussie Anna groet Hein baie hoflik en vra uit na die toestand van die pad en hoe lank die reis geduur het. Sy verneem na sy ouers en maak geselsies oor die weer. Poppie is baie trots op haar ousus wat so mooi lyk in haar wit tweestuk met die bypassende wit skoene. ’n Navy-blou serp met wit kolletjies is liggies om haar nek geknoop. Hulle twee Nienabermeisies sal glad nie by die grênd Schmidts afsteek nie, dis nou maar wors.
“Jannie kon ongelukkig nie saamkom nie,” sê Sussie Anna. “Die sendeling het hom saamgenooi na ’n diens in die lokasie. Hy vra om verskoning dat hy jou nie kan ontmoet nie, Hein.”
“Ag, dis jammer,” huigel Poppie.
Dis uitstekende nuus! Jannie kan so ernstig wees dat ’n mens skoon skuldig voel as jy vrolik is en lag. Nou kan haar ousus vir Hein beter leer ken en sien hoe innemend hy is.
Poppie by Loch Athlone
Sussie Anna het gereël dat ant Nelie van die losieshuis vir hulle ’n piekniekmandjie pak. Hulle gaan laai dit op, kuier ’n rukkie by die tante en ry dan na Loch Athlone.
Hein haal ’n reisdeken uit die motor en sprei dit vir hulle op die grond oop.
“Ek het die nodige saamgebring vir ons innerlike versterking.” Hy haal sy bottel Chateau en ’n skroeffles met water uit, asook ’n bottel soetwyn. “Wat van ’n blymakertjie vir julle meisies? ’n Bietjie soetwyn vir jou ook, Anna?”
Sussie СКАЧАТЬ