Название: Alles begin met Anna
Автор: Annemari Coetser
Издательство: Ingram
Жанр: Историческая литература
isbn: 9780798176187
isbn:
Dan het sy en Petronel dit ook in gemeen, dink Poppie, dat hulle sonder moeders moes grootword. Die Liewe Vader was goed vir haar dat sy Senekal toe kon kom. In Petronel het sy ’n wonderlike nuwe vriendin. Oudokter het net die hoogste lof vir haar en die dorpsmense steun swaar op haar. Watter tyd van die dag of nag ook al, Petronel is altyd bereid om te gaan, of sy nou moet voetslaan of fietsry.
Later, nadat Hein almal ’n goeie nagrus toegewens het, stap Poppie saam met hom buitentoe. Hy het weer met sy pa se kar kom kuier. Dis laat, en sy wil nagsê en gaan inkruip, maar Hein soebat dat hulle ’n ent moet gaan ry. Ná sulke opruiende politieke gesprekke is hy altyd meer katools. Om ’n ent te gaan ry is kodetaal vir ’n opsittery in die kar, want hy het selde geld vir petrol.
“Hierdie ding van jou en die Jode …” sê sy toe hulle in die kar klim, en sy probeer om nie aanvallend te klink nie. “Jy ken tog vir Mr Segal. Toe ek hier begin werk het, wou hy my eintlik agter die kruidenierstoonbank gehad het, maar toe ek vra of ek in die klereafdeling kan werk, het hy dadelik ingestem. Hy het ’n goeie hart. Party van die boere skuld hom baie geld, maar as hulle noodsaaklike goed moet koop, skryf hy dit maar altyd weer op die boekie. Ek het nog nooit gesien dat hy iemand in nood wegwys nie. Wat het hy jou al aangedoen?”
Hein lag, maar dit klink meer soos ’n snork. “Ai, Poepie, wie het jou aangestel as kampvegter vir die haakneuse? Julle Nienabers is dan ook Kristene, hoekom is jy so partydig vir ’n Jood? Hulle is teen God, almal weet dit.”
“Dis nie waar nie! Hulle het dan hul eie sinagoge. Hulle aanbid God net op ’n ander manier as ons, maar dit beteken nie hulle is goddeloos nie. Moenie so lelik van hulle praat nie. En moenie vir my kom staan en Poepie nie! Jy weet ek haat dit.”
“Hulle is volksvreemd, om die minste te sê.” Sy stem is bars. “ ’n Spul Kommuniste, die hele lot. Ek kan my ore nie glo dat jy so pro-Brits is nie.”
“Gaan blaas doppies, man. Ek is die laaste mens wat ’n Engelsman se agterent sal lek. My mense het in die Engelse Oorlog geveg, jy weet dit.”
“Dan behoort jy dit nog beter te begryp. Duitsland wil die beste staat in Europa en in die wêreld word. Wat is fout daarmee? Ons Afrikaners het presies dieselfde drang, ons wil ’n Republiek word. Kan jy dit nie verstaan nie? Dis tyd dat ons onafhanklik raak van die Engelse, en met Hitler gee Duitsland ons die geleentheid om die Britse juk af te skud.”
Haar wange brand van ergernis. “Jy bedoel ons gaan Hitler se Bruinhemde na-aap? Die jeug opsweep? Wat het Engeland in elk geval met Duitsland uit te waai? Of met die Jode?”
“Dink jy Brittanje gaan hande gevou sit en kyk wat Duitsland doen? Natuurlik nie! Hulle dink dis hulle reg om orals kolonies te stig. Hulle wil die hele wêreld inpalm.”
“Dis nie te sê dat ek aan die Engelse se kant is net omdat ek nie die Nazi’s ondersteun nie.” Sy stik amper in haar eie spoeg, so verontwaardig is sy. “Aan wie leen jy jou ore uit? Is jou ouers ook ten gunste van … Is hulle ook so anti-Joods?”
“My ouers het niks met die saak te doen nie. Ek dink vir myself. Die Jode sal nooit in die Suid-Afrikaanse samelewing opgeneem kan word nie. Hulle is pleinweg ’n bedreiging vir die Afrikaner.”
Poppie se mond val letterlik oop. “Mense soos Mr Segal ’n bedreiging? Is jy laf? Sy mense het dan in die Engelse Oorlog aan die Boere se kant geveg!”
Hein antwoord nie. Sy sit en bewe van woede.
Ná ’n lang stilte neem hy haar hand in syne. Hy vou dit oop en begin teken met sy wysvinger sirkeltjies in haar palm. “Moenie dat ons hieroor baklei nie, my mooie Poppie. Ek sê jou wat: as daar weer ’n vergadering van die Gryshemde is, kom laai ek jou op dat jy self gaan luister. Ek sal spesiaal geld spaar vir petrol.”
Sy sit nog en stoom. Hy het haar Poepie genoem. Niémand het haar al ooit so aangespreek nie, nie eens die kinders op skool nie. Sy smalende stemtoon, sy blerrie meerderwaardigheid gee haar die horries. As sy haar sonde nie ontsien nie, klim sy uit die kar en stuur hom reguit warmplek toe.
Maar sy bly sit. Dis hulle eerste ernstige woordewisseling. Was sy weer te vinnig op haar perdjie? Nee, dis Hein wat alles begin het. As iemand iets moet terugtrek, is dit hy.
Ná ’n rukkie gee sy ’n sug en haal in die donker haar skouers op. Gryshemde, Bruinhemde. Kan hulle nie maar net uitskei met die kleuretikette, vir hulle ordentlike, modieuse hemde koop en aangaan met die lewe nie?
“Toe, wat sê jy?” vra Hein. “Sal jy saamgaan?”
Hy kyk by die syvenster uit asof haar antwoord nie belangrik is nie, maar sy ken hom al goed genoeg om te weet hy flikflooi.
“As jy wil,” sê sy sag. “Maar is daar nie beter plekke om heen te gaan as jy petrolgeld het nie?”
“So ’n bek moet jêm kry! Waar stel jy voor moet ons gaan parkeer?” Hy lag en trek haar styf teen hom vas.
Het hy haar nou doelbewus gaan staan en misverstaan? Want Hein se kop, of liewer sy hande, is op ’n ander plek. Plekke. Gevaarlike plekke. O, maar dis heerlik as sy hande so aan haar vroetel. Begeerte oorweldig haar. As sy nie nou oppas nie, breek hy deur al haar verskansings. Sy skuif uitasem van hom af weg. Een van hulle twee moet kophou, en dit lyk nie of dit Hein gaan wees nie.
“En nou?” vra hy verbaas. Sy antwoord nie en hy maak die syvenster effens oop. Hy lag. “Jy’s reg. Ons stoom die ruite toe.”
Hulle sit ’n rukkie in stilte, dan trek hy haar weer styf teen hom vas en vroetel met sy neus in haar nek. “Maak vir ons ’n lys van onderwerpe waaroor ons kan verskil, toe? ’n Lang, lang lys.”
Hy klim uit, kom maak die passasiersdeur vir haar oop en druk haar vir oulaas teen hom vas. Toe klim hy fluitend terug in die kar en trek so vinnig weg dat die bande klippers opskop.
Terug in haar kamer is Poppie se bene lam. Dankie tog dat Sussie Anna nie meer ’n kamer met haar deel nie. Sy sou sweerlik kon sien wat vanaand alles in die Vauxhall gebeur het. Of liewer, wat so amper gebeur het.
Poppie kan glad nie aan die slaap raak nie. Die gevoelens en begeertes van die aand word ’n warm geel kokon waarin sy haar wil koester. Sy wil haar daarin toespin, dit weer en weer beleef. So, dís hoe dit is om lief te hê? Sy is so ’n skaap wat hierdie dinge betref. Hoe werk dit dan dat ’n man en vrou so kan verskil? Inderwaarheid soos kat en hond kan baklei oor dinge wat hulle nie eers persoonlik raak nie, en net daarna mekaar op ’n gans ander manier wil opvreet vir die lekkerte daarvan?
Dis eers die volgende dag, in die helder werklikheid van die winkel, dat sy oor Hein se idees begin dink. Miskien stem sy tog met hom saam. In die breë, en nie so lelik soos hy dit gestel het nie. Wat maak dit saak as die Duitsers ideale het om hulle land uit te brei? Die groot moondhede doen dit almal. En Duitsland het mos as volk ook baie gely, net soos die Boere.
Maar wat sy nie kan kleinkry nie, wat iemand slimmer as sy mooi vir haar moet uitlê, is hoe die Jode in die storie inpas. Mense vertel graag allerhande staaltjies oor hoe skelm of onderduims die Jode is; sy het dit al baie gehoor. Glo Hein sulke leuens? Val hy dan ook pens en pootjies vir Hitler se ideologie van ’n suiwer Ariese ras? Dit kan tog nie!
Vandag verlang sy na ou Faan, wens sy dat sy met hom daaroor kan gesels. Hy kan dinge tog so rustig saamvat dat jy sommer klarigheid in jou gemoed daaroor kry. Hoekom hoor sy nooit meer van hom nie?
Soos СКАЧАТЬ