Название: Hermann Giliomee: Historikus
Автор: Hermann Giliomee
Издательство: Ingram
Жанр: Биографии и Мемуары
isbn: 9780624066842
isbn:
Op Porterville het ek aan die tipiese “tweede kind-sindroom” gely en gereeld gerebelleer teen Jan se gesag en teen sommige ouerlike besluite. “Against the government,” het my ma dikwels oor my proteste gesê.
My pa was ’n goed ingeligte, nugter en positiewe mens, wat sy lewe aan sy gesin en die onderwys gewy het. My ma was ’n sterk vrou en iemand met groot toewyding aan haar gesin en ’n verantwoordelikheidsbesef teenoor die arm Afrikaners op die dorp.
My liefde vir die geskiedenis het ek by my pa gekry. In sy geskiedenisklas het hy veral die storie in die geskiedenis en die rol van prominente figure soos Napoleon en presidente Kruger en Steyn beklemtoon. Soms het hy sover gegaan om in sy klas oor die Franse rewolusie die opruiende lied “La Marseillaise” te sing, wat Claude Joseph Rouget de Lisle gekomponeer het.
Ná sy aftrede het my pa hierdie boodskap aan die skool geskryf: “Hou vorentoe in gedagte dat alle kennis en elke ervaring vir ’n mens waardevol is en jou ’n ryker en beter mens maak.” Hy het bygevoeg dat sy loopbaan, ondanks tydelike teleurstellings en terugslae, “gelukkige en vrugbare jare” was.
Een van die teleurstellings was ’n mislukte aansoek vir die hoofskap. Hy het nooit vir ’n hoofskap elders aansoek gedoen nie. Hy het nie die sin daarvan ingesien nie omdat hy hom met die gemeenskap vereenselwig het en hom goed op die dorp kon uitleef. Geldelik was dit vir hom onnodig om ’n senior pos te soek. Hy het goed gevaar met sy beleggings op die aandelebeurs, veral in goudaandele, en kon drie kinders na die Universiteit van Stelllenbosch stuur sonder om ’n lening aan te gaan.
Hy het hom besonder goed op skrif uitgedruk en hy het my gehelp om die boek The Rise and Crisis of Afrikaner Power (Yale University Press, 1979), wat ek saam met Heribert Adam geskryf het, te vertaal. Hy sou ’n voortreflike historikus kon word as hy die kans gekry het.
Oorlog en sy naweë
Albei my ouers het die NP ondersteun behalwe in die dertigerjare toe my pa hom agter genl. JBM Hertzog, leier van die Verenigde Party, geskaar het. Die oorlogsverklaring in 1939, nadat genl. Smuts die oorhand in die party gekry het, het hom na die NP laat terugkeer. My ouers het die NP-regering deur dik en dun ondersteun. Hulle sou NP bly stem selfs al het die spreekwoordelike besemstok in hul kiesafdeling gestaan.
Gedurende die oorlogsjare was ek vaagweg bewus daarvan dat my ouers, soos die meeste Afrikaners, teen Suid-Afrika se deelname as lid van die Geallieerde Magte gekant was. Die parlement het dié besluit in 1939 met ’n skraal meerderheid van dertien stemme geneem, wat hoofsaaklik die Afrikaans-Engelse verdeling weerspieël het.
Dit was nie net Afrikaner-nasionaliste wat gemeen het dat die land nie op grond van ’n baie klein minderheid kon besluit om tot die oorlog toe te tree nie. In haar lewensverhaal Reverberations: A Memoir (1996) vertel die historikus Phyllis Lewsen van JS Marais, ’n gerespekteerde liberale historikus, wat aan haar gesê het: “Geen land behoort oorlog te maak nie behalwe met veelparty-steun … Die meeste Afrikaners, ek ingesluit, het Hertzog gesteun in sy aandrang dat Suid-Afrika neutraal bly.” 11
Die stories wat ek van my ouers gehoor het dat Afrikaners gedurende die oorlog geviktimiseer is, het later geblyk waar te wees. Die Smuts-regering het die beleid van ’n professionele staatsdiens gedurende die oorlog geskrap omdat hy, verstaanbaar genoeg, dit nie wou waag om Afrikaner-nasionaliste wat teen die oorlog was, in strategiese poste aan te stel nie. Daar was talle verhale van Afrikaners op die spoorweë wat onwillig verplaas is of verplig is om vroeg af te tree. ’n Ander groot grief was dat eentalige Engelse amptenare in senior poste aangestel is in die plek van amptenare wat by die gewapende magte aangesluit het.
Rob Davies, wat later ’n ANC-minister sou word, skryf in sy boek Capital, State and White Labour (1979) dat die ontevredenheid onder spoorwegamptenare só groot was dat Paul Sauer, wat ná 1948 minister van spoorweë geword, het, ’n griewe-kommissie aangestel het. Altesame 2 875 Afrikaanse spoorwegamptenare het klagtes ingedien.
Ná 1948 se verkiesing het die NP-regering in die geval van twee poste met ’n hoë profiel skuiwe gemaak wat ’n opskudding veroorsaak het: W Marshall Clark, wat tydens die oorlog oor die koppe van twee Afrikaners as hoofbestuurder van die spoorweë aangestel is, is ’n aantreklike skeidingspakket aangebied en genl. Evered Poole, wat eerste in die ry was om hoof van die generale staf te word, is sywaarts geskuif. Daar is aanduidings dat die bewindsverwisseling nog vyftig offisiere, Engels- sowel as Afrikaanssprekend, nadelig getref het.
Leo Marquard, ’n gerespekteerde liberale kommentator, verklaar onomwonde in sy The Peoples and Policies of South Africa (1969) dat die NP-regering die beleid van ’n professionele staatsdiens teruggebring het. Die NP-regering het wel daarop aangedring dat alle staatsamptenare tweetalig moes wees en dat diegene wat onbillik gedurende die oorlog ontslaan is of verhoging geweier is, vergoed moes word. Dit was eers in die vroeë 1960’s, meer as vyftig jaar ná Uniewording, dat die hoër range van die staatsdiens die wit bevolkingsamestelling weerspieël het.12
Toe ek in die 1980’s oor die politiek begin skryf, het ek dikwels argumente met Engelse kommentators, veral Ken Owen, gehad wat geskryf het dat die NP-regering ná 1948 die staatsdiens verpolitiseer het deur op groot skaal van Engelse amptenare ontslae te raak. Daar is nooit enige bewyse hiervan verskaf nie. Dit was meer die geval dat daar ná die oorlog by Engelssprekendes en Afrikaners wat pro-oorlog was die persepsie was dat daar teen hulle gediskrimineer sou word. Die Staatskommissie sou egter teen blatante onreg optree.
Ek onthou vaagweg hoe die oorlog ons huis geraak het. Daar was ’n gebrek aan witmeel en ’n tekort aan rys. My pa wou nie, soos wat die regering beveel het, sy rewolwer by ’n polisiekantoor inlewer nie, maar het dit in die tuin begrawe. Hy het waarskynlik die bevel dat staatsamptenare uit die Broederbond moes bedank, gehoorsaam. Die brandstoftekort het beteken dat hulle soms van hul plan moes afsien om Grasberg of ander plekke te besoek.
Ek het Anton Rupert, bekende Suid-Afrikaanse sakereus en filantroop, in 1999 gevra wat die deurslaggewende faktor in 1948 se NP-oorwinning was. Hy was onomwonde: “Dit was die oorlog wat die verkiesing in 1948 vir die NP beklink het, nie apartheid nie.”
Ek kan nog die groot vreugde onthou waarmee my ouers die nuus van die NP-sege in 1948 ontvang het. Dit was nie in die eerste plek apartheid wat hulle gemotiveer het nie, maar hul vereenselwiging met die Afrikaner-volksbeweging.
Die NP het 1948 se verkiesing met verskeie planke in sy platform geveg. Daar was:
’n nasionalistiese een wat daarop aangedring het dat die staat so onafhanklik as moontlik van Brittanje moes wees;
’n kulturele een, wat groot waarde geheg het aan moedertaalonderrig en aktiewe betrokkenheid by die Afrikaanse taal- en kulturele beweging;
’n republikeinse een, wat verlang het dat sowel die staat as die wit gemeenskap verantwoordelikheid vir die arm wittes moes aanvaar;
’n populistiese een, wat gemik was teen die groot Engelse korporasies, veral die Anglo-American Corporation, wat oor die ekonomie uitgetroon het. Die doel was om ’n Afrikaanse korporatiewe sektor te vestig (in 1945 is die eerste Afrikaanse maatskappy op die Johannesburgse aandelebeurs genoteer); en
’n rassistiese een, wat wit oorheersing en omvattende diskriminasie teen bruin en swart mense voorgestaan het.
Die Afrikaners van my jeugjare was baie kleurbewus en sommige was openlik rassisties. Tog was daar tussen die “baas” en sy “volk” СКАЧАТЬ