Hermann Giliomee: Historikus. Hermann Giliomee
Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Hermann Giliomee: Historikus - Hermann Giliomee страница 10

Название: Hermann Giliomee: Historikus

Автор: Hermann Giliomee

Издательство: Ingram

Жанр: Биографии и Мемуары

Серия:

isbn: 9780624066842

isbn:

СКАЧАТЬ te bevoordeel en dat sommige mense lid geword het om voordeel te kry. “Dit was nooit die Bond se bedoeling nie,” het hy dikwels gesê.

      My pa het egter nie enige eerstehandse ervaring van die werking van die Bond buite Porterville gehad nie. Nico Smith vertel in sy boek Die Afrikaner-­Broederbond: Belewinge van die binnekant (2009) hoe hy as Broederbonder aangestel is by die Kweekskool op Stellenbosch oor die koppe van twee persone wat veel meer bekwaam was.

      Ernst Stals, in ’n indringende studie van die Bond, skryf dat dit van vroeg af die AB se doelstelling was “om nie net die belange van die Afrikaners in die algemeen te bevorder nie, maar ook om die lede te help om in hul beroepe vooruit te kom”.

      Ek sou later rede hê om te wonder of die AB iets te doen gehad het met die skynbare doodloopstraat waarin my loopbaan op Stellenbosch teen die einde van die 1970’s beland het.

      “Die man wat sy deelname weier”

      “Wees trots op jou eie” was woorde wat ek en ander kinders van my geslag dikwels gehoor het wanneer taal en kultuur ter sprake gekom het. Ons het volkspele in die kerksaal gedoen en dit geniet. Ds. Theron, wat die gemeente gedurende my jeugjare bedien het, het dans vuriglik teengestaan. Eers toe ek op universiteit kom, het ek ontdek dat dans ’n normale vorm van sosiale verkeer was. Ek was toe nogal jammer dat ek nie op skool leer dans het nie.

      Die volksbeweging het groot klem daarop gelê dat elke persoon se bydrae belangrik is. Dit was veral waar wat betref die bevordering en ondersteuning van Afrikaans as openbare taal, wat volgens die grondwet gelyke status met Engels geniet het. Op skool is ek getref deur ID du Plessis se gedig “Soet is die stryd” uit sy bundel Land van die vaders (1945):

      Jy sê die stryd is verlore

      Ons nasie te arm en klein

      Ons taal uit drang gebore

      Wat een van die dae verdwyn? …

      Dis tog die probeerslag wat tel!

      Nee, soet is die stryd van die stryer,

      Al moet hy uiteindelik verloor;

      Maar die man wat sy deelname weier,

      Is die MAN wat sy Nasie VERMOOR!!!

      Toe ek jare later in ’n taalstryd aan die Universiteit van Stellenbosch betrokke raak, het hierdie woorde my steeds geïnspireer.

      Die volksbeweging se oproep in die 1950’s was om nooit jou mense en jou taal as minderwaardig te beskou nie. Ons gesin op Porterville was goed bewus daarvan dat die Afrikaanse letterkunde, veral op die gebied van prosa, nog baie ver agter was by dié van die groot Europese tale. Vir ons was ’n groot gebeurtenis die verskyning van Die Afrikaanse Kinderensiklopedie, waarvan die eerste band in 1948 uitgekom het. In die inleiding skryf die redakteur dat “kindervriende” die boek geskryf het. Onder hulle was NP van Wyk Louw, wie se beskouings oor “lojale verset” en “liberale nasionalisme” my later baie sou beïnvloed.

      Ons was gretige lesers van die jeugtydskrif Die Jongspan, wat, soos die ensiklo­pedie, onder redaksie van dr. CF Albertyn gestaan het. Hy het ná sy uittrede by die Nasionale Pers op sy plaas in die Porterville-distrik kom woon. My pa sou ná sy aftrede as onderwyser hom amper voltyds help met sy groot projek om met sy eie maatskappy ’n verwerking van die Winkler Prins-ensiklopedie uit te gee. Dit het die vertaal van artikels van Hollands na Afrikaans behels en die bywerk van Suid-Afrikaanse materiaal deur plaaslike gesaghebbendes. Die projek was ongelukkig nie ’n finansiële sukses nie.

      Gedurende die eerste helfte van die 1950’s, toe ek in my hoërskooljare was, het dit gelyk of die groot ideaal van ’n republiek al nader aan verwesenliking kom. Daar was ’n bruisende optimisme. Vir my word die tydsgees verteenwoordig deur die eerste strofes van Die Lied van Jong Suid-Afrika, wat ons soms in sangklasse op skool gesing het:

      “En hoor jy die magtige dreuning?

      Oor die veld kom dit wyd gesweef:

      die lied van ’n volk se ontwaking

      wat harte laat sidder en beef …”

      Vir my sê die lied steeds iets oor die optimisme waarmee die Afrikaners van my geslag die toekoms tegemoet gegaan het. ’n “Volk se ontwaking” het min of niks met apartheid te doen gehad nie. As kinders het ons deel van ’n be­weging gevoel wat ons op ’n gelyke voet met die Engelse gemeenskap sou plaas, wat ’n republiek gaan uitroep, wat Afrikaans gaan uitbou en wat ekonomiese en kulturele wêrelde gaan verower. Om die volksbeweging en apartheid as een en dieselfde te beskou, is gewoon vals.

      Nadat die NP in 1948 die verkiesing gewen het, is Afrikaans vir die eerste keer in die praktyk as ampstaal op gelyke voet met Engels behandel. Vir die volgende veertig jaar het Afrikaans sterk as openbare taal gegroei, veral omdat dit so stewig ingebed was in skole en universiteite. Afrikaans het my in staat gestel om universele kennis in my eie taal baas te raak en my op die beste manier uit te druk. Dit het ’n onlosmaaklike deel van my maatskaplike identi­teit geword. Nadat my boek oor die Afrikaners, The Afrikaners: Biography of a People, in 2003 verskyn het, is ek dikwels gevra wat deurslaggewend in die Afrikaners se opkoms in die twintigste eeu was. My antwoord was altyd: moe­dertaalonderwys en toegewyde onderwysers.

      Jean Laponce, ’n Frans-Kanadese kenner van die oorlewing van kleiner tale, het my later meegedeel dat Afrikaans een van net vier tale ter wêreld is – Hebreeus, Hindi en Indonesies-Maleis was die ander – wat in die loop van die twintigste eeu ontwikkel het van ’n gewone spreektaal met lae status tot een wat gestandaardiseer en op alle terreine van die lewe gebruik is, insluitende in nagraadse studies, die wetenskap en tegnologie. Hebreeus en Afrikaans was die enigste twee tale gebesig deur ’n baie klein spraakgemeenskap wat hierdie vordering gemaak het.

      Hoe het Afrikaans dit reggekry om die amper ondenkbare te bereik? ’n E-posboodskap wat ek ná die verskyning van The Afrikaners ontvang het, het die wanopvatting wat in sommige kringe hieroor bestaan, uitgedruk. My korrespondent het die vraag gestel: “Hoe het Afrikaans sy vlak bereik?” Hy het self die vraag só beantwoord: “Dit is in die skole se leerplanne en as ’n sogenaamde ampstaal op die staatsdiens afgedwing.”

      Die feite lyk nogal anders. Die grondwet van die Unie van Suid-Afrika, wat in 1909 aanvaar is, het Hollands, saam met Engels, as amptelike taal aanvaar. Geen taal is “afgedwing” of “bevoorreg” nie; die tweetalige karakter van die staat was die belangrikste simbool van versoening tussen die twee wit gemeenskappe.

      In ’n artikel in The State indertyd het Gustav Preller die Unie se belofte om die twee ampstale op ’n grondslag van die “mees volkome gelykheid” te plaas, as noodsaaklik vir die verkryging van Afrikaner-steun vir die Unie bestempel.17 Dit is goed moontlik dat sonder die handhawing in die praktyk van gelyke status tussen Engels en Afrikaans daar in alle waarskynlikheid ’n slopende stryd tussen die twee wit gemeenskappe sou ontwikkel het, wat die ekonomie ernstig sou geknou het.

      Maar misverstande oor wat by die Nasionale Konvensie besluit is, het lank die verhoudinge tussen die twee wit gemeenskappe beduiwel. FV Engelenburg, Louis Botha se biograaf en stoere ondersteuner van die Suid-Afrikaanse Party se ideaal van Engels-Afrikaanse samewerking, sou later skryf dat terwyl die vaders van die Grondwet die absolute gelykheid van albei tale te goeder trou aanvaar het, Engelssprekende Suid-Afrika die saak nooit ernstig opgeneem het nie. Tweetaligheid is beskou as ’n blote beleefdheidsgebaar teenoor die ander kant – niks meer of minder nie. Die gemiddelde Engelssprekende Suid-Afrikaner was, volgens Engelenburg, geneig om elke vorm van politieke erkenning van die Hollandse taal СКАЧАТЬ