Название: Mara
Автор: Lisette van de Heg
Издательство: Ingram
Жанр: Религия: прочее
isbn: 9780796318633
isbn:
Stadig nader ons die plasie. Net die geklap van die perdepote op die pad en die geratel en gekraak van die kar verbreek die stilte. Met my oë volg ek die bekende draaie na die plasie. Links langs ’n smal sloot sien ek skielik ’n bekende baken.
“Jopie staan nog!” Oupa het die skewe ou knotwilg Jopie genoem, na ’n ou geboggelde man in die kerk wat net so lendelam soos die boom gelyk het en wat elke nuwe lewensjaar vol goeie moed tegemoetgegaan het.
“Jopie staan nog,” herhaal ek saggies vir myself en die gedagte skiet deur my dat die ou man ook nog kan leef. Ek kyk na Tante langs my, wat vrolik knik terwyl sy haar tong klik.
Ons ry by die werf in en ek buig vooroor en maak my rug reguit om alles goed te beskou. Tante gryp my aan my arm, maar ek skud haar ongeduldig af.
“Versigtig, Maria, netnou val jy.”
“Ek sal nie val nie.” Laat my toe om dit ’n oomblik te proe en ervaar; dit was so lank gelede.
Ek haal diep asem en proe die geur van vroeër op my lippe. Geen sout lug, geen waaiende sand nie. Ek ruik modder en groen en diere. Ek ruik die grond ná ’n goeie reënbui. Hier is nie seemeeue nie, maar mossies en lewerike, vinke en mese. Nie ’n gekrys nie, maar ’n getjilp. Blomme, struike en bome, in plaas van sand en duingras. Selfs noudat dit al herfs is en die winter op die loer lê, laat die plantegroei my dink aan velde vol klaprose en wildekerwel, magrietjies en kamille. Ek haal nog ’n keer diep asem en ruik die vertroude geur van my tuiste. My huis. Voorlopig.
Ons vat elkeen ’n hand vol strooi en vryf die perd droog. Dis vreemd hoe vanselfsprekend hierdie taak vir my is, ná al die jare dat ek weg was. Toe ons klaar is, kyk ek toe terwyl Tante die perd op stal sit. Vandat ek Tante op die stasie ontmoet het, wil ek weet wat sy van my dink, hoe haar gedagtes gekleur is deur die woorde in die brief. Die brief wat in hierdie huis vir my lê en wag.
Ek wil graag ingaan in die huis waaraan ek goeie herinnerings het. Dalk is dit vreemd, maar dit voel of die gebou my troos, asof dit ’n mens is. Natuurlik moet ek eers vir tante Be wag. Sy glimlag vir my toe sy aangeloop kom.
“Jy sal verras wees,” sê sy, asof sy my gedagtes kan lees.
“Hoekom, het daar baie verander?” Eintlik wil ek nie daaraan dink dat daar veranderings sal wees nie. Langs mekaar loop ons na die deur wat toegang gee tot die voorhuis.
“Jy sal sien. Ek hoop jy hou daarvan.” Tante maak die deur oop en laat my eerste inloop. Die geur van ’n stoofpot wat al ure op die vuur was, kom my tegemoet, en ek voel skielik honger. Ek bly op die kombuisdrumpel staan en kyk gretig rond. Alles is nog daar: Oupa se stoel met die groen sitplek, die kombuistafel met sewe stoele, twee groot kaste teen die mure en die rooi teëls op die vloer. Ek sien Tante het ’n nuwe koolstoof aangeskaf. Dit lyk mooi en is beskilder met veelkleurige blomme, maar dit is die enigste verandering wat ek met die eerste oogopslag kan sien. Opgewonde klap ek hande en draai om na Tante.
“Niks het verander nie.”
Sy staan laggend agter my, maar nou kom sy ook by die kombuis in, loop by my verby en voor my uit na die voorkamer. Sy loop reguit na die kasbed en maak die deure oop. Tot my verbasing sien ek nie ’n matras en komberse nie, maar netjiese rakke propvol leë inmaakflesse. Sy maak die ander kasbed oop en dit is ook ’n enorme stoorplek, gevul met linne en ’n paar bokse waarvan ek die inhoud maar net kan raai, in plaas van die verwagte slaapplek.
“Waar slaap Tante dan?” vra ek nadat ek ’n oomblik sprakeloos gestaan en kyk het. Dit was tog altyd die plek waar die volwassenes geslaap het.
“Kom saam.” Entoesiasties loop tante Be voor my uit en ek volg haar deur die kombuis tot in die gang. Dit is koud daar en ek trek my skouers op en slaan my arms om my bolyf terwyl ek agter Tante aanloop. Sy gaan reguit na die trap en begin klim.
Boaan die trap is ’n oorloop met drie deure. Twee regs en een links. Met ’n trotse gebaar maak Tante een van die regterkantse deure oop. Sy laat my weer voorloop en ek kom in ’n ruim slaapkamer wat duidelik my tante s’n is. Daar staan ’n mooi bed in die middel, maar wat veral my aandag trek, is ’n groot spieëltafel wat teen die muur staan. Die groot spieël bestaan uit drie dele. Pure, oorbodige luukse. Ondenkbaar in die pastorie, waar net een spieëltjie is. Die dominee gebruik dit om te skeer. Ek sien my eie spieëlbeeld en kyk ’n kort rukkie daarna. Dit is nog skaars sigbaar. Niks om oor bekommerd te wees nie.
Byna niks.
Skaam sit ek my hand op my maag, maak ’n vuis en draai dan om, sodat ek die kamer verder kan bekyk. Ek bewonder die vrolike blommetjiespapier wat die mure versier. Die kleure wit en pienk word in die kamer herhaal, en die uitsig wat ek kry toe ek deur die venster ondertoe kyk, is asemrowend.
“Dis ’n wonderlike kamer!” Dis so anders as waaraan ek by die huis gewoond is. Daar het ons donkergroen gordyne, bruin meubels en klein bedjies met neerdrukkende spreie. Niks blomme nie. Veral nie blomme nie. Hoe lank gelede is dit dat ek en Mamma saam deur die weivelde gehuppel het, albei met ’n mandjie aan die arm wat ons volgemaak het met alles wat ons sien. Magrietjies, perdeblomme, botterblomme, wildekerwel en lekkerruikende kamille. Ek maak my oë toe en sien ons hardloop, hand aan hand en breed aan’t glimlag. Ek ril en maak my oë vinnig oop. Waar kom hierdie beelde vandaan?
“Kom saam, dan wys ek jou jou kamer.” Gehoorsaam loop ek agter Tante aan en sy maak die deur vir my oop. Aarselend volg ek haar by die kamer in. Ek gee ’n gilletjie toe ek rondkyk en op die bed ’n ou teddiebeer sien wat Tante vroeër vir my gemaak het. Ek kon dit nie saamneem toe ons verhuis het nie, en ek was weke lank hartseer daaroor. Ek kyk in haar oë en knik dankbaar. Saggies loop ek deur die kamer en laat my hande oor die wastafeltjie gly, waarop ’n pragtige lampetstel staan. Ek herken dit van vroeër; Ouma was altyd baie trots daarop. Hier is nie ’n spieëltafel nie, maar bokant die wastafeltjie hang daar ’n spieël teen die muur, en op die bedkassie is daar’n vaas met krisante.
Die gordyne is van dieselfde materiaal as dié in Tante se kamer en die sprei wat op die bed lê, is ’n vrolike lappieskombers wat my tante waarskynlik self gemaak het.
“Dis ’n wonderlike kamer,” fluister ek.
“So, dis vir jou mooi?”
Ek knik. “Dit was ’n goeie idee om ’n deel van die solder vir slaapkamers te gebruik. Dis baie mooi, Tante. Wat is daar agter die derde deur?”
Tante Be loop voor my uit en maak die deur oop. Ek kyk oor haar skouer en sien die hooisolder soos ek dit uit my jeug ken. Daar is nog meer as genoeg ruimte oor, sien ek.
“Ouma het baie gou nadat julle weg is, besluit om dit so te laat verbou. Sy het altyd gehoop dat julle as gesin sal kom oorbly en sy wou kamers gereed hê as dit gebeur.”
Ek knik woordeloos en dink aan Ouma en Mamma en Tante. Arme Ouma, sy het sekerlik nooit gedink haar kleindogter sal as ’n swanger banneling in hierdie kamer kom bly nie.
“Ons het natuurlik nie self die ruimte nodig gehad nie, maar toe Ouma dood is en Anna steeds nie opdaag nie, het ek besluit om die kasbeddens te verander. Ek slaap liewer in ’n ruim kamer as in ’n benoude kasbed.”
Tante trek die deur toe en gaan ondertoe.
“Ek is baie verras, Tante. Mamma sal dink dis pragtig!” Die woorde is oor my lippe voordat ek daaroor kon dink en ek bly dadelik stil. Mamma sal niks hiervoor omgee nie, ek weet dit mos. Sy sal hierdie veranderings aan haar ouerhuis in elk geval heel waarskynlik nooit СКАЧАТЬ