Mara. Lisette van de Heg
Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Mara - Lisette van de Heg страница 7

Название: Mara

Автор: Lisette van de Heg

Издательство: Ingram

Жанр: Религия: прочее

Серия:

isbn: 9780796318633

isbn:

СКАЧАТЬ vasgebind en oor my skouer gehang. Die gewig van die ysters het met elke tree swaarder geword, terwyl ek nagedink het oor die gevolge van my yspret.

      Ek het in ons straat afgeloop na die pastorie. Daar het nog in die studeerkamer lig gebrand en ek het skielik hoop gekry. Sou dit moontlik wees om hom te mislei? Miskien as Mamma saamwerk. Ek het agterom geloop en die deur so saggies moontlik oopgemaak. Nie saggies genoeg nie, want Mamma het my gehoor en was binne sekondes by my. Sy het verwyte in my oor gefluister en my terselfdertyd omhels. Sy het my by die kombuis ingetrek en my ’n plekkie langs die koolstoof gegee waar dit warm was. Toe het sy my klere van my lyf af gestroop en ’n dik kombers om my gedraai. Daarna het sy haar arms weer om my geslaan en my op haar skoot laat sit. Met haar fluisterende asem teen my vel het sy bekommerde vrae gevra. Toe het sy stilgebly en ek het haar hartklop onder my oor wat op haar bors gerus het, gehoor. Ek was gekoester in haar warm omhelsing. Ek het besef ek het na haar verlang. Op daardie oomblik was ek seker alles sal regkom. Niks was verder van die waarheid af nie.

      “Sal ek u weer sien?” Die woorde kom oor my lippe en dit lyk of hulle wegwaai voordat die non hulle kan hoor, maar sy het my gehoor en omhels my weer.

      “Wie weet. As die Liewe Heer wil. Wie weet.”

      Sy los my en draai om; dit lyk of sy ook moeite het met ons afskeid. Ek kyk na haar klein gestalte in die swart habyt en forseer ’n glimlag, al voel ek hartseer. Dis beter so, ek mag nie te veel waarde heg aan menseverhoudings nie.

      Die non draai terug en omhels my weer. Ek voel hoe sy iets in my jassak druk. Sy fluister nog ’n laaste “laat dit goed gaan met jou” in my oor. En dit is dit.

      My onhoorbare “tot siens” vergesel haar toe sy van ons af wegstap. Ek sien hoe sy in die rigting loop van ’n ander, jonger non, wat haar opgewonde groet. Ek bly kyk totdat ’n groep mense by ’n trein saamdrom en ek die nonne nie meer kan sien nie.

      Ek steek my hand in my sak en kry ’n klein, opgevoude papiertjie. Ek vou dit oop en sien haar naam en adres. Suster Olivia woon eintlik in Amsterdam. Watter vreemde sameloop van omstandighede het ons by mekaar uitgebring?

      Hoofstuk 4

      “Kom saam, Maria. Jy is seker moeg.” Tante verbreek die stilte en ek steek die papiertjie gou terug in my sak. Ek sal dit mooi bewaar, al het ek die vermoede dat ek suster Olivia nooit weer sal sien nie. Miskien kan ek vir haar skryf.

      Tante buk en tel my koffers op. Ek het net die reissak in my hande en voel skuldig dat ek haar dit laat dra, maar ek stel nie voor om dit by haar oor te neem nie. Die slaaplose nag en die vermoeiende treinreis eis hulle tol, en ek vrees ek sal met koffers en al neerslaan as ek hulle probeer dra. Ons loop buitentoe, deur die stasie se ontvangsaal, waar die mense kom en gaan. Tante loop voor, maar kyk gedurig om of ek kan byhou.

      “Die perdekar staan ’n klein entjie verder. Hou jy nog?” Blykbaar is die moegheid op my gesig te lees, maar ek knik, vasbeslote om by te hou. Ons loop deur ’n besige straat en kom uit op ’n groot plein waar Tante se perdekar staan. ’n Groot bruin hond sit langs die kar en kom stertswaaiend na haar toe gehardloop om haar te groet. Tante gooi die koffers oor die rand van die kar terwyl die hond heen en weer tussen haar bene loop, maar dit lyk of sy gewoond is daaraan en sy struikel nie oor hom nie. Sy vat die reissak by my en gooi dit ook agterin die kar. Toe roep sy die hond en wink vir my.

      Tante vat my hand en bring dit na die hond se neus. “Dit is Maria. Jy moet vriendelik wees met haar.”

      Toe die hond ’n kort blaffie gee, trek ek my hand weg van sy neus en streel hom tussen die ore.

      “Sal ons?” vra Tante. Ek knik dankbaar. Ons moet nog ’n ent met die perdekar ry, so hoe gouer ons vertrek, hoe beter. Ek loop om die kar en klim op die bok. Tante sit al daar en gee ’n kloppie op die sitplek. Die hond spring in die bak agter ons, en ons kan vertrek. Die strate is besig en Tante het al haar aandag nodig om die perd te stuur. My gedagtes hardloop vooruit, in die rigting van die plasie uit my jeug en die lewe wat op my wag.

      Noudat ek ál nader kom, wonder ek wat my ma – of die dominee, ek weet nie wie nie – in die brief aan Tante geskryf het. As dit die dominee was, kan ek my dit voorstel: Jou suster se dogter het haar maagdelikheid weggegee aan die een of ander skobbejak en verwag nou ’n basterkind. Ons wil hê sy moet solank by jou bly. Punt.

      As Mamma die brief geskryf het – wat sy in al die jare nooit gedoen het nie omdat die dominee nie wou hê sy moet kontak met haar suster hê nie – kan ek my nie indink wat daarin staan nie. Want wat weet sy nou eintlik daarvan?

      “Sal jy my vertel wat gebeur het, of wil jy nie daaroor praat nie?”

      Ek wik en weeg haar woorde sorgvuldig. As dit voorwerpe was wat ek kon vasvat, het ek hulle in my hande geneem en hulle van alle kante bekyk om te kan sien waar die angels is en wat die moontlikhede is. Ek sê ’n lang ruk niks, terwyl ek nadink oor haar vraag. Sy gee my die vryheid om stil te bly, ’n maklike manier om nie oor my ongelukkige toestand te praat nie. Aan die ander kant, as ek haar vraag beantwoord, sal die onsekerheid verdwyn oor wat sy weet. Ek besef die gevolg daarvan sou kon wees dat ek juis minder op my gemak voel by haar. Wat sien Tante in my? ’n Onskuldige kind? ’n Onbesonne, jong vrou? ’n Skuldige maagd?

      ’n Slaggat in die pad laat my op die harde houtbank wip. ’n Oomblik lank wonder ek of dit my van my probleem sal verlos. ’n Miskraam sal my goed pas, maar so genadig sal die dominee se god beslis nie wees nie en daarom vra ek ten slotte my vraag.

      “Wat het in die brief gestaan?”

      Tante hoef nie te vra watter brief ek bedoel nie; dit is dadelik duidelik. Sy knik begrypend en klik met haar tong vir die perd voordat sy na my kyk.

      “Ek sal dit vir jou gee wanneer ons by die huis aankom. Dan kan jy self lees.”

      Sy gaan my die brief gee?

      In die pastorie is sulke openheid ondenkbaar; daar is ek nie betrek by volwassenes se sake nie. “Is Tante seker?”

      “Natuurlik, ek sal jou graag vertel wat daarin staan, as jy dit verkies, maar dalk vergeet ek dinge of sê dit op die verkeerde manier. As jy die brief lees, het jy jou antwoord. En nou,” sy kyk glimlaggend na my, “wil ek graag nuus uit die verre suidweste hoor. Hoe gaan dit met my suster?”

      Ek bewonder haar moed om na my ouers se welsyn te vra. In die loop van die jare het dit vir my duidelik geword dat die kontak tussen die twee susters volledig deur die dominee verbreek is. My tante het haar suster verloor. My ma kon net sowel dood gewees het. Ek het die briewe gesien wat in die begin elke week getrou aangekom het, maar nooit beantwoord is nie, en ek weet dat daar nou nog steeds elke maand ’n brief opdaag. My ma lees dit nooit. Meestal onderskep die dominee vinnig die pos, en wanneer dit nie die geval is nie, laat sy die koevert onoopgemaak op die kaggelrak lê totdat die dominee dit sien en opskeur.

      Ek haal diep asem en begin met ’n skor stem oor ons lewe praat. Ek vertel Tante van die mosselkotters, die pastorie en die kerkgebou met die sober binnekant. Ek wei uit oor die klein tuintjie by die pastorie, die winkelier, die bakker en die swaai by die skool. Hoekom ek van die swaai vertel, weet ek self nie, maar my tante luister aandagtig en glimlag en knik en pink af en toe ’n traantjie weg. Ek maak of ek dit nie sien nie en bly praat oor dinge by die huis en oor Mamma. Oor die dominee bly ek stil. Sommige herinnerings kom met moeite oor my lippe en elke keer dat ek Tante iets oor Mamma vertel, druk ek die naels van my regterhand in my linkerpalm, sonder dat sy dit sien. Die fisieke pyn help my om Mamma se verraad teenoor my weg te steek.

      Terwl ek praat, kom ál meer eenvoudige herinnerings na die СКАЧАТЬ