Название: Mara
Автор: Lisette van de Heg
Издательство: Ingram
Жанр: Религия: прочее
isbn: 9780796318633
isbn:
“Watter lied is dit?” vra ek uiteindelik.
“Ken jy dit nie meer nie?” vra sy. “Jou oupa het dit altyd gesing. Dit is die Luther-lied.” Ek knik en probeer om die woorde te onthou, maar dit het verdwyn in die mis van my vroeë herinnerings.
Noudat ek geëet het, voel ek baie beter en het ek meer energie, maar Tante dwing my om uit te rus.
“Jy bly vandag lekker binne. Dis ’n koue dag en jy is moeg en jy is …” Sy bly stil en in my gedagtes vul ek die woord vir haar in: swanger.
Gaan ons altyd so ongemaklik voel wanneer my toestand ter sprake kom? Wat gaan ons doen waneer my maag groot word en niks meer dit kan wegsteek wat in my groei nie? Dit is drie groot treë tot by die deur.
“Ek moet gou toilet toe gaan.” Ek ruk die gangdeur oop. Die toilet is onder die trap, op dieselfde plek as vroeër. Ek loop vinnig daarheen en ignoreer die koue wat van die vloer af deur my sokkies dring. Woes pluk ek die deur oop en laat dit agter my toeklap. In die skemerige hokkie bly ek staan terwyl ek hard asemhaal.
Jy is swanger. Hoer. Niemand kan dit ontken nie. Niemand wil dit ontken nie. Sy stem is skrikwekkend naby, ondanks die afstand tussen ons. Ek maak my oë toe en dwing hom uit my gedagtes deur stadig tot tien te tel. Toe skuif ek die deksel van die gat af en gaan sit.
Op die ou end moet ek teruggaan kombuis toe, terug na Tante, maar ek weier om na haar te kyk en maak of niks gebeur het nie. Maar nie Tante nie.
“Ek gaan nie elke keer op my tong byt om niks te sê nie, Maria. Sal jy omgee as ek dinge doodgewoon op hulle naam noem? Om dinge te verswyg, laat hulle nie verdwyn nie. Ons kan daarom maar net so goed die ongemaklikheid agter ons kry. Is dit reg so?”
Ek knik stadig.
“Dankie, nou is my tong nie meer in gevaar nie.” Sy lag en ek glimlag saam.
“Goed dan, wat ek wou sê: jy’s moeg en swanger, en jy moet ’n bietjie tot rus kom. So, vandag bly jy hier, naby aan die vuur. Jy gaan lekker handwerk doen of ’n boek lees, of wat jy ook al wil doen, solank jy jou net nie uitput nie.”
Ek kyk aarselend na haar. Bedoel sy dit regtig? Moet ek die hele middag doodstil sit?
Sy knik. “Jy kan my môre help.”
“Baie dankie.” Ek voel verlig, want ek is moeër as wat ek gedink het en die vooruitsig om binne te bly staan my aan. Ek bewe steeds, ten spyte van die dik trui, die warm tee en kos. Om nou buitentoe te gaan is allesbehalwe aanloklik vir my.
“Hou jy van lees?” Tante wag nie vir ’n antwoord nie, maar trek my saam voorhuis toe.
“Hier staan my boeke. Dit is nie baie nie, maar ek lees hulle almal graag.” Sy laat haar hand gly oor die omslae wat meestal verslete lyk, en trek twee boeke ’n entjie uit. “Dalk hou jy van hierdie twee.”
“Ek sal kyk,” sê ek beleefd.
“As jy liewer handwerk wil doen, het ek alles hier,” sê Tante en trek ’n laai van ’n groot kas uit. Allerlei kleure gare en stukkies materiaal staar my aan.
“Daar is twee goed waarvan ek hou,” sê Tante, “borduur en kosmaak.” Sy vryf oor haar stewige maag. “En om te eet, natuurlik,” voeg sy laggend by.
Ons loop terug kombuis toe en Tante trek haar klompe aan.
“As jy my nodig het, is ek in die skuur, maar ek sal nie lank weg wees nie, hoor. Ek kom netnou weer in.”
Ek knik en Tante gaan buitentoe. Dit reën weer en ek sien dat sy koponderstebo oor die werf loop. Die hond spring blaffend om haar voete en sy stoot hom met haar hande van haar af weg. Tante is ’n vrolike en lewenslustige vrou.
My voete tintel en ek gaan weer in Oupa se stoel sit. Ek sal netnou handwerk doen, maar nou wil ek eers uitrus.
Die res van die middag gaan gou verby en voordat ek dit besef, het Tante die koeie gemelk en gaan sit ons by die tafel om brood te eet. Toe ons klaar geëet het, voel ek hoe die laaste bietjie energie uit my liggaam verdwyn en ek sit in die kombuis met ’n kop wat knik van die vaak. Tante Be sien dit en neem my na die gastekamer. Sy help my met my klere, kry my nagrok in een van die koffers en stop my diep onder die komberse in. Ek bedank haar en ons soen mekaar goeienag. Dit is al donker, die eerste nag.
Hoofstuk 5
Woorde op papier. Briewe vol venyn. Sielewroegings. Mag ek maar vir u skryf? Ek reken nie op ’n antwoord nie en vra maar net ’n oor wat sal luister.
Wat kan ek verwag van my verblyf op hierdie plek? Ek is bang ek moet vier maande lank leef met die afkeuring en minagting van ’n tante wat ek nie goed ken nie. Is dit beter of slegter as ’n lewe in die pastorie?
Aarselend loop ek by die trap af. Ek weet nie hoe laat dit presies is nie, maar dit is beslis later as wat Tante gewoond is om op te staan. Ek wil liefs sonder om ’n geluid te maak ondertoe loop en stilletjies in ’n hoek gaan wegkruip, maar die trappies kraak met elke tree wat ek gee.
Eindelik is ek onder. Ek bly ’n rukkie staan en luister of ek êrens geluide hoor wat my kan vertel waar Tante op hierdie oomblik is, maar dit is stil en ek loop na die kombuis toe.
Ek klop aan die deur en stoot dit dan stadig oop. Dit is heerlik warm in die kombuis en my oë gly reguit na die koolstoof. Dit straal ’n behaaglike hitte uit en ek lei af dat Tante al lank op is. Ek maak die deur saggies agter my toe en loop verder die kombuis in. Die reuk van varsgebakte pannekoeke hang in die lug. Pannekoeke! Dit het ek lanklaas geëet.
Op die tafel lê ’n papiertjie en ek loop daarheen om te sien wat daarop staan. Ek is in die skuur by die varke. Is nou-nou terug.
Ek kyk by die venster uit, met die vae verwagting dat ek Tante sal kan sien, maar die venster is te klein en die skuur te ver weg. Buitendien is Tante waarskynlik nog binne-in die skuur. Moet ek soontoe gaan om vir haar môre te sê?
Ek gaan stilletjies op die punt van ’n stoel sit. Ek hou my bene netjies langs mekaar en sit my hande in my skoot.
Wat gaan Tante sê wanneer sy inkom? Dit is duidelik dat sy al ure op is en ek het die hele tyd gelê en slaap. En natuurlik gaan sy vrae vra. Ek kyk weer by die venster uit, bang dat ek haar sal sien en dat sy met lang treë op my afgestap sal kom.
Sy gaan my vra wie die pa van die kind is en sy sal wil weet hoe lank ek hier gaan bly. Sy gaan my vermaan en teregwys en miskien nog uitskel ook. My hande volg hulle eie wil en trek aan die fraiings van die tafeldoek. Met vinnige bewegings maak ek ’n vlegseltjie. Dan vat ek drie ander fraiings om nog een te maak.
“Is jy ’n bietjie grieperig, Maria?” Dié opmerking van mevrou Kleut klink vriendelik genoeg, maar sy hang op ’n vreemde, nuuskierige manier oor die toonbank om my te bekyk. Haar glimlag lyk nie vir my opreg nie en ek voel hoe my wange rooi word.
“Jy lyk die laaste tyd ’n bietjie bleek.”
“Mamma wil asseblief ’n pond suiker hê,” sê ek.
“En nog iets?”
“Meel.”
СКАЧАТЬ