Название: Mara
Автор: Lisette van de Heg
Издательство: Ingram
Жанр: Религия: прочее
isbn: 9780796318633
isbn:
“Maria, is alles reg?” Sy trek my agteroor en laat my teen haar borste leun. Ek kan haar hart hoor klop. Die ritme van haar hartklop raak verstrengel met syne. Te naby. Hy is heeltemal te naby. Ek probeer hom wegstoot, maar hy is te sterk en te swaar.
“Gedra jou, Maria.”
Te naby. ’n Suisende gestamp in my ore meng met sy hygende asemhaling. Met moeite kry ek genoeg lug in my longe. Te naby.
“Moet jy iets eet, of het jy iets anders nodig?”
Bekommerd laat Tante my stadig los, maar ek kan voel sy hou my dop. Ek draai om sodat ek na haar kan kyk.
“Niks is verkeerd nie,” lieg ek. Stadig tel ek tot tien terwyl ek rustig en diep asemhaal.
“Ek was net ’n bietjie duiselig, dis niks. Dit gebeur maar in my toestand.” Ek glimlag floutjies.
“Kom ons doen dit ’n ander keer. Kyk vandag maar net hoe ek dit doen.” Tante staan op en steek haar hand na my uit. Sy trek my regop en kyk aandagtig na my om te sien of alles reg is. Al bewe my bene, bly ek stilstaan. Ek kyk reguit in haar oë. Sy hoef nie van my swakhede te weet nie. Oënskynlik gerusgestel knik tante Be vir my en gaan sit weer tussen die koei se pote. Met kalm bewegings gaan sy voort om te melk en toe sy klaar is, vat sy die emmer en stoeltjie en gaan na die volgende koei. Ek volg haar gehoorsaam en kyk wat sy doen, maar my gedagtes is êrens anders, in ’n eensame en bang hoekie.
Eers toe Tante klaar is en die emmers in die melkkanne leegmaak en ek haar help om die emmers skoon te maak, vervaag die herinnerings. Ek voel hoe ek kalmer word. Saam tel ons die melkkanne in die kruiwa. Vanaand ná melktyd moet ons al die kanne langs die pad sit sodat die melklorrie dit kan oplaai.
Ons loop na die skuur waar Tante twee sôe en ’n slagvark het. Toe die skuur se deur oopgaan, kry ek die reuk wat ek nog goed onthou. Varke is vuil diere en ek hou my asem op terwyl ons binnetoe loop. Dit lyk nie of dit Tante pla nie.
“Volgende week kom die slagter,” sê sy. “Dit sal jammer wees as jy dit moet misloop, Maria. Is jy baie seker jy wil nie …”
“Ja, Tante.” Ek val haar in die rede voordat sy haar sin kan voltooi. “Niemand mag weet ek is hier nie. Ek sal na my kamer gaan en my daar besig hou.”
“Dis jammer.” Tante Be vryf haar hande teleurgesteld, maar dit lyk of sy daarby berus dat ek nie by sal wees wanneer die vark geslag word nie. Ek is self bly ek het ’n goeie verskoning om nie by hoef te wees nie.
Ek het al destyds ’n hekel gehad aan die slagter wat net op ’n spesifieke dag kom om sy werk te doen. Daardie man met allerlei gereedskap wat my so laat gru het. Oupa was ál een wat geweet het hoe erg dit vir my was. Hy het altyd gesorg dat die slagter met middagete ’n hele ent van my af sit. Soms het hy dan oordrewe vir my geknipoog.
“Wat gaan ons dan doen as die bure saans kom kuier?”
“Ek bly dan ook in my kamer, ek kan nie anders nie. Die dominee was duidelik genoeg in sy brief. En …”
Ek bly stil, maar my gedagtes glip na mevrou Kleut en haar opmerkings. Ek kyk af en sien die klein bultjie wat my maag maak. Ek ril en voel hoendervleis op my arms. Tante kan daarvan dink wat sy wil, maar ek is nie van plan dat iemand my in hierdie toestand sien nie. En veral nie ’n slagter nie.
Tante voer die varke, en ons is gou weer buite.
“Nog net die hoenders, en dan gaan ons ontbyt eet,” sê sy en loop voor my uit na die hoenderhok, wat nog verder van die huis af is. Onder haar arm het sy ’n mandjie wat sy uit die skuur saamgebring het. Ek herken die mandjie van vroeër. Om die hoenders te voer was een van die take wat ek as sesjarige toegelaat is om te doen en ek onthou nog hoe lekker dit vir my was om vir die hoenders graan te strooi.
Tante maak die hok oop en die hoenders kom buitentoe, nog voordat die eerste graan op die grond lê. Terwyl Tante die die voer kwistig uitstrooi, loop ek by die hok in op soek na eiers. Ek tel my voorskoot op en sit die eiers een vir een daarin. Tante het goeie lêhenne en sy behoort ’n aardige bedraggie op die mark te kan verdien as sy elke dag soveel eiers het.
Toe ons klaar is, het dit al stadigaan ’n bietjie ligter geword. Ons loop in die oggendskemer terug kombuis toe waar ’n stapel pannekoeke wag.
Конец ознакомительного фрагмента.
Текст предоставлен ООО «ЛитРес».
Прочитайте эту книгу целиком, купив полную легальную версию на ЛитРес.
Безопасно оплатить книгу можно банковской картой Visa, MasterCard, Maestro, со счета мобильного телефона, с платежного терминала, в салоне МТС или Связной, через PayPal, WebMoney, Яндекс.Деньги, QIWI Кошелек, бонусными картами или другим удобным Вам способом.