Название: Die biblioteek aan die einde van die wêreld
Автор: Etienne van Heerden
Издательство: Ingram
Жанр: Контркультура
isbn: 9780624089223
isbn:
Nou ja dan, Ma, hierdie kafeetjie is ’n transaksie.
Jy sê mos ek en pa Cat is manipuleerders …
Sy kyk om haar na die ander mense. Versigtig word gedeelde belange ontdek, stadig die uitreik oor historiese klowe, maar selde vind jy daardie beslissende oomblik: “Kom oor vir ’n braai.”
Sy weet: dis vriendskappe wat slegs in die veilige, beperkte omgewing van werk en skool afspeel.
“Maar die verhaal is tog simpatiek, ten slotte, teenoor die swart protagonis,” kenter Elizabeth.
“Surface commitment to feminism,” blaf Thuli uit. “Mens moet dieper kyk. My taak is om jou sensitiwiteitsleser te wees, en vir my as swart vrou kan dit nie. Dit mág nie. Net eenvoudig nie. Kyk hoe word vroue uitgebeeld. Begin maar daar!”
Thuli kyk na Elizabeth. Die ou magteloosheid kom oor haar.
Sy voel asof sy oor ’n verre kloof na Elizabeth kyk.
Hoe kán Elizabeth met ’n man soos Ian bevriend wees? Bloot omdat hy aantreklik en ryk is?
En hoe weet sy Elizabeth wil nie maar net vir haar uitgewery geld maak uit hierdie manuskrip wat haar goedgelowige Boerelesers in hul kulturele ghetto gaan opslurp as ’n hoopvolle teks vir die nuwe Suid-Afrika en die Nuwe Afrikaner nie?
Hoe weet sy Elizabeth sién? Is werklik woke?
Elizabeth sug. “Wow, ek wil dit so graag uitgee. Jy’t gesê jy neem Chinees as vak daar by die universiteit. Of is dit Mandaryns? Daar is tog so baie tale in China. Maar ieder geval, ek dag dis ’n soort scar literature, om die Chinese term te gebruik. “Het jy dié term in die klas gehoor?”
“Nee.”
“Wel, hulle scar literature het die tirannie van die Kulturele Revolusie aangevat, hier in die beginjare tagtig. Maar dit het altyd ’n sogenaamde bright tail bevat. Jy kritiseer Mao se program, jy lê die verskriklike trauma daarvan bloot, maar – en hier’s die groot maar – jy bevestig jou geloof in die nuwe post-Mao-orde, én jou geloof in die Chinese mense.
“Hierdie storie sluit af met só ’n vertroue in Suid-Afrika se mense …
“Jammer, ek gee nou ’n lesing. Maar dalk moet ons in Suid-Afrika van littekenliteratuur praat. Dit kan terug na die Grensverhale strek. Immers is scar literature in China geskryf in dieselfde tydvak as Grensliteratuur hier in Suid-Afrika. En …”
#
“Ek het nog nooit van Grensliteratuur gehoor nie,” blits Thuli. “Wie se littekens praat ons van?
“Wie se grens?”
“Angola …” antwoord Elizabeth.
“Met?”
“Namibië.”
Thuli sit vorentoe. “Maar Suid-Afrika se noordgrens is dúskant Namibië, Elizabeth. So, die begrip grens in Grensliteratuur berus ook in hierdie letterkunde op die opvatting dat die Namibies-Angolese grens eintlik Suid-Afrika se grens was? Word Suid-Afrika se okkupasie van Namibië met ander woorde deur die begrip gelegitimeer?”
“Wel, ek het nog nie so daaraan gedink nie …”
“Wit littekens! Dís waarvan ons hier praat!”
“Maar dit is so ’n sterk verhaal.”
“Maar dis nie sý verhaal nie.”
“Sy?”
“Daai wit skrywer van jou. Hierdie …” Thuli vergeet vir ’n oomblik dat die manuskrip naamloos aan haar voorgelê is. Sy blaai voorkant toe. “Sy naam is nie daar nie,” sê sy geïrriteerd. “Maar ek weet dis ’n man. ’n Wit man. Ek ruik dit.”
Elizabeth byt op haar onderlip. “Raai wat,” sê sy. “Kom ons bestel melkskommels!”
Thuli lag. “Ek is in!”
Elizabeth sit strak voor haar en kyk terwyl hulle wag op die bestelling. Voordat sy vir die afspraak gekom het, het sy die manuskrip met ’n senior kollega bespreek. Die kollega het haar waarskuwend aangekyk. “Weet jy, Elizabeth, soos jy daar sit, weet jy wat die verskil is tussen rassisme en crimen injuria en haatspraak en strafregtelike laster en intimidasie? Indien nie, wat gaan jy doen as jy die boek uitgee en hierdie terme begin op Twitter hardloop? Jy’s net eenvoudig nie gereed daarvoor nie.”
Nou kyk Elizabeth na Thuli Khumalo. “Ek sal eerlik wees,” sê sy. “Ek praat nou oor Afrikaanssprekendes. Wit én bruin. Dis nie maklik nie. Uit die omgewing van waar ek kom, is ons altyd maar katvoet vir enigiets wat lyk na die onderdrukking van mening. Veral die wit Afrikaanssprekendes het met kerk en staat en skool grootgeword – en hul ouers en hul ouers se ouers kom uit ’n nóg erger atmosfeer van onderdrukking. Dis soos baie Afrikaanssprekendes grootgeword het – wit mense en ’n konserwatiewe deel van die bruin gemeenskap. Jy weet mos: his master’s voice.
“Gevolglik is ons altyd waaksaam. Enigiets wat lyk na smoor, na wegdruk, na onder die mat invee – daarteen het ons ’n sterk instink. Dis nou my generasie. Ons wil nooit terugkeer na waar ons ouers was nie.”
“En waar was hulle, en waar was julle?”
Elizabeth kyk na haar hande. “Hulle het jong wit mans Grensoorlog toe gesien gaan. En daardie jong mans het Grensliteratuur geskep. Oor hul oorlogsverhale. Grens soos in die ou Afrikaanse woord vir huil. Ondermynings van die edele-oorlog-idee. Grensliteratuur word nog by heelwat Afrikaansdepartemente …”
“En het enige professor in een van daardie departemente ooit daaraan gedink om wit Grensliteratuur te vergelyk met die skryfwerk van die ander kant? Van die jong Kubaanse soldate? Die inwoners van Angola. Swart Namibiërs?”
Elizabeth kyk byna pleitend na Thuli. Die melkskommels daag op.
“Sjoe, hulle is groot!” lag Thuli.
“Groot verby!”
Hulle suig gesellig aan die strooitjies. Vir ’n oomblik verlore in suiker.
“Ah, oblivion!” lag Elizabeth.
“Kan ek jou Beth noem?”
Verras kyk Elizabeth op: “Ja? Seker? Maar hoekom?”
Thuli trek haar skouers op. “Elizabeth klink so streng. Ek hou van Beth. Dit pas beter by jou.”
“Beth dan.”
Toe hul strooitjies begin snork, skuif hulle die glase eenkant.
Maar Elizabeth bly senuagtig speel met haar strooitjie. Sy rol dit soos ’n slangetjie op en strek dit weer uit, terwyl Thuli haar hande dophou.
“Ek sou sê, moenie uitgee nie,” begin Thuli. “Dit stel die studenteproteste in ’n slegte lig. Ek is nie gemaklik daarmee nie. Dit sal ook die indruk skep dat jul uitgewery nie woke is nie. Dat julle nie verstaan wat kulturele appropriasie is nie.”
Elizabeth sug. “Vir my is die sterk punt van СКАЧАТЬ