Название: Die biblioteek aan die einde van die wêreld
Автор: Etienne van Heerden
Издательство: Ingram
Жанр: Контркультура
isbn: 9780624089223
isbn:
Eintlik sou haar ma ’n beter politikus as haar pa gewees het. Haar ma was sag en beslis en strategies. Binne die fluweelhandskoen ’n ystervuis. “Oppas maar vir jou ma,” het haar pa dikwels geskerts.
Haar ma was nie altyd krities oor die regering se optredes nie. Toe Thuli byvoorbeeld kla oor die regering se patronaatstelsel en die ou ANC-garde wat uitgespeel en tam aan kabinetsposte hang of in allerlei poste ontplooi is en niks uitrig nie, het haar ma verduidelik. “Dis mense wat in ballingskap vir die Beweging gewerk het, Thuli. Hulle lewe lank. Hulle is as agtienjariges uit Suid-Afrika uit om te gaan werk aan bevryding. Daar was nie vir hulle tyd of geld of infrastruktuur om grade te verwerf nie. Hulle het nou geen kwalifikasies of die voordeel van universiteitstudie soos jou generasie het nie. Hulle het hul léwe vir die ANC gegee. Vir demokrasie. Vir jou. Hulle was al die dekades in die buiteland afhanklik van die Beweging vir kos en klere. Toe kom bevryding. En hulle kom terug huis toe.
“Waarheen moes hulle? En as Zuma hulle nou moet afdank, waar is hul oudag? Moet die Beweging hulle uitskop?
“Nee, ons moet hulle eer. Dis ’n oorgangstadium. Dit sal mettertyd beter gaan.”
“En op grondvlak? Op munisipale vlak?”
“Dieselfde storie. Vir die mense is die Beweging alles, Thuli. Dis die groot moeder. Die moeder moet brood gee. Skuiling gee. Jy’s ANC-lid. Jy moet as kader ontplooi word. Die moeder moet sorg.”
“Kyk die diensleweringsbetogings, Ma. Kyk hoe gaan dit omdat die kaders nie kan …”
Toe skiet haar ma terug. “Maar kyk na julle jong mense. Jóú generasie wil nie meer dien nie. Want julle kry buite in die privaat sektor drie maal wat julle in die parlement sal verdien. So ons kan nie ’n nuwe geslag kaders kweek nie. Wat sê jy dáároor?”
Tydens Sello se besoek het Thuli in die gang gehuiwer, net verby die studeerkamerdeur. Haar ma was in die eetkamer voor haar skootrekenaar en Thuli het met spits ore geluister. Haar pa het graag musiek opgesit wanneer Sello daar was. Hulle was veterane van Londen se jazzklubs en het Hugh Masekela en die veel jonger Jimmy Dludlu persoonlik geken.
“Ek ontmoet hom oormôre,” het haar pa gesê. “Vroegaand in Seepunt. Dan sal ons meer weet.”
En dis waaraan Thuli in die seminaarklas sit en dink het terwyl Ian verduidelik van die konferensie in Boedapest en die belang daarvan vir die regstaat en vryheid van spraak in Suid-Afrika.
“Vryheid,” het Ian gesê. “Die kongres se éintlike tema. Vryheid van spraak.”
Nou is dit die laatmiddag dat haar pa sy kontak in Seepunt gaan ontmoet. Thuli het haar ma se klein Audi geleen met die storie dat sy kampus toe moes gaan en onder in die straat gaan wag totdat haar pa se BMW verbygeswiep gekom het. Hy was ’n vinnige bestuurder en sy moes uithaal om by te bly. Haar ma se karretjie, nie meer so nuut nie, ruik na rook. Sy volg haar pa oor De Waal-rylaan stad toe, tot by ’n spoggerige hotel in die middestad.
Sy móés hom net volg toe sy sien met watter tas hy vroeër uit die studeerkamer kom en eers voor die TV in die sitkamer gaan sit om die sesuurnuus te kyk, die tas styf teen sy regterbeen. Thuli het gesien haar ma se oë val ook op die tas. Die tas met die truuks in, het haar ma dit altyd genoem; die tas uit die Struggle-dae in Londen.
Dis toe dat Thuli opvlieg en aan haar ma sê: “Ma, ek moet kampus toe. Ek weet dis laat, maar ek haak vas met ’n werkstuk vir sosiale antropologie. Ek moet by die biblioteek by short loans gou iets gaan kry. Kan ek Ma se kar leen?”
Haar ma, eweneens vervaard toe sy haar pa met die truuks-tas sien, het ontsteld nog aan haar man gesê: “En waarmee is jy nou weer besig?” toe is Thuli al uit by die voordeur.
Nou sien sy haar pa by ’n groot hotel in die middestad stilhou, uitklim, om hom kyk, die kattebak oopmaak en met die tas die hotel instap. Thuli parkeer behoorlik en wag. Sy moet baie versigtig wees. Haar pa is destyds goed opgelei. ’n Halfuur later kom ’n man met die truuks-tas uitgestap. As sy hom nie so goed geken het nie, daardie stappie met sy tone wat hy eerste neersit en die een arm wat effe meer bak staan by die elmboog, sou sy nooit geweet het dis haar pa nie.
Hy lyk heeltemal anders. ’n Bril, ’n bloedrooi pet (waar sal hy dit tog gekoop het?). Ander klere. Hy loop met ’n opvallende hink. Perfek, dink sy, jy doen dit perfek. Die jare in Londen was nie verniet nie. Kyk na jou.
Jy bou vermomming, het sy eenkeer van haar pa gehoor, van binne buitentoe. Die snor is minder belangrik as die innerlike houding. Jy moet jou inleef.
Hy klim by ’n huurmotor in en ry weg, en sy mik agterna.
Die taxi laai hom op die Seepuntse promenade af. Hy staan ’n ruk op die sypaadjie en kyk na die see asof hy dit lanklaas gesien het. Lank en ingedagte staan hy so. Op die agtergrond sit mense gesellig en kuier op La Perla se terras.
Ken ek my pa ooit werklik? wonder Thuli. Wie is hierdie man wat die tuis wees ná Londen so swaar gevat het? Wat, in haar ma se woorde, nie kan vat kry nie. Wat van intrige leef en altyd gespanne is en een dag vies is vir dié en die volgende dag vir daai. Haar pa wat anderdag met dikgehuilde oë teruggekom het van die begrafnis van die swart professor wat sy eie lewe geneem het – en ná sy derde whisky laataand vir Thuli toegesnou het: “Dis wat hom doodgemaak het – júlle studente.”
Voordat sy kon reageer, het haar ma haar by haar ouers se slaapkamer uitgestoot (“Ignoreer hom, die dag was te lank”) en die deur toegemaak. Thuli kon nog hoor: “Julle Valliste en daardie wit …” Verder kon sy niks uitmaak nie, want haar ma het bo-oor betig: “Moenie daaroor praat nie. Die man is dood, dis disrespekvol.”
Haar pa, die man wat binnensmonds in sy selfoon praat en soms in die tuin gaan sit en soos nou, hier, net voor hom staan en uitstaar. Asof hy vir ’n oomblik iets besef en sy gemoed tot stilstand kom.
Hy bring nou sy selfoon na sy oor terwyl hy na die see kyk. ’n Oproep. Hy hink oor die straat en stap die promenade af, na Kampsbaai se kant toe. Dis ’n swoel somersaand en die lig is rosig. Sy rooi pet gloei. Ligte mis styg uit die branders op. Honde en moeders met stootwaentjies en kleuters, drawwers en paartjies hand aan hand. Die palmbome swart afgeëts teen die rosige see.
Hy gaan sit op ’n bankie, en Thuli, ’n hele ent weg, koop roomys by ’n man met ’n rooi houtstalletjie op wiele. Ná ’n ruk sien sy die ander man aankom. Dis ’n wit man, merk sy op, wat uit die teenoorgestelde rigting aangestap kom, ’n lang lel van ’n man met ’n haakneus. Eintlik ’n besonder lang neus; ’n gesig wat jy nie sommer sal vergeet nie.
Hy kom op die bank langs haar pa sit en ná ’n ruk begin hulle gesels. Die man vat kort-kort aan sy groot neus.
Die branders slaan wit oor die rotse. Thuli sal vir jare nog hierdie aand onthou.
Die smaak van vanieljeroomys en die reuk van die see en die krysende meeue wat bo haar duik en die afgeëtste figure op die bankie.
Ná ’n ruk staan die man op en stap weg. Hy stap na ’n motor wat digby hare geparkeer is; sy het hom nie eens gesien parkeer voordat hy by haar pa aangesluit het nie. Sy kan haarself skop. Sy sal versigtiger moet wees. Sy hoop nie die man met die neus het opgemerk dat sy haar pa dophou nie.
Hy ry weg; ’n duur Porsche Cayenne, en nes haar pa gee hy ook skaamteloos vet in Kusweg af. Sy spring agter die stuurwiel in en moet weer haar ma se karretjie druk tot dit loei.
СКАЧАТЬ