Die biblioteek aan die einde van die wêreld. Etienne van Heerden
Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Die biblioteek aan die einde van die wêreld - Etienne van Heerden страница 32

Название: Die biblioteek aan die einde van die wêreld

Автор: Etienne van Heerden

Издательство: Ingram

Жанр: Контркультура

Серия:

isbn: 9780624089223

isbn:

СКАЧАТЬ nie om nie.

      In Woodstock duik die Cayenne in ’n ondergrondse parkeergarage af, onder ’n ou gebou wat eers ’n fabriek kon gewees het. Ja, daar sien sy dit. Nylon Spinners staan daar. ’n Ou teken, behoue deur die argitek, wat met staal en glas ’n ou vervalle gebou omgetoor en dit ’n knap facelift gegee het – sekerlik onherkenbaar selfs vir die ou klerewerkersvakbond se lede wat eens op ’n tyd daar agter hul naaimasjiene hemde gesit en maak het voordat die Chinese die kleremark oorgeneem het.

      7

      In die Tuin van Yu

      “Is jy seker jy manipuleer jou pa nie net weer nie?” vra haar ma. Haar ma se ou storie. Sy, Thuli, wat manipuleer en kompromieë aangaan en altyd, maar áltyd, haar sin kry.

      Waar sy in die boekwinkel met die swart deur sit, dryf die geur van koffie om Thuli. Buite sif mistigheid neer. En tog, by die tuintafels daar buite, sien sy deur die toegewasemde venster bly mense sit, druk in gesprek. Dis modieuse jong mense, tuis hier in die gesofistikeerde sfeer van die Franse Konsessie en weg van benouder ruimtes waar hulle ’n wag voor die lippe moet hou. Hulle gaan nie sommer dat die misreën hulle hier verdryf nie. Dié wat met skootrekenaars gesit het, pak dit weg. Een of twee skuif ’n boek onder ’n plastieksak vol inkopies in. Skynbaar is die tafels hierdie tyd van die oggend gesog, en niemand wil uitwyk binnetoe nie.

      Die selfoon suis in Thuli se oor.

      Haar ma – ver vanuit Kaapstad – se stem: “Met hierdie val-in-die-water-storie? Jou pa is al so opgewerk daaroor, hy sien die Russe daaragter, of die Chinese, of selfs die Britte. Jy weet hoe hy is. Als skop weer in. Dis asof bevryding nooit plaasgevind het nie. Asof ons nie in Rosebank woon nie. Asof die huis nog na hoendertikka stink.”

      In Thuli stu verontwaardigde woede op: Hoe durf Ma sê ek manipuleer julle met leuens! Hier is ek, Thuli, besig om myself in lewensgevaar te stel om juis die wáárheid te soek, en julle kom met stories van manipulering?

      Was julle miskien saam met my en my maats in Yuyuan? Nie? Nou waarvan praat Ma dan?

      Weet Ma dan nie wat daar in Ma se eie huis, onder Ma se neus, aan die gang is nie?

      Maar sy sê dit nie; sy sluk dit af. En juis weens die afsluk kom die ou woede in haar op; haar ouers se gewoonte om haar ou sondes, gedrag waarvan sy reeds vergeet het, op sekere kritiese tye op te rakel. Dinge wat sy al lankal laat vaar het word, wanneer dit hulle pas, opgediep.

      Manipuleer!

      Sy voel duiselig en vee oor haar oë. Kyk om haar, vinnig, om seker te maak sy steur nie die ander lesers nie. Maar almal lyk verdiep, óf in boeke, óf fluisterend aan ’n geliefde. Net een van die katte kyk haar met geel oë aan. Nie die tyd en plek om met jou ma wat in Afrika sit, te stry nie. Sy hou haar asem in en tel tot vyf.

      Jy’s te veel soos jou pa. Spring vinnig weg. Altyd reg. Beterweterige Thuli. Haar ma se ewige beskuldigings. Hardkóppig!

      Dan kom haar pa dikwels tot haar verdediging: Maar dis daardie harde kop van Thuli wat haar dinge gedóén laat kry. Dié dat sy nou is waar sy is.

      Wanneer hy so uit lojaliteit vir haar in die bresse tree, vergeet hy vir ’n oomblik dat sy een van die voorbokke van Fees Must Fall is wat sy kollegas in die ANC so ’n opdraand gee.

      Juis haar hardkoppigheid. Om nie voor witheid te swig nie. Om aan te dring op wat reg is. En op niks minder nie.

      Geen kompromie vir haar, Thuli, nie.

      Sy kyk die kat met woede terug, maar dis asof die kat se uitdrukking nie verander nie.

      In haar ma se vrae sit die ou benoudhede, die vrees dat al die intrige weer van voor af gaan begin: “Wat is aan die gang, Thuli? Is ons dan nou terug in Londen, by daardie verskriklike dae?”

      “Ma, ek het net in die tuin van die tempel gestap.” Sy fluister. “Toe gly ek, en toe val ek tussen die waterskilpaaie. Ek het Pa dit net so vertel. Niks verder ge-ma-ni-pu-leer nie.” Sy pruil die woord in stadige lettergrepe uit. ’n Ou gesinsrusie. Thuli, die tiener. Kry haar sin, kom wat wil.

      Pa se kind. Die man wat altyd sy sin kry. “Jou pa is soos ’n Ses’fikile, spitsuur op die N2,” sê haar ma altyd. “Hy druk deur. Hy vleg en hy briek en hy gee vet en hy mik verby. Altyd vorentoe. Hy kom eerste daar. Altyd. Kom wat wil.”

      Dan sal haar pa met sy vinnige humor kom en die situasie ontlont en vertel van die minibus wat hy die vorige dag ongeskik in die verkeer sien indruk het. Groot, op die agterruit, was geverf: Askies.

      “Ja, Thuli, maar toe vertel jy jou maats jy dink jy’s ingestamp. Dis tog nie sommer gewoonweg dat mense sulke goed dink nie, kind? Daarmee sê jy tog iets vir ons?”

      Haar ma het diep asemgehaal. Thuli kon oor die afstand heen haar die asem hoor intrek. “Wat is tussen jou en jou pa aan die gang?”

      “Ma …”

      “Waar is ons nou al weer?”

      “Maar Ma …”

      “Ek weier om weer daar te gaan. Dis klaar. Dis agter ons. Thuli, moenie sy pad loop nie. Kies ’n private lewe. Los hierdie Fees Must Fall en Rhodes Must Fall en wat-ook-al-nog-moet-val-goeters. Lós net die politiek. Kyk hoe lyk hy. Kyk hoe drink hy.”

      Haar arme ma. Wat dink dis Fees Must Fall-sake. As sy maar weet.

      “Ma, ek kan nie.”

      “Thuli …”

      Toe gryp haar pa die foon. Thuli het, agter haar ma se asemteug, sy voetstappe gehoor, net toe haar ma sê: “Kyk hoe drink hy.” Thuli kon aan daardie voeteval hoor dat haar pa al weer ’n paar sopies agter die blad het. Voordat haar ma nog verder iets kon sê, het hy die selfoon by haar geneem. Oor die suisende afstand kan Thuli die whisky ruik. “Thuls, my darling.”

      Daardie selfde stemtoon van inskiklikheid en intieme sameswering wat sy die aand gehoor het kort ná die debat in doktor Eliot se klas oor die geskiedenis se gewig, toe Ian Brand sy mond uitgespoel het oor die historiese gewig – bedoel hy met gewig waarde? – van die wandade van sy wit stam. Toe sy die aand ontsteld in haar donker kamer lê, te ontstig om die lig aan te sit, toe haar pa afgetrokke tuis kom, en die voordeurklokkie net daarna lui, en sy ou kameraad Sello inkom en hulle in die studeerkamer sigare gaan rook sonder om te besef sy lê ontstig in haar skemer kamer op die divan en hoor grepe van wat hulle sê anderkant die oop studeerkamerdeur.

      Hulle dag hulle en Sello se twee lyfwagte wat onder in die sitkamer sport op die TV gesit en kyk het, was alleen in die huis. Sello en haar pa het in die studeerkamer nogtans met fluisterstemme gepraat, bedag op die moontlike terugkeer huis toe van Thuli se ma, wat jaloers gewaak het oor die nuwe lewe in Suid-Afrika ná al die jare in ballingskap; die lewe van die gesin, van familie, van opvoeding en saambou. Nooit weer terug Londen toe nie. Nooit weer die geheime lewe nie. Nooit weer die vrees vir die klop aan die voordeur en die Boere of selfs hul eie ANC se moordbendes nie.

      Só waak die moederhen.

      #

      Waar Thuli nou in die boekwinkel met die swart deur sit, lê die kat skuins oor haar bobene gedrapeer. Buite reën dit weer liggies, nes die eerste keer toe sy die boekwinkel met sy swart deur besoek het. Dis asof dit vir haar bestel is, die reuk van koffie en ou boeke en bome. Ek wil in China kom woon, dink СКАЧАТЬ