Die biblioteek aan die einde van die wêreld. Etienne van Heerden
Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Die biblioteek aan die einde van die wêreld - Etienne van Heerden страница 30

Название: Die biblioteek aan die einde van die wêreld

Автор: Etienne van Heerden

Издательство: Ingram

Жанр: Контркультура

Серия:

isbn: 9780624089223

isbn:

СКАЧАТЬ ek daardie jong vrou met die Florentynse neus sien, was dit duidelik dat haar popliteale fossas die res van haar liggaam – én haar persoonlikheid – weerspreek.

      “Haar hele wése is afgeknou deur die fisieke defek. ’n Totaal onnodige lelikheid. Haar kniefossas was twee treurige oë wat teen die vrolike bons van haar arms ingaan. Die manier waarop sy haar kop hou.

      “Dit het haar persoonlikheid beveg.

      “En ek kon dit fix!

      “Ek. Ekke!” Knyp. Hy kyk na Ian. “Nou, ek weet van al die ideologiese getjommel op daardie kampus van jou en die ontoegerustes en die doodgewoon dommes. Ek weet van wat julle ek glo korrektheid noem.

      “Pol Pot. Maoïsme. Sjampanje-neofasciste. Na my gevoel. Als gedryf deur skaamte.

      “Maar luister.” Knyp. Hy kyk oor sy skouer. Knyp.

      “Die era van biologiese ingenieurswese met die mikroskyfie wat praat met die biologiese sel is hier.

      “Weet julle ouens daar by UCT daarvan?

      “Daai UCT-student op YouTube wat vir Newton en swaartekrag toegetakel het, die ene wat aanvoer Westerse wetenskap kan nie verklaar hoe toordokters in Afrika weerlig kan stuur om iemand dood te slaan nie?” Ian knik. “Daai ene. Vergewe my. Holy shit. G’n wonder jul professore pleeg al selfdood nie.

      “Luister, ek wil op ’n dag baie graag by jou weet hoe dit polities gaan op daardie kampus. Jy moet vir my verduidelik. Sal jy? Kan dit?”

      Ian maak sy mond oop, maar gou voeg die man by: “Nee, nie nou nie. Jy kom eendag by my kuier wanneer ons terug in die Kaap is. Ek wil als weet. Goed so? Oor hoe dit voel as cisheteronormatiewe mens daar op Bo-kampus. ’n Afrikaner! Ook oor jou praktyk. Dit interesseer my baie. Wat doen ’n tipe prokureur soos jy?”

      Ian knik. Die kans is skraal dat hy hierdie man met sy vreemde idees sal gaan opsoek, maar goed …

      “Ieder geval,” gaan die neus voort. “Ek het ’n markgaping gesien. G’n twee mense se pare popliteale fossae lyk dieselfde nie. Elkeen van ons dra dus ’n unieke stel op die agterknie. Digters …”

      Hy kyk na Ian. “Luister jy?”

      Ian knik.

      “Jy werk met boeke daar in jou kursus, jy sal weet – digters besing hande, lippe; hulle besing wimpers en hare. Maar na my wete bestaan daar geen gedig oor die fossa nie. Dis ál deel van die lyf wat in die algemene spreektaal nie ’n naam het nie.

      “Jy praat van jou knie, jou maermerrie of oksel.

      “Maar die popliteale fossa is ’n versweë liggaamsdeel.

      “Dis ongesê.

      “Dis die groot geheim.

      “Die laaste toevlug van skoonheid.”

      Ian knik na die chirurg, bedoelende: Genoeg. Ek begryp. Maar die man interpreteer dit as ’n teken om verder te vertel.

      “Boonop het ek nog nooit ’n onpaar kniefossas gesien nie. Agterknieë kom in twees. ’n Rorschach-beeld: jou persoonlikheid verdubbel. As jou popliteale fossas sleg lyk, is jy dubbeld verdoem. Maar as die fossas goed lyk, is dit ’n bate – nes fynbesnede hande of opvallende oë.

      “Van al die pare van die lyf is die agterknieë die mins besonge.

      “Soos ek al gesê het.

      “Sien!”

      #

      Nadat die Airbus op Schiphol tot stilstand gekom het en terwyl hulle wag om uit die vliegtuig te stap, skakel Ian sy selfoon aan. ’n Whatsapp van Elizabeth: dis ’n foto van die chaos op Sweedse paaie nadat dié land in 1967 die kant van die pad waar motoriste ry, verander het. Eers het jy links gery, nou regs. Die motors lê soos verstrooide dominoblokkies oor die teerpaaie; jy moet lag daarvoor. Skeef en krom, links en regs, kruis en dwars. Elizabeth skryf daarby:

      Is dit nie wat gebeur het toe die Berlynse muur getuimel het en als verander het nie?

      Skielik, ’n ander wêreld.

      Geniet Boedapest!

      Ander boodskappe begin instroom. Maar hy is moeg. Agterna sou hy wonder: Hoekom het jy die inkomende stroom geïgnoreer? Sonder om ná Elizabeth se boodskap verder na sy sel te kyk, skakel Ian dit af.

      Hy moet vry uitstap.

      #

      Thuli het skaars geluister na Ian se verduideliking oor hoekom dit so belangrik is dat die klas hom verskoon vir sy reis na Boedapest. Voorop in haar gedagtes was nie die getjommel in die klas wat haar die gevoel gegee het van ’n steil bult wat jy moeisaam met lam bene moet uitklim nie. Dit was haar pa en sy ou kameraad uit die Londen-dae, Sello, se fluistergesprekke in haar pa se studeerkamer.

      Sy was gewoond aan hul gekoukus – veral sedert haar ma een aand reguit aan haar pa gevra het of dit waar is dat Sello die man is wat van die Kaapse Vlakte se bekendste bendeleiers na Zuma se Kaapstadse ampswoning Genadendal gebring het vir ’n geheime vergadering.

      “Watter vergadering?” het haar pa skerp gevra. “Dit is fopnuus. Propaganda gedryf deur opposisiepartye.” Thuli het die stemtoon geken. As haar pa só klink, moet jy net daar stop.

      En haar ma het inderdaad geswyg.

      Maar Thuli het ook al op die kampus die gerugte oor hierdie vergadering by die presidensiële ampswoning gehoor. ’n Keer of wat het iemand daarna verwys en dan het ander in die geselskap se oë na haar geflits. Soos altyd wanneer daar oor die ANC-regering geskinder is. Hulle’t deeglik geweet wie haar pa is. Wanneer sy opkyk, het hulle dan weggekyk.

      Haar pa het wel later stilweg laat val dat Sello, ’n lojale en waardevolle kader, die kontakman was vir hoë polisie-offisiere wat met bendeleiers wou vergader “om die bendeoorloë te ontlont en te probeer uitvind watter polisie-eenhede betrokke is by wapensmokkelary”.

      Sello is ’n diplomaat, het haar pa verduidelik. Hy help die polisie ook met die probleem van die bakleierye tussen die maatskappye wat klubs en restaurante bewaak in die Kaapse stadskom en elders. “Uitsmyteroorloë,” was sy term.

      “’n Kriminele Kissinger,” het haar ma gebrom.

      Haar pa: “’n Kader. Niemand wat hy nie ken nie.”

      Verder as dit het dit nooit gegaan nie. Sello was net altyd daar. Haar pa se skaduwee.

      “Sit dit in jou spam-lêer,” het sy Sello hoor sê toe sy die vorige dag uit haar kamer kom en die gang afstap om toilet toe te gaan. Haar pa en Sello was by sy lessenaar in die studeerkamer, waar geraamde foto’s uit die Struggle-dae gehang het, ook ’n gemonteerde koerantplakkaat van Mandela se vrylating. Hulle’t intens in gesprek voor haar pa se rekenaar gesit en die kamer was blou van die sigaarrook. Hulle was so besig dat hulle haar nie gesien verbykom het nie.

      Waarom is Sello deesdae so gereeld by hulle aan huis, en die gesprekke so ernstig en gedemp?

      Thuli was bekommerd. Haar pa kon soms onbesonne wees. СКАЧАТЬ