Название: Melodie Omnibus 3
Автор: Annelize Morgan
Издательство: Ingram
Жанр: Эротическая литература
isbn: 9780624084693
isbn:
“Totsiens, Lettie,” groet Reinhard styf. “Dewald, gee jy om om Lettie weg te sien?”
“Nee, met plesier doen ek dit.”
Lettie gee Reinhard nog ’n laaste smekende kyk voor sy uitstap. Hy slaak ’n sug van verligting toe hulle voetstappe gangaf weerklink. Hemel, dis nie asof hy nie iets vermoed het nie, want hy laat haar altyd bloos en sy kyk met skaapoë na hom. Hy het net nie verwag dat sy ’n liefdesverklaring aan hom sou kom maak nie. En dat sy boonop oor Monique en haar man sou kom skinder nie.
Sowaar, dis ’n riller. As die kapteintjie hiervan moet weet, sit sy nog ’n verdagte op haar lys.
Hy is besig om vir hom koffie in die kombuis te maak om tot verhaal te kom toe Dewald inkom.
“Snaakse tjerrie daardie. Sy het gevlug dat jy net hakskene sien. Arme ou Lettie. Monique het altyd sulke vaal pelle gehad, sodat hulle moes afsteek en sy mooier kan vertoon. Van hakskene gepraat: toe ek opdraf by die berg, sien ek ’n paar baie mooi hakskene voor my. Ek tjek haar toe eers uit en toe sien ek dis jou oulike eksie en buurvroutjie, professor Kira Trollip. Ek kan dink wat jy destyds in haar gesien het, maar Monique was natuurlik mooier. Sy was té mooi, daardie sussie van my. Dit het die ouens mal gemaak. Dit het jou ook seker mal gemaak.”
Reinhard probeer sy humeur beteuel, maar hy moet omtrent op sy tande kners. Die malheid was baie tydelik, wil hy sy swaer toesnou. Ook dat hy Kira Trollip moet uitlos – maar hy weet hy het geen reg om dit te doen nie. Hy besit haar nie. Nadat hy haar vir Monique gelos het, het hy geen reg of besitreg nie. Spyt kom te laat …
“Ek gaan vir middagete na ’n kollega se huis,” sê hy kil. “Hulle het my lankal genooi en ek dink nie ek moet aandring om ’n onverwagte gas saam te bring nie. Jy moet jouself maar help met wat in die huis is.”
Die telefoon lui en Kira antwoord.
“Hallo, is dit die mooi professor?” vra ’n olierige stem wat sy nie herken nie.
Sy vervies haar altyd vir so iets. “Dis Kira Trollip, ja. Wie praat?”
“Die nimlike Dewald Walters,” kom die stem terug en dit voel asof haar hare rys. Tog nie daardie vent nie. Wat wil hy hê?
“Ja, Dewald, wat kan ek vir jou doen?”
“Ou swaer Reinhard is hier weg na mense vir ete, toe wonder ek of jy nie iewers by ’n oulike restourantjie ’n ou happie saam met my wil gaan nuttig nie? Dit kan net lekker wees.”
Kira vries. “Nee, ongelukkig het ek ook ’n afspraak, Dewald. Jammer, hoor.”
“Ag, vervlaks. Dis jammer. Miskien anderdag?”
Sy maak ’n geluid wat enigiets kan beteken. “Totsiens, Dewald.”
“Totsiens, Kira.”
Sy sit die telefoon neer en kreun. Die ellendige man wou haar vanoggend op die berg inhaal en sy moes baie vinnig draf om te ontsnap. Nou wil hy haar vir ete neem. Sy sal hom definitief moet afskrik, want saam met hom wil sy beslis nêrens gaan of gesien word nie.
“Ugh,” sê sy kliphard net toe Liana by die sitkamer inkom.
“Wie was dit? Waarom lyk jy so gegril?” vra Liana. “Was dit die kaptein, of die polisie?”
“Nee, dit was die nimlike Dewald Walters, soos hy homself genoem het.”
Liana grinnik. “Wou hy jou date?”
“Ja, hoe weet jy?”
Liana lag. “Ek het gesien hoe verslind hy jou met sy oë. Hy dink natuurlik hy is God’s gift to women. Jy sal hom maar moet vermy. Ek sal jou help verskonings uitdink.”
“Jy is my beste suster.”
“Ek weet. Ook jou skouer en beskermer. Laat hy net met jou probeer peuter, dan hang ek hom onderstebo op.”
“Jy dink tog nie ek sal my deur so ’n vent laat vermaak nie! Buitendien het ek nie vir die man gejok nie, want ek het mos ’n date met Deon. As dit moet, sal ek soos ’n tandetrekker lieg om daardie Dewald van my lyf af te hou.”
Hulle lag albei, maar toe kyk Liana haar skewekop aan. “Ek dag jy stel nie regtig in Deon Schoeman belang nie?”
“Ag, hy hou so aan dat ek maar naderhand ja gesê het. Ons gaan net by daardie visplekkie in Dorpstraat eet.”
Kira sug innerlik. Dis of sy sedert Reinhard weer enkellopend is nog minder vir ander mans kans sien. Sy weet dis verkeerd en dom, want hy is onder ’n wolk en hy het haar bitter seergemaak en verwerp.
Erken dit maar: jy begeer hom nog steeds al het hy wát gedoen, kla die stem van haar hart haar aan.
Net toe Kira en Deon by die huis aankom, kom Reinhard ook met sy motor aan. Sy sien dat hy na hulle kyk en met ’n knik groet, maar sy gesig is stroef, bykans onvriendelik.
Wat het nou weer gebeur? wonder sy. Lyk hy so omdat sy swaer by hom bly, of omdat hy haar saam met ’n man sien?
Asof hý nou jaloers sal wees, koggel ’n klein stemmetjie haar. Hy voel niks meer vir jou nie.
Buitendien, sy moet versigtig wees. Al wil sy dit nie glo nie, het hy dalk uit woede sy vrou oor haar ontrouheid vermoor.
Lucille skakel haar motor met ’n sug aan. Wat ’n uitmergelende dag. Om heeltyd in die motor te sit, so ’n veilige entjie van Reinhard Brand se huis af, en spioen te speel, met net toebroodjies om te eet en louwarm koeldrank om te drink, is regtig nie haar idee van Sondagvermaak nie. Veral nie as die kraaie flou word van die hitte nie. Haar klere kleef behoorlik aan haar vas.
As Jaco Peens haar nie geskakel en gesê het hy dink sy vrou gaan by die professor kuier nie, was sy nie ure lank hier nie. En toe hét sy vrou kom kuier. Wie is die man saam met wie sy uitgestap het? Dit lyk of hy by die mooi professor oorbly. Sy sal moet gaan ondersoek instel.
Nou ja, dan was die professor nie alleen saam met Jaco Peens se vrou nie. Peens het dit laat klink asof daar iets tussen sy vrou en Reinhard Brand aan die gang is en dat die professor sy vrou daaroor uit die weg geruim het. Wragtig, dis of sy in ’n doolhof voortploeter. Mense beskuldig ander asof hulle dink dit gaan die druk op húlle verlig.
Die drade word al meer. Hier is baie van wat die Engelse hanky-panky noem aan die gang. Hanky-panky … Dit klink so snaaks, sy wil altyd lag, maar die werklikheid van so iets is nie snaaks nie. Jaloesie maak mense moorddadig.
Die professor het kort voor middagete uitgegaan en toe gaan Kira Trollip ook met ’n man uit. Daar is dus iemand in haar lewe. Sy is nie regtig op die rak nie, maar dis te verstane, want sy is mooi en sjarmant.
Die interessantste gebeurtenis is egter dat Lucille met haar verkyker kon sien dat Reinhard Brand aan sy kant van die heining met die Trollips soos ’n dief gesluip het om Kira en die man by haar af te loer toe hulle nog in die motor sit en gesels het. Hulle het darem nie gevry nie.
’n Mens sou dit nooit van hom verwag nie. Wat sou dit beteken? Dat hy nog iets vir haar voel en jaloers СКАЧАТЬ