Название: Melodie Omnibus 3
Автор: Annelize Morgan
Издательство: Ingram
Жанр: Эротическая литература
isbn: 9780624084693
isbn:
Maar hoe kon hy so brutaal waaghalsig wees? Hy moet mos weet dat almal hom sal verdink.
“Professor, daardie swaer van u … Ek wil net ’n bietjie navraag doen oor sy omstandighede in Bloemfontein. Het u vir my kontaknommers?” vra Lucille Wiid toe sy ingehaas kom. “Ons sal hom ook moet soek, want ons moet hom ondervra.”
Reinhard gee haar Dewald se selfoonnommer en sy adres en telefoonnommer in Bloemfontein.
“Ons volg dit op, professor,” verseker sy hom. “U kan maar gaan slaap, dis al vieruur in die oggend. Moet net nie enigiets aanraak nie en hou ander mense uit, asseblief. Ons vingerafdrukdeskundige kom môre.”
“Dankie, ek sal so maak. Koffie voor u gaan, kaptein?”
Sy wil eers ja sê, maar bedink haar. “Nee dankie, professor. Laat ek maar bed kry. Môre is nog ’n lang dag. Lekker slaap, as dit moontlik is.”
“Jy ook, dankie.”
Die volgende oggend is Reinhard net klaar aangetrek en geskeer toe sy selfoon lui.
“Professor, u swaer se selfoon gee ons net ’n spookstem. Ons het polisiebeamptes na sy adres in Bloemfontein gestuur, maar hy woon glo al geruime tyd nie meer daar nie. En sy besigheid, Precious Pools, is bankrot en toegemaak,” sê Lucille Wiid.
“Nou toe nou!”
“Ons gaan hom in Stellenbosch soek. Hy is nie getroud nie, of hoe?”
“Nee. Dankie dat u my laat weet het. Ek gaan nou die sekerheidsmaatskappy skakel sodat hulle die plek van voor af kan kom beveilig.”
“Goeie idee, professor. Ek sien u netnou weer.”
Die kaptein lui af en hy staan nadenkend daar. Dis heeltemal geloofbaar dat Dewald gehoop het om iets uit Monique se boedel te kry. Hoe meer hy daaroor dink, hoe meer vermoed hy dat Dewald vir die begrafnis gekom het nie slegs oor hy verwag het om te erf nie, maar om die huis te leer ken en dit vir hom maklik te maak om toegang te kry.
Gelukkig dat hy nie die kluis oopgekry het nie, want die goed wat daarin was, is derduisende rande werd. Gelukkig is dit nou veilig in ’n bankkluis. En dit wat wel gesteel is, is in gewone terme reeds waardevol.
Die polisie is ’n kortkop agter Dewald – hy sal mos nooit wegkom nie. Wat het hom besiel, of is hy só desperaat vir geld?
Deur die sitkamervenster sien hy ’n polisiemotor stilhou. ’n Man met ’n tassie klim uit en kom na die voordeur.
Hy maak oop. “Is u die vingerafdrukdeskundige?”
“Ja, ek is. Môre, professor. Speursersant Immelman. Aangename kennis.”
Reinhard neem hom na Monique se kamer. “Doen wat u moet doen, sersant. Niemand sal u pla nie.”
Soekie kom in die gang af. “Wie is nou weer hier, Professor?”
“Die vingerafdrukdeskundige. Laat hom maar in vrede werk.”
Sy kyk senuagtig na die deur van die slaapkamer. “Om te dink dat iemand sommer hier kan inkom en ons besteel! Ek word nou rêrig bang.”
“Ek gaan die sekerheidsmaatskappy ontbied en hulle sal alles herinstel sodat ons nuwe kodes het.”
Sy selfoon lui en hy antwoord. “Kaptein Wiid? Het u my swaer opgespoor?”
“Nog nie, professor. Terloops, die polisiewag wat by die Trollips moes wees, was weg toe die inbraak gebeur het. Liana Trollip het aangedring dat hy gaan, want haar vriend het by haar gebly. Boonop het sy ’n alarmstelsel laat installeer. Dit wys jou net: mens moenie onverskillig of gemaklik raak nie. Van vandag af laat ek daardie buurt patrolleer. In julle geweste gebeur daar nou te veel snaakse dinge na my sin. Ek is in elk geval nou-nou daar – ek wil u graag iets wys.”
“U kan nou kom, want oor ’n uur en ’n half moet ek uitgaan.”
“Professor, herken u dié handskrif?”
Lucille het die brief wat Lettie Peens haar gegee het só gevou dat sy net een reël vir hom wys.
Jy hou aan om te vra en ek is nou moeg daarvoor, lees hy fronsend.
“Herken u dié handskrif, professor?”
Hy bestudeer dit ’n oomblik lank. “Dit lyk na Monique s’n. My vrou s’n. Maar waar kry u dit?”
“Ek sal u later sê, professor. Het u enige voorbeeld van haar skrif?”
“Ons kan in haar laaie gaan kyk. Of na wat sy in die telefoonboekie geskryf het.”
Hulle gaan soek en vind ’n ou inkopielys in Monique se handskrif. Lucille vergelyk dit met die brief.
“Lyk dieselfde, maar dit kan vervals wees. Ek sal dit vir ’n handskrifdeskundige gee.”
“Wat het u daar, kaptein?” vra hy, want hy kan sy nuuskierigheid nie meer beteuel nie.
Sy kyk onderlangs na hom. “Soos ek gesê het, ek sal u later wys. Op die oomblik is dit nog te vertroulik. Ek kan u net sê dat dit iets is wat ek by haar vriendin Lettie Peens gekry het.”
Hy lyk so gefrustreerd en verydel dat sy hom jammer kry.
“Sodra die handskrifdeskundige bevestig het of dit eg is, sal ek u kom wys.”
“Nou goed dan.”
Hy klink egter vies. Sy kan dit verstaan, maar sy moet hom ook nie so simpatiekgesind wees dat dit haar swak maak nie.
Конец ознакомительного фрагмента.
Текст предоставлен ООО «ЛитРес».
Прочитайте эту книгу целиком, купив полную легальную версию на ЛитРес.
Безопасно оплатить книгу можно банковской картой Visa, MasterCard, Maestro, со счета мобильного телефона, с платежного терминала, в салоне МТС или Связной, через PayPal, WebMoney, Яндекс.Деньги, QIWI Кошелек, бонусными картами или другим удобным Вам способом.