Название: Melodie Omnibus 3
Автор: Annelize Morgan
Издательство: Ingram
Жанр: Эротическая литература
isbn: 9780624084693
isbn:
Jy is verspot om sulke goed aan hom toe te dig, vermaan sy haarself.
“Hallo, julle,” hoor sy Liana se stem. Toe sy omdraai, staan haar suster daar saam met ’n vreemde blonde man wat besonder aantreklik sou wees as hy nie so ’n swak ken gehad het nie.
Reinhard loop dadelik nader. “Hallo, Dewald.”
“Hy was by jou huis toe ek hierheen stap,” verduidelik Liana. “Toe hy vra of ek weet waar jy is, het ek gewonder of jy nie dalk hier is nie.”
Wie sou dit wees? wonder Kira. Hy lyk vaagweg bekend.
“Ontmoet my swaer, Dewald Walters,” stel Reinhard hulle voor, en sy gesig is meteens stroef. “Dis Geert de Boon, Liana Trollip, Geert se meisie, en Kira Trollip.”
Kira snap dadelik dat dit Monique se broer moet wees. Sy het nie geweet Monique het ’n broer nie, maar sy het die vrou ook nie goed genoeg leer ken om van haar familie te weet nie.
Dewald skud hand met almal en toe hy by Kira kom, bekyk hy haar vrypostig op en af. Dit lyk asof hy hou van wat hy sien, maar dit stoot haar eerder af as om haar te vlei.
“Jy is mos swaer Reinhard se eks van jare gelede, of hoe?”
Sy bloos verleë en voel vies; Monique moes hom van haar vertel het. Sy let terselfdertyd op dat Reinhard lyk asof hy hom vererg.
“Ja.” Sy is kortaf en half onbeskof, maar dié Dewald Walters is uiters taktloos om so ’n vraag te vra.
“Ek het jou eers môre verwag,” sê Reinhard.
Dewald kry ’n onegte soort hartseer uitdrukking op sy gesig. “Ag, ek kon nie langer uitstel nie, toe kom ek maar. My arme suster. Niemand wil só doodgaan nie.”
Die atmosfeer is meteens koud en allesbehalwe gemoedelik. Kira ril effens.
“Ons kan teruggaan na my huis,” stel Reinhard koel voor, sy oë grys soos onweerswolke en sy kakebeen gespanne.
“Nee wat, ek sluit sommer by julle aan.” Dewald kyk weer in Kira se rigting asof hy verwag sy moet dit verwelkom, maar sy staan stokstyf met haar handdoek in die hand.
“Ek glo nie jy moet nie,” sê Reinhard. “Ons het baie om oor te praat. Gee my net kans om aan te trek, dan gaan ons huis toe.”
Die aankoms van dié karakter het alles bederf, dink Kira. Instinktief hou sy nie van hom nie. Hy is vrypostig en sy oë sit te na aan mekaar. Sy is spyt dat Reinhard gaan, maar bly dat hy Dewald Walters saamneem.
“Ek kan darem vir jou iets te drinke aanbied,” sê Geert vir Dewald.
“Ja, asseblief. Ek ry al heeldag van Bloemfontein af. Bier, as dit yskoud is, sal lekker wees.”
Hy gaan sit sommer en Geert bedien hom. Kira vang Liana se oog en sien dat haar suster se een wenkbrou opgegaan het. Sy vang ook ’n gly in die man, besef Kira.
Reinhard verdwyn by die huis in. Dewald kyk hom vlugtig agterna en toe kyk hy na Kira. “Is jy nie ’n professor of iets nie?”
“Ja, ek is ’n professor of iets. My vak is Romeins-Hollandse Reg.” Dit klink katterig, maar hy lok nogal so ’n reaksie uit.
Hy kyk haar ’n oomblik verbaas aan en draai dan na Liana. “En wat doen jý vir ’n lewe?”
“Ek is ’n landdros.”
Hy fluit. “La-di-da! Tussen julle twee behoort julle my suster se moord te kan oplos.”
Kira moet haarself dwing om kalm te praat. “Ons is regsgeleerdes, nie speurders of polisie nie.”
“En wat doen jý vir ’n lewe?” vra Liana.
Kira onderdruk ’n glimlag, want Liana klink asof sy iemand in die hof ondervra.
“O, ek het ’n swembadmaatskappy, in Bloemfontein.”
Hy kyk na die swembad. “Dis eintlik ’n fout om ’n swembad te hê wat so groot en reguit is. Dit neem te veel ruimte in beslag. Ek bou vir mense nier- of hartvormige swembaddens, met rotse en watervalle.”
Nou lyk Geert ook geïrriteerd. “Ek swem vir oefening. Ek kan dit nie doen in ’n swembad wat soos een van die menslike organe lyk nie.”
Kira sluk haar lag en sien dat Liana hare ook inhou.
Op dié oomblik kom Reinhard uit die huis, ten volle geklee. “Ons kan gaan, Dewald. O, ek sien jy drink ’n bier. Maak maar eers klaar, dan gaan ons.”
Hy gaan sit op ’n stoel, maar lyk ongeduldig en haastig.
Kira is nou dubbeld selfbewus, want hy kyk na haar en die afstootlike Dewald kyk ook na haar asof hy wil bepaal wat sy swaer destyds in haar gesien het. Sy wil haar rok aantrek, maar haar baaibroek is te nat en die rokkie sal net kleef.
Al raad is om die handdoek oor haar bene te drapeer, want die blikke van Dewald se snaakse groen oë gaan heeltyd soontoe.
“Oukei, ek sien jy is haastig,” sê hy vir Reinhard, sluk die laaste van die bier vinnig af en staan op. “Totsiens, dames en heer. Dankie vir die bier. Sien julle weer, want ek gaan ’n bietjie by my ou swaer bly.”
Reinhard groet en sê: “Moenie saamstap nie, Geert.”
Met ’n stroewe gesig lei hy Dewald uit.
Toe hulle weg is, sê Geert: “Verdomme, maar dis ’n man wat my hare laat rys. Ongepoets! Lyk ook nie juis of hy rou nie. Alles is so … aangeplak.”
“En hy gaan by arme Reinhard bly,” sê Liana.
Kira knik. “Ja, arme Reinhard. Ek wonder vir hoe lank? Seker tot ná Monique se begrafnis.”
Geert kom sit en leun vorentoe. “Ek moet julle tweetjies voor stok kry.”
“O, waaroor nogal?” vra Liana.
“Julle het vir daardie kapteintjie gesê ék het vertel dat Jaco Peens se motor alewig hier geparkeer gestaan het.”
“Sy sou dit wel uitgevind het.” Liana klink vies. “Dis iets wat die ondersoekbeampte moet weet.”
“Ag, wat maak dit saak?” vra Kira, want sy sien die twee gluur mekaar aan en hulle baklei eintlik nooit. “Sy is baie skerp, hoor. ’n Mens moet haar beslis nie onderskat nie.”
Geert gee ’n snork. “Ja, sy is soos ’n bulhond. As sy byt, los sy nie. Sy sal jou skud totdat sy al die inligting wat sy soek uit jou uit geskud het.”
“Ek hou nogal van haar, maar jy is reg,” stem Kira saam. “Sy gaan nie een van die spreekwoordelike stene onaangeroer laat nie.”
Geert staan op. “Ek gaan haal die snoek, СКАЧАТЬ