Melodie Omnibus 3. Annelize Morgan
Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Melodie Omnibus 3 - Annelize Morgan страница 12

Название: Melodie Omnibus 3

Автор: Annelize Morgan

Издательство: Ingram

Жанр: Эротическая литература

Серия:

isbn: 9780624084693

isbn:

СКАЧАТЬ ons tee drink en haar nog tyd gee om op te daag?”

      “Dit sal gaaf wees, dankie.”

      Kira gaan kombuis toe. Sy kom agter dat sy liggies bewe. Genade, wat gaan nou met my aan? wonder sy. Ek hoef mos nie bang te wees nie.

      Om haar kalmte te herwin, maak sy sommer self tee. Sy is verlig toe sy Liana se motor hoor aankom. Dankie tog vir ’n weerligafleier.

      Liana en die kaptein is druk aan die gesels toe sy met die skinkbord tee op die stoep uitgaan.

      “Haai, sus, Lucille vertel my nou wat die nadoodse ondersoek opgelewer het,” sê Liana.

      Kira sit die skinkbord neer. “Dis seker taamlik voor die hand liggend, of hoe?”

      Lucille kug. “Mevrou Brand is met ’n mes gesteek waarvan die lem breed is, soos ’n slagtersmes. Die tuinier is oor die kop geslaan met ’n harde, stomp voorwerp. Hy is ook in die gesig geslaan of geskop. Die persoon of persone wat albei moorde gepleeg het, moes sterk gewees het.”

      Kira voel hoe haar maag draai. “Hoe aaklig! Dis nie te sê ’n man het dit gedoen nie, is dit?”

      Lucille skud haar kop. “Nie noodwendig nie. Ek sou dit byvoorbeeld ook kon regkry.”

      “Sal Reinhard nou sy vrou kan begrawe?” vra Kira.

      “Ja, hy sal binnekort kan.”

      Liana skink ’n koppie tee en gee dit vir die kaptein aan. “Jy het gesê jy wil my oor iemand uitvra.”

      Lucille skink eers melk in haar tee en voeg drie lepels suiker by. “Ja. Hoe goed ken u … julle … die Peense?”

      Kira en Liana wissel ’n blik. Kira weet sommer haar suster dink ook aan Geert se bewering dat Jaco Peens baie by die rivier geparkeer het.

      “Ons ken hulle van sien en so aan, maar ons is nie vriende nie,” sê Liana. “Lettie Peens en Monique Brand het alewig oor en weer gekuier. Ek skat hulle was beste vriendinne.”

      Moedswillig sê Kira: “Waarom vra jy?”

      Haar vermoede dat Riki weer geskinder het, word beaam, maar nie op die manier wat sy verwag het nie.

      “Mevrou Smit beweer dat meneer Peens geld by die Brands wou leen, want hy is glo in finansiële moeilikheid.”

      “Wat? Ek dag Jaco Peens rol in die geld,” roep Liana uit. “’n Ander ou se geldsake is ook dikwels duister.”

      Lucille kyk haar onderlangs aan. “Professor Brand het glo geweier.”

      Kira frons. “O, en toe probeer Jaco dit uit Monique kry?”

      “Hoe weet u dit?” vra Lucille onmiddellik.

      Kira kan haarself skop. Nou moet sy verduidelik. “Nee, ek bespiegel maar net. Sy was in eie reg glo skatryk. Hulle was in elk geval goeie vriende.”

      Die kaptein kyk bykans agterdogtig na Kira. “Sou u beweer dat sy hom besonder simpatiekgesind was?”

      “Sy motor is onlangs dikwels hier naby geparkeer gesien.” Kira kry dadelik spyt dat sy dit verklap het.

      Liana sien blykbaar haar ongemak, want sy kom tot haar redding. “Geert de Boon, my vriend wat langs professor Brand woon, het dit beweer.”

      Kira kyk hoe die kaptein die inligting registreer en dat sy weer ’n aantekening in haar boekie maak.

      “Meneer De Boon is ’n prokureur met ’n praktyk op die dorp, nè?” sê-vra die kaptein.

      Kira knik. “Ja, hy is.”

      “Jou tee word koud, Lucille,” sê Liana. “Terloops, jy kan maar die ge-u los. Ons is Liana en Kira – ons is nie formele mense nie.”

      Lucille roer haar tee en teug daaraan. Sy knik instemmend, al keur sy dit nie regtig goed dat ’n mens te eie raak met getuies en verdagtes nie. Sy ken Liana darem al ’n paar jaar lank. Die twee susters het haar in elk geval pas ’n goeie leidraad gegee. Wat as die Peens-kêrel uit magtelose woede vir Monique Brand aangeval het? Nadat sy ook geweier het om hom te help, en dit terwyl hy desperaat is?

      Was hy nie dalk verlief op haar nie? Toe wil sy niks meer van hom weet nie en hy word so kwaad dat hy haar vermoor? Passiemoorde het immers baie variasies.

      Die tuinman het dit gesien en toe slaan Peens hom katswink en gaan gooi hom in die rivier. Hy sal sterk genoeg wees om dit te kan doen, en sonder dat iemand hom sien, natuurlik. Wel, dis nog ’n moontlikheid om op te volg.

      Liana skink vir haar ook tee, maar sy staan en kyk na Lucille. “Dis natuurlik moontlik dat Jaco Peens ’n vreeslike uitval met Monique gehad het … Wag, ek moet liewer nie jou werk oorneem nie.”

      Lucille se oë is waaksaam. “Professor Brand was weg en die honde het meneer Peens geken omdat hy gereeld hier gekuier het?”

      “Nee, wag,” sê Kira. “Waarom sou hy Monique wou doodmaak as hy dalk ’n verhouding met haar gehad het?”

      “Hier’s ’n baie groot slang in die gras,” knik Lucille.

      “Lettie,” sê Liana opgewonde. “Sy het uitgevind en in haar woede, vernedering en jaloesie haar mededinger vermoor.”

      “Daar is nou so baie verdagtes dat arme Lucille nooit die saak opgelos gaan kry nie,” merk Kira droog op.

      Lucille kyk uitdagend na haar. “Watch my. Ek sal dit nog uitpluis, al is daar hoeveel aandagafleiers. Hierdie saak gaan my maak of breek.”

      “Dan hoop ek dit maak jou,” sê Kira en sien met verbasing dat Lucille vir haar die mooiste glimlag gee.

      “Dankie vir die tee, maar ek moet nou gaan,” kondig sy aan. “Julle was vandag ’n groot hulp.”

      6

      Lucille lui die voordeurklokkie. Sy hoop die prokureur is tuis, want sy het spesiaal op dié tyd gekom om hom kans te gee om van die werk af te kom. Dis nog lig en dis soel vanaand, sodat sy wens sy kon nou gaan stort.

      “Toe nou,” sê sy hardop. “Maak oop. Ek het nie lus om met jou te sukkel nie.”

      Eers ná ’n ruk gaan die deur oop en daar staan die man in sy baaibroek. Nie sleg nie, dink sy. Liana Trollip het goeie smaak.

      “Meneer De Boon, ek is jammer om al weer te pla, maar daar is net iets wat ek met u wil uitklaar.”

      Hy stoot sy onderlip uit asof hy dink dis nie geleë nie, maar sy kyk hom dwingend aan.

      “Goed dan,” willig hy in. “Ek weet nie wat ek u meer kan vertel as die bure nie, maar kom in. Gee u om as ons agtertoe gaan? Ek was besig om die swembad skoon te maak, daarom dat dit my so lank geneem het om die voordeur te kom oopmaak.”

      “Nee, ek gee nie om nie. Enige plek is goed genoeg om te gesels.”

      Toe hulle deur die huis loop, dink sy dat dit glad nie sleg СКАЧАТЬ