Web. Naomi Meyer
Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Web - Naomi Meyer страница 7

Название: Web

Автор: Naomi Meyer

Издательство: Ingram

Жанр: Триллеры

Серия:

isbn: 9780795801211

isbn:

СКАЧАТЬ ’n kweekhuis van glas probeer bou? ’n Fabriekswinkel wil oopmaak en ’n stapel klere binne ’n dag wil aanmekaarstik? Laas keer moes ’n brandweerman haar by die vullishoop gaan haal, waar sy haar enkel geswik het terwyl sy op soek was na “’n skroef, of iets wat kan draai”.

      Die wag is altyd die ergste.

      Trouw het nie die krag om die skottelgoed te was nie. In die yskas is daar darem nog wyn oor, en een skoon glas in die kas.

      Liesbet kom eers môre. Sy moet maar met haar ma praat dat hulle ’n plan maak om Liesbet ’n derde weekdag ook te laat inkom, sy hou nie by met die skottelgoed én die wasgoed nie.

      Eintlik behoort sy terug te gaan werk toe, maar sy kan Sophia nie in die oë gaan kyk as sy so voel nie. Sy sien ook nie kans om haar te vertel van die finansiële verknorsing van die afgelope tyd nie. Sy sit eerder op haar eie met die gebakte pere. Die gebakte pere én ’n blik ingelegde pere, dis al wat in die kas is. Hoe nou, met dié dat dinge tussen haar en die boyfriend oor en verby is? Dis waaroor sy eintlik met die shrink moes gepraat het vandag, die graveyard wat haar love life is, maar sy het nie kans gesien nie. Nie ná alles wat sy oor haar ma gesê het nie.

      Hy gaan seker nooit terugkom ná die spectacular fight gisteraand nie, die bokbaard-Bok.

      Sy het al opgehou om geïrriteerd te wees met haarself as sy telkemale vir dieselfde blueprint van ’n carbon copy van ’n man val. Bokbaardjie. Intelligente oë. Mooi hande. Goed met woorde. Lief vir homself. Rondneuker.

      Sy moes die patrone herken het; sy het dit immers al so baie gesien. Die details en omstandighede verskil, maar daar is elke keer soveel raakpunte. Eers kan hy nie genoeg van haar kry nie, dis ’n ereksie met die intrapslag. Dis kaal swem en honger monde en sweet en wit gordyne wat waai en baie drink en suig en nagte wat sy vir altyd sal onthou en nagte waarvan sy net ’n groot blur onthou.

      Sy haal die wyn uit die yskas.

      Die vieslike skottelgoed, sy het lus en gooi die vuil eetgerei weg.

      Tog ironies: Bok kan so higiënies wees. Sy het al gedink dis OCD soos wat hy sy hande kan was. Bang vir kieme op die rekenaar se keyboard. Bang vir kieme aan enige ding, dis hoekom hy nie die gemors op sy woonstel se vloer optel nie. Dan versamel hy eerder die bokse. Gril te veel vir skottelgoedwater om sy hande daarin te steek en op te was. Hier by haar ma se huis was daar nie vir hom opwashandskoene nie. Liesbet worry mos nie daaroor as sy die skottelgoed was nie.

      Daardie weird gewoontes van Bok is nie meer vir Trouw cute nie. Sy is moeg vir mal mense.

      Of het Bok se ma altyd alles vir hom gedoen en toe het hy verleer om sy hande te gebruik?

      Daardie mooi hande van hom. Sy kan nie presies onthou waaroor hulle gisteraand baklei het nie.

      Die kere wat sy nugter genoeg was om te onthou, was die seks amazing. En as dit nie was nie, was daar altyd RedTube. Die eerste keer toe Bok haar daaraan bekendgestel het, was sy behoorlik afgesit deur al die ontblote geslagsdele. Maar as sy saam met hom na die kanaal gekyk het, het hy ten minste gebly. En dan het die video-wellustelinge se geluide haar steeds gehinder, maar nie meer so kwaai nie. En dan het hy ook nie meer hoofsaaklik in die internet belanggestel nie, maar weer in háár.

      Solank die vrou nie te hard kerm nie, want dit was nie vir Trouw lekker nie – asof daar iemand saam met hulle was. ’n Regte mens. Nie net die bokkoppe van al die baie minnaars wat denkbeeldig teen die mure sit en haar dophou met hulle glaserige oë nie.

      Sy kán onthou waaroor hulle baklei het. Dis omdat hy weer net op sy foon gekyk en oor die internet met haar probeer praat het in plaas daarvan om aan haar aandag te gee.

      Nee, sy gaan nie nou vir haar wyn skink nie. Sy sit die bottel terug en maak die yskasdeur toe. Sy gaan ook nie langer hier by die huis rondhang nie. Sy is moeg gewag. Sy raap haar motorsleutels van die kombuistoonbank op.

      Die gedagtes volg haar egter motor toe, soos ’n lastige swerm vlieë. Pateties. Move on, jy is ’n vrou van die een-en-twintigste eeu! Tipies: Bok begin toe belangstelling verloor – en haar werk begin daaronder ly. Hoekom is hy so … afwesig? Sy oë kyk vir haar, maar hy sien haar nie raak nie. Soos gisteraand.

      En dan Sophia ook nog. Sy wat dink sy’s so special omdat sy ’n ruk lank oorsee gewoon het. Sy wat gedink het sy gaan ’n vet salaris verdien elke maand. Kennelik het Sophia vergeet woorde betaal nie. Hulle twee het dit immers jare gelede, voor die internet werklik ’n faktor was, saam in daardie BPhil-joernalistiekklas geleer.

      Trouw ry by die hek uit en kyk tog maar in die straat op en af of sy nie haar ma of die stalker gewaar nie.

      Sy is verbaas om ’n samedromming van jongmense ’n ent van die huis af te sien. Is die universiteitsvakansie dan al verby? Sy dag die studente is nog weg en almal wat in die dorp woon, kry nog maklik parkeerplek. En soveel van hulle wat saamdrom, hier tussen die woonhuise van Stellenbosch se Mostertsdrift, was daar ’n ongeluk?

      Is dit ooit studente? Sy kan nie agterkom nie. Die mense lyk of hulle nie almal dieselfde ouderdom is nie, en party dra die klere van huiswerkers. Is dit ’n groep van ’n politieke opposisieparty wat die parlement gaan bestorm? Maar om hier op Stellenbosch op ’n sypaadjie te staan en gesels, hoe eienaardig. Nee, ook nie almal huis- en tuinwerkers nie, daai is ’n mixed bag van mense.

      Die groepsaamtrek is darem ver genoeg en sy kan in die teenoorgestelde rigting na haar werk toe ry.

      Terwyl sy bestuur, dink sy daaraan dat sy gehoop het Sophia sal iets van hulle joernalistiekkursus kan onthou. Maar sy het ’n ander mens teruggekom van oorsee af; iemand wat ’n Ierse paspoort in haar handsak ronddra. Sophia onthou niks, nie van die land waar sy vandaan gekom het nie en ook nie hoe alles hier werk nie. En van die digitale toekoms, van die wêreld soos dit aanlyn werk, weet sy nog minder. Seker maar ook oor sy kinders het.

      Die wêreld het verander en dit verander elke dag nog meer. Mense lees nou anders. Hulle aandagspan is korter. En hoe kry jy hulle om boeke te koop of te download? Mens moet hulle vang, so vinnig soos ’n spinnekop ’n vlieg in sy web. Voor hulle weet wat aangaan, moet hulle vassit.

      “Dis hoekom dit BoekWeb is, get it?”

      Ja, het Sophia geknik.

      Maar nee, Trouw kon sien sy verstaan niks daarvan nie. Sy moes geweet het ’n vrou met kinders pas nie in die corporate world nie.

      Sy parkeer naby haar werk, verwilder die boemelaars en stap na die kantoor. Dit kom by haar op dat sy werklik nie nodig gehad het om terug te kom werk toe nie. Sy besef ook hierdie paniekerige dryfkrag het te doen met die belaglike e-pos wat sy nou die dag van ’n vals adres af ontvang het. Sy behoort haar nie daaraan te steur nie.

      Hei, ek’s die hoof van hierdie website, herinner sy haarself. Ek ry weg van die huis af waar my ma my doen en late bepaal. Ek kom na hierdie kantoor en hierso regeer ek. Spam en blog-trolle ofte nie, hierdie website het iemand nodig om te sorg dat die antivirusprogramme nog reg funksioneer. Iemand moet by hierdie kantoor kyk dat BoekWeb se digitale heelal werk soos dit veronderstel is om te werk. Sophia sal nie weet hoe om elke dag die bigger picture in die oog te hou nie. Ek moet on top of things bly. As simple as that.

      Nou praat sy boonop met haarself. Kompleet asof sy stemme hoor, nes haar ma.

      Sy is kwaad vir haarself toe sy die kantoordeur oopmaak. Makliker om kwaad te wees as bang dat haar ma hierdie slag regtig weg is.

      Daar’s niemand in die kantoor nie. Haar woede groei. СКАЧАТЬ