Web. Naomi Meyer
Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Web - Naomi Meyer страница 6

Название: Web

Автор: Naomi Meyer

Издательство: Ingram

Жанр: Триллеры

Серия:

isbn: 9780795801211

isbn:

СКАЧАТЬ jy dink ek vertel maar net vir jou wat in my dag gebeur het. All in a day’s work, nie waar nie?”

      “Is dit wat jý dink, Trouw?”

      “Ek dink dit was amazing dat ek al daai goed kon doen terwyl ek eintlik maar net in ’n donker kamer wil bly lê, vir die res van my lewe.”

      “Hoekom wil jy in ’n donker kamer lê?”

      “Want miskien sal my ma my nie daar kry nie.”

      Die shrink sê weer niks. Sy kruis haar enkels oormekaar en roer haar polse onder die baie bangles. Sy is mooi, maar uitdrukkingloos. Trouw het gehoop sy gaan teen dié tyd al baie meer vordering gemaak het. Dis hoekom sy in die eerste plek na hierdie vrou gekom het: oor haar ontvanklike gesig op Google, die wakker voorkoms. In die boekebedryf gaan alles deesdae oor etikette en verpakking. Hoe bemark jy jou skrywer? Sy wat Trouw is, kan nie anders as om ook so na mense te kyk nie. Hierdie vrou het ’n elegante webwerf met ’n skoon voorkoms. Trouw het gehoop dit gaan net so eenvoudig wees om by haar eie, persoonlike antwoorde uit te kom as om die shrink se kontakbesonderhede op te kyk.

      Hierdie besoeke moes iets anders wees as die mites op Facebook. Sy weet mos mense laai eerder foto’s op van hulle lekkerste dag by die see as wat hulle uitstal hoe sleg dit partykeer met hulle gaan. Sy’t gedink sy gaan by die kern van dinge uitkom hierso, waar mens nie hoef voor te gee nie. ’n Plek waar sy haarself kan wees sonder om aan ander mense se reaksies te dink.

      Sal die shrink wéér daardie amper-onsigbare frons kry as sy haar vertel van haar terrible childhood?

      En jy het nog nie alles gehoor nie, korthaarvrou met die smal gesig en die groot neus. Jy weet nie wat dit beteken as iemand jou een dag liewer het as warm toast en jou die volgende met ’n elektriese vleismes deur die kombuis jaag nie. Dít kon ek vir al jou photo images op die internet gesê het, maar ek kon dit nog nie in soveel woorde vir jou sê hier in jou kantoor nie.

      “My ma is in ’n maniese fase, dis beter om nie te veel met haar te doen te hê nie.”

      “Maar jy bly by haar.”

      “Sy bly by mý.”

      “In haar huis?”

      Wat is die vrou se punt?

      “Luister, as sy ’n depro slaan, moet ek kos voor haar deur neersit sodat sy daaroor val as sy moet uitkom om badkamer toe te gaan, anders gaan sy niks eet nie. As sy van die manie aftuimel, moet ek dáár wees om seker te maak sy skok haarself nie met ’n haardroër in die bad morsdoodvrek nie. Sy bly by mý.”

      “En ten spyte daarvan het jy vandag alles by die werk gedoen wat jy moes doen. Jy het jou eie lewe se balle ook almal gejuggle.”

      Daar is warmte in die sielkundige se stem. Trouw voel hoe die trane wil kom, maar sy sluk hard. Dis sleg om voor die shrink te huil. Miskien voel sy net van voor af emosioneel omdat haar pa nie eens haar e-pos van nou die dag geantwoord het nie. Hallo Trouw, ek hoor jou lied en ek voel jou pyn. Kan ek jou help – al is dit vir die eerste keer in my lewe? Hoe klink dit? Nee wat. G’n dooie woord nie. Haar situasie maak toe nie vir hom saak nie. Hierdie vrou kan nie haar ma én haar pa se rolle vervul nie. Sy kan nie nou meer met die shrink met haar androgene voorkoms, stywe swart jeans, groot serp en bril met sy dik swart raam oor die bokbaard-boyfriend ook praat nie.

      “Sal jy volgende keer vir my vertel hoe werk dit uit met jou boyfriend wat ook by julle woon?”

      Die vrou lees haar gedagtes, sy is oortuig daarvan.

      Trouw trek haar skouers op. “Hy blý nie daar nie.”

      Sy gooi die vlegsel waarmee sy sit en speel het so ongeërg moontlik oor haar skouer. Sy stryk die retro-blomrok-broek tydsaam gelyk oor haar knieë, om tog net nie te verklap dat sy haastig hier wil padgee nie. Want sy wil by hierdie kantoor úit voordat haar tyd verstreke is.

      Die shrink wag dat sy uitwei.

      “Ek moet vroeër terug wees by die kantoor, ek het ’n meeting,” jok Trouw.

      Sy vlug eintlik voor sy kan sê: Ná gisteraand is ek en Bok verby. Dink ek. Sy trek die deur agter haar toe in plaas van om te vertel. Hy was moeg vir insluip en sy was moeg vir wegkruip en deure sluit en toiletpapier in die sleutelgat druk sodat haar ma nie kan afloer wat hulle nuutste posisie is nie. En sy eie blyplek is werklik nie ideaal nie.

      As woonplek maar die enigste rede was.

      In die straat kyk sy oor haar skouer of niemand haar agtervolg tot by haar kar nie.

      Haar eks, die man voor die bokbaard-Bok, was ’n stalker. En hy’s in die omgewing.

      Voor die seks al ’n eks? Maar sy het te lank by hom gebly, daardie paar weke wat hulle gevry het. Haar naam veronderstel dit. Standvastig. Soos ’n fokken rots. Nie net met needy-wees te doen nie. Nie net daarmee te make dat sy die mans by wie sy al geslaap het se koppe wil afsaag en hulle soos wildsbokke teen haar slaapkamermuur wil uitstal nie. Hulle is nie net haar trofees nie, dis nie die enigste rede hoekom sy dit pal doen nie.

      As daardie stemmetjie begin kerm (“Kyk met watter skuim is jy nou weer deurmekaar!”), onthou sy haar naam. Telkens. En dan vertoef sy so lank as wat sy kan.

      Sy is Trouw.

      In die motor se kantspieëltjie lyk sy vir haarself heelwat jonger as haar kollega. En sy is tog bly oor die ferm lyf en haar heupe wat nog dié is van ’n vrou voordat sy kinders gebaar het.

      Daardie een ligte, of eerder ampergrys krul oor haar voorkop? Ag wat, dit lyk of die haarkapper dit spesiaal so gekleur het.

      Met haar hande ferm op die stuurwiel, onthou sy hoe sy as tiener haar ma hospitaal toe moes ry. Een slag het die polisie haar wragtig afgetrek oor sy so jonk was.

      “Los haar, konstabel, as sy my nie hospitaal toe vat nie, blaas ek haar kop af en daarna my eie.”

      Haar ma was altyd nog baie eerliker wanneer sy die dieptes in tuimel. Die polisieman het opsy gestaan. Trouw het die stuurwiel vasgevat soos sy dit nou vasvat en haar by die hospitaal gaan aflaai. Haar pa was nie beskikbaar nie, al het hy in daardie stadium nog in die land gewoon. Sy was die steunpilaar.

      Nadat sy by hulle huis se hek ingedraai het, maak sy eers in haar truspieëltjie seker dat die sekuriteitshek toeskuif. Sy kan nie gló die stalker-eks is weer op die loer na haar nie.

      Haar ma se deur staan oop, maar daar is niemand in die slaapkamer nie. Trouw se moed sak. Die manie is nog nie uitgewoed nie. En die wag is altyd die ergste.

      Ek gaan jou nie vandag soek nie, Ma.

      Die vuil skottelgoed staan in die wasbak. Bok sou nie sy hande uit sy moue gesteek het nie, sy behoort nou al te weet. Hy was te kwaad toe hy hier weg is. En buitendien, in sy eie kelderwoonstel staan die houers van wegneemetes opgestapel. Dis erger as ’n manskoshuis op universiteit, daar waar hy bly. Sy weet nie eens presies wie van die IT-kundige, bebrilde T-hempdraers amptelik saam met hom in sy hool daar tussen die rekenaars woon nie. Die kere wat sy gevra het, het sy haar vasgeloop in ondeurdringbare manlike samehorigheid.

      Trouw takseer die skottelgoed in die wasbak: vuil borde, lepels, messe, vurke, glase.

      Haar ma was seker te haastig om by die huis uit te kom en haar volgende projek aan te pak СКАЧАТЬ