Web. Naomi Meyer
Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Web - Naomi Meyer страница 9

Название: Web

Автор: Naomi Meyer

Издательство: Ingram

Жанр: Триллеры

Серия:

isbn: 9780795801211

isbn:

СКАЧАТЬ gryp haar handsak in ’n refleksbeweging en kies koers voordeur toe. Agter haar rug skuif Trouw se stoel; hulle het dieselfde plan. Hoe Sophia dit regkry om die veiligheidshek oop te sluit, weet sy nie, want haar hande bewe iets vreesliks. Sy’s eerste uit. Buite die kantoordeur swenk sy na links en mik vir die restaurant vyftien meter verder. ’n Nuwe kelnerin loer by die deur uit, gretig soos ’n aasvoël.

      “Table for one?”

      Kan sy nie sien hier’s groot fout nie?

      “There’s a burglar in our office!” hyg Sophia en draai om.

      Maar Trouw is nie agter haar nie. BoekWeb se kantoordeur staan nog wawyd oop.

      “My colleague …”

      Die bestuurder kom uit die restaurant gestap. Sophia het haar al dikwels gesien en nog nooit ontmoet nie, soos dit maar gaan met bure.

      Lynette, flits die naambalkie. Sy snap die halwe storie dadelik en begin hardloop. Weg van die restaurant af, om die gebou, aan die ander kant. Sophia volg, bloed singend in haar ore.

      Terwyl Lynette hardloop, gryp sy haar foon uit haar handsak (“Die polisie is op speed dial!”) en druk dit teen haar oor.

      Sophia gewaar uit die hoek van haar oog hoe motors stadiger begin ry; die mense wil sien wat aangaan. Hier is ’n algemene aanvoeling van misdaad, helder oordag.

      Hulle hardloop om die hoek, verby die eerste venster. Daar’s niemand in die oopplankantoor nie. Hulle moet in die kombuis wees, Trouw en watter man ook al ingekom en gehoes het.

      Venster twee en venster drie.

      Sophia kan van hier af sien die diefwering is aan die onderkant losgeskroef en weggedruk sodat iemand die venster kon oopskuif om in te klim.

      Lynette praat uitasem in haar foon: “Ja, hallo, hier’s ’n inbraak in Dorpstraat …” Naby die kombuisvenster steek sy vas. Sophia sien die gebrandskilderde glas, wat sy al ken vandat sy hier aangestel is. Lynette wil weet: “Nee, ek kan nie aanhou nie, is jy nou mal?”

      Sophia gryp haar eie foon en bel.

      “Hallo, dis Diederick Stipp. Ek is ongelukkig nie nou beskikbaar nie, maar …”

      Sy druk dood.

      Jackson kom aangeslenter, sy hoed met die vuil wolle skuins op sy kop, onbewus van die drama.

      “Wag, Jackson!”

      Maar hy steur hom nie aan die waarskuwing nie en nog minder aan hul onseker liggaamstaal. Hy slinger verby hulle, gaan staan reg in die middel van die venster waar die glas doodgewoon en deurskynend is, by die plek waar hy gewoonlik deurloer om vir ’n ekstra geldjie te vra as sy of Trouw staan en koffie maak.

      Nou. As iemand daar binne ’n skietding het, gaan hy dit nóú gebruik.

      “Jackson, nee!”

      Hy steek vas, maar nie omdat Sophia vir hom skree nie. Hy frons. En toe kyk hy vir haar en Lynette.

      “Wie’s die skollie daar by haar?” vra hy en klink merkwaardig nugter.

      Lynette gee ’n magtige tree vorentoe en so ook Sophia, wat wil sien wat in die kombuis aangaan.

      Haar hart spring in haar keel.

      SOPHIA, OP DIE DAG WAAROP MAGRIET WEGRAAK

      Donderdag 13 Julie, Stellenbosch

      Diederick is so gou op die toneel soos ’n strokiesheld. Mens sou sweer hy’t superkragte. Sophia weet lankal hy het nie, maar sy val hom om die nek toe hy by die motor uitklim asof daar geen vuil beker in die wasbak was vanoggend nie. Hy is nie ewe innig nie. Net ’n oomblik lank laat hy haar toe om in sy arms te staan, dan hurk hy by Mathys.

      “Als gaan oukei wees, Boetie,” sê hy en sit sy hand op Mathys se skouer toe hy weer opstaan om met haar te praat. Sophia sien hoe die vyfjarige na hom opkyk; vir hom ís Diederick ’n superheld. Sy groot pappa.

      “Wie was vanoggend hier aan diens, Sophia?” vra haar man met waarskynlik dieselfde stem as wat hy gebruik as hy ’n misdadiger ondervra. Sy moet op die vraag probeer reageer en nie op hoe hy dit vra nie. En sy doen haar bes om die frons mis te kyk, daardie onheilspellende keep. Dis omdat hy bekommerd is oor sy dogtertjie, maar ook omdat hy ontevrede is met háár.

      “Vakansietyd is ander mense as gewoonlik aan diens. Wat was die naam van vanoggend se juffrou nou weer, Mathys?”

      “So jy flippen weet nie eens by wie jy die kinders gelos het nie. En dit was jóú idee dat hulle albei vanoggend hier moes bly.”

      Mathys was nog besig om sy skouers op te trek, en sy is oortuig dis Diederick se reaksie wat veroorsaak dat sy gemoed draai. Sy sien sy gesig vertrek soos daardie skildery van Munch, Die Gil.

      “Is Magriet dood?” snik hy.

      Kyk nou wat het jy gedoen, Diederick.

      “Natuurlik nie,” antwoord sy terwyl haar binneste ook skreeu, heeltyd haar dogtertjie se naam roep. “Pappa gaan nou help soek.”

      Sy hou Mathys vas en wag dat Diederick ook sy woord spreek. Eerstens bevestig dat hy sal help soek en vind, en sommer ook ’n verskoning ingooi: Ek moes nie nou oorreageer het nie, Mathys, en veral nie vir jou ma verwyt het nie. Sy kon nie anders as om julle vanoggend hier te laat bly nie. Candice het mos gister nie opgedaag nie en ons kon nie aanvaar sy sou vandag kom nie. Ek gebruik jou ma sommer net as slaansak omdat ek self magteloos voel, maar ek weet ek behoort dit nie te doen nie.

      Min of meer so iets, maar Ek is jammer sou goed genoeg wees. Hy loop egter na die sekuriteitsdeur en wink ongeduldig vir hulle om hom te volg.

      “Laat ek maar self gaan hoor wie aan diens was, Bernadette of Chanté of Sandra …”

      Die feit dat hy die name ken, irriteer haar soveel as wat dit haar beïndruk. ’n Oomblik lank is daar weer hoop in haar hart. Maar dit gaan verby, want toe hulle die skool betree, is Magriet nog steeds nie daar nie.

      Die kleuterskoolhoof staan hulle en inwag met die personeel om haar. Sy skud Diederick se hand soos ’n begrafnisondernemer en haar ernstige gesigsuitdrukking maak Sophia van voor af woedend. Sy weet sy moet haar in toom hou ter wille van Mathys.

      Maar Diederick is ’n pa en hy voel vere vir ’n slegte naam hierso. “Soos jy weet, is ek ’n speurder,” sê hy vir die skoolhoof met dieselfde klank as wat hy teenoor haar aangewend het. “Wie was die laaste persoon wat Magriet gesien het en hoe laat was dit?”

      Nou is dit die skoolhoof wat soos iemand op ’n skildery lyk. Of dalk betrap deur lawa in Pompeii. Die oop mond, die versteende oë.

      “Wie was in haar klaskamer aan diens?” vra Diederick die volgende vraag.

      “Vakansietyd werk verskillend hierso by ons skool.”

      “So daar’s nie toesig nie?” vra Sophia. Dit het uitgeglip voordat sy kon dink aan brûe wat verbrand word.

      Die skoolhoof se oë spring in haar rigting. “Natuurlik is daar toesig. СКАЧАТЬ