Web. Naomi Meyer
Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Web - Naomi Meyer страница 5

Название: Web

Автор: Naomi Meyer

Издательство: Ingram

Жанр: Триллеры

Серия:

isbn: 9780795801211

isbn:

СКАЧАТЬ daardie onlangse fliek gesien het.

      Iets voel nie reg nie. Maar sy wil nie oorreageer nie. Veral nie hier nie, nie as ’n ma in ’n skool waar Mathys die mense weer in die oë moet kyk nie. ’n Ma kry so vinnig ’n slegte naam, nes ’n meisie wat rondslaap – jy moet oppas, want voor jy weet, práát die mense.

      “Sy is nie buite nie?” Sophia kan nogtans self hoor hoe klim haar stem.

      Eers diep asemhaal.

      “My dogter kom nie gewoonlik hierheen nie,” begin sy van voor af. “Dis gewoonlik net Mathys.” Sy beduie in die rigting van die klimrame en hulle oë volg haar vinger. Hulle luister na haar storie, sy behoort verlig te wees. “Sy is in graad een by die laerskool, maar tydens die skoolvakansie is sy partykeer hier …”

      Nou knik hulle gelyk. Hulle is meer by as wat sy gedink het. Maar nie by genoeg nie.

      Een van hulle, ’n helper wat Sophia al vantevore gesien het, staan op. Hoekom het sy nog nooit moeite gedoen om haar naam te vra nie?

      “Wie was vanoggend aan diens, mevrou Stipp?” vra sy hulpvaardig.

      Kortaf antwoord Sophia: “Ek weet glad nie, ek het niemand hier geken nie. Kan ons kyk of Magriet nie by die senior klas is nie? Dalk ken sy kinders daar wat ook die vakansieskool bywoon.”

      Die vrou se gesig verklap reeds die antwoord: Hierdie ís die senior klas.

      Haar stemtoon het die deurslag gegee en opeens is almal op die been. Hulle verdwyn en verskyn weer en elkeen het dieselfde verslag te lewer: Magriet is nie in die badkamer nie, sy is nie in die skool se kombuis of saal nie, sy is op geen uithoek van die speelgrond nie, sy is nie in die televisiekamer of enige van die ander lokale nie. Die sekuriteitsdeure is almal op knip. Nêrens staan ’n hek oop nie.

      Die heeltyd bly sy op een plek, ingeval Magriet na die klas terugkom.

      “Waar kan sy wees, Sophia?”

      Die skoolhoof het nou ook op die toneel verskyn en sy vra die vraag met groot gebare, asof sy in ’n charismatiese kerk lofprysing doen. Wye, oop arms. Hande na bo gelig.

      Nee, vertel jy mý. Dis jóú skool. En dis mý kind.

      Soos vanoggend in die tuin teenoor Diederick, weet sy dis beter om nie nou te reageer nie. Sy beduie dat sy buite gaan kyk, netnou sê sy iets onverantwoordeliks. Mathys kom oor die speelgrond na haar toe aangehardloop terwyl sy na die sekuriteitsdeure stap. Sy sit haar hand ’n oomblik lank op sy kop en voel sy hare sag onder haar vingers.

      “Mathys, wanneer laas het jy vir Magriet gesien?”

      “Is sy weg?”

      Julle het dan vanoggend hand aan hand by die deur ingestap, wil sy sê, het jy nie eens agtergekom nie? Dis dan jou groot sussie.

      “Nie ver weg nie,” jok sy seepglad. Hulle bereik die sekuriteitsdeur en sy druk daarteen, so asof dit dalk heeltyd effens oopgestaan het en Magriet gaan uitspring en skree: “Surprise!”

      Die deur is bottoe. Sy plaas haar wysvinger op die skandeerder vir ’n elektroniese vingerafdruk.

      “Miskien is sy huis toe,” stel Mathys voor. Een kyk in sy oë laat haar besef die trane lê vlak.

      Sophia stoot die deur oop en hulle stap uit op die parkeerterrein. Daar is net ’n pa en seuntjie op pad binnetoe. En nog ’n ma wat met haar kind staan en raas omdat sy nie gekyk het vir die motor wat ingery kom nie. Verder net vier bouers wat by hul opslaanhuisie sit en toebroodjies eet.

      Die bouers!

      Nog nooit tevore met hulle gepraat nie, maar vandag is die dag.

      “Molweni! Ninjani …?”

      Sy onthou vaagweg dis beleefd om in Xhosa ’n soort persoonsnaam by te voeg. “Goeiedag, my broers” en nie net “Goeiedag” nie. Maar in hierdie stadium kan sy nie onthou wat is “bhuti” se meervoud nie. En eintlik wil sy glad nie weet hoe dit met hulle gaan nie. Hulle voel dit sekerlik aan. Daar is ’n dik atmosfeer, amper soos by haar werk toe sy vanoggend daar ingestap het.

      Dalk is hulle ongemaklik daarmee dat sy by hul huisie inloer, in die hoop dat sy Magriet hiér gaan aantref. Dis onmiddellik duidelik dat daar niemand binne is nie. ’n Stoel in ’n hoek, ’n hark en ’n graaf teen ’n muur. ’n Koffiebeker op die vloer. Nors gesigte oor sy hul privaat ruimte binnedring. Die gesprek het nie ’n gelukkige verloop nie.

      Uiteindelik staan sy en Mathys by die hek. Die seuntjie klou aan haar bene vas, sy gesig styf vasgedruk teen haar jas. Sy bly in die straat op en af kyk, sinneloos, terwyl sy met haar selfoon teen die oor staan en wag dat Diederick antwoord. Die helper met wie sy daar binne kortaf was, kom by die gebou uit na hulle toe aangehardloop. Sy hou heelpad gretig iets uit na Sophia toe.

      “Mevrou Stipp, ek het dit gekry, ek het dit gekry …”

      Asof Magriet uit die objek gaan klim en in haar omhelsing gaan induik.

      Die teleurstelling neem van haar besit, en toe iets soos woede jeens die vreemdeling omdat sy dit durf waag het om hoop in haar hart te plant. Sy gryp die ding uit die vrou se arms, dis half bekend en sag.

      ’n Oomblik lank, toe sy besef wat dit is, vermurwe haar hart. Die kind het tog, in hierdie weggooi-samelewing, iets van haar onskuld behou.

      Sy registreer Diederick se stem praat in haar oor.

      In haar arms is Magriet se afkop-pop, effens klam van vroeër se reën. Aan die pop se opgestopte lyfie kleef iets. Vanuit hul agterplaas vanoggend, ’n flenter spinnerak.

      TROUW, OP DIE DAG WAAROP MAGRIET WEGRAAK

      Donderdag 13 Julie, Stellenbosch

      Trouw is standvastig en getrou. Terwyl haar hele familie op strepe na Engeland, Dubai en Australië getrek het, het sy in Suid-Afrika agtergebly en tussen die mynstakings, kragonderbrekings, poskantoorprobleme en studenteprotesaksies deur na haar bipolêre ma bly omsien.

      “Ek is fokken altyd betroubaar,” vertel sy tydens haar middagete-uur vir haar terapeut, wat sy haar shrink noem, en wat knik asof sy dit elke slag hoor.

      “Wat het vandag gebeur dat jy daaraan dink?” vra die shrink.

      “The usual.”

      Die shrink wag.

      “Ek het ’n website sonder ’n toekoms nog ’n oggend langer laat voortbestaan.”

      Die shrink se gesig vra wat sy bedoel.

      “BoekWeb ly verliese,” sug Trouw. “Dit was stupid van my om te luister na mense wat sê kry ’n niche en gebruik jou journalismagtergrond sáám met die tegnologie.”

      “En wat het nog vanoggend gebeur?”

      “Die krag was af en ek het rondgebel tot dit aangegaan het. Die vrou wat vir my werk se rekenaar was getoor en ek het iemand gekry om dit dadelik te kom regmaak, al het hy nie tyd gehad nie. Die poskantoor het ’n boek nie by ’n resensent afgelewer nie, en toe maak ek seker die uitgewer stuur vir hom PDF-dokumente.”

      Die СКАЧАТЬ