Web. Naomi Meyer
Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Web - Naomi Meyer страница 3

Название: Web

Автор: Naomi Meyer

Издательство: Ingram

Жанр: Триллеры

Серия:

isbn: 9780795801211

isbn:

СКАЧАТЬ

      Teen die tyd dat die skoolhek eindelik in sig is, het die paneel op die geselsprogram goed op dreef gekom.

      “’n Lolly lounge laat mens dink aan Hansie en Grietjie se lekkergoedhuis,” kom een van die deelnemers se stem oor die radio. “Maar die hekse wat hiér woon, gee vir die kinderprostitute dwelms om hulle te laat bly.”

      Sophia skakel vinnig die radio af voor die kinders kan begin vrae vra, en sit haar motor se flikkerlig aan.

      “My voet is mos seer, Sophia,” sê Candice.

      “O?” hou sy haar dom en ry by die skoolwerf in. Daar’s nie nou nog tyd vir ander draaie nie. Toe hulle stop, klim Candice teësinnig uit.

      Sophia probeer om nie te sien hoe die vrou oor die straat hinkepink nie. Magriet sit. Later klim Mathys uit en staan in die motreën, maar sy suster gaan nêrens nie. Die horlosie se digitale wysers wys dit is agt minute oor agt. Sophia vat die skooltasse op die voorste sitplek vas.

      “Jou boetie reën nat, Magriet.” Sy speel vuil deur Mathys te betrek en sy weet dit. Die dogtertjie mag haar boetie stupid noem, maar dis ’n groot blufspul. Eintlik mag niks met hom gebeur nie, nie eens ’n druppel reën mag op sy kop val nie.

      “Ek kan dit nie meer vat nie,” brom Magriet melodramaties en klim uit.

      Sophia klim saam met haar uit en kry dit reg om aan Magriet se voorkop te raak voor die dogtertjie vooruit stap. Ten minste voel sy nie meer so warm nie; gister se koors is weg. Sy kla ook nie meer van keelseer nie. Met kinders kan ’n kiem soos blits kom en gaan.

      Maar vanoggend in die reën! Die skuldgevoelens tref haar: dit was onverantwoordelik om die spinnekopsoektog toe te laat.

      Sy wil Magriet vashou, en reik na haar. Maar die kind is te vinnig vir haar. Sy tree weg.

      “Hoekom het jy daardie spinnekop doodgemaak, Mamma?”

      Sy moes Magriet nie toegelaat het om om te draai en weg te stap nie, het Sophia later gedink. Maar daar was ’n rigiede sisteem om in stand te hou. Dis ’n masjien. Die skool. Die werk. Die dag se roetine.

      Sy het die dag se patroon met slegs ’n paar sekondes omvergewerp deur tóg blitsig oor te leun en iets in die kind se broeksak te druk.

      “Vir jou, Magriet.”

      Maar daardie geskenk, jare lank al agterstallig, was nie daardie reënerige Donderdagoggend in Julie genoeg nie.

      Dit was nie genoeg dat sy nou die dag in die winkel gestaan en uiteindelik die perfekte ene op die rak gesien en Magriet se versoek onthou het nie. Dit was nie ’n verskoning dat haar daaglikse lewe deur soveel dinge oorgeneem is dat daar niks kopspasie oorgebly het om te dink aan ’n spesifieke pienk haarknippie en haar dogtertjie se begeerte daarna nie. Niks sou daardie oggend goed genoeg gewees het nie, maar agterna het Sophia gedink: As ek tog net Magriet se gesiggie kon sien ophelder.

      Maar die dogtertjie het gelyk of sy nie eens agtergekom haar ma sit iets in haar broeksak nie.

      Haar kinders vleg tussen die ma’s met die gym-uitrustings deur tot by die kleuterskoolgebou. Sophia kom agterna. Sy moet ook haar stap ken, want daar is baie ma’s en hulle is almal haastig. Net een glimlag stywerig in haar rigting. Sophia herken haar as iemand wat sy al by Magriet se skool gesien het.

      Die kinders hou vakansie by die vakansieskool, maar die volwassenes nie. Hulle hardloop rond soos marmotte op wieletjies; dís toe wat dit beteken om groot te wees.

      In die klaskamer waarheen sy haar kinders neem, speel gospelmusiek op ’n dansmaat. ’n Kind huil en nog een dans. Sy weet nie of daar iemand van Magriet se graadeenklas is nie. Sy herken niemand, maar is ook nie so seker nie.

      Magriet het geen maatjies die afgelope twee jaar gemaak of huis toe genooi nie, dink sy kort daarna terwyl sy haar motor se trurat indruk. Nie een nie.

      Op pad na haar werk besef sy dit: As sy by haar kinders is, wil sy op haar eie wees. Weg van hulle, wil sy net by hulle wees, nêrens anders nie. Natúúrlik was eergisteraand se rit Laingsburg toe ’n glips, die soort flater waaroor hulle gesin later almal sal kan lag.

      Sy begeer dit om een van daardie ma’s by die kleuterskool te wees wie se lewe daaruit bestaan om hulle eie drome deur middel van hulle kinders se partytjies te verwesenlik. Ook al moet hulle die hele dag koeke versier, beteken dit steeds hulle het meer tyd saam met hulle kinders as sy saam met hare.

      Terwyl sy oor ’n plastieksak en ’n polistireenhouertjie in die parkeerarea voor haar werk ry, verfyn sy haar fantasie. Sy wil een van daardie ma’s wees, veral die een met die bruingebrande bene sonder ’n sweem van selluliet in haar kuit of in die gedeelte waar die swart rekbroekie gespan het.

      Sy wat Sophia is, wil nie ’n vaal jas dra en heeldag doodstil voor ’n rekenaar sit nie. Sy wil nie in die spieël kyk en so grys en moeg lyk nie. ’n Vaal, gemiddelde vrou met ’n bril tussen die sprankelende, aktiewe moeders.

      Sy wil eerder dáárdie een wees, die een wat voor die skool so half in haar rigting geglimlag het.

      Terwyl sy haar motordeur toesluit, dink sy dat sy aan die vrou se been sal wil vat, net om te voel of dit ’n regte mens s’n is, ’n vrou wat al kinders gehad het. Hoe baar mens kinders uit so ’n lyf? Sy is so ferm soos Barbie, met dieselfde aangeplakte glimlag. Die vermommingsglimlag maak haar nog meer begeerlik. Dis presies wie Sophia wil wees. Sy wil nie voel dat sy iemand tevrede moet stel nie. As haar man werk toe sou foeter sonder om haar te groet, is dit sý verlies, sou sy reken as sy daardie vrou was.

      Sy sluit BoekWeb se kantoordeur oop en toe sy instap, sien sy Trouw sit reeds voor haar rekenaar. ’n Bekende tamheid oorval haar. Dis ’n gevoel wat verband hou met kantoorwerk en roetine. Die dag het nou eers begin, maar die marmot op die wieletjie is klaar suf.

      Tog, sonder haar karige salaris kan sy nie bekostig om haar kinders in dieselfde skole te hou as dié van die supermammas wat heeldag gym nie. Hulle eggenote is nie polisiemanne nie. Hulle is magnate.

      Terwyl sy haar skootrekenaar uitpak, sien sy Trouw se gesig is donker. Sy vee haar vlegsel geïrriteerd agtertoe en Sophia ken al daardie beweging. Trouw tob oor BoekWeb, die webwerf wat sy self uitgedink het. Trouw tob elke dag daaroor, maar party dae meer as ander. En die laaste rukkie voel dit vir Sophia asof Trouw se luim nog slegter is as gewoonlik.

      “Die naam BoekWeb is nog net in Holland geregistreer toe ek laas gekyk het,” sê Sophia terwyl sy haar kodewoord intik.

      Trouw frons en skud haar kop. Nee, dis toe nie hoekom sy so onplesierig lyk nie.

      “Daar is rassistiese comments op ons Facebook wall.”

      “Wat’s nuut?” vra Sophia.

      “Dis erger as ooit. Die studenteprotes het die hele land aangesteek. Nou is almal van voor af kwaad: die plaaswerkers, die mynwerkers, die huiswerkers …”

      “So almal skryf nou rassistiese kommentaar onderaan artikels wat met boeke te make het …?”

      “Mense skryf nou wilde comments enige plek! Die hashtag-veldtogte raak al hoe meer en jaag almal in verskillende kampe in. En die comments lyk regtig nie goed vir ons brand nie. Waar val al hierdie mense uit?”

      Amper antwoord sy, al weet sy die vraag was retories.

      Dis СКАЧАТЬ