Web. Naomi Meyer
Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Web - Naomi Meyer страница 15

Название: Web

Автор: Naomi Meyer

Издательство: Ingram

Жанр: Триллеры

Серия:

isbn: 9780795801211

isbn:

СКАЧАТЬ style="font-size:15px;">      Meer info waaroor?

      “Is jy ook die skrywer van die verhale?”

      Hy bly ’n oomblik stil. “Is jy Sophia, juffrou? Kan ons môre ontmoet?”

      Trouw trippel in die deur, die polisiemanne is al buite.

      “Asseblief, stuur vir my ’n e-pos dat ons ’n tyd kan afspreek?” vra Sophia. “Hier het ’n dringende saak opgeduik waaraan ek moet aandag gee.”

      En sy sit die gehoorbuis neer.

      “Ek wil nie ’n saak maak nie,” benadruk Trouw. “Hier is niks beskadig nie.”

      Kort gelede het Sophia vir die polisieman vertel dat Lynette aan die diefwering geraak en die misdaadtoneel gekontamineer het. En nou, vir die tweede keer op een dag, besef sy dat sy soos Diederick dink.

      “Die inbreker het ’n gebou beskadig wat nie sy eiendom was nie.”

      “Ek sal ’n handyman kry om die ding weer vas te skroef.”

      Sophia voel of ’n aar in haar kop wil bars.

      “Hy het dit beplán. Dis ’n proses, met voorbedagte rade, om diefwering los te skroef!”

      Sy luister na haarself, na die polisietaal wat sy praat.

      Trouw trek haar skouers op. Toe die Afrikaanse konstabel inloer om hulle aan te jaag, herhaal sy dat sy nie ’n saak wil maak nie.

      Sophia wag vir ’n reaksie van hom. Hy, dienaar van die gereg, sal sekerlik wil sien dat die skurk opgesluit word. Of minstens wil seker maak dat die ou gevang word, want anders veroorsaak die man net weer vir hulle werk en moeite as hy volgende keer by ’n ander gebou inbreek.

      Maar daar is niks. Nie woorde wat Trouw aanmoedig om ’n saak te maak nie. ’n Mombakkies. G’n mens weet wat hy dink nie. Seker al so afgestomp deur alles wat hy elke dag in hierdie land beleef en sien, sê hy bloot, en nou met heelwat minder klem op suiwer taal: “Ek moet anyway ’n incident report aanteken. Julle sal ons moet vergesel na die polisiestasie toe, asseblief.”

      Trouw stem teësinnig in.

      Die twee vroue gaan saam polisiestasie toe, met verskillende weergawes van dieselfde gebeure.

      SOPHIA, OP DIE DAG WAAROP MAGRIET WEGRAAK

      Donderdag 13 Julie, Stellenbosch

      Ons moet haar kry voordat nog mense haar miskyk …

      Met Diederick se woorde in haar ore ry Sophia by die kleuterskool se hek uit en draai regs.

      Hoekom kan ’n mens se lyf net op een plek op ’n slag wees? Sy wil agteruit ook kan ry, sy wil bo-oor die dorp kan vlieg, sy wil in al die windrigtings kan sien. Maar al sê haar broer van Gauteng graag dat Stellenbosch nie soos die res van die land is nie, is die strate tóg soos oral anders. Plat stroke teer waarop motors die rigting moet kies waarin hulle gaan ry.

      Daar is min verkeer. Byna niks nie, om die waarheid te sê. En bo die strate met so min motors vir die middaguur en sonder ’n teken van die dogtertjie wat sy so graag wil sien, is daar dreigende onweer. Swaar wolke.

      “Kumulonimbus.”

      Dis die eerste woord wat Mathys praat sedert hulle weggetrek het.

      “Jy onthou mooi …”

      Sy kan nie verder praat nie. Dis Diederick wat wolke en hulle benamings aan die kinders uitgewys het. Diederick weet wat hy doen, maak nie saak hoe sy in hierdie stadium oor hulle huwelik voel nie. Hy móét weet. Hy móét haar kry.

      So laat hy daar by die kleuterskool aanhou soek, en laat sy dan maar doen wat hy voorgestel het – polisiestasie toe gaan.

      Sy ry by die Jan Marais-park verby. Daar’s sowaar parkeerplek en die studentewoonstelle lê verlate aan haar regterkant. Orals is oop spasies in die dorp; ook net in vakansietyd is dit so stil.

      Maar waar wip-wip Magriet se skouers terwyl sy stap, waar dobber haar koppie ligweg bokant haar lyfie, waar is die bene wat nou dié van ’n laerskoolmeisie word, waar is haar seldsame glimlag?

      “Magriet is nêrens,” sê Mathys hier van agter af, asof hy haar gedagtes lees.

      “Waar kan sy wees, Boetie? Het sy vanoggend iets gesê?”

      “Sy praat nie met my by die skool nie. Sy wil altyd iets boring doen soos teken op haar eie.”

      Sy visualiseer Magriet by ’n tafel. Die gefokusde gesigsuitdrukking.

      Die seuntjie voeg by: “Maar sy het nie vanoggend geteken nie. Sy was ’n ruk lank binne, en ’n ruk lank buite en toe is sy net weg. Mamma, is sy dood?”

      Sophia klem die stuurwiel stywer vas. Aan die onderpunt van Pleinstraat is die groot sirkel waar sy na regs draai. Dink prakties. As daar ooit ’n tyd was wat sy hierdie seldsame wens gewens het, is dit vandag hier in die motor – hier naby die polisiestasie, waar sy parkeer. Dink soos ’n man.

      Hulle gaan haar vra hoe Magriet lyk, soos Diederick gesê het. En oor haar klere. Wat het Magriet vanoggend aangetrek? Die groen trui is al wat sy kan onthou. In haar skooltassie is alles soos wat sy dit vanoggend ingepak het, toebroodjies inkluis, onaangeraak. Die enigste ander bewysstuk wat sy van haar dogtertjie se bestaan het, is die afkop-pop.

      Toe sy uitklim en vir Mathys oopsluit, besef sy die reën het in groot druppels begin neerplof.

      “Wat het Magriet vanoggend aangehad?” vra sy, koes-koes in die rigting van die deur. Arme kind, is hy dan haar geheue?

      “Daai feetjiehemp van die ander winkel wat jy altyd vertel dis goedkoop en ons groei vinnig so jy koop daar.”

      ’n Bruin dogtertjie in klere van PEP Stores. Al is dit net Magriet, stoksielalleen in die strate van Stellenbosch, gaan g’n mens haar raaksien nie. Sy sal so onsigbaar wees soos die bende spoke wat die inbreker naby hulle kantoor geïntimideer het.

      Die inbreker met die wit sweetpak! Loop hy nog los rond?

      Sy laat die gedagte tydelik vaar toe hulle nat-nat by die deur instap. Dis suiwer paranoia. Die man ken nie vir Magriet nie, maak nie saak wat hy nou die dag daar op die sypaadjie gesê het nie. Nou die dag, maar dit voel so lank gelede. Was dit sowaar net gister toe hy daar buite hul kantoor gestaan het met hul huis se voordeursleutel in sy hand?

      Xoliswa is nie aan diens nie, ook nie die polisiemanne by wie Sophia haar verklaring oor die sweetpakman kom aflê het nie. Dis ’n man wat sy nie ken nie, nóg ’n nuweling. Sy stap hom tegemoet met haar selfoon.

      “My kind is weg en sy lyk só …” sê sy terwyl sy die foon oorhandig sodat hy Magriet se foto dadelik kan sien.

      Hy kyk na die skerm. “Ek het van jou gedroom?” lees hy met ’n frons.

      Sophia gryp die foon terug. Navigeer weg van die SMS en na die foto van Magriet wat sy gereken het daar uitgestal was.

      “My sussie is ’n kleurling,” sê Mathys. Sy woorde skok СКАЧАТЬ