Web. Naomi Meyer
Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Web - Naomi Meyer страница 13

Название: Web

Автор: Naomi Meyer

Издательство: Ingram

Жанр: Триллеры

Серия:

isbn: 9780795801211

isbn:

СКАЧАТЬ en weet nie wat fout was met Sophia se rekenaar nie.

      Virus scan. Trouw kyk hoe die sirkeltjie op haar rekenaar begin draai.

      Twintig oor drie. Nie net die sirkeltjie wat draai nie. Waar bly Sophia nou weer?

      Sy kyk weer vir die sirkeltjie. Om en om.

      Sy maak haar oë toe.

      Toe ons saam in die BPhil-joernalistiekklas was, het die internet nog nie bestaan soos hy vandag is nie, Sophia. Maar ek leer hom elke dag ken. Ek wens ek het al meer geweet. En ek wens daar was iemand anders wat net so nuuskierig was oor hierdie web soos ek. Iemand anders as Bok.

      Iemand wat my kon vertel wat áángaan.

      Dis presies wat sy wil doen: aangaan. Met haar werk, terwyl die virus scan in die agtergrond al haar rekenaar se probleme probeer regmaak.

      Wag. Laat sy net gou vir oulaas op Facebook loer wat vang die res van die wêreld aan.

      Hierdie slag, vyf minute nadat sy dit verlaat het, is Facebook nie meer ’n vriendelike plek nie. Iemand het kommentaar gelewer op ’n inskrywing en foto wat sy omtrent ’n roman op BoekWeb se bladsy opgelaai het.

      Die skrywer is, volgens die persoon, “baie lief vir ons rooi en pers en bont boeties en sussies”. Die boek “is een groot gegatkruip en gesoentjie-soentjie van ons medelandsburgers”.

      Trouw sug.

      Hide comment.

      Vanmiddag, kan sy sien, gaan sy nie kan blog nie. Haar groot taak gaan wees om Facebook dop te hou vir krisisbestuur. Die alewige catch-22: Deel mens nie iets op sosiale media nie, weet niemand daarvan nie en val die statistieke nog verder deur die vloer; verskyn dit wel op Facebook, stroom die onvoorspelbare en dikwels rassistiese kommentare in.

      Aangaan. Ten spyte van die mans in haar verlede, ten spyte van haar ma daar bo in die huis. Net fokken aangaan.

      En Sophia is baie laat vandag. Wat’s haar storie? Elke middagete ’n verskoning. Dis altyd te doen met haar kinders. Darwin het die kat aan die hond se gat beet gehad. Niks van ’n survival of the fittest nie. Die spesie moet breinloos voortplant. Hoe anders sal ’n vrou bevrug word as dit nie is van stil lê en wag dat die man sy saad inplant sonder om voorsorg te tref nie?

      Waar was Maslow toe die menslike ras hom nodig gehad het? Gebruik jou brein, vroumens. Vir wat wil jy kinders in die lewe bring? This planet is going down, dis apocalypse now already.

      Maar Sophia loop staan en neem eers ’n kind aan, en dan loop baar sy nog een van haar eie. Sy populate en multiply. En besoedel alles met haar lui gene. Wáár bly sy? Trouw wil haar vra om ’n persverklaring te laai en ’n uitgewer te kontak oor ’n PDF-dokument – die posdiens staak mos weer. Sy gaan nie self daarby uitkom as sy op Facebook sit en wag dat die volgende beledigende opmerking verbykom nie.

      As Sophia nie opdaag soos in right about now nie, is dit nag vir haar.

      Hierdie werk moet ook voortgaan, áángaan.

      Jare gelede was hulle op dieselfde bladsy, daar in die BPhil-joernalistiekklas. Dis dié dat sy jare daarna die kans gevat en vir Sophia ’n e-pos geskryf het: “Waar is jy in die wêreld?”

      Dit was ’n fout. Mens moenie in ’n besigheid met iemand probeer saamwerk met wie jy voorheen bevriend was nie.

      Ongelukkig, ongeag die afstand, was dit ’n baie ontvanklike tyd vir Sophia om ’n soort werksaanbod te kry. Teen daardie tyd was Diederick al maande lank sonder werk en hulle geld aan die opraak. BoekWeb was ’n uitkomkans.

      Mens sou dit nie nóú sê nie! Vandag is die laatste wat sy al ooit ná middagete opgedaag het. Verstaan sy nie hoe werk ’n ooreenkoms nie?

      ’n Paar dae gelede het ek haar haar eerste warning gegee, dink Trouw. Ek het haar gesê ons moet ons stats lig, anders waai sy die einde van die maand. Laaste kans, sy wéét dit. Al wat ek wil doen, is om vandag te oorleef. Hoekom maak jy dit so moeilik vir my en my besigheid, Sophia?

      SOPHIA, DRIE DAE VOORDAT MAGRIET WEGRAAK

      Maandag 10 Julie, Stellenbosch

      Sophia staan saam met Jackson en Lynette voor BoekWeb se kombuisvenster en staar na binne. Op die vensterbank, met sy rug half na hulle toe, sit ’n man in ’n verblindende wit sweetpak. Sy hare is so kort geskeer dat ’n litteken op sy agterkop deurskyn. Teenoor hom staan Trouw met ’n gesigsuitdrukking wat Sophia nie kan kleinkry nie. Sy frons vir hom, maar haar oë is begrypend. Sy lyk gespanne, maar ook of sy na hom luister.

      Die skelm het by hulle kantoor ingebreek, wat ís dit met haar?

      Lynette pluk-pluk aan die losgeskroefde diefwering.

      Sophia dink eensklaps hoe Diederick sou geredeneer het. “Moenie daaraan raak nie, Lynette …”

      Die vrou steur haar nie aan die teregwysing nie. Sy is beslis ook nie bang dat die man iets sal aanvang as hy bewus raak van hulle hier by die venster nie. Toe hy nie gou genoeg reageer nie, slaan sy met haar plathand teen die ruit. Die baie ringe aan haar vingers klap-klap aggressief teen die glas.

      Maar dis Jackson wat skree: “Haai, jy!”

      Die man op die vensterbank spring orent en kyk om, sy oë groot.

      Trouw se reaksie verbaas Sophia nog ’n slag, want nou kan enige swaap sien wat sy dink. Sy beduie met haar hande, groot swaaibewegings, en haar vlegsel swaai dramaties saam met haar lyf.

      “Jy’s seker mal!” roep Lynette vir Trouw. Haar rooi naels sny in Sophia se arm in soos wat sy haar saamsleep. “Kom, vrou.”

      Vrou-Sophia kom. Sy het nie ’n keuse nie; as hierdie vrou vir jou sê kom, dan maak jy so. Die meeste mans sou tog te bly wees as so ’n vrou hulle pad kruis.

      Terug verby die kantoor se voordeur. Dis een groot dowwe waas waarin Sophia haar bevind, soos verfkwashale wat oor haar dag vee sodat tyd en ruimte en spoed ineenvloei.

      Die kelners drom in ’n onseker troppie op die restaurant se voorstoep saam toe sy en Lynette daar aankom.

      “Ek het die polisie gebel,” sê ’n kelnerin in wie se brillense die wit winterlug en die naaste boom se takke weerkaats. Sophia sien ook haar eie weerkaatsing. Klein soos wat dit is, sy lyk onwillig. Kon sy tog maar net hier op die stoep bly staan. Sy sal enigiets doen om nie terug te gaan kantoor toe nie.

      “Maar almal van julle stáán ook net hier!” baklei Lynette.

      “We didn’t know if it would be safe to go in there,” maak ’n kelner beswaar.

      “Safe se gat, laat ek daai stuk gemors …”

      Niemand anders nie as Jackson. Dis hy wat by BoekWeb se kantoordeur instap – die eerste keer in sy hele bestaan – en toe het Sophia en Lynette ook nie meer ’n keuse nie.

      Jackson is vooruit die kombuis in en teen die tyd dat sy en Lynette in die kombuisdeur staan, het hy reeds die sweetpakman beet. Die man grom uit sy keel en mik met die vingers van een hand na Jackson se oë. Net toe dit lyk of hy iets met sy ander hand in sy sak beetkry, bring Jackson sy knie tussen die man se bene op en hy sak СКАЧАТЬ