Название: Asbesmiddag
Автор: Etienne van Heerden
Издательство: Ingram
Жанр: Контркультура
isbn: 9780624068747
isbn:
Vir ’n gereelde kliënt om ’n week van Giuseppe se salon weg te bly, is ’n daad van hoogverraad. Dit het in al die jare net een keer gebeur dat die skrywer, afgesien van wanneer hy op reis was, ’n week in onthouding was. Om egter nou weg te bly sonder vooraf waarskuwing, sal groot ontsteltenis in die salon veroorsaak.
Hy is natuurlik ’n hand aan die speel, omdat hy ál meer oortuig is daarvan dat die Sisiliaan se opmerking ’n dolksteek was. Dit was volkome onverwags. Die enigste wraak waaraan die skrywer kan dink, is om bloot weg te bly.
Hy sien homself nie as afgehaal en nors nie. Eerder afstandelik.
Hy slaan die laaste teug koffie weg en haas hom van sy toneel van skaamte. Iemand wat hy nie ken nie maar wat die uitdrukking van ’n leser op die gesig het, staar hom agterna. Hy gee langer treë.
Niemand hoef hom te vertel dat dit wat hy doen, verkeerd is nie. Maar soos so dikwels in die verlede swig hy voor voyeurisme, die kanker van die skrywer se siel. Hierdie keer voel hy egter werklik skuldig, want hy is gewikkel in – so vermoed hy – ’n daad van wraakuitoefening.
U sien, sy vader, wat lank gelede in treurige omstandighede die lewe gelaat het, het die Doktor geken, én had ’n lewenslange hekel aan hom. Hy het die Doktor geblameer vir iets wat baie jare gelede gebeur het, in die tyd toe die Doktor sy eerste asbesmyn laat grawe het.
Dit wat die skrywer nou doen, het ’n Italiaanse geur en is veels te Mafia-agtig. Dit gaan oor familievernedering. En as oudste seun van die vernederde ervaar hy – en dis wat hom onkant betrap – die kompulsie om bloed te sien.
2 Die vuurspuwer
Uiteindelik is hy weer aan die skryf. Die ontmoeting met die magnaat het hom aangevuur.
Die beeld waarmee sy vorige roman geëindig het, is die een waarmee hy nou vinnig en laag oor die landskap beweeg: hy is die eensame man wat hoed op die kop in ’n warmlugballon oor Afrika skuif.
Dis ’n massiewe ballon, en troppe wild galop voor die blaasvlam uit. As die man met die swart hoed en die stofbril die tou trek, blaas die gasbrander soos ’n draak en styg die ballon groots bo die landskap uit. Net om weer rustig te dryf en dan stadig, met uitlate van wind, te daal. Die wild weet nie of hulle weghardloop vir die verskynsel in die lug of vir die skaduwee wat oor die vlakte jaag nie.
Die kameelperde galop pragtig, effens lomp so vanuit die hoogte gesien. Hul lang nekke beur en kneukels been werk in hul massiewe skouers. Vlekke glip oor die velle; onder die kolle kan jy die spiere sien span soos hulle uithaal. Met trompetterende slurpe en ore en sterte alarmisties gelig, draf olifante komieklik, stormend dwarsdeur doringbome en deur driwwe, sodat stof opslaan en ’n kalfie uitasem probeer byhou.
Maar die mooiste is die springbokke, wat uitgelate en rats, asof hulle die petalje meer geniet as wat hulle dit vrees, oor die vlakte uitsprei en uitskiet bo bossies. Met lang hale waaier hulle oor die bult, pronkend en witstert in die skuins lig van die son wat die grasvelde versilwer.
Só het sy vorige roman geëindig: die sirkuseienaar wat, nadat voorhakers en suwwe ou trekkers jare lank trokke van die een dorpie na die ander gesleep het, besluit om boedel oor te gee. Op die breë vlakte van die plaas uit die skrywer se kinderjare parkeer die sirkuseienaar en die ringmeester die trokke in ’n lang ry. Soos die huid van ’n groot dier wat vervel en toe verdwyn het, druip die lugballon oor die gras. Een ná die ander gooi die ringmeester die luike oop terwyl die sirkuseienaar, ’n sigaar aan ’t rook in ’n opvoustoel, toekyk.
Terwyl die ballon stadig uitswel, toets die wilde diere hul nuwe vryheid. Sommige wil uit vrees nie die hok verlaat nie. Maar toe die ape kwetterend uitbaljaar en die takke inswaai en die eerste rooikat wegglip asof hy geroep word, reeds onsigbaar in die rooigras, struikel-val die eerste kameelperd na buite. Sy bene is te lank, die oopte om hom te groot. Sy koppie sit vraend op sy nek. Dan volg die olifante, slurpe ondersoekend voor hulle. Suutjies volg die twee kwaggas op wie se rûe die narre toertjies uitgevoer het. Die mak meerkatjies, nou sonder hul gek kadotjies en strikdassies, volg die rooikat skelm en stil.
Toe al die diere uit is, klim die ringmeester in die lugballon se tuig. Vir die seremonie is sy gesig soos ’n nar s’n opgemaak – hy’t hierdie keer toegegee en dit in die openbaar laat doen. Laat hulle dink dis deel van die bevrydingseremonie. Net hy weet waarvan hy hom puur toe hy na die sirkuseienaar in die kampstoel waai en die ankertou loslaat en oor die galopperende diere uitstyg.
Op hierdie vlaktes het die skrywer grootgeword, die elfde generasie in direkte afstamming. Bloedgrond; hy ken geen ander plek nie. Hiervan sou hy losgewring word, om uiteindelik in sy klein apartement onder eikebome tereg te kom.
Nou is hy egter weer hier, en hy vlieg oor die vrygelate wild, hy kantel die kloof in, hy kan die opstal in die gleuf sien, die sleepsel van die rivier met sy hoë bome wat inleun oor die klipplate, die geduldige, koel werf met die waenhuis en sy ouers wat klein en verlate daar staan en opwaai na hom, die ry werkkamers, die kannas en rose, die waterspuite se sproeireën, en die akwaduk wat fontein-water hoog uit die klowe ondertoe lei.
Hy styg nader aan die berg se lieste, waar Boesmantekeninge in grotte sit – die oorsprong van verhale wat hy in die bosse voel roer, stories wat met voetpaadjies afgeloop het na die werf waar hy grootgeword het. Verhale van spronge en versinsels en nagmerries en transformasies wat uit hierdie bodem kom en wat hom gevoed het. Jare later, vasgekeer op ’n kampus, het hy soms magiese verhale geskryf, en hulle het soos die akwaduk hul stories hoog in hierdie donker klowe kom haal. Hy laat hom nie vertel dat sy verhale vreemd is aan Afrika nie; hulle is hierdie landskap, hulle anker hier waar die moontlike onmoontlik word, waar dit so alledaags is soos die vlinder wat uit die papie kruip, of die slang wat uit die boom oor jou skouers val en in ’n karos verander om jou warm te hou met die bose hitte van die slang se siel.
Op, op, op styg die ballon, die kolskaduwee skuif al vinniger, teen die skuinstes op, die klowe oor. Daar onder het die sirkuseienaar opgespring, en hand bo die oë kyk hy en die narre, die tuimelaars, die temmers en die dansmeisies in hul leotards hoe die ballon al hoër opskuif teen die kranse. Hulle roep en waai, maar dis tevergeefs.
Dan, asof ’n ander wêreld binne, glip die ballon oor die berg se kop en dis weg. Anderkant wag die groot vlaktes van die Kamdeboo, die laagvlakte wat uitstoot see toe, die dynserigheid van die onvoorspelbare, en uiteindelik die koel leegte van die oseaan. Daarheen, buite sig nou, skuif die ballon op ’n trog wind wat uit die hoogtes klim en hom oor die vlaktes jaag.
Die sirkuseienaar en sy artieste kyk om hulle: die leë hokke; die dooie trekkers en voorhakers; die reuk van diereangs, bokmis en diesel; die karigheid van die klein troep daar verdwaal in hul eie goeie bedoelings.
Dobbel is Giuseppe se ander passie.
Het hy ’n van? Die skrywer het geen idee nie. Waarom is dit so dat net Italianers dit kan bekostig om by wyse van slegs ’n voornaam bekend te staan? In hierdie land – soos hy sy meesterstudente meermale waarsku – waar swart mense vroeër net op die voornaam genoem is, moet hulle in hul skryfwerk daarvan bewus wees dat dié infantiliserende praktyk nie by alle lesers sal verbygaan nie. Oppas vir die nuwe sedebewakers!
Maar Italianers kry dit op die een of ander manier reg dat die enkelnomina selfs toevoeg tot hul status. Daarbenewens is daar skynbaar in hierdie land ook net ’n beperkte repertoire Italiaanse name. Italiaanse expats heet óf Mario óf Giuseppe óf Paolo óf Giovanni óf Luigi. Wys my nog ’n naam! dink die skrywer. Dit klink soos ’n sameswering, ’n kode waarmee die expat-Italianer sy weg baan in die vreemde land.
Dobbel, weet die skrywer, is die ewige begeerte СКАЧАТЬ