Название: Asbesmiddag
Автор: Etienne van Heerden
Издательство: Ingram
Жанр: Контркультура
isbn: 9780624068747
isbn:
Die skrywer het al geskimp na Giuseppe se verlede, letsels wat hy opgedoen het en hul manifestasie in die hede, maar Giuseppe het sulke tye nooit oogkontak gemaak nie. Daar sou egter ’n ligte bewinkie deur die skêr verskiet; die skrywer kon nie anders as om dit op te merk nie.
Al wat hy weet, is dat Giuseppe heel eerste ná sy aankoms in Kaapstad soveel jare gelede ’n tandarts besoek het. Hy het die skrywer op ’n keer vertel dat hy sedert daardie dag ’n lewenslange fobie vir tandartsstoele het. Dat die kwaktandarts ’n tand, in plaas daarvan om dit te stop, uitgetrek het. Dit het hom met ’n gat in die mond gelaat.
Hy probeer dit wegsteek deur “Ferrari” en “Puccini” uit die hoek van sy mond te sê. Maar soms word hy onkant betrap, en dan sit die donker gat daar – die handtekening van ’n versweë verlede; ’n vertrek, ’n reis, ’n aankoms in stilte gehul.
By afloop van hierdie verhaal (in soverre ’n verhaal ’n afloop kan hê) sal die romansier dikwels sit en wonder oor dié verlede van Giuseppe, daardie tand, daardie reis deur Afrika en die aankoms; die verhaal wat vervaard ontwyk word; die bewerigheid wat die skêr tref.
Die skrywer se eie verhouding met sy verlede is een van fiksionalisering, ’n komplekse uittoor van die waarheid gelieg, ’n knaende herbesoek aan ’n opstal in ’n kloof, ’n karavaan in die halfwoestyn, ’n aap wat op ’n strandbal dans. Van wild bevry om uitgelate te spaander.
Giuseppe se bewerasie, het hy dit begin noem, daardie kere dat hulle afwyk van die gewone geselsies oor pesto, pastaresepte, koffie, die Grand Prix, blackjack en haarmousse. Dis wanneer die sluier agter dié spyskaart van voorspelbaarhede teruggetrek is, hierdie alfabet waaragter die Italiaanse expat wegkruip, dat Giuseppe sy ewewig verloor het.
Hoe werp so ’n man hom in die dobbelkuns? Benodig jy nie ’n sinisme wat jou kan laat dobber bó die wonde van die kansspel nie? Is die dobbelaar nie, elke keer wanneer hy vir ’n nuwe ronde aansit, die ewige nuweling nie?
Die ewige inisiant is natuurlik ook die skrywer se vloek. Met die begin van elke boek, nee, by die aanvang van elke hoofstuk, elke paragraaf, en uiteindelik woord vir woord, word die skrywer tot onderhorigheid gedwing: die dobbelsteen sal val en rol, jy sal wen of verloor. Daar is geen resep nie.
Die skrywer voel dus tuis by Giuseppe se dobbelary. Hy begryp dit; dis net nie vir hom nodig om soos Giuseppe Vrydagmiddae ’n tuxedo te huur voor sy vertrek na daardie sprokiespaleis in die noordelike voorstede nie.
Die skrywer benodig geen spoggerige uniform nie.
Desondanks pols Giuseppe hom dikwels oor sy eenselwige swart kleredrag. Waarom dra Professore dag ná dag dieselfde soort klere? Sal beter kleding – dalk ’n das en baadjie dan en wan – nie lei tot groter boekverkope nie?
“Nee, Giuseppe, die skrywersgenerasie waarvan ek deel is, glo in elegante dekadensie. Verslonstheid verkoop boeke. Jy moet gewroeg lyk. Wie wil ’n boek koop van iemand wat soos ’n polisverkoper lyk? Ek wil nie vertrou word nie – ek wil gelees word.”
Die wyse waarop hy daardie Donderdagmiddag die tafeltjie oorkant die gleuf geneem het om die magnaat af te loer, het hom verras én bang gemaak. Om daar van agter ’n donkerbril te sit en kyk hoe die chauffeur die geboë ou man uit die motor help. Die skielike herinnering aan sy bitter vader, soos ’n sweepslag.
Dit was diep in hom weggebêre, dié geheue, want toe hy hoor van die sjampoemeisie se flater, het hy onmiddellik skuldig gevoel. Hy wou bieg teenoor die groot nyweraar; hy wou sê hy’s jammer.
Hoe dra ons hierdie dinge nie in ons rond nie; hoe gereed is ons nie om toe te gee aan die vaderfiguur nie. Hoe verbysterend is die mag van hierdie dinge nie, en hoe kompleks. Só sterk en dwingend en paradoksaal dat hy nou by sy skryftafel sit, ’n intrige aan die uitbroei. Soos altyd is dit ’n dobbelspel. As ek hierdie kaart speel – wat sal gebeur? Aan die ander kant, as ek daardie een . . .
Sy vader en die asbesmagnaat het saam grootgeword diep in die suidelike provinsie, in die stowwerige binneland; in die Karoo. Sy vader was die seun van ’n boer; dit was ’n plaas wat die erfdeel was van die oudste seuns in die bloedlyn, ’n plaas in ’n vallei met water uit die berge. Die magnaat se vader was ’n professionele man op die dorp, ’n man met ’n buitelandse aksent, ’n das en baadjie, ’n goue vulpen, ’n kantoor.
As kinders het hulle saam gespeel, in die droë bedding van ’n rivier wat die naam van die Sabbat dra. Hulle het graag diep gate in die koel, klam riviergrond gegrou soos hase. Soms moes hulle dieper as gewoonlik dool, maar fluks het hulle saamgewerk, ’n ritueel, totdat hul grot koelte en klamte bereik het – ’n skuilte teen die ongenaakbare middagson.
Hulle het mekaar beloof dat hulle eendag saam sou goud uithaal, dat hulle hul lot sou saamsmee wanneer hulle die grootmenswêreld betree. Hulle sou soos Barney Barnato en Cecil John Rhodes in hul skoolgeskiedenisboek miljoenêrs word uit die skatte van die aarde.
Dit was ’n ernstiger kinderpakt as die gewone, ’n bende van twee. Daar was die versigtige snit met ’n lem, die uitruil van bloed.
Kinders beleef hierdie verblindende sterk lojaliteite en liefdes. Net om daarvan te vergeet wanneer stroomversnellings hulle later meevoer, en hulle kop bo water moet hou net om die stroomaf sleur te oorleef wat die lewe onafwendbaar word.
Maar meer so as ander het die skrywer se vader nogal naïef bly vasklou aan daardie bloedbroederskap gesmee onder ’n yl boom in die Karoo, so baie jare gelede.
Hoe vorm hierdie dinge ons nie! Hoe het elke familie nie, soos ’n genetiese kode, sy privaat mitologie uitgekaart nie! Hierdie verhaaltjie was sy vader se metanarratief: die seer toe die magnaat sy eerste myn laat grawe, blitsig soos ’n arend wat uit die winde val, diep die aarde in: asbestos!
Sy vader is nie gevra om te belê nie, en die intreebeleggers uit daardie streek, wat uit lojaliteit hul eertydse skoolmaat in sy eerste onderneming gesteun het, het saam met hom baie welgestelde mense geword. Elk het mettertyd in eie reg ’n dinastie gevestig, in daardie dae toe die Afrikaner verbete ’n bres teen Afrika probeer slaan het met graanlande, spoorlyne, sigaretfabrieke, asbesmyne, films en gedigte. En alsations en wette.
Bitterheid: die rokerige brandpunt van die vergrootglas. Die arme magnaat; hy’t dit nooit besef nie.
Maar jare later, ná sy vader se vroeë dood, het die skrywer se moeder hom ’n ander verhaal vertel oor die Bloedeed van die Sondagsrivier. Lesers sal waarskynlik terugdeins vir die hoofletters, verskoon maar. Ons betree hier egter mitologiese gebied; hierdie dinge is in klip geskryf. Dis die Dionisiese drif wat dié verhaal dryf tot by sy onwaarskynlike en dramatiese einde.
Maar mitologie was nie iets waaraan die romansier se ma haar gesteur het nie. Ná sy vader se dood het sy omsigtig maar stelselmatig die familiemitologie begin aftakel. Sy het opnuut in die huwelik getree nadat hulle verhuis het na die dorpie waar die skrywer nou woon; dis die omgewing waaruit sy oorspronklik gekom het. Hierdie veranderinge het haar vry gemaak om te beitel aan die standbeeld wat haar man van homself opgerig het.
Die verhaal wat sy vertel het, het gelui dat die magnaat inderwaarheid ’n besoek aan die skrywer se vader gebring het, toe nog die eienaar van die familieplaas Nooitgedacht in die berge van die Kamdeboo. Dit was in daardie jare toe wit mans van hul klas Afrika nog as hul speelgrond beskou het.
Die magnaat was, in sy moeder se woorde, “kop in een mus” met ’n filmmaker, ’n man wat later wêreldbekend sou word vir sy film oor ’n Coca-Colabottel СКАЧАТЬ