Название: Asbesmiddag
Автор: Etienne van Heerden
Издательство: Ingram
Жанр: Контркультура
isbn: 9780624068747
isbn:
Sy vader, “wat uit gewoonte die skip gemis het” (sy moeder se woorde), het die geleentheid om te belê van die hand gewys. ’n Film? ’n Storie? Die ligsinnigheid van die bioskoop? Nee wat – so het hy gesê.
Maar die waarheid was dat hy diep in die skuld was, want hy het pas in ’n nuwe en duur projek belê. Synde ’n man vir verbeeldingryke prakserings, het hy begin bou aan ’n kontrepsie agter die toe deure van die skuur. Wat dit was, het niemand geweet nie, en hulle sou ook nooit uitvind nie, want hy het eendag bleek en kopskuddend uitgekom. “Vergeet daarvan,” was al wat hy gesê het. “Die ding vreet net geld. En dit sal nooit geld inbring nie.”
’n Smous is gebel en die onderdele vir die geheimsinnige masjien is onder ’n seil weggery: ysterplate wat ten duurste op die dorp laat sny is, skroewe en ratte wat uit die stad laat kom is, duur aluminium, koperdraad, allerlei meters en skakelaars. Als weg.
Die skrywer se vader het dus onder dié omstandighede die bioskoopgeleentheid laat verbygaan. Die film is vervaardig en die geld was nie te goed nie, maar twee loopbane is geloods. Toe die asbes-uur slaan, was hy uit die prentjie. Die skopgrawe het gereed gestaan en die eerste span fris manne is met vragmotors uit Zoeloeland gebring, in kampongs gehuisves en, nou ja, die res is geskiedenis.
Nywerheidsgeskiedenis. Maar ook die nie-geskiedenis van die skrywer se familie.
Ná elf geslagte het droogtes die Karoo meedoënloos begin wurg. Die berg se silwer spuwing in die akwaduk het in die skrywer se kinderjare ’n dun, petieterige stroompie geword, toe ’n druppeling, en toe het selfs die groen slymvoering verdroog en verskrompel.
Nooitgedacht het ’n stofkom geword. Stoftregters het deur drome gedans, en in die nag kon jy nie onderskei tussen die soet geur van die doringbome, wat daardie droë jaar onverklaarbaar gebloei het, en die verrottende vleis van dooie lammers van daardie karige lammerseisoen nie.
“When a writer is born, a family starts dying,” het iemand ’n keer opgemerk, maar die skrywer het sy vader se seer gedra. Dit het egter verder as pyn gegaan: ’n verpligting het in sy siel begin ontkiem.
Hy was nooit bewus van hierdie drang nie. Later, toe alles verby was, het hy tot die slotsom gekom dat sekere dinge dormant in jou genetiese kode lê. Min of meer op dieselfde ouderdom toe sy vader se genetiese kode uitgeskop het en hy die plaas verlaat het om te begin werk by die sirkus wat ’n staning in die Sondagsrivier gemaak het, het onverwagte bitterheid die skrywer se eie biologiese klok tot by dieselfde plek gebring.
Hy is gereed vir ’n sprong, iets totaal onvoorspelbaars. Iets wat hom sal opswiep die winde van verandering in. Weg. ’n Ballon buite bereik van sy ingeperkte gemoed, van sy skrywerskap, sy professoraat. Van hierdie adolessente land wat homself stelselmatig aan die vermoor is asof hy die geskenk van bevryding glad nie begryp nie –’n kind met ’n nuwe driewiel wat die afdraand afjaag en mettertyd alle beheer verloor.
Dis die tydsgees, en die skrywer se gemoed is ’n lugballon.
Skielik is hy so tuis met die nosie van bitterheid en die moontlikhede van wraak dat dit hom duiselig maak. Daar is ’n bewing in sy hand wat plotlyne op die leë folio voor hom trek.
Skryflus neem van hom besit; dis ’n soort begeerte. Die dobbelsteen rol, dit tuimel asof dit ’n eie wil het en geen sorge in die wêreld nie. Dit tol op die name wat hy op die folio geskryf het en gaan lê plotseling op een naam: die sjampoemeisie.
Die nommer op die dobbelsteen is 1.
“Jy’s die een,” fluister die skrywer.
Die skrywer se vader het as vuurvreter begin. Die familie daar in die stil plaashuis op die werf waar geen diere meer was nie, het nie gehou van die term “vuurvreter” nie. Dit het hulle te veel herinner aan die voorgeslagte: die vuurvreters met hul lang baarde, hul mausers, die rebelle wat kommando’s gevorm het hier hoog in die berge, hier waar jy net Gods asemwind deur die gras sien vee en waar die son deur die koppe glinster en geen Britse vlag wapper nie.
Nee, dan eerder vuurspuwer.
Hy moes ’n baard kweek, ’n lang, swart bos baard wat ’n keer aan die brand geslaan het. Die skrywer het digby die arena gesit, daardie aand toe die sirkus weer verbygekom het en die hele dorp opgewonde was oor een van hul eie mense nou in dié wonderwêreld gewerk het. Sy vader het eers met vlammende baard ’n paar keer in die rondte gehardloop en toe onder handegeklap sy kop in ’n emmer, wat een van die hansworse kom hou het, gaan druk.
Die gehoor het geglo dis deel van die toertjie; die applous was oorverdowend. Sy moeder was woedend; hulle het sy vernederde vader agterna by sy karavaan gegroet en stil plaas toe gery. Die wêreld het na stof en klip geruik, die sirkus was ’n vertroosting vir die distrikte wat in daardie tyd so gesukkel het. Die arbeidershuise op die plaas was leeg, die werkers en hul gesinne moes almal loop, sommige van hulle het geslagte lank op Nooitgedacht gewerk. Hul trekke het op die rand van die hoofpad gesit, wagtend op die een of twee motors wat dalk daardie nag sou verbykom.
Toe die skrywer en sy moeder verbyry, het hulle wuiwend in die koplampe verskyn. Net ’n oomblik, in verflenterde klere, ’n hand gelig – ’n hand wat die skrywer se lyf geaai het, sy skoenveters vasgemaak het, sy toebroodjie vir die skooldag versorg het.
Toe die instink vir wraak die skrywer tref, besef hy dat dobbel nie net gedryf word deur die sug na verrassing nie, maar ook deur die verlange na die afgrond.
Om alles te verloor; om te val; om geen vastrap- of vatplek te kry nie; om gewigloos en vry te wees.
Hy is senuagtig toe hy Giuseppe Professional Hair Stylists die volgende dag bel om ’n afspraak te maak. Omsigtig sorg hy dat die Doktor nie dalk ’n afspraak het wat met syne sal saamval nie. Hy wil dit vermy; hy moet eers die water toets.
Dis ’n winderige middag, met die suidooster wat klere teen ledemate aandruk en sinusse uitdroog. Daar is ’n gevoel van onheil in die lug. Hy verlaat die stadskampus, en toe hy by die sekuriteitshokkie verbyry, glip hy Domingo in die CD-speler. Hy ry uit op die snelweg wat noordoos lei.
Hy dink aan ’n student se vraag: Wat is die doel van literatuur?
Dis somer, die akademiese jaar het pas begin. ’n Slegte begin vir hom – die reses is al tyd wanneer hy ongehinderd aan sy skrywerswerk aandag kan gee. Hy moes deur die dae voor en ná Kersfees, rondom Nuwejaar en daarna met die vingerpunt elke woord van ’n buitelandse vertaling van sy sirkusroman nagaan. Alles gaan verlore, het hy in die bedompige namiddae gedink. Wat hulle daar in Europa gaan lees, is ’n afgewaterde weergawe van die oorspronklike teks. Waarom moet ek my hiermee bemoei? Dis nie meer ek nie, hierdie teks sonder tekstuur en subtiliteit.
Hy begin die jaar moeg, met ’n kursus wat hy al die afgelope dekade aanbied. Hy ken die tekste uit sy kop – romantiese poësie uit die negentiende eeu, die Nederlandse Tagtigers. Dit moes vir hom ’n tuiskoms gewees het, ’n jaarlikse pelgrimsreis. Maar die studente word iedere jaar minder; vanjaar het slegs vier voor hom gesit toe hy die eerste dag by die klas instap.
En om die een of ander rede voel die terrein hierdie semester vreemd, byna bedreigend. Sy akademiese lewe word oorgeneem deur die meesterklasse in die skryf van Engelse fiksie wat hy aanbied – en daar is geen tekort aan studente nie; skrywerskap blyk ’n gewilde bestaanswyse te wees. Ook sy Engelstalige lesings oor kultuurstudie word aangebied voor massiewe klasse, waar studente uitgestapel op sirkus-pawiljoene sit.
Die Nederlandse poësie is sy oorspronklike spesialiteit, sy liefhebbery, СКАЧАТЬ