Asbesmiddag. Etienne van Heerden
Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Asbesmiddag - Etienne van Heerden страница 5

Название: Asbesmiddag

Автор: Etienne van Heerden

Издательство: Ingram

Жанр: Контркультура

Серия:

isbn: 9780624068747

isbn:

СКАЧАТЬ wie jy die hardste gewerk het.

      En toe kom hy, die skrywer, boonop die salon binne. ’n Skrywer wat bekend is daarvoor dat fiksie en werklikheid ’n sluierdans in sy werk uitvoer. Die Doktor, dink hy agterna, het presies geweet wat die nering is van die man wat langs hom kom sit het. En hoe die woord niks minder as knaagdier is nie.

      Gedagtig aan daardie hande moet hy dink aan sy eie treurige tiere. Die vernaamste is sy obsessie met sy kuns, wat sy gees aan die ver­skeur is – en dit aan ’n universiteit wat in die nuwe republiek moet oorleef. Hy is, nes sy kollegas, gewikkel in onophoudelike gevegte waarin hulle hul navorsingsgebiede moet motiveer, hul doseermodules moet verdedig, hul kantoorure opsom, hul dosent-student-ratio bereken. Helaas moet hy ook die verkoopsyfers en inkomste uit sy boeke aan die dekaanskantoor verklaar.

      Sy ander tiere hou hy voorlopig geheim. Laat hulle vir eers in hul bamboeswoude bly. En gloei, soos dit tiere betaam.

      En so het dit gekom dat die skrywer besef het dat hy en die magnaat al twee skuiling soek teen die wêreld in Giuseppe se salon. Die ou Doktor het ook ’n neiging na die minderes, nes hy – hy herken dit aan die manier waarop die magnaat Maria en Sylvia met vrae peper, aan sy nuuskierigheid.

      Hulle is albei, vermoed hy, besonder weerlose mans. Hy is in die woud van sy keuse ’n papiertier – hy gebruik dié term in sy swakste oomblikke helaas nie ironies nie. Die magnaat is ’n roofdier in ’n wêreld waarvan hy as skrywer geen snars weet nie.

      Maar nou het ’n wens in hom begin groei. En dis om daardie groot hand vol lewervlekke te sien oopvou in die sweterige vingers van die dubieuse Indiese fortuinverteller – die man wat deesdae, so hoor hy, motors was in die parkeerarea langs die sentrum om sy skamele inkomste aan te vul sodat hy sy swierige tulbande kan bekostig.

      Die geur van teeblare is kalmerend, so het die skrywer agtergekom in die salon. Daar is iets in die klamte op die ooglede wat die gees sus. Laat hy hom verstout met die goedkoopste van alle metafore: Miskien onthou jy, onbewustelik, die baarmoeder. Dalk is dit weens die gedwonge duisternis van ’n vogtige en strelende wêreld waarbinne daar geen sig is nie.

      Jy kan na binne luister.

      Hy het ’n groot vrees vir blindheid. Dis ’n vorm van noutevrees, ’n fobie. Hy het ’n diepe oortuiging dat hy eendag twee keer sal sterf. Hy sal sterwe wanneer hy sy sig verloor, en dan weer wanneer sy hart ophou klop.

      Aan wie kan hy dit vertel? Daar is niemand.

      Terwyl hy daardie middag langs die ou reus van die nywerheid, die markgenie, gesit het, het hy besef dis vrese soos dié wat hom na die salon jaag. En dat die magnaat op sy beurt ook die slagoffer van spoke moet wees. Waarom anders sou hy dan die glanssalonne in die winkelsentrum ’n skamele twee straatblokke verder vermy, daardie hoëtegnologie-stiliste in die toeristebuurt? Waarom laat kom hy nie ’n kapper na sy huis of kantoor nie?

      Nee, hy kom na Giuseppe se salon. Om gewoon te wees. To go bush.

      En die romansier kry die geur van vleis. Die jag. En sy tier grom.

      Hy huldig geensins ’n romantiese opvatting van kuns óf besigheid nie. Hy mag hom dalk bedien van simbole soos tiere, bamboeswoude en ander el cheapo-goeters, maar in sy hart is hy sinies. Hy glo in pyn.

      Hy weet dat almal aan die hardloop is, weg van pyn. Sommige hardloop net vinniger as ander, en in hul vaart slaag hulle daarin om munt uit die lewe te slaan. Hulle kan uitmunt in geld, of in goeie boeke. Maar dis vleis. En om die honger te stil, is om die pyn te verdoof.

      Om iets deur die mond te neem, is die groot metafoor. Of jy nou ’n minnaar se siel drink deur diep te soen, en of jy ’n heerlike reep wildsvleis proe. Of jy wyn sluk of asbes inasem of ’n goeie storie verorber of ’n medeskrywer met jou vlymtong afkam. Jy eet die lewe; jy stil jou honger; jy herwin energie en proteïene.

      Jy kom jou plig om te lewe na.

      Die geveg oor asbeskanker en die eise wat ingestel is deur die siekes en die dooies se gesinne teen die logge empire waarvan die buierige ou man simbool is, was morsig. ’n Losgemaal waarin die bloggers wat in die kuberruim op wag lê met oorgawe ingedons het. Húlle is die nuwe vyande van die establishment, en die romansier vermoed die ou Doktor weet dit. Die wêreld is besig om uit die magnaat se greep te gly. Die vyand dra die vonk van bemagtiging op hul borswering.

      Dis niks minder nie as ’n revolusie.

      Dis ’n vlamoorlog, en die web se befaamde flame wars laat ouwêreldse polemiek na ’n Sondagskoolpiekniek lyk. Die skrywer het daarop afgekom terwyl hy deur die web gehark het op soek na verwysings na die geskiedenis van verf. Hoe nuwe verwe nuwe maniere van skilder moontlik gemaak het. Hy wou weet hoe Rembrandt, as die koning van olie, effekte kon bewerkstellig soos niemand voor hom nie bloot omdat hy die eerste skilder was om olie as basis vir sy pigmente te gebruik. En nader aan sy eie tyd, hoe moderne huisverwe Roy Lichtenstein se popkuns moontlik gemaak het.

      Hoe, het hy gewonder, gaan nuwe tegnologie die skeppende skrywer se ambag raak? Hoe gaan storie in die Web 2.0-era uitrol, in die Wikisfeer? En dit wat hulle daar in sy fakulteit “die leesdaad” noem? Hoe lees hiperteks anders as papierteks? Is Jonathan Franzen korrek wanneer hy sê: “For every reader who dies today a viewer is born”?

      En gaming, waar die gebruiker self die gang van die verhaal kan bepaal – gaan elke leser nou meer skrywer as leser wees? Gaan dit die dood van die leser en die geboorte van die speler word?

      Ook het hy gewonder of hierdie navorsingslyn dalk die fakulteit se dekaan en die navorsingsdekaan sou boei. Dalk sal hulle dit as waardige tydsbesteding ag as hy sy gewig daar sou ingooi. Dalk sal hulle dan minder op sy nommer druk vir vergaderings oor begrotings, die sny van rieme, samesmeltings met nouliks verwante departemente, en al die dinge wat nodig is om die universiteit op koers te hou.

      Regtig opgewonde raak oor dié navorsingsrigting kan hy egter nie. Al wat hom boei, is storie.

      Maar hy is helaas oortuig daarvan dat die diskoers oor storie te subversief is vir die moderne kampus – en met die ontwikkeling van tegnologie gaan dit nóg meer ondermynend raak. Kennis moet deesdae uitkomsgebaseerd wees, ’n kommoditeit vir ’n nuwe era. Toerusting vir ’n behoorlike beroep – dís hoe dit deesdae gaan in die pädagogische Provinz. Jy moet jou kursusmodules aan die studente verkoop sodat hulle as brawe, produktiewe burgers die nuwe Suid-Afrika kan ingaan. En voltyds skryf is, soos almal weet, geen beroep vir Afrika nie.

      Op die kampus word die reg en verkeerd van tydsbesteding en produksie eindeloos uitgepluis op warm somermiddae, terwyl motors enkele kilometers verder verkoop word, mense in ongevalle-kamers van hospitale omkom en kelners uitdraf met stomende borde vars lynvis. Die universiteit kan geen eiland wees nie. Die universiteit wil deel van daardie wêreld daar onder word. ’n Universiteit met relevansie. ’n Universiteit in Afrika.

      Wat universiteite na die skrywer se mening egter benodig in hierdie tyd dat die eenpartystaat sy mag konsolideer, is Joyce se advies: silence, exile, cunning.

      Maar dis nie sy gebied nie, en hy behoort hom nie daaroor uit te spreek nie.

      Die magnaat se grommerigheid daardie eerste middag het die verhoudinge in die salon oorgetiep in ’n nuwe ruimte. Baie maande later eers sou die skrywer besef dat iets onherroepliks gebeur het. Iets het verskuif in die orde van dinge.

      Daar was iets katvoets in die lug. ’n Groot roofdier het vermanend gegrom – hy wil stilte hê – en almal was op hul tone. Die skrywer het om die een of ander onverklaarbare rede skuldig gevoel. Groot persoonlikhede besit swaartekragte wat van hulle uitgaan, en СКАЧАТЬ