Ena Murray Keur 2. Ena Murray
Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Ena Murray Keur 2 - Ena Murray страница 22

Название: Ena Murray Keur 2

Автор: Ena Murray

Издательство: Ingram

Жанр: Короткие любовные романы

Серия:

isbn: 9780624068198

isbn:

СКАЧАТЬ om maar vir eers te swyg. Op die oomblik is daar belangriker dinge wat sy aandag vereis. Op die een of ander manier móét hulle ’n begin maak!

      Louw laat hom oorreed om Pauli eers in vrede te laat, en terwyl Zelia ná ete in die rigting van Pauli se tent koers kry, stap hy en professor Islinger na die kantoortent waar hy hom oor Analola inlig.

      “Dis die enigste kans wat ons het, professor,” sê Louw, “hoewel die goewerneur my deur Pauli laat weet het dat ek van Analola af moet wegbly.”

      Sy mond trek grimmig. “Miskien dink hy ek stel om ’n ander rede in haar belang, en ek sal hom nie van die teendeel kan oortuig nie. En as hy dan te wete moet kom dat Analola bereid is om ons van die ana te gaan wys, is dit klaarpraat.”

      Professor Islinger frons. “Ja. Dis eintlik ’n moeilike situasie, maar ons kan nie hierdie kans laat verbygaan nie. Ons sal dit maar moet waag. Ek is jammer as jy jou daardeur in ’n ongemaklike posisie gaan bevind, maar …”

      “Dit kan my nie skeel nie. Laat hom – en wie ook al – dink wat hulle wil. Ek het nie halfpad om die aardbol gekom om onverrigter sake terug te keer nie. Ons móét eenvoudig nou begin vordering maak. ’n Maand is al verby.”

      In haar tent kyk Pauli op toe ’n skaduwee oor die opening val. Haar oë verkil toe sy sien wie dit is. Zelia maak asof sy nie die ander se vyandige houding opmerk nie en stap binne.

      “Jy het nie kom eet nie. Kan ek nie vir jou iets hierheen bring nie?”

      “Nee, dankie. Ek is nie honger nie.”

      Zelia sug en gaan sit op die kant van die bed.

      “Pauli, jy maak dit vir ons almal baie moeilik. Op ’n ekspedisie op ’n afgesonderde eiland is daar nie plek vir kinders nie.”

      Sy klink vriendelik en geduldig, asof sy werklik probeer om redelik te wees met ’n dikmondkind.

      Pauli verstyf. “Nee, ek weet. Dis bedoel vir grootmense – uiters volwasse grootmense.” Koud kyk die blou oë terug. “Ek is nie so ’n kind soos wat jy en Louw dink nie, maar … ek moet erken … só volwasse is ek ook nie.”

      “Wat … wat bedoel jy?”

      Pauli swaai haar kop weg. Dis die laaste ding wat sy aan hierdie vrou sal vertel – dat Louw snags ’n eilandbewoner in sy tent ontvang. Dit sal die toppunt van vernedering wees.

      ’n Vinnige, smalende glimlaggie skiet oor Zelia se gesig. Dan trek sy haar gesig vinnig reg en praat aarselend: “Pauli, ek … ek weet natuurlik nie hoe jy dit agtergekom het nie.”

      Sy swyg en toe Pauli se kop weer vinnig terugdraai, sien sy die altyd beheerste wetenskaplike met neergeslane oë sit en skuldig lyk.

      “Wat het ek agtergekom?”

      “Wel …” Dan kyk die oë op en Pauli sien die uitdaging daarin. “Wel, dat ek en Louw …”

      “Jy en … Louw?”

      Nee! Nie Zelia ook nie!

      “Jy het natuurlik op ons gespioeneer. Dis al manier waarop jy kon vasstel dat … wel, dat ek en Louw meer as net vriende is. Pauli, luister, jy moet probeer verstaan. Ons was al op verskeie ekspedisies saam, en altyd op afgesonderde plekke. Ons is mense. Ek is ’n vrou en Louw is ’n man. Ons is maande lank saamgegooi onder intieme omstandighede. Verder praat ons dieselfde taal, dink eenders oor dinge, stel in dieselfde dinge belang. Eintlik is dit net natuurlik dat daar iets meer as blote vriendskap tussen ons ontstaan het. Jy het dit nou agtergekom en dis tot daarnatoe. Ek kan ook nie sien hoekom jy so hewig ontsteld is daaroor nie. Julle gaan tog skei wanneer ons terug is, nie waar nie?”

      Die tweede keer wankel die aarde onder Pauli. Zelia ook! In hierdie oomblik sien sy Louw se gesig weer voor haar, die verbasing en woede daarop toe sy van Zelia melding gemaak het. Dit was alles valsheid! Skynheiligheid! ’n Kille woede neem van haar besit – en ook ’n ysige vasbeslotenheid. Sy ontmoet die ander vrou se blik waterpas.

      “My en jou begrip van volwassenheid – en blykbaar Louw s’n ook – verskil hemelsbreed, doktor Meyer. By my begrip van volwassenheid is ook beginsels en karakter en selfbeheersing ingesluit … nie die ongebonde loslating van primitiewe drange en emosies en ’n deurmekaar gemors soos wat blykbaar jou idee daarvan is nie.”

      “Jou … jou klein …”

      “Dis nie vir jou om my skelname te noem nie, doktor Meyer. Dis ék wat jóú name kan noem – en ek kan op hierdie oomblik aan ’n hele paar dink wat jou uitstekend sal pas. Ek het niks verder vir jou te sê nie. Verlaat my tent asseblief onmiddellik.”

      Zelia spring op met ’n vertrekte gesig, maar Pauli kyk kalm terug. Alles binne-in haar voel lam van skok en teleurstelling en pyn.

      “Jou klein gek! Ek kan jou baie meer vertel as waarvan jy weet! Weet jy dat daardie Polinesiese danseres gisternag in Louw se tent deurgebring het? En wat van al die ander ekspedisies toe Louw …”

      “Ja, ek weet. Maar dis ook nie vir jou om van die danseres te praat nie. Daar is geen verskil tussen julle twee nie, is daar? Julle is eenders – al is die een ongeletterd en die ander geleerd. Jy is niks beter as sy nie, is jy?”

      Pauli se blik bly vasgenael op Zelia se gesig, maar sy sien uit die hoek van haar oog ’n hand lig en vervolg in dieselfde dodelike kalm stem: “Ek sou dit nie doen as ek jý is nie, doktor Meyer. Want ek is nog Louw se vrou – en vir jou inligting, en vir dié van al die Polinesiese meisies in die Suidsee – hy sal my man bly. Louw verkeer blykbaar onder ’n wanindruk. Jammer dat hy jou verkeerde inligting gegee het, maar … Louw Hattingh is my man en ek is nie van plan om hom ’n egskeiding te gee wanneer ons terug is of enige ander tyd nie. Dus … jy en die Polinesiese meisie kan maar voortgaan om soos kinders teen mekaar mee te ding. Ek is nie in die stryd nie. Ek het klaar gewen.”

      Zelia besef dat Pauli inderdaad hierdie ronde gewen het. Sy durf nie haar geluk te ver beproef nie. Sy het reeds baie gewaag. Maar sy is redelik seker dat Pauli nie vir Louw van hierdie gesprek sal vertel nie. By die tentklap draai sy weer terug.

      “Jy is ’n dwaas, Pauli. Laat Louw liewer vry of …”

      “Of, doktor Meyer?”

      “Of jy kan dalk te laat besef dat jy dwaas was.”

      “Dit sal die toekoms ons maar moet leer.”

      Louw is alleen in die kantoortent toe Zelia daar instap. Sy is nog hewig ontsteld en dis nie nodig om toneel te speel nie. Haar hande bewe opsigtelik. Toe Louw haar sien, pers hy sy lippe op mekaar en vra kortaf: “Wat het gebeur? Jy lyk ontsteld.”

      “Ek is!” Sy sak op ’n bankie neer en skud haar kop. “Dis hopeloos, Louw. Sy wil na geen rede luister nie. Ek … verskoon my dat ek dit sê, maar ek kan nie anders nie – ek het lanklaas ’n meer onvolwasse vrou teëgekom as Pauli … en iemand met soveel vuil gedagtes! Weet jy wat sê sy vir my?”

      “Ek kan byna raai, maar gaan voort.”

      “Sy beweer dat ek en jy … ons twee op ekspedisies … O, jy weet wat ek bedoel. Sy is kleinlik en opgevreet deur jaloesie! Sy sê ek en Analola is eenders! Sy glo natuurlik onwrikbaar haar eie vertolking van Analola se aanwesigheid in jou tent gisternag. Ek kon ewe goed aan daardie bank vertel het dat jy nie daardie soort man is СКАЧАТЬ