Название: Ena Murray Keur 2
Автор: Ena Murray
Издательство: Ingram
Жанр: Короткие любовные романы
isbn: 9780624068198
isbn:
Sy is reeds ’n hele paar tree weg toe sy stem haar tot stilstand bring. ’n Fyn vonkie van tevredenheid skiet op in die oë agter die bril. Dan draai sy met ’n sedige gesig om.
“Ja?”
“Wag eers. Daar is iets wat ek jou wil vertel.” Hy kom nader. “Daar is ’n moontlikheid dat ons binnekort tog ’n begin sal kan maak.”
“O?” Sy kyk hom belangstellend aan, hoewel sy goed weet waarvan hy praat. Maar natuurlik weet hy nie dat nog iemand na die gesprek tussen hom en Analola geluister het nie.
“Onthou jy daardie danseres?”
“Danseres? O, ja! Daardie een wat die aand gedans het toe dokter Inaki …”
“Ja. Ek het haar probeer opspoor in die hoop dat sy ons miskien sal kan help. Gisternag het sy skielik in my tent opgedaag.” Hy sug. “Pauli het haar daar gesien ingaan en die duiwel was netnou daaroor los. Sy het natuurlik net een ding in haar kop.”
Zelia se oë is wyd gerek van skok.
“Ken sy jou dan so sleg? Dis ’n belediging!”
“Jy kan dit weer sê. Ek was so woedend dat ek nie eens probeer het om te verduidelik nie. Maar dis nie wat ek wou vertel nie. Kort en klaar kom dit daarop neer dat sy wel bereid is om my na ’n paar ana te neem – maar teen ’n prys. Sy wil saam met ons vertrek wanneer ons die dag weggaan.”
“Wat wil sy in die buitewêreld gaan maak?”
“Ek weet nie. Sy kom my egter baie desperaat voor. Ek kon haar natuurlik nie ’n vaste belofte gee nie, maar ek het belowe dat ek haar sal help sover moontlik. Daar is iets geheimsinnigs omtrent haar. Ek sal egter die kans moet waag, want as sy ons nie na die ana neem nie, kan ons maar môre terug vertrek. Met die res maak ons geen hond haaraf nie.”
“Wanneer sal sy ons wys?”
“Nee. Net vir my. Dit moes ek ook plegtig belowe. Niemand behalwe ek mag hiervan weet nie. Sy sal my ook in die nag gaan wys, maar sy kon nie sê watter nag nie. Ek moet nou maar wag en sien wat gebeur. As ek net eers weet waar die ingange is, kan ons maar voorgee dat ons toevallig daarop afgekom het en aan die werk spring. Maar intussen het dokter Inaki my deur middel van Pauli gewaarsku om van Analola af weg te bly. Daar moet die een of ander verband tussen die twee wees.”
“Wat gaan jy doen?”
“Wat dink jy? Ek dink hy is besig om te bluf, maar al is hy ook ernstig, kan dit my nie skeel nie. Jy weet, Zelia, daar is iets vreemds omtrent hom. Die res van die eilandbewoners se houding kan ek nog in ’n mate verstaan. Soos Pauli gesê het, dit is hul erfenis en vir hulle byna heilig. Maar dokter Inaki … Hy is ’n geleerde, beskaafde man. Hoekom probeer hy so naarstiglik om die ekspedisie in die wiele te ry?”
“Ja, sy houding is beslis vreemd.” Zelia frons ook.
“Ons dokter Inaki is vol geheime. Daarvan is ek seker.” Sy oë trek peinsend saam. “En hy is ’n gladde kalant.”
Zelia kyk hom bekommerd aan. “Louw, jy moet dit liewer nie waag om Pauli hiervan te vertel nie, ek bedoel nou die werklike rede hoekom Analola – dis haar naam, nè? – na jou tent gekom het. Sy sal reguit na Inaki gaan en hom daarvan vertel.”
“Ek besef dit. Dokter Inaki is die laaste mens wat hiervan moet weet. Pauli moet maar dink wat sy wil, daar is te veel op die spel om ’n kans te waag.”
“Ja, en …” met ’n slinkse sydelingse blik na die strak gesig, “sy verdien nie om reggehelp te word nie. As sy dan sulke goed van haar man dink …”
Sy swyg en glimlag fyn by haarself. Arme Pauli! Sy kry haar amper jammer! Die feit bly dat sy, Zelia, daardie selfde gedagtes gekry het toe sy gisternag ’n gestalte voor haar oop tentklap gesien verbysluip het. Daar is geen ongediertes op Paaseiland nie, en dis heeltemal veilig om met ’n oop tentklap te slaap. Sy het suutjies opgespring en gesien hoe die Polinesiese meisie in Louw se tent verdwyn. Sy was ook ’n oomblik lank te verslae om te beweeg. Maar later kon sy haarself nie keer nie en het versigtig agter om Louw se tent gesluip. Binne-in haar het die jaloesie gegloei. Dis erg genoeg dat sy Louw van ’n leë pop, soos sy Pauli nog altyd beskou het, moet probeer afrokkel. Maar dis ’n belediging dat sy nog verdere kompetisie van ’n Polinesiese meisie ook moes kry!
Gelukkig het die gesprek die vrees in haar besweer. Nou kan sy lag oor Pauli se jaloesie! Daar is niks om op jaloers te wees nie. Louw Hattingh is weliswaar ’n man – dit weet sy – maar hy is nie dáárdie soort man nie. Sy kon Pauli ook gerusstel dat Louw, wat hoeveel kanse al op die vorige ekspedisies gehad het om sy vrou te verkul, dit nog nooit gedoen het nie. Sy behoort te weet. Maar laat Pauli maar voortgaan om hierdie dinge te dink. Dit pas haar. Tewens – en die oë agter die brillense trek peinsend saam – sy kan haar gerus nog verder daarin aanhelp!
Hulle stap saam terug na die kamp en Zelia hou die gesprek doelbewus lig, sodat Louw se gespanne gesig ietwat ligter word en hy selfs een keer glimlag.
Pauli sien hulle so aankom deur haar halfoop tentklap en weer is dit of sy ’n fisieke pyn ondervind. En sy vra haarself die hoeveelste keer af: Waarvoor, wáárvoor het hy my na hierdie uithoek saamgesleep? Om my te verneder? Maar hoekom? Dis nie Louw Hattingh nie. Maar dan … dié Louw wat sy geken het, is dood. Hy het eintlik nooit werklik bestaan nie! Hy was ’n droombeeld wat sy in ’n tyd van smart vir haarself geskep het.
Maar die vreeslikste van alles is dat sy nie op haar volmaakte droomheld verlief geraak het nie, maar juis op hierdie man, hierdie Louw wat snags ’n meisie in sy tent ontvang en nou so ewe gemoedelik en, soos dit vir haar jaloerse oë lyk, so intiem met Zelia glimlag!
Haar hart en verstand is in ’n geweldige tweestryd gewikkel. Haar verstand vertel haar dat sy besete is om op so ’n man verlief te wees! Sy kán nie wees nie. Dis net nie moontlik nie! Maar haar hart praat ewe hard terug en die jaloesie daarin vertel haar dat dit wel so is. Aan die “ander” Louw kon sy ewe kalm sê dat sy van hom wil skei. Van hierdie een wil sy nie. Sy wil hom vir haarself behou!
8
Die ure draal vir Pauli in haar slaaptent verby. Ook toe middagete aanbreek, is daar nog geen teken van haar nie. Louw se gesig word nog strakker en toe hy na haar wil gaan soek, is dit Zelia wat hom keer.
“Los haar eers, Louw. Jy gaan niks uitgerig kry nie. Dit gaan net weer op ’n rusie uitloop. Ek sal netnou met haar gaan praat. Miskien kry ek iets reg …”
Aan tafel is die geselskap, en die lang stiltes, ook gespanne. Professor Islinger lyk diep bekommerd. Nie net is hy bekommerd oor die ekspedisie wat nie koers kry nie, maar dié persoonlike spanninge baar ook baie sorg. Hy kon weliswaar nie hoor of verstaan wat gepraat is nie en sou nooit daarvan droom om soos Zelia doelbewus ’n gesprek te probeer afluister nie, maar Pauli en Louw het nie moeite gedoen om hul stemme gedemp te hou nie. Hy kon duidelik genoeg aflei dat man en vrou in ’n hewige rusie betrokke is.
Waaroor die uitbarsting was, kon hy nog nie duidelik uitpluis nie, maar hy het die spanning tussen man en vrou gesien oplaai. Hy het ’n vermoede dat die goewerneur van die eiland ook in die prentjie kom, en êrens op die agtergrond huiwer doktor Zelia Meyer se beeld.
Maar СКАЧАТЬ