Helse manier van koebaai se. François Bloemhof
Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Helse manier van koebaai se - François Bloemhof страница 6

Название: Helse manier van koebaai se

Автор: François Bloemhof

Издательство: Ingram

Жанр: Ужасы и Мистика

Серия:

isbn: 9780798155885

isbn:

СКАЧАТЬ

      “Why us?” wou sy dadelik weet in Sharpe se kantoor, en Steyn kon die subteks hoor: Hoekom moet ek weer met hierdie man saamwerk?

      Steyn wou self weet hoekom juis hulle, maar die antwoord was logies. Hulle het dan al twee keer baie suksesvol kragte saamgespan.

      “If there are two people I would trust with my life, it’s you.”

      Selfs al haat een van hulle jou? vra hy homself af. Hy mag die nodige ervaring en vaardighede hê. maar as hy Sharpe was, het hy nie vir hóm gekies nie. Haat is dalk ’n sterk woord, maar hy kan Sharpe nie verdra nie en die gevoel is tog wederkerig.

      Dit het hom laat wonder – dalk is alles nie pluis nie? Dalk het Sharpe daardie moordpoging versin. Dalk het geen bus hom amper vertrap nie. Jy kan maklik self ’n paar skrape oor jou handpalm aanbring.

      ’n Lokval? Dit sal ’n baie omslagtige lokval wees, maar Sharpe het hom mos reeds op Magrieta Bakkes se plaas amper sy lewe gekos. En wat van Lana?

      Sharpe het ’n ogie op haar: miskien wil sy dit nie raaksien nie, maar Steyn kan dit nie miskyk nie. Woede en vernedering by Sharpe omdat sy hom nie wil hê nie, en nou moet sy ook boet? Hoe weet jy hoe werk mense se koppe? As hulle Sharpe moet beskerm, moet hulle naby hom wees. Die ou ding van keep your friends close, but your enemies closer.

      Maar nee. Iets sê vir hom hier is wel ’n ander teenwoordigheid.

      Schorpioen. Dit was net ’n woord wat soms opgeduik het in verslae wat hy interessantheidshalwe gelees het. Dit het niks met hom te make gehad nie, dit was amper fiksie, want sulke verslae is wat hy lees in plaas van boeke. Altyd ’n uitbreiding van kennis, altyd, hy hou nooit op met werk nie.

      Nou ja, dis tyd om te ry. Hy moet gaan kyk watter mal rigting sy lewe nou weer inslaan. Met ’n wrang glimlaggie loop hy uit, sluit die voordeur en wonder, nie vir die eerste maal nie: Maak ek hierdie deur ooit weer oop?

      5

      Helse manier

      Die lem doen sy werk. Die vel is reeds glad, nou word enige haartjies kortgeknip wat dalk nog iets hier wou begin. Kirts-kirts maak die outydse skeermes se skerp snyvlak en hy kyk in die spieël hoe dit vorder, silwer flitse teen die ligbruin van sy vel.

      Nie regtig ligbruin nie. Hy het ’n interessante velkleur, meen hy, soos tee met baie melk by. Hy het nooit gehoop dat sy ma vir hom sou kon sê wat sy pa – of noem hom eerder sy biologiese vader – se nasionaliteit was nie, want sy het haar deel vir wêreldgelykheid gedoen deur met verteenwoordigers van seker elke rassegroep wat jy kry tussen die lakens te vertoef.

      Die lem se skraapwerk, hy hou van die geluid. Skoon en klinies. Beslissend.

      Hulle is in die sitkamer, want hy hou nie van ’n badkamer se ingeperktheid nie. Hy kyk in die spieël na die meisie langs hom. So mooi. Skraps geklee, die kort wit katoenbroekie en geel toppie sonder bra. Sy is Indies; geen twyfel oor háár afkoms nie, by haar is daar geen vermenging nie. Sy trek die skeermes amper eerbiedig oor sy vel. Só is sy met alles wat sy doen: deeglik. Hy het haar goed geleer en sal dit nog beter doen, dit vat net tyd. Sy is die ideale leerling, sy wil alles weet. Onderhorig, maar gee vir haar ’n taak wat mense met skynbaar sterker persoonlikhede sou laat sidder en sy voer dit uit sonder vraag of klagte.

      Sy trek die skeermes stadig oor sy kop, maak die vel nog gladder. Nog kaler.

      Hy wag tot sy die silwer implement eindelik laat sak en knik: nie ’n tevrede knik nie, net ’n knik. Sy moet nooit te seker wees dat sy hom tevrede stel nie, dit kan nalatigheid aanwakker. Hy bly staan sodat die meisie sy kop met ’n handdoek ligweg, amper sensueel kan afvee – net ámper sensueel, want hy sou nie meer van haar duld nie, mooi ofte nie.

      Laat niemand te na aan jou kom nie. Dit het hy vroeg genoeg besef.

      Twee jaar gelede het die logistiek eindelik net te veel geraak en het hy besef hy het iemand soos sy nodig. Hy sou natuurlik verkies het om aan te hou om op sy eie te werk, slegs op homself aangewese, maar soms moet iets op ’n sekere plek gebeur terwyl hy elders besig is. Nie eens die berugste huurmoordenaar ter wêreld kan op dieselfde tyd op meer as een plek wees nie.

      Hy betrap homself dat hy wonder: Is hy wel die berugste?

      Daar is geen manier om seker te wees nie, want die bestes adverteer nie. Hy het aanvanklik, maar ook net omdat dit nodig was om sy dienste onder die regte persone se aandag te bring, dié wat bereid is om iemand ruimskoots daarvoor te vergoed as hy hul bestaan veraangenaam deur ongewenste elemente te neutraliseer.

      Daar is waarskynlik heelwat meer van sy soort diensleweraar werksaam as wat mense graag wil glo en die meeste van hul resultate kan vir ongelukke aangesien word.

      Net soms pleeg hy ’n ongeluk. Hy verkies iets meer …

      Meer persoonliks.

      En hy het ’n sin vir die dramatiese.

      Die kaalkopman wat na hom terugstaar se voorkoms is sonder twyfel dramaties. Sy skedel het ’n fassinerende vorm, reken hy, sommige hoeke fors, party kurwes weer delikaat. Dit sou ’n sonde wees om dit met hare te bedek soos dit in sy vroeë jare was, maar hy laat skeer dit nie om estetiese redes nie, eerder sodat hy geen hare op ’n moordtoneel kan agterlaat nie. Hy laat géén teken nie. Daarby die sterk, amper skerp gelaatstrekke: die effens geboë neus en ’n mond met ’n ferm lyn en wangbene wat hy aan sy biologiese vader te danke moet hê. want sy ma s’n het ’n mens nie opgeval in haar pap gesig nie.

      Lenig. Hy bestudeer sy kaal bolyf. Dit is alles natuurlike spiere; hy het nog nooit geoefen om dit te kry nie, al is dit voor die hand liggend dat hy moet fiks bly.

      “Geert …”

      Hy kyk na Feroza en knik: sy het toestemming om te praat.

      “Are we going to be here for a long time?”

      Hy skud sy perfek gevormde, perfek geskeerde kop en sy vra nie verder uit nie. Hy weet sy is verveeld; hulle is al twee dae hier in Groenpunt. Die huis is duur, want hy huur altyd net die beste. Volledig ingerig en stofvry. Privaatheid was egter die vernaamste oorweging, want bo en behalwe die feit dat nuuskierige oë ongewens is, werk die teenwoordigheid van te veel mense soos besoedeling op jou psige in en verstomp jou denkprosesse. Feroza besef dit nog nie behoorlik nie, maar sal later. Hy moet onthou sy is skaars sewentien, minder as die helfte van sy ouderdom.

      Hy was jonger as dit toe hy sy eerste mens doodgemaak het.

      Hy kan weer haar gesig sien, die oop mond vol tandepasta, die pupille wat groter word …

      Feroza gaan sit op die leerrusbank. Sy gooi haarself nie meer so op meubels neer soos kort na hul ontmoeting nie, sy weet hy hou nie daarvan nie. In alles moet daar beheersing wees. Iemand in sy beroep – nou ook haar beroep – wat dít nie het nie, kan solank sy grafsteen gaan uitsoek. Met dissipline het hy gekom waar hy is, en met dissipline bly hy daar.

      Wêreldreisiger. Dit is hoe hy homself soms beskou.

      Hy beskou haar lyfie in die noupassende toppie en broekie. Daar is tog tye dat hy wens hy was soos ander mans wat sou gebruik maak van dié rykdom reg onder sy neus. Maar hy benut haar tog op ’n baie meer betekenisvolle manier: hy gee vir haar talente en slyp dit, maak van haar ’n persoon wat sy nooit andersins sou kon wees nie.

      As СКАЧАТЬ