Helse manier van koebaai se. François Bloemhof
Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Helse manier van koebaai se - François Bloemhof страница 9

Название: Helse manier van koebaai se

Автор: François Bloemhof

Издательство: Ingram

Жанр: Ужасы и Мистика

Серия:

isbn: 9780798155885

isbn:

СКАЧАТЬ lewe, as húlle nog lewe – en dan is die vlieg weer sigbaar op die web.

      “Nice area,” merk Clive Sharpe op en draai skuins in sy sitplek om na haar te kyk.

      Vir ’n oomblik het sy gedink hy maak ’n grap en dat hy na haar verwys.

      Kom reg, Lana.

      “Yes. It is.”

      Al sien sy reeds minute lank nie die omgewing raak nie. Tot siens, Big Bay, tot siens, Melkbos. Weerskante van hulle is daar al hoe minder geboue, net plek-plek kry die beskawing nog vastrapplek met ’n stalletjie hier, ’n afdraaipad na ’n woongebied daar. Dit begin meer na vlakte lyk, amper soos die Karoo maar met minder vaal en meer groen in die bossies. Ruimte, oopte, en die Skepper wys wat Hy eintlik in gedagte gehad het.

      Vir haar was die Weskus nog altyd sinoniem met vriendelike mense en vakansie. Nou ja, hulle gaan darem na ’n vakansiehuis toe, dis net geen vakansie nie. Hulle gaan ook nie met mense kontak hê nie, of beplan nie om te hê nie, vriendelik ofte not.

      Haar werk … Ek is soos ’n tandarts, dink Lana Dubois. Niemand het my dienste nodig as alles goed gaan nie.

      Maar tandartse moet daar wees.

      “Nice car,” sê Sharpe vir haar mede-tandarts en Steyn maak net ’n subtiele beweging met sy skouers.

      Poephol, dink sy. Dit kos niks om net erkenning te gee as die man probeer gemoedelik wees nie.

      “Light on the road,” gaan Sharpe voort.

      Steyn: “Nie in dieselfde liga as jou kar nie.”

      “You don’t want to know what mine’s fuel consumption is.”

      “As ek jou salaris gehad het, sou die prys van petrol nie saak gemaak het nie.”

      Daarmee is die kans op ’n tussen-ons-manne-geselsie oor verskillende motors se voor- en nadele summier van die baan.

      Poephol.

      Mark Steyn is egter ’n poephol wat die vader is van haar ongebore kind. Weer die gedagte: Kan dit regtig waar wees? Van één keer se seks?

      Hy mag nie weet nie. Op ’n manier moet sy dit hanteer, sy het nog net geen idee hoe nie. Sy sal die probleem moet oorbrug nes enige lid van die vroulike geslag wat nie voorsiening gemaak het vir so ’n gebeurlikheid nie: sy, die geroetineerde Lana wat álles beplan! Haar gedagtes gaan draai weer by ’n aborsie. Sy veroordeel nie die meisies wat dit laat doen nie – hoe kan sy, wat so goed verstaan hoe hulle voel – maar sy moet die kind in die wêreld bring, omdat dit nie sy of haar skuld is dat dit gebeur het nie. En daarna … Wie weet? Eers moet sy wegglip en ’n ruk van Die Fabriek se radar af wees, lank genoeg om te swel en geboorte te skenk en gewig te verloor. Dan kan sy vrolik en vol vonk terugkeer, reg vir aksie. Maar Die Fabriek is altyd bewus van waar jy is en wat jy doen. Niemand sê dit nie, maar almal weet dit – tensy daar ’n radikale situasie is en jy van die toneel af verdwyn, soos hulle drie nou maak. Sy is oortuig daar is, indien nie in haar leefarea ook nie, versteekte kameras in haar woonstelblok. Sy het al gesoek daarvoor, maar kon dit nie vind nie: dit beteken nie dis nie daar nie. Sy kan verstaan waarom almal dopgehou word: die beste manier om ’n organisasie te infiltreer, is om ’n werknemer te word, daarom is en bly almal in ’n mate onder verdenking. Paranoïes? Ja. Kommerwekkend? Ja. Onnodig? Nee.

      As sy ’n ruk wil verdwyn, moet sy ’n amptelike rede hê.

      Die kind vir aanneming opgee? Seker maar.

      Sy dink egter aan Steyn. Magtig, dink sy nie pal aan hom nie! Sy dink aan sy agtergrond waarvan sy so min weet. Sy wil ook nie meer daarvan weet nie, hoe minder hoe beter, maar daar was kinderhuise en dis nie die maklikste plekke op aarde nie – en dis iets wat dan op haar kind gaan wag. Haar kind, húlle kind, kan dieselfde agtergrond as hy hê. net soos hy uitdraai, en dan is dit sy wat besluit het dit sal so wees.

      Sy wil nie die kind hê nie; sy voel dikwels sy wil hom of haar nooit ken nie, nie eens sien nie. Maar sy het ’n verantwoordelikheid.

      Dis so moeilik.

      Grotto Bay se afdraaipad lê agter hulle.

      Verder is daar haar pa, wat na die dood van sy broer kort duskant selfmoord omgedraai het – hy’t seker ook net daaraan ontsnap danksy daardie pilletjie wat sy in die hande gekry het en wat haar ma steeds met geslepe liefde vir hom saam met sy oggendkoffie ingee. Hy is darem nie meer in so ’n katatoniese toestand nie, hy funksioneer, het die laaste ruk selfs al ’n keer of wat vir haar opgeruimd voorgekom. Maar dit het haar ouers se huwelik geen gunste bewys nie. Hulle het nog altyd hul verskilletjies gehad, maar was oorwegend gelukkig getroude mense totdat Mark Steyn, iemand wat nooit so ’n verhouding sou kon handhaaf nie, ’n stokkie daarvoor gesteek het.

      Maar.

      Genoeg hiervan.

      Sy sal weer dringend oor dit alles dink as dié besigheid verby is.

      “It’s not so far to Salt Bay now, only about fifty kilometres,” lig Clive Sharpe haar in, heel vrolik, asof Soutbaai nie ’n plek is waarheen hulle gaan omdat iemand hom wil doodmaak nie.

      Iemand wat gehuur is. ’n Man soos Sharpe het baie vyande, maar nie almal sal een van die wêreld se mees gesogte moordenaars nader hark nie.

      Wie hét?

      7

      Nou en toe

      Nou, hy wat hardloop. Die snyplek aan sy voorarm brand donners erg en hy kan hom verbeel hoe druppels bloed op die sypaadjie spat, ’n duidelike streep agter hom.

      Hoekom is hier ’n rens lig nie? Dis dan Groenpunt, dis beskawing! Hy weet die meeste lewe is ’n klomp blokke ondertoe by die hoofstraat rond, maar hier bo behoort tog meer mense te wees.

      Dalk moet hy skree, maar hy moes eerder daaraan gedink het, nie noudat hy so min asem oor het nie. Asem wat hy moet gebruik om vinniger te hardloop. Hoe het hy so onfiks geraak, wanneer het dit gebeur?!

      En hy moes geweet het jy kry niks verniet nie.

      Tien minute gelede, sagte lippe op syne, in die oomblikke toe hy nog geglo het jy kry wel soms iets verniet. ’n Tong wat sy lippe oopmaak, die punt daarvan wat sy tong vind en daarmee speel.

      ’n Geluid, dof op die agtergrond. Voordeur wat oopgaan?

      “Did someone come in?” vra hy.

      “No, the house is great but it’s old, it’s full of strange sounds. Just relax.”

      “I’m sure I heard …”

      “Kiss me again.”

      Minder as ’n uur gelede, toe sy lewe nog op koers was, hy wat ’n kroeg binnegaan: Bert’s Place in Woodstock, waar hy graag uithang. As hy gatvol is vir sy werk – nie dat hy nou meer daai werk het nie, hy’t gister gefokof – of sommer net de moer in is, is dit al plek waar hy afkoel.

      “Die usual, Johnny?” vra die ou agter die counter, soos hy altyd vra. Hy kan nooit die ou se naam onthou nie.

      “Jy weet dan.”

      Johnny СКАЧАТЬ