Helse manier van koebaai se. François Bloemhof
Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Helse manier van koebaai se - François Bloemhof страница 2

Название: Helse manier van koebaai se

Автор: François Bloemhof

Издательство: Ingram

Жанр: Ужасы и Мистика

Серия:

isbn: 9780798155885

isbn:

СКАЧАТЬ beweeg en haarself nie sover kry nie.

      ’n Man stoot die swaaideur oop en kom tydsaam vanuit die kombuis na hulle toe aangestap. Dit is kwalik ’n stap, meer ’n gly-, amper ’n sweefbeweging. Hy dra donker klere, nee, gitswart, en in teenstelling daarmee is dit of sy kaalgeskeerde kop gloei in die dowwe lig.

      “Your uncle sends his regards,” kom die stem, ’n amper fluweelagtige timbre dog met ’n sterk aksent – Hollands? – en Anthony besef die man praat nie met hom nie.

      Emily het begin huil, net ’n enkele traan op haar linkerwang, maar haar gesig is vertrek. Sy kyk nie na die man nie, sy kyk na haar versorger en beskermer wat haar nie kan beskerm nie.

      Die man kom agter haar stoel tot stilstand en stryk met ’n handskoen net so swart soos sy klere oor haar hare.

      “He said I should make very sure.”

      Anthony probeer. Hy span al sy kragte in, moet beweeg, nóú. Maar as die meisie hom nie steeds regop gehou het nie, het hy op die vloer gelê. Hy wil skree, want dalk is die lyfwag buite die restaurant nog ongedeerd, maar nie ’n geluid kom uit nie. Op die sneeuwit tafeldoek is ’n sopspatsel waar hy die lepel laat val het, en daar lê die vlieg ook, op sy rug.

      “But then I always do make sure,” sê die man.

      Anthony ken nie vuurwapens nie. Hy weet net dis nie ’n rewolwer in die man se hand nie, dan is dit ’n pistool, hy weet nie watter fabrikaat nie. Hy wil nie kyk nie, maar die meisie hou hom in posisie. Hy wens hy was eerste om te gaan.

      Emily knyp haar oë toe.

      Net voor die man die pistool se loop teen haar slaap druk en die skoot deur die leë restaurant eggo soos ’n herinnering aan oorlog, sê hy ’n woord wat so vreemd op Anthony se ore val dat hy nie seker kan wees dis wat hy gehoor het nie.

      “Houdoe.”

      2

      Driespel

      Clive Sharpe kyk op toe hulle by die deur inkom, ’n jong man en vrou wat nie sou uitstaan as jy hulle op straat sien nie, behalwe vir die feit dat hulle aantrekliker as die gemiddelde landsburgers is.

      Goed dan, moet hy erken: veel aantrekliker.

      “Take a seat,” wuif hy hulle met sy linkerhand nader.

      Mark Steyn en Lana Dubois neem plaas aan die ander kant van die embuia-lessenaar wat hy meen ’n aura van outydse sofistikasie aan die andersins net té moderne kantoor met al sy glas en silwer verleen.

      Dalk tyd vir nuwe dekor. Sedert hy Die Fabriek se leisels opgeneem het, het hy immers nog net een keer alles in hierdie kantoor vervang. Toe was dit met die verskoning dat kolonel Duvenhage, wat hier tot sy einde gekom het, dit in ’n hoogs ongewenste toestand agtergelaat het met daardie plas op die lessenaar en spatsels teen die mure. Mense kan begin praat as jy te veel maatskappygeld op jou eie gemak uitgee.

      Maak dit egter saak as hulle praat? It doesn’t matter what the people say, because you are the people.

      Dit is in ieder geval later se oorwegings. Nou het hy eers ernstiger dinge om aan te dink. Of dan, één.

      Steyn weet sy gesig verraai niks nie. Dit is immers een van sy wapens, nes ander dele van sy lyf: hande gemaak vir slaan en kap, voete vir hardloop en skop. Ook lyftaal kan jou maklik verraai: syne dui aan hy is heeltemal ontspanne.

      Dit kan nie verder van die waarheid wees nie. Aan die ander kant van dié lessenaar wat selfs Nero dalk as so effentjies oordadig kon beskou het, sit ’n man wat hy as vyand geïdentifiseer het. Clive Sharpe is net so ’n groot gevaar vir hom as wat die kolonel ooit was: einste kolonel wat hy in hierdie einste kantoor sover gekry het om ’n einde aan sy miserabele lewe te maak nadat hy alles verloën het waarvoor Die Fabriek veronderstel is om te staan.

      Minder as ’n maand gelede het Clive Sharpe hom gesaboteer. Hy kan dit nie bewys nie, maar is heilig oortuig daarvan dat Sharpe die Kinders van Adam laat weet het daar is ’n geheime agent in hul midde. Dit het nie net sy eie lewe in gevaar gestel nie, maar ook dié van die meisiemens hier langs hom; daarom dat hy met die terugkomslag vir Sharpe ’n vet klap kom gee het, en hy kan bly wees dit was al wat hy gekry het. As Sharpe onskuldig was, sou hy dit nie net so gevat het nie, maar hy het – en het ook al knikkende erken dit was deur sy toedoen dat Steyn se ma op dieselfde tyd op daardie Swartland-plaas was, vir ’n ontwrigtende herontmoeting na soveel jare.

      Sedertdien bly werkgewer en werknemer uit mekaar se pad en is Steyn nog nie weer op ’n sending losgelaat nie. Die tyd van rustigheid is klaarblyklik op ’n einde, want hier sit hulle.

      Wel, dis goeie nuus, want rustigheid = verveling. ’n Lewe sonder adrenalien in jou are, watse soort lewe is dit? En gevaar is mos die vinnigste manier om adrenalien op te wek. Hy het die dae verwyl met rekspronge, met paraseil, met omtrent enige ding wat mense met gesonde verstand laat terugdeins, het soggens én saans tien kilometer gaan draf, maar niks kom by die amperse ekstase van brein en liggaam wat gedwing word om in hoogste versnelling te begin werk en aan te hou werk nie. Dis jammer Clive Sharpe is die een wat dit teweeg moet bring, maar dis nou maar so.

      En laat hy dit erken, ook die wete dat Sharpe nie te vertrou is nie, is – ja, noem dit maar ’n positiewe faktor. Dit hou hom op sy tone.

      En die meisie langs hom? Die hemel alleen weet wat in daardie kop met die mooi gesig en ligbruin hare aangaan. Hy kon nog altyd ’n vrou se gedagtes lees, of ten minste haar oorwegings, maar wat sý dink …

      Hy glo hy wil Lana Dubois net hê omdat sy die verkeerde een is vir hom, so absoluut verkeerd. Sy hou vir hom gevaar in en daarom is dit seker maar ’n mate van ’n selfvernietigingsdrang wat hom oortuig het sy is die een vir hom. Meer nog, dat hy op haar verlief is. Verlief, hy?! Hy het dit werklik ’n ruk lank geglo. Nou voel hy net irritasie as hy aan haar dink, of die meeste van die tyd. Die res van die tyd … Blessitwil, nee. Hy’s net besig om dinge vir homself te bemoeilik. Hy was vir haar soos ’n bank waarby sy kortstondig geld belê het, dalk nie eens ’n groot som nie, so hoekom kan hy nie op sy beurt onttrek nie?

      Hier buite, voordat hulle saam ingekom het, het sy hom gegroet soos sy enige agent en inderdaad enige persoon in die organisasie kon groet, beleef. Totaal sonder die woede of weersin wat sy al teenoor hom laat blyk het. Hy weet sy weet dit is hy wat gesorg het dat haar oom in hierdie kantoor die tydelike met die ewige verwissel, maar hulle het nog nooit daaroor gepraat nie, en verdomp as hy die een sal wees wat die saak aanroer. Dit móés gedoen word, of iets soortgelyks, en hy was toevallig die een om dit te doen. As sy haarself ’n agent wil noem, behoort sy al uit te gevind het wat die situasie was. Hoe durf sy iets teen hom hou as sy nie al die feite het nie, of dit nie verstaan nie? Of weet sy alles, maar weier om rede te sien? Ja, dit was haar oom. Ja, sy dood moes ’n effek op haar mense gehad het. Maar fok weet, verander dié manier van leef dan nie al die reëls nie?

      Nou fokus hy egter eers op die man oorkant hom. Iemand wat hy nie vertrou nie. Iemand wat, vreemd genoeg, senuweeagtig lyk.

      Lana kan nie besluit of die feit dat daar twee van hulle is dinge makliker of moeiliker maak nie.

      Mans. Kreature wat om biologiese redes noodsaaklik is vir die mensdom se voortbestaan, maar wat sy andersins sou weg wens, die hele lot van hulle.

      Of nee. Moet regverdig wees. Sy sou sommiges spaar. Sy sou seker maar nege-en-negentig persent van die wesens spaar, solank hierdie twee net ingesluit kon wees by diegene wat van die aardbol СКАЧАТЬ