Ena Murray Omnibus 34. Ena Murray
Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Ena Murray Omnibus 34 - Ena Murray страница 8

Название: Ena Murray Omnibus 34

Автор: Ena Murray

Издательство: Ingram

Жанр: Короткие любовные романы

Серия:

isbn: 9780624054801

isbn:

СКАЧАТЬ voel sy kan in die aarde sink, maar terselfdertyd kan die boosaardigheid behoorlik uit haar losbars. Om haar skuldig en belaglik te laat voel! Dis hý wat so behoort te voel, nie sý nie!

      “Mam’selle, as ek daardie soort man was, kan ek die nodige vir baie goedkoper op die Comore self kry. Ek hoef nie een ten duurste duisende kilometers ver in te voer nie.”

      Hierdie keer tik daar beslis ’n sekonde of twee verby waarvoor hy sal moet betaal en waarvoor hy geen waarde sal kry nie. In hierdie twee sekondes dank Erika die gode dat daar nie, of nog nie, sulke goed soos beeldfone is nie. Sy weet sy is so rooi soos ’n kalkoen, en mev. Collins se belangstellende blik vertel haar dit ook.

      “Ek . . . het dit . . . nie so . . . bedoel nie . . .” Sy voel sommer aan dat hy weet sy jok, net soos sý dit weet. Dis presies die slotsom waartoe sy gekom het en ook ewe wysgerig aan die Collinse uitgespel het.

      “Wel, ek wil jou maar die versekering gee dat jy niks, hoegenaamd niks in daardie rigting te vrese het nie. Erika, wat wil jy met jou toekoms maak? Ná die vakansie teruggaan stad toe, vir die res van jou lewe treur oor ’n man wat nie een minuut van jou tyd werd was nie, elke aand na jou trourok staar en jou oë uithuil . . .?”

      “Jy het geen reg om so met my te praat nie!” Die prentjie wat hy geskilder het, is so na aan die waarheid dat sy heftig protesteer: “Jy ken Japie van geen kant af nie en . . .”

      “Japie. Is dit soos ’n mens daardie naam uitspreek . . .” Dit word met so ’n verdraaide aksent uitgespreek dat dit lagwekkend klink, en Erika voel hoe histerie in haar begin oplaai. Dié man gaan haar ook nog so mal hê soos hy, dink sy amper paniekerig.

      “Dan gee jy nog vir hom om?”

      “Nee, natuurlik nie. Ek bedoel . . . Dis net nie regverdig dat jy iemand oordeel vir wie jy van geen kant af ken nie, dis al.”

      “Werklik?” Hy laat dit eers insink. “Dis gaaf, en jy is natuurlik heeltemal reg. ’n Mens oordeel nie iemand voordat jy hom nie ken nie. Maar jy het allerhande ongegronde gedagtes en idees oor my, Erika. Of is dit maar net ’n geval dat jy beplan om ’n verbitterde oujongnooi te word wat in die toekoms alle mans oor een kam gaan skeer?”

      “Ag, gaan . . .” Dis mev. Collins se gehyg na asem wat haar haar sin laat kortknip.

      Hy het natuurlik nie die halfuitgesproke Afrikaanse tussenwerpsel verstaan nie, en gaan kalm voort, kompleet nes ’n prokureur wat besig is om ’n testament te lees, dink sy.

      “Feit bly, alle reëlings is klaar getref. Jou plek is reeds op die vliegtuig bespreek. Jy moet net jou kaartjie by die lughawe gaan afhaal. Dis klaar betaal, natuurlik. Daar is blykbaar ’n bus wat vanuit die middestad vervoer na die lughawe verskaf, verstaan ek. Weet jy waar die terminus is?”

      “Ja.”

      Ja, sy weet, maar . . .

      “Ek wil ook graag jou kredietkaartbesonderhede hê, asseblief.”

      “My . . . wat? Ek het nie so ’n ding nie!” Grote Griet, as die man regtig haar eerste brief gelees het, en tussen die reëls ook soos dit nou wil voorkom, behoort hy te weet dat sy nie ’n kredietkaart het nie. ’n Spaarrekening wel . . . Of nee, ook nie juis so dat ’n mens dit sal agterkom nie, nie nadat al die onnodige klere vir Die Wittebrood betaal is nie.

      “Meneer . . . e . . . ek het nie geld nodig nie.”

      Aan die ergerlike stemtoon is dit baie duidelik dat daar ’n frons op die onbekende gesig aan die oorkant is.

      “Moet tog nie so liggeraak wees nie! Jy moet die regte klere kry vir hierdie klimaat . . .”

      “Ek hét die regte klere.”

      “Hoe weet jy?”

      “Ek het dit nageslaan.”

      “Dan het jy tog belanggestel.” Die stem klink tevrede en sy kan haarself skop. “Gaaf. Jy moet egter betyds malariatablette begin neem. Dis belangrik. En . . .”

      “Meneer . . . e . . . ek het nog nie gesê ek sal kom nie,” keer sy die vloed van bevele wat hy sit en aframmel asof hy ’n lys voor hom het. “Ek . . .” Sy sien mev. Collins rek haar oë. “Ek moet nog daaroor slaap.”

      “Slaap?”

      “Ja. Dink. Ek het nog glad nie besluit . . .”

      “Ek bel jou weer môremiddag hierdie tyd. Tot siens, Erika.”

      Sy voel verspot met die gehoorbuis in die hand en plak dit vinnig neer. Hy het haar nie eens kans gegee om te wys sy het darem ook soms goeie maniere nie. Sit sommer die telefoon in haar oor neer. Natuurlik vererg . . . Dan praat hy van háár wat liggeraak is . . .

      3

      Natuurlik vertel Erika die nuuskierige mev. Collins die minimum. Net dat die aanbod herhaal is en dat sy, soos sy self gehoor het, gesê het sy sal weer daaroor dink. Sy laat nie glip dat daar ’n tweede oproep vanaf die Comore verwag word nie, want sy het nog glad nie besluit of sy môremiddag daardie tyd beskikbaar sal wees nie. Sy het die gevoel hoe minder daar verder tussen haar en Philippe – uitspraak Fieliép, soos sy nou weet – gesê word, hoe beter.

      Maar in die ure wat volg, kry ander dinge nou voorrang in haar gedagtes en word Japie Basson totaal daaruit verdring. Daar is ook ’n ongemak in haar wat nie weg te redeneer is nie. Want dié Philippe het reg. Op die oomblik is die lewe heel draaglik, maar sodra sy terug is in die stad, gaan die prentjie verander. Terug in die woonstel waar soveel drome reeds gedroom is en so naby verwesenliking gekom het, terug in die bekende omgewing waar daar so baie plekke is wat haar aan die tye saam met Japie sal herinner, terug in die bekende milieu van haar werkkring met nuuskierige en simpatieke oë op haar gerig, sal dit ’n ander deuntjie wees. Laat sy dit maar erken! Sy is bang om terug te gaan stad toe.

      En die prentjie wat hy geskilder het van ’n meisietjie wat met hartseer oë na die trourok in haar kas staar, van oë wat snags in haar kussing rooi gehuil word, is ’n prentjie wat werklikheid sal word, al vertel sy haarself ook hoe driftig dat Japie Basson, trouens, geen man op aarde, een traan van haar of van enige ander vrou werd is nie. Want hy het ook in ’n ander opsig gelyk. Sy is op pad om haar voor te neem om ’n verbitterde oujongnooi te word wat geen mansmens ooit weer sal vertrou nie . . . en hierdie prentjie van haar toekoms lyk nog die slegste van almal. Sy gaan maar ’n troostelose en oninteressante toekoms tegemoet. Hoe gaan sy dit ooit oorleef? Sy is maar nog net twintig!

      Maar daar kan ook ’n ander prentjie wees . . . en dié begin al aanlokliker lyk, téén alle redenering van haar gesonde verstand in. Sy kan oor twee weke teruggaan stad toe, koel en kalm haar kantoor instap en summier haar bedanking indien. Dan kan sy op die verbaasde vrae wat natuurlik sal volg, die klomp daar inlig dat sy toe besluit het om nie te trou nie, maar liewer op ’n wêreldtoer te gaan. Ja wat, sy kan dit maar ’n bietjie aandik, en wie weet, sy praat dalk die waarheid. Die Comore is maar haar eerste afspringplek. Wie weet, dalk tel sy daar ook ’n bottel met ’n adres daarin op een van die betowerende palmstrande op en . . . Sy glimlag. Mens weet nooit wat alles nog in die toekoms wag nie. Dink nou maar net wat met haar op hierdie klein strandoordjie aan die Suidkus gebeur. Sy tel ’n bottel op . . . en skielik is veraf, eksotiese tropiese eilande binne haar bereik! Dit kan ewegoed die begin wees van ’n wêreldtoer vir die ou meisietjie wat haar mooiste jare in ’n kantoor agter ’n tikmasjien wou sit en omswoeg en die res van haar dae met dikgehuilde oë in ’n eensame СКАЧАТЬ