Ena Murray Omnibus 34. Ena Murray
Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Ena Murray Omnibus 34 - Ena Murray страница 10

Название: Ena Murray Omnibus 34

Автор: Ena Murray

Издательство: Ingram

Жанр: Короткие любовные романы

Серия:

isbn: 9780624054801

isbn:

СКАЧАТЬ hier is in elk geval meer as halfpad verby.”

      “Goed.” Die stem is nou saaklik. “Gee my ’n telefoonnommer waar ek jou in die stad kan kontak. En skryf asseblief my nommer hier neer.”

      “Ek het nie ’n telefoon in die woonstel nie, maar my buurvrou langsaan het een. Ek sal maar haar nommer gee.”

      “Goed. As jy my wil kontak, maak dit ’n kollekteer-oproep hierheen. Ek dink ons moet sommer nou afspreek dat jy my, sodra jy terug is in die stad, dadelik daarvan sal verwittig. Gee my ook jou woon- en werkadres.”

      Sy verskaf al die besonderhede en voel ’n opgewondenheid in haar roer. Iets wat eers net ’n vae onwerklikheid was, begin vorm aanneem. ’n Vakansie op ’n veraf droomeilandgroep begin vaste gestalte kry.

      “Erika . . .”

      “Ja?”

      “Jy het my jou woord gegee. Ek vertrou jy sal dit gestand doen en nie kop uittrek nie.”

      Daar is ’n kort stilte aan haar kant. Sy kan nie onthou dat sy ooit werklik ’n besliste ja gesê het nie. Maar hierdie Philippe het die vermoë om haar te laat voel sy het dit wel gesê. Maar dit maak nie nou saak nie. Noudat die saak eindelik gefinaliseer is, groei die opgewondenheid in haar by die sekonde aan. “Nee. Ek sal nie kop uittrek nie. Dankie, meneer . . . e . . .”

      “Hou op om vir my meneer . . . e . . . te sê. My naam is Philippe. Tot siens, Erika.”

      “Tot siens . . . Philippe.”

      Sy sit die telefoon neer, staar effens verdwaas daarna asof die werklikheid van wat aan die gebeur is, nie regtig tot haar verstand wil deurdring nie.

      En aan die ander kant sit die man ook die foon neer en glimlag skalks.

      Die Collinse is baie opgewonde toe hulle verneem dat Erika eindelik besluit het om die aanbod van die goeie Kersvader van die Comore te aanvaar. Hulle voel glad nie sleg dat sy haar vakansie by hulle nou kortknip nie, op voorwaarde dat sy hulle op die hoogte hou.

      “Jy skryf ook vir ons van die Comore af, hoor?” laat mev. Collins haar belowe en Erika stem geredelik in. Sy het al klaar weer bedenkinge begin kry. Dit sal goed wees as daar darem iemand in Suid-Afrika is wat weet waarheen sy haar begewe. As daar dalk iets met haar gebeur, kan hulle darem navraag doen. Sy sal darem nie sommer heeltemal van die aardbol af kan verdwyn nie.

      Sy lug egter nie weer hierdie onrustige gedagtes nie. Sy voel ook vererg vir haarself, verstaan haarself nie meer nie. Wanneer sy met die man oor die foon praat, voel sy heeltemal gerus. Maar die oomblik wanneer sy alleen is, sit haar verbeelding op loop met haar. Dis sommer onsin, vertel sy haarself. Dis maar net omdat sy tot dusver in so ’n klein, beperkte kringetjie geleef het. Dis tyd dat sy daaruit wegbreek, sommer heeltemal losbreek van hierdie enge grense wat haar lewe tot dusver ingeperk het. Nuwe horisonne wag! Nuwe ervarings! Nuwe uit-dagings! Nuwe vreemde eilande onder ’n tropiese son!

      Haar geesdrif en opgewondenheid vir hierdie nuwe horisonne en uitdagings neem sommer met rasse skrede toe toe sy, terug in die stad, die woonstel se deur agter haar toedruk en om haar rondkyk. Hier moet sy padgee, besef sy. Hier lê te veel drome in elke dingetjie geweef. Hier sal sy mal word.

      Ook toe sy sommer daardie selfde middag die bekende kantoor binnestap, teen die bekende gesigte vaskyk, besef Erika dat sy nie na haar ou werkkring sal kan terugkeer nie. Die oë, verbaas om haar so gou weer op kantoor te sien, brand haar soos vuur. En natuurlik storm die nuuskierige vrae op haar af: Waar kom jy nou vandaan? Is jy dan nie nog op jou wittebrood nie? Jy het nog ’n hele week oor, wat maak jy nou al hier? Waar is Japie? Hoe gaan dit met hom, met jou, met julle? Hoe was die wittebrood toe, hm? vra hulle met veelseggende blink oë.

      “Ek het kom bedank.” Kortaf. Blatant.

      “Bedank . . .?” Blikke wat vinnig na mekaar flits en dan onwillekeurig oor die gestalte voor hulle gly en sien wat hulle wil raaksien. Erika het gewig aangesit. Gesonde gewig . . .?

      “Ja. Ek is op pad na die Comore.”

      Die eilandgroep? Dis so goed sy sê sy is op pad maan toe.

      “Ek . . . en Japie het toe besluit ons sal maar eers ’n bietjie wag met die troue. Daar is geen haas nie. Ek sal maar eers sien of ek nog lus voel vir trou ná my oorsese reis.”

      Groot gerekte, geskokte oë. “Julle is toe nooit getroud nie? En jy gaan oorsee . . . alléén?”

      “Ja, ek gaan alleen. Ek ontmoet natuurlik . . . e . . . mense daar anderkant. Nee, daar was nie ’n troue nie. Ek sal môre julle geskenke terugbring. Julle sal dit seker self beter kan gebruik as ek.” ’n Breë glimlag. “Verskoon my. Ek moet meneer Adendorff gaan spreek.”

      Ook in die hoof se kantoor is daar byna stomme verbasing. “U het ’n oorsese reis gewen, juffrou?”

      “U kan dit min of meer so noem, ja. In elk geval, al my koste word gedra en u sal verstaan dat ek nie so ’n geleentheid deur my vingers kan laat glip nie.”

      “Nee, natuurlik nie, maar . . . sommer u werk bedank en . . .” Hy swyg. En jou aanstaande man in die pad steek, wou hy byvoeg, want dit is soos hy die situasie in sy enigheid opsom. “Vir hoe lank was u van plan om te gaan? Ek kan miskien reël dat u verlengde verlof kry . . .”

      “Dankie, meneer, maar ek is glad nie seker hoe lank ek sal weg wees nie. Dit hang af van . . . baie dinge. Ek bedank maar liewer.”

      Mnr. Adendorff frons. Ai, die jeug van vandag, wat nie verder dink as wat hul neuse lank is nie! “Juffrou, u moet onthou dat u die een of ander dag sal moet terugkom en seker weer ’n verdienste sal moet hê . . .” probeer hy haar dit aan die verstand bring, maar die koppige jeug van vandag luister mos nie na goeie raad nie.

      “O, ek besef dit, meneer, maar die toekoms sal maar moet leer. Op die oomblik is dit nie van belang nie.” Nee, al wat van belang is, is dat sy so vinnig moontlik uit hierdie kantoor moet wegkom. Agter haar rug in die tiksterskantoor gons dit soos ’n byenes.

      “Nou ja, juffrou, dis u besluit. Daar is ’n bietjie pensioenbydraes en so meer wat u moet terugkry. U kan dit oor ’n dag of drie kom kry . . .”

      “Sal u dit nie maar asseblief na my tuisadres stuur nie? Ek sal baie besig wees die volgende dae. Ek weet nie of ek weer my draai hier sal kan kry voordat ek moet vertrek nie.”

      Baie besig wees die volgende dae, dink sy wrang toe sy weer terug is in die woonstel. Besig met wat? Gebroke drome in pakkies opmaak en dan waarheen pos? Die meubels kan teruggestuur word na die meubelwinkel. Die trourok kan weggegee word, of aan ’n tweedehandse klerewinkel verkoop word. Sy tel die foto op wat op die kassie langs die splinternuwe dubbelbed staan. Waarheen stuur jy foto’s van iemand wat nou aan iemand anders behoort? Na watter adres stuur jy verlore drome en toekomsplanne wat nie uitgewerk het nie?

      Sy byt hard op haar onderlip en draai weg van die dubbelbed, stap na die klein spaarkamertjie met sy smal enkelbedjie, en konsentreer hard op verre droomeilande waar die geur van die appelbloeisels en jasmyn swaar in die lug hang, die see so helder is dat jy die kleurryke tropiese visse en korale onder op die bodem kan sien, en die strande witblink in die tropiese volmaan lê met die silhoeëtte van waaiende palms teen die horison . . . en die hartseermusiek van ukeleles en kitare die swoel warm nagte vul . . . en . . . Erika sink in ’n droomlose slaap weg.

      Die paar dae wat oor is, gaan tog ook СКАЧАТЬ