Ena Murray Omnibus 21. Ena Murray
Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Ena Murray Omnibus 21 - Ena Murray страница 16

Название: Ena Murray Omnibus 21

Автор: Ena Murray

Издательство: Ingram

Жанр: Короткие любовные романы

Серия:

isbn: 9780624050230

isbn:

СКАЧАТЬ Hy kyk die ander man vas in die oë. “Jou voorstel grens aan ’n ernstige belediging vir my dogter.”

      “Dis nie so bedoel nie, señor. Ek verseker jou – en vir haar – dat as ek gedink het sy is ’n slegte soort meisie, sou ek my nie na julle gewend het vir hulp nie.”

      “Hulp?” Andrea kry weer haar spraak terug. “Watse hulp?”

      Die Spaanse heer is verleë. “Dis ’n lang storie.”

      Sy swart oë waarsku haar dat die bordjies dalk op ’n dag verhang kan word. Maar sy kyk hom met leedvermaak aan. Dis ’n seldsame verskynsel om don Alonso in ’n hoek en benoud te sien. Sy gaan dit geniet solank sy kan. Dis wonderlik om te weet hy kan ook in die knyp beland. Dit laat hom meer menslik voorkom en haar meer menslik teenoor hom voel.

      “My pa het ná my moeder se dood weer getrou, met ’n weduwee met ’n dogtertjie. Toe my pa – en kort daarna ook my stiefma – oorlede is, het donna Teresa vir Miranda onder haar vlerk geneem. Dié twee het baie geheg aan mekaar geraak. Donna Teresa was nog altyd oortuig dat ek en Miranda eendag sal trou. Dit is vir haar ’n uitgemaakte saak en met verloop van tyd het sy hierdie gedagte ook in Miranda se kop geplant sodat sý ook nou aanvaar dit is wat gaan gebeur . . .”

      “Hoekom wil jy nie met haar trou nie? Is jy bang sy sal nie die verwagte kwota seerowertjies kan produseer nie?”

      “Nee, señorita,” kom die ysige antwoord. “Miranda is ’n pragtige meisie en sy weet presies wat van haar verwag word wat die voortbestaan van my nageslag betref. Sy is die ideale vrou vir my.”

      “Dan verstaan ek jou nie, señor,” kom Dries by. “Wat hinder jou dan?”

      Hy wend hom na die ouer man en sy tong kap die woorde af: “Die man is die jagter, señor. Jy sal daarmee saamstem. ’n Man is nie net ’n noodsaaklike benodigdheid tydens ’n huweliksbevestiging nie.”

      ’n Lig gaan vir Andrea op. “O, nou verstaan ek ook. Jy voel in jou eer gekrenk. Jy wil die vrywerk én die vrawerk doen.”

      Haar pa kyk haar fronsend aan. Regtig, soms is Andrea darem té uitgesproke.

      Don Alonso knik styf. “Ja, señorita. ’n Mens kan dit seker so ook stel.”

      Dries Smit kyk die ander man simpatiek aan. “Ek verstaan, señor. Niemand wil graag as vanselfsprekend aanvaar word nie. Maar om ’n skynverhouding te gebruik om hulle ’n les te leer . . . Gaan jy nie miskien die risiko loop om jou aanstaande dalk te verloor nie?”

      “Nie sommer nie.” Hy glimlag effens. “Jy ken nog nie vir donna Teresa nie. En Miranda is al soveel jare lank gewoond aan die gedagte dat sy nie sommer daarvan sal afstand doen nie. Nee, maar hulle gaan goed skrik.”

      “Maar dis ék wat die gevolge van hul skrik gaan dra,” protesteer Andrea. Sy voel glad nie lus om by don Alonso se persoonlike sake betrek te word nie. Sý is die een wat die spit gaan afbyt. Sy gaan beslis nie gewild wees by die twee dames nie. En dit klink hoeka vir haar don Alonso het ’n regte seerower-ouma . . .

      “Ek is bereid om jou te vergoed vir jou dienste, señorita. Beskou dit as ’n saketransaksie. Ek neem jou ’n kort rukkie in diens. Die salaris is onderhandelbaar.”

      “Wat bedoel jy . . . onderhandelbaar?”

      Sy gesig is ernstig, maar Dries Smit sien die effense knip van die oog in sy rigting. “Wel, voordat ’n mens oor ’n salaris kan ooreenkom, moet die werkgewer darem weet of die werknemer iets werd is. Of hy, of sy in hierdie geval, in staat is tot die eise wat die betrekking stel . . .”

      “Bedoel jy nou daarmee dat jy twyfel of ek kan vry, señor? Dan verseker ek jou ek . . .”

      “Nee, nee, señorita! Daar sal nie sulke . . . hoë eise gestel word nie. Nee, ek bedoel of jy ’n bietjie kan toneelspeel . . . en of jy ’n bietjie waagmoed het.”

      Sy frons kwaai in haar pa se rigting. “Pa, waarvoor sit en lag Pa? Dié man wil my in ’n gemors laat beland en Pa dink dis snaaks.” Dan kyk sy kwaai na die ander man. “Natuurlik kan ek toneelspeel as dit moet en natuurlik is ek nie ’n lafaard nie!”

      “Jy is nie bang nie?”

      “Waarvoor moet ek bang wees?” vra sy agterdogtig.

      “Nee . . . e . . . ek weet dis ’n onnodige vraag. Ek weet teen hierdie tyd jy kan jou man staan . . . met jou mond.”

      “Dankie,” sê sy sarkasties. “Hierdie ouma van jou . . . is sy ’n kwaai ou dame?”

      Sy gesig is onleesbaar. “Sy klink soms erg, maar dis meer blaf as byt. Daar is baie mense wat so is. Raas heeldag, maar dit beteken nie juis iets nie. Jy sal haar kan . . . e . . . hanteer, ek is seker.”

      Andrea frons bekommerd. Seerowers is diewe, nie kannibale nie. Dié ou mens sal haar darem seker nie opeet nie.

      Dries Smit kyk sy gasheer opsommend aan. “Señor, is jy regtig ernstig met jou voorstel?”

      “Ek is, señor. Jy het my woord dat ek jou dogter nie sal misbruik nie. Ek is ook ernstig oor die salaris. Ek is bereid om haar te vergoed. Julle kan die bedrag bepaal. Ek wil net hê sy moet alles staaf wat ek aan donna Teresa gaan vertel. En natuurlik van haar kant af wys dat sy nie ongeneë is teenoor my nie.”

      “Wat is jy van plan om haar te vertel?”

      “Dat daar ’n wedersydse aantrekkingskrag tussen my en señorita Smit ontstaan het.”

      “En wanneer gaan dié wedersydse aantrekkingskrag ’n skielike dood sterf?” wil Andrea weet.

      “Wanneer ek dink dit het tyd geword daarvoor.”

      “En jy dink sy gaan dit aanvaar? As sy dít gaan glo, is sy onder ’n kalkoen uitgebroei en nie op ’n seerowerskip gebore nie.”

      “Sy is my De Vitoria-ouma. Sy was nooit naby ’n seerowerskip nie. Sy is ’n ware Spaanse dame.”

      “Dan behoort jy jou te skaam om die arme ou mens so te wil belieg. Gaan staan voor haar en sê jou sê. Jy kan dit goed doen. Jy het al genoeg oefening met my gehad.”

      “Ek dink ’n bietjie skrik sal meer effektief wees.” Hy wend hom tot Dries. “Sal jy my help, señor?”

      Dries sluk, kug en lyk ongemaklik. “Dis eintlik my dogter wat tot hulp gaan wees, señor. Dis sý wat moet besluit of sy daarvoor kans sien. Dit is ’n . . . e . . . buitengewone situasie en ook nie so eerlik nie . . .”

      “Ek gee dit toe, maar andersins is ek bevrees daar wag ’n groot skok op donna Teresa en Miranda.”

      “Jy bedoel?”

      “Indien hulle nie die situasie goed verstaan nie, sal daar geen huwelik wees nie. Ek laat my nie in ’n huwelik indwing nie.”

      Andrea kyk hom skepties aan. “Sal jy só ver gaan ter wille van jou trots?”

      “Ja, señorita. Die man wat nie die septer in die huis swaai nie, is geen man nie.” Die vraag skiet vinnig op haar af. “Sal jy my help?”

      Sy skuif rond en kyk onseker СКАЧАТЬ