Donker Web. Fanie Viljoen
Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Donker Web - Fanie Viljoen страница 16

Название: Donker Web

Автор: Fanie Viljoen

Издательство: Ingram

Жанр: Приключения: прочее

Серия:

isbn: 9780624090472

isbn:

СКАЧАТЬ laat aftap en die goedvoelhormone deur my are laat bruis. Wie het dan pille nodig?

      In die aantrekkamer vang ek ’n koue stort en gaan trek aan. Op pad uit kry ek ’n smoothie by die Workout Café en stap daarmee buitentoe. Die son verblind my vir ’n oomblik, maar dan sien ek weer die motorfietsryer. Hy sit wydsbeen op sy motorfiets in die parkeerterrein. Kyk in my rigting.

      Toe hy my sien, skakel hy die enjin aan. Verskuil agter die helm se donker gesigskerm, weet ek sy blik volg my toe ek verby die Coetzenburg-swembad stap, af deur die laning bome.

      ’n Hele ent verder kyk ek om. Die ou en sy motorfiets is weg.

      Ek pak ’n klein tassie vir die langnaweek. Net die nodigste en ’n paar boeke wat moet saamgaan. Met die swottery is nie eens naweke my eie nie. Daar is ’n naderende toets waarvoor ek nou al moet leer.

      Vir ’n oomblik oorweeg ek dit om Kaapstad-lughawe toe te Uber, maar dan besluit ek om eerder met my eie kar te gaan en hom vir die naweek op die lughawe te los.

      Die verkeer uit Stellenbosch is ’n nagmerrie, maar op die snelweg gaan dit beter. Uiteindelik kom die lughawe in sig. Ek verminder spoed om die parkeergarage te kry. Die plek is gepak, en die naaste parkeerplek is myle ver van die loopweg na die lughawegebou. Terwyl ek my tas agter my aansleep, kyk ek vinnig op my selfoon hoe laat dit is. Ek is darem betyds. My tas vat ek saam as handbagasie. Ek het klaar via die internet ingeboek en moet net deur die sekuriteitshekke kom.

      Die vlug is met ’n halfuur vertraag, sien ek op die monitor toe ek uiteindelik by my vlughek kom. Dit kon seker erger gewees het, troos ek myself. Terwyl ek sitplek tussen die spul moeë besigheidsmense soek, vang my oog een van die restaurante. Vanmiddag se gym smoothie is al vergete, daarom stap ek verby die sitarea en gaan kry ’n hoenderwrap en bottel water. ’n Onbekende vrou wil nog met my praatjies maak oor my pa, maar ek ignoreer haar soos ’n stopstraat, en speel eerder ’n game op my tablet saam met ’n woelige outjie wat lastig raak langs sy ouma. Sy gesig straal.

      “Have you ever hacked a computer, Msizi?” vra ek sag.

      Hy knik.

      “Me too,” fluister ek vertroulik en knipoog.

      Sy oë rek. Ek lag, vryf sy kop.

      Later, toe die son oor Kaapstad sak, sink ek slapend weg in my sitplek, besigheidsklas Johannesburg toe.

      “Ladies and gentlemen, we are approaching OR Tambo Airport. Please ensure that your tray tables are stored, that your seats are in the upright position, and that your seatbelts are securely fastened.” Die lugwaardin se stem maak my wakker. Ek kyk by die venster uit en sien die Goudstad se miljoene liggies in die verte flikker.

      Die landing verloop sonder voorval en toe die vliegtuig se deure later oopmaak, lig ek my tas uit die oorhoofse kompartement en stap met die loopgang af na die aankomssaal. Met die Uber wat buite die lughawegebou vir my wag, skiet ek Sandhurst toe.

      Ek en die bestuurder maak traag praatjies oor die weer, maar vermy die sensitiewe gesprek oor politiek in Suid-Afrika. Nie dat ek daarin belangstel nie. Die spul korrupte clowns wat ons parlement vol sit en buzzwords soos “The Fourth Industrial Revolution” rondgooi terwyl hulle selfone en Twitter accounts kamtig gereeld gehack word, verteenwoordig nie vir mý of mense van my generasie nie.

      Dis al laat toe ek uiteindelik voor ons huis stop. Ek tip die bestuurder met die Uber-app en kry my tas. Uit my broeksak grawe ek my huissleutels, druk die afstandbeheer en stap met die oprit huis toe.

      Daar brand lig in my ma-hulle se kamer, ook op die stoep. Dis waar ek uiteindelik my tas neersit, die deur oopsluit en die skok van my lewe kry.

      <h12>Die plek van hoop en wanhoop</h12>

      Greg?” vra die man wat voor my in die huis se deur staan. Hy het net ’n slaapbroek aan. Die lig in die portaal glim oor sy teruggetrekte skouers en sy deurmekaar gryswordende hare. Hy lyk soos iemand wat ’n aandelemakelaar kan wees. Of dalk ’n advokaat wat al meer sake gewen as verloor het. Nogtans lê die skrik in sy bruin oë.

      Stomgeslaan kyk ek hom aan. Hy gee ’n tree terug, hou die deur oop sodat ek kan inkom. Ek sleep my tas oor die drempel die portaal binne, waar ek die man beter kan sien. Hy is seker my pa se ouderdom.

      En die slaapbroek? Kaal voete, kaal bolyf?

      “Wie is jy?” vra ek met ’n sweem van ongeskiktheid in my stem.

      “André.” Sy hand skiet uit om my te groet. Ek ignoreer dit.

      “Waar’s my ma?”

      Hy lyk skielik verleë, kyk op na die trappe. “Nog in die kamer.”

      “Wat de hel gaan hier aan?” Ek pluk my tas weg dat dit oor die vloer skuif.

      “Het jou ma jou nie gesê nie?”

      “Wat gesê?”

      “Van … ons?”

      “Óns?” Dis ’n ontnugterende woord. Ek vou effens vooroor. “Ek dink ek gaan siek word.”

      André sit sy hand op my skouer. ’n Bom ontplof in my kop. Ek skud sy hand gewelddadig af.

      “Los my uit!”

      “Wie is dit, André?” kom my ma se stem bo van die trappe af. Stadig kom ek regop. Dan ontmoet ons oë. “Greg, ek het jou nie verwag nie.”

      “Dít kan ek blerriewil sien, Ma.” Ek wys met my plat hand na André.

      “Jy het André ontmoet?” vra sy nou senuweeagtig.

      “Ja, en ek het meer van hom gesien as wat ek graag sou wou.” Ek draai weer na hom toe. “Waar’s jou klere?”

      “Ek dink ons moet praat,” ontwyk hy my vraag.

      My ma kom ook nou met die trappe af. Sy het ’n japon aan. Slaapklere onder die japon, sien ek.

      Ek moet my woorde versigtig kies. My humeur beteuel, maar die ontnugtering is ’n vlam, ’n berg wat in my brand. “Magtig, Ma, is dit wat hier aangaan as Pa in die tronk is en ek by die universiteit?”

      “Het jy al geëet, Greg?” vra sy en stap by my verby kombuis toe. “Gee ons ’n kans om te gesels,” hoor ek haar vir André fluister. Hy soen haar op die wang. Sy hand raak aan die kurwe van haar rug. My ma! “Kom saam, Greg.”

      Ek volg haar met die gang af verby die donker eetkamer. In die kombuis brand ’n lig. Op ’n ander aand sou dit verwelkomend voel. Nie nou nie.

      In die deur gaan staan ek. Herinneringe van my kinderdae om hierdie kombuistafel spoel skielik na my toe terug. Sjokolademelk met papierstrooitjies drink. Plaatkoekies verorber – John het voorgestel hulle moet soos spoke lyk, kompleet met rosyntjie-oë. Hier het ek en hy ook skelm vetkryt geëet. Enige laaitie sou daaraan wou proe met name soos Jazzberry Jam en Atomic Tangerine. By dié tafel het ons – ek, hy, Ma en soms Pa – stories vertel. Gelag en gesels. Toe ons nog ’n sorgelose gesin was. Hoe kalwe die tyd nie weg aan ’n mens se geluk nie!

      My ma haal bakke kos uit die yskas. Woordeloos skep sy vir my in: lamsboud, gebraaide aartappels, soetpatats. Alles waarvan sy weet ek hou, soos my СКАЧАТЬ