Donker Web. Fanie Viljoen
Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Donker Web - Fanie Viljoen страница 11

Название: Donker Web

Автор: Fanie Viljoen

Издательство: Ingram

Жанр: Приключения: прочее

Серия:

isbn: 9780624090472

isbn:

СКАЧАТЬ Times LIVE, al die koerante in die Turret Media-groep wat aan my pa behoort.

      Dis waar ek uiteindelik ’n enkele foto van my pa saam met ’n dokter opspoor. Hulle was betrokke by ’n gemeenskapsprojek wat kliniekdienste aan behoeftige mense lewer. Dit was skynbaar vir ’n goeie doel, maar ek laat my nie daardeur verblind nie.

      Ek vergroot die foto op die skerm. Dokter Rian Trollip. ’n Man met ’n oop glimlag. Ligte hare. Sagte oë.

      Lank sit ek en kyk na die foto. Is dit die beeld van ’n monster?

      Ek staan op om nog ’n bier te kry, maar terwyl ek by die oop yskas staan, roep iets my terug na dokter Trollip se foto. ’n Vae herinnering wil-wil in my oopvou. Daar is tog iets bekends aan hom. Diep soek ek in die files en folders in my kop. Dan weet ek: die dokter was al by ons huis. Hy en sy vrou. Daar was ander mense ook. My pa het graag uitgehang en my ma moes bontstaan met caterers en ’n partytjie-koördineerder. Die huis was vol lig, lewe, musiek. Die dokter en sy vrou het vir my uitgestaan, want laataand het hulle met mekaar gedans. Grasieuse draaie oor die vloer gemaak, perfek in pas met mekaar. Dit was wonderlik om te sien, want my pa en ma het nooit gedans nie.

      As ek reg onthou, was die partytjie kort voor hulle op ’n oorsese vakansie sou vertrek, iewers in Europa, dis dalk hoekom hulle so gelukkig gelyk het. My ma het nog so aangegaan oor hul reisprogram. Parys, Rome, Venesië. Hulle sou iemand daar ontmoet. Dokter Trollip se broer, of ’n ander familielid of vriend.

      Dokter Trollip, onthou ek nou … Daar was mos iets ánders aan hom? Dit het ek eers later besef toe John dit in woorde sit. Op die oog af het die dokter na ’n gawe ou gelyk. Sy sagte geaardheid het gepas by sy sagte oë. Maar iets was vreemd aan hom.

      Nog dieper grawe ek in my geheue om by daardie laerskool-herinneringe uit te kom.

      “Jy gaan seker volgende jaar Lawson Kollege toe, of hoe?” het die dokter op ’n stadium vir my gevra.

      “Ja, oom. Vir die rugby. Nes my boetie.”

      “Waar is jou boetie?”

      “Hy kruip weg vir oom.” Dit het uitgeglip voordat ek kon keer. John het seker nie regtig vir die dokter weggekruip nie. Hy was toe al in Lawson – ’n tiener, nie lus om praatjies met vreemde grootmense te maak nie.

      “Hy gee my die creeps,” het John later gesê. “Het jy sy hande gesien? Sulke knoppe en blou are soos ’n web. Ek sweer ek kon die dooie mens waaraan hy laas gevat het, nog ruik.”

      John was seker reg.

      Nie oor die dooiemensreuk nie, maar oor die dokter en die onpeilbaarheid van sy aard wat ’n mens se vel laat kriewel het. Was dit die ligte vibrasie in sy stem wat jou so ongemaklik laat voel het? Die manier waarop hy na jou gekyk het met sy sagte oë? Die ewe groot tandjies in perfekte gelid agter sy dun lippe toe hy glimlag?

      Was daardie creepy gevoel ’n rooi vlag?

      Ek maak ’n nota op my selfoon. Tik alles wat ek van hom kan onthou. Hy het ’n weird ring ook gehad. Daar was ’n passer en ’n winkelhaak of iets op.

      “Dis ’n Vrymesselaarsring,” het John gesê.

      “Wat’s dit?”

      “ ’n Geheime organisasie wat sulke weird rituele en goed in ’n donker tempel doen. Dit kom van Salomo se tyd af.”

      “By Lawson is daar mos ook sulke rituele …”

      “Ek praat nie daarvan nie. Dié is anders.”

      “Hoe anders?”

      “Hoe moet ek weet? Weird goed.” Hy het ’n ruk stilgebly. Ek het gewonder of hy my nie net met die dokter wou bang maak nie. “Hei,” het hy uiteindelik grootoog gevra. “Het jy geweet daar is selfs ’n Vrymesselaarstempel op ons parlementsgronde in Kaapstad?”

      Daardie beeld doem skielik voor my op. ’n Klomp mans wat in gelid uit die donker stap. Politici. Besigheidsmense. Dokters. Mans met oë versluier in skadu. Streng gesigte.

      Ek weet nie of dit werklik is hoe hulle in die tempel lyk nie, maar die beeld vervloei en stoot ’n ander herinnering na vore.

      Gesigte in gelid …

      Jis, ek het dokter Trollip iewers anders ook gesien.

      Nou weet ek. Skielik begin die bloed deur my are jaag.

      Ek tik ’n adres op Firefox in: www.plusultramed.co.za

      Dis die webblad vir Project Nursery Rhyme se frontmaatskappy. Buiten vir die gewone goed soos hulle missie, visie en produkte, was daar destyds ’n organogram van die maatskappy se grootkoppe. Dok Pienaar se naam en foto was heel bo. Maar ’n vlak of twee ondertoe was daar ’n ander foto …

      Met ’n bewende vinger druk ek Enter.

      Website is not available, staan op die skerm.

      Ek los ’n vloek deur my tande. PlusUltraMed se webblad is afgehaal. Dalk omdat die maatskappy toe is, of die domain is nie hernieu nie.

      Ek vat ’n sluk bier. Dink, maar kom nie verder nie. Teleurgesteld staan ek op en slenter balkon toe om vars lug te kry. Die son sak oor Stellenbosch en kleur die ou geboue en die berge pienk en blou in. Iewers lui ’n kerkklok om die nuwe uur aan te kondig. Enkele studente slenter straataf met ’n laat-Saterdag-rustigheid. Daar is ook ’n meisie op ’n fiets, ’n polisiemotor en ’n man wat in die straat verbydraf. Ek luister na die klap van sy voete op die teer en dink opeens aan –

      Nee. Ek keer daardie gedagte dadelik en draai my rug op die straat, stap van die balkon af in. Met ’n sug val ek op die bed neer, gryp my Sport Psychology-boek en blaai na die deel oor die sielkunde van sportonderrig. My konsentrasie verskerp soos ek die inligting probeer memoriseer. Af en toe raadpleeg ek my klasnotas. Maak nog notas. Teken breinkaarte.

      Toe dit nog donkerder word, sit ek my bedliggie aan.

      My selfoon biep af en toe van Plank se boodskappe. Daar is ook een van my ma.

      Ek gaan vir ’n week weg. Daar is moontlik nie selfoonontvangs nie. Volgende Sondagaand terug.

      OK, antwoord ek. Dan ná ’n ruk: Gaan Ma alleen?

      Sy antwoord nie. Die enigste boodskap kom van die PSO af oor die een of ander funksie, maar stuff dit, ek gaan nie. Chloe sê hulle gaan my ’n “sluiper” noem as ek nie aan hulle goedjies deelneem nie. Hulle kan dit maar doen. Ek is al erger goed genoem.

      Terug by die boeke. Maar dit neem nie lank nie, toe voel ek hoe die tamheid my oorval en voor ek kan keer, raak ek op die deurmekaar bed aan die slaap.

      Sondag glip verby met boeke, pizza en ’n gymsessie. Die Maandagoggend skrik ek met ’n slag wakker van my selfoonalarm. Kreunend mik ek vir die snooze-knoppie. ’n Ruk lank lê ek toe-oog en dommel, maar skielik meld ’n idee aan. Dit is asof my brein oornag ’n oplossing gekry het vir die PlusUltraMed-webbladprobleem.

      Die Wayback Machine.

      Ek spring uit die bed, sit vinnig die Nespresso-koffiemaker aan die gang en met ’n kaal bolyf en bokser-onderbroek gaan plak ek my voor die laptop neer. Vinnig soek en kry ek die Wayback Machine se webblad. Dis СКАЧАТЬ