Donker Web. Fanie Viljoen
Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Donker Web - Fanie Viljoen страница 12

Название: Donker Web

Автор: Fanie Viljoen

Издательство: Ingram

Жанр: Приключения: прочее

Серия:

isbn: 9780624090472

isbn:

СКАЧАТЬ style="font-size:15px;">      Bo-aan die skerm is ’n plek vir ’n webbladadres. Ek tik PlusUltraMed s’n daar in en klik op Browsing history.

      ’n Volgende blad verskyn. Dit wys dat die farmakologiese maatskappy se webblad 240 keer gestoor is. ’n Grafiek en ’n kalender wys ook presies wanneer dit gestoor is. Dit klink maklik genoeg.

      Ek beweeg na ’n random datum. Die pop-up wys daar is dié dag twee snapshots van die webblad gemaak.

      Vinnig klik ek op die datum en binne oomblikke verskyn PlusUltraMed se verlore webblad. Flippen ongelooflik!

      Links op die webblad is die skakels na Mission statement, Products, Orders, About, Contact us. Soos destyds, kry ek die blad met die organogram. Dit neem ’n rukkie om die ou foto’s uit die argiewe op te diep, maar uiteindelik lê die organogram voor my.

      En daar is hy: Dokter Rian Trollip.

      Ek maak ’n skermdruk van die organogram. Stoor dit op my Dropbox in die cloud.

      Dan onthou ek van my koffie. Ek gaan kry dit gou, saam met ’n bakkie muesli en jogurt. Doortjie, my regterhand in die huis, kom ook vanoggend, onthou ek dan. Sy het haar eie sleutel en kan self inkom as ek weg is. Vinnig stuur ek vir haar ’n boodskap dat sy moet onthou om die balkon se vloer skoon te maak. Daar het bier gemors. Ek vra ook of sy my tekkies kan was en in die son op die balkon los. Ek sal dit vanaand inbring.

      My oog vang die tyd op my laptop. Ek het ’n halfuur voordat ek moet waai. Met ’n vaart spring ek op. Eers vinnig stort, dan my boeke bymekaarmaak.

      Betyds vir klas is ek by die deur uit. Af met die trappe in die oggendsonskyn in, waar ek musiek aansit en die airpods in my ore druk.

      By Coetzenburgstraat draai ek af, stap tot by die houtbrug, waar ek vir ’n oomblik gaan staan en kyk hoe die Eersterivier uit Jonkershoek se rigting onderdeur vloei. Met die pods uit my ore luister ek hoe die water oor die klippe daar onder kabbel. ’n Rustigheid kom lê in my, maak my reg vir die dag wat voorlê.

      Uiteindelik stap ek verder, verby die standbeeld van doktor Danie Craven en sy hond, Bliksem, na die Sportwetenskap-gebou.

      ’n Paar studente drentel geselsend in die gang voor lesingsaal A rond. Ek knik in hulle rigting, maar behou my afstand. Hulle het teen hierdie tyd al almal van my pa uitgevind. Vandat ek hier is, kry ek gereeld ’n sydelingse kyk of vang ’n dubbelsinnige opmerking wat ek weet vir my ore bedoel is.

      Terwyl ek eenkant wag, kry ek weer my selfoon en google dokter Rian Trollip se naam. ’n Hele paar trefslae kom op. Net ’n vinnige blaai deur die opskrifte slaan my met ’n yster tussen die oë.

      Ek maak nogtans een van die koerantberigte oop.

      Dokter gevang met kinderpornografie.

      My bloed word yskoud en ’n aardige gevoel trek langs my ruggraat af.

      Oor en oor spring my oë na die opskrif voordat ek verder lees. Die dokter het in die hof verskyn nadat polisie op sy praktyk toegeslaan en op talle pornografiese foto’s en video’s van kinders afgekom het. Dokter Trollip het onskuldig gepleit.

      Nog ’n berig bevestig die dokter se hofverskyning.

      Nou weet ek waarom John destyds daardie creepy gevoel gekry het. Dit was nie die dooiemensreuk aan die dokter se hande nie. John het instinktief iets aangevoel oor die ou se geaardheid. Die blink ballie se donker kant.

      Die lesinglokaal se blou deure swaai oop. Ek hoor die ander studente klas toe beweeg, maar ek vluglees gou nog ’n berig: Dokter Trollip se vrou dagvaar hom vir ’n egskeiding.

      Nog ’n berig: Dokter Rian Trollip is dood in ’n gemeenskaplike sel aangetref. Hy het homself met ’n geskeurde kombers gehang. ’n Foto van die kombers op die sementvloer laat my ril. In ’n verdere berig staan familielede by dokter Trollip se graf. Sy broer voor, met ’n sonbril en sambreel. Somber, soos die vrou langs hom. My pa is ook daar. Dok Pienaar agter hom.

      Dit neem ’n oomblik vir die inligting om in te sink, dan kyk ek na die datum. Dit het alles in my matriekjaar gebeur. Die tyd van Project Nursery Rhyme.

      Kon dokter Rian Trollip dan ook die Baker gewees het? wonder ek toe ek die klas binnestap. Soek ek dalk na ’n dooie man?

      <h8>Donker patrone</h8>

      Daardie aand kom Chloe en haar vriendinne raserig die trappe op. Dit klink my daar is twee ouens ook by hulle. “Oor tien jaar gaan jy jou baba soos ’n puzzle kan bou,” sê een.

      “Nie oor tien jaar nie. Nou al,” sê een van die ouens.

      “Wat? Ek kan nie eens ’n pizza bou nie.”

      “En die weirdste ding van alles – as jy jou baba op die good old-fashioned manier wil maak, gaan mense sê jy mishandel kinders, want jy kon gekeer het dat hulle siek word.”

      “Ag, tjol, man!” Chloe lag dat dit in die gang eggo.

      “Kyk maar.”

      Ek luister vies na hulle deurmekaar gebabbel. Dit sterf uit toe hulle die deur toetrek. Aangesien my konsentrasie nou tog onderbreek is, sit ek my boek neer. Ek staan op. Stap na my balkon. Maak my oë toe en laat die vars aandlug om my vou. Al die gepraat oor kinders … In my agterkop speel die koerantberigte wat ek vanoggend gelees het weer. Dit dwing my rekenaar toe. Ek gaan lees weer oor dokter Trollip se dood, en soos ’n spinnekop wat sy web verder span, begin ek na berigte oor mevrou Trollip, die dokter se vrou, soek.

      Daar is nie veel nie. Net iets oor die egskeiding, ’n twis met haar swaer oor die boedel, en êrens ’n klein beriggie oor die een of ander fondsinsameling ten bate van borskanker. My oë steek vas by die selfoonnommer in die kankerberig. Die kontakpersoon vir die fondsinsameling.

      Ek gryp my selfoon.

      My duim tik die nommer, bel dit. Die selfoon lui ’n paar keer aan die ander kant, dan antwoord ’n stemboodskap. Ek luister na die vrou se helder stem, maar laat nie ’n boodskap nie; druk die oproep net dood.

      Ingedagte sit ek vooroor, tik met die selfoon teen my ken en wonder of ek weer moet bel. Sal sy dalk kan help? Sal dit onsensitief wees om haar oor haar man uit te vra? Sy verbintenis met PlusUltraMed. Sy band met Dok en my pa. Sy dood?

      Omtrent ’n uur later, terwyl ek op die balkon sit, boeke om my gestrooi, kom die oproep.

      “Hallo, dis mevrou Trollip.”

      “Mevrou Trollip?” Ek het die nommer herken, maar nie gedink sy sou terugbel nie. Ek bel niemand terug tensy ek weet wie hulle is nie. Daardie les het joernaliste my tydens my pa se verhoor geleer.

      “Jy het my gebel? Kan ek help?”

      Haar tong sleep effens. Is sy dronk?

      “Dis … dis Greg Owen. My pa is Chris Owen.”

      “Die mediamagnaat?”

      “J-ja,” antwoord ek hakkelend. “Ek het gewonder of tannie … of u my kan help. Ek soek na inligting.” Flippit, ek moes ’n ander strategie bedink het, nie dadelik so met die deur in die huis geval het nie. Het die social engineering-aanval van destyds my dan СКАЧАТЬ