Suster Lilian se babasorgboek: Tradisionele en natuurlike sorg. Lilian Paramor
Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Suster Lilian se babasorgboek: Tradisionele en natuurlike sorg - Lilian Paramor страница 18

СКАЧАТЬ baba te akkommodeer aangesien jy dit waarskynlik geruime tyd lank sal gebruik, en ook om ongelukke te voor­kom as Baba dalk sou probeer uitklim. ’n Bababed moet ook ruim genoeg wees om aan dié vereistes te voldoen. ’n Ruim bababed het die voordeel dat Baba nie te gou in ’n gewone bed hoef te slaap nie – dit maak dikwels ’n einde aan die gewilligheid waarmee hy saans gaan slaap.

      Baie babas slaap natuurlik op die ou end snags meer in hul ouers se bed as in hul eie. Dit is heeltemal in orde, want dit beteken gewoonlik dat die kleingoed veiliger voel en hul ouers – veral die ma – minder moeite besorg!

      Baba se uitgaansak

      Jou handsak gaan binnekort deur ’n babadrasak vervang word! Plak’n lysie in Baba se klerekas en gaan dit na voor elke uitstappie. Vul verder aan met enigiets wat jou lewe nog verder kan vergemaklik:

      •3–4 doeke

      •nat lappies om boudjies skoon te maak

      •boudjiesalf

      •babavelroom

      •vuilgoedsak

      •’n stel skoon klere

      •’n hoedjie of mussie

      •warm dingetjie vir baba

      •fopspeen

      •doekies vir jou bra vir die eerste paar weke van borsvoeding

      •bottelvoedingtoerusting soos poeiermaatlepel, bottel en bybehore

      •medisynetoediener

      •’n geskikte speelding

      •’n botteltjie kos as Baba al ouer is

      •’n ander drankie benewens melk

      •voerlepeltjie

      •klam lappie in plastieksak om gesiggie af te vee

      Emosionele sake

      “Moederskap gaan om meer as bloot die organiese proses van geboorte skenk . . . dit beteken om die behoeftes van die wêreld te begryp.” – Alexis De Veaux, ma en borg van MADRE, ’n Latyns-Amerikaanse hulporganisasie, aangehaal in Wo­men’s Bodies, Women’s Wisdom: The Complete Guide to Women’s Health and Well­being deur dr. Christiane Northrup, Groot-Brittanje, Piatkus, 1995.

      Voorwaar ’n diepsinnige uitspraak, maar alte waar! As ma speel jy ’n rol in die vorming van jou kind se wêreld en die lotgevalle van die volgende geslag.

      Babas en hul ma’s het ’n baie spesiale verhouding. Hulle is so onlosmaaklik aan mekaar verbind soos ’n Siamese tweeling. Hoewel die baba klaarblyklik meer afhanklik van die ma is, is die pa en kind ook in mindere mate verbonde in ’n komplekse spel van emosies en selfs fisieke manifestasies.

      Dit was die afsny van die naelstring wat julle verdeel het, maar ek glo dat babas eers veel later in hul lewe hierdie fisieke skeiding as ’n werklikheid aanvaar. Dit is ’n geleidelike proses wat vereis dat die ma deurlopend moet vernuwe en haar benadering voortdurend moet aanpas. Hierdie teorie help ons om te verstaan waarom ’n baba so besonder knieserig raak wanneer Ma sukkel om kop bo water te hou of wanneer die gesin onder groot spanning verkeer. Sulke tye kan jou kind se slaappatrone ontwrig word of jou baba makliker siek word. Lig­gaam­like kontak kan die nodige gevoel van geborgenheid skep.

      Jy sal hierdie inligting kan gebruik om jou baba op allerlei maniere tevrede te stel, sinvolle roetines te vestig en te begryp wat op ’n sekere tydstip aan die gang is.

      Benewens hul begeerte om so lank as wat nodig is met hul ma verenig te bly, het alle kinders ’n aangebore behoefte aan liefde en respek. Hulle wil omring word van ’n omvattende gevoel van geborgenheid. ’n Gevoel van veiligheid word ge­skep wanneer jy aanvaar dat jy en jou kind een is. Babas, soos alle mense, het ’n behoefte aan aanraking, en teer en innige fisieke kontak laat hulle gedy. Tel jou kind baie op, gee haar hope drukkies en masseer gereeld haar lyfie.

      Die ander fisiek-emosionele behoefte is om te soog. Ons weet dat dit ’n refleks­handeling is, en dit is beslis ’n instinktiewe, diep gewortelde reaksie. Dit help om Baba se fisieke oorlewing te verseker, maar ek glo dat dit ook iets met sy emosionele oorlewing te make het. Hierdie standpunt daag die benadering uit wat steeds baie algemeen in Suid-Afrikaanse kraaminrigtings gevolg word – naamlik rigiede voedingskedules, vooroordeel teenoor fopspene en die denkrigting dat borsvoeding bloot oor die borsmelk gaan.

      Na my mening het jou baba ook ’n derde emosionele behoefte, naamlik om baie geleidelik met die onverbiddelike sy van die lewe kennis te maak. Dit beteken dat jy hom teen oormatige hantering deur vreemdelinge moet beskerm, of dit nou opgewonde vriende en familie is of bedrywige mediese personeel. Sorg dat jy en jou baba deur stilte en kalmte omring word terwyl julle by jul nuwe omstandighede aanpas. Dit sal tot julle almal se voordeel strek.

      Ek is van mening dat ’n kind eers teen die einde van die vormende eerste sewe jaar van sy lewe tot ’n waarlik afsonderlike wese ontwikkel. Dit is ’n geleidelike proses waartydens hy van algehele fisieke en emosionele afhanklikheid tot algehele onafhanklikheid ontwikkel. Ouers behoort aangemoedig te word om hul kinders met groter deernis te benader, eerder as om hulle te dryf om te gou onafhanklik te raak. Dit is baie ongevoelig om ’n baba te dwing om in sy eie bed en kamer te slaap, hom ure aaneen te laat huil en volgens ’n skedule te voed.

      Ek maak hierdie kategoriese stelling op grond van baie jare se waarneming van dié besondere verhouding. As jy jou nie teen daardie intieme eenwees verset nie, rus die gewigtige taak van ouerskap sommer ligter op jou skouers. Jy skep dikwels probleme deur jou baba voortydig “onafhanklik” te probeer maak.

      Elke probleemsituasie bevat ’n geheime sleutel wat die lewe vir ’n mens makliker en beter kan help maak. Ouers kan gerus die positiewe aspekte van hierdie benadering in hul lewe verwelkom. Jy en jou kind sal veel aangenamer herinne­ringe deel as jy in die eerste maande en jare aanvaar dat hy maar net ’n baba is. Ek glo dat ouers ’n stabiele, sorgsame samelewing help bou, wat waarde heg aan emosies as een van die spesiale menslike talente, wanneer hulle met grasie aanvaar dat hul baba nodig het dat hulle haar moet ronddra, dat sy snags veilig by hulle wil slaap en nog nie te lank van hulle geskei wil wees nie. Die teendeel is on­gelukkig ook dikwels waar. Babas wat noodgedwonge te gou moet “grootword”, regresseer dikwels wat vaardighede soos toiletmaniere betref of die vermoë om afskeid te neem wanneer hulle meer onafhanklik behoort te raak.

      Hierdie gedagte sal ongetwyfeld antagonisme uitlok in ons individualistiese samelewing. Ek kan egter nie die werklikhede ignoreer wat ek so dikwels deur die jare in my werk met ouers en kinders, geboortes en babas gesien het nie.

      ’n Meer deernisvolle benadering tot ouerskap beteken hoegenaamd nie dat jou baba moet grootword met die gedagte dat hy of sy belangriker as enigiemand anders is of dat dit nie nodig is om respek vir volwassenes te hê nie – inteendeel. Sien gerus die hoofstuk oor dissipline en gewoontes.

      Moet vir geen oomblik dink jy gaan altyd oorloop van liefde vir jou baba van die eerste oomblik dat sy haar oë oopmaak nie, veral nie indien die geboorte on­persoonlik of baie uitputtend was of gekompliseer is deur ander faktore soos depressie, ’n onbeplande swangerskap of verhoudingsprobleme nie. As jy voel dat jy glad nie met jou ongebore kind kan identifiseer nie, mag dit eenvoudig ’n geval wees dat jou liefde tyd nodig het om te ontluik. СКАЧАТЬ