Название: Suster Lilian se babasorgboek: Tradisionele en natuurlike sorg
Автор: Lilian Paramor
Издательство: Ingram
Жанр: Секс и семейная психология
isbn: 9780798159043
isbn:
Beproef hierdie wenke:
•Vermy van Dag Een af skedulevoeding – neem eerder waar watter patroon jou baba se hongerpyne aanneem en voed na behoefte.
•Onthou dat borsbabas dikwels ’n paar voedings elke 2 uur gevoed moet word, gevolg deur ’n effens langer tussenpose.
•Borsbabas is geneig om hul maaltyd in “gange” te geniet, wat sal behels dat hulle ’n paar ruspouses tussen aktiewe drinkperiodes mag neem voordat die voeding voltooi is – gun hulle dit.
•Bottelbabas wil ook dikwels baie anders drink as wat algemeen voorgeskryf word. Een praktiese benadering is om meer bottels met kleiner hoeveelhede melkformule aan te maak en ’n tweede bottel aan te bied indien Baba nog honger lyk teen die einde van ’n voeding. Die totale hoeveelheid melk bly heel moontlik dieselfde, maar jou baba probeer vir jou die boodskap oordra dat hy verkies om in reaksie op hongerpyne te drink, eerder as volgens die horlosie.
•As jy agterkom dat jou melkvoorraad begin afneem, moet jy bloot meer rus, meer dikwels borsvoed om produksie aan te moedig en meer vloeistowwe drink (drink water of rooibostee sodra jy dors voel).
•Sulke babas reageer dikwels goed op homeopatiese middels soos ColicCare en Rescue Digest.
HUILENDE-BABA-KOLIEK
Dié baba is van die begin af oënskynlik knieserig en van stryk af, ongeduldig en moeilik om tevrede te stel. Haar gesiggie is vol pynplooie en hoe jy haar ook al probeer troos, bring niks langer as ’n paar oomblikke verligting nie. Baba se slaappatrone is wisselvallig en rus en kalmte is maar van korte duur in dié huishouding. Sulke babas is dikwels geneig tot taamlik loperige stoelgange en ’n suur luieruitslag. Borsbabas suig soms met moeite vas en druk hul kop weg of skud hul kop woedend heen en weer. Hulle huil baie klaerig en Ma is heel moontlik al raadop.
Beproef hierdie wenke:
•Bad saam met Baba in diep, warm water waarby laventel gevoeg is, of probeer Baba in die bad voed.
•Stap rond terwyl Baba aan die bors vassuig en gaan sit eers wanneer jy voel dat haar lyfie ontspan.
•Dra Baba dikwels in ’n buidelsak rond.
•Gee vir Baba minstens 3 maal per dag Chamomilla-tablette, opgelos of verdun in ’n bietjie water, vir ’n byna oombliklike verbetering van die simptome.
•Indien die simptome nie heeltemal verdwyn nie, gee ook daagliks 2 dosisse homeopatiese ColicCare.
•Laat Baba onder ’n boom lê waar sy die ligte beweging van die takke kan sien: beweging verlig oor die algemeen hierdie simptome.
•Ma voel maklik asof sy depressief wil raak en is baie moeg met dié soort koliek. Homeopatiese Rescue Emotion-tablette is baie nuttig.
•Reël dat jy een oggend per naweek laat slaap saam met jou maat om jou krag te gee vir die week wat voorlê.
WAT-JY-EET-KOLIEK
Ma’s, dokters en klinieksusters is almal ewe geneig om in die slaggat te trap om te dink dat dieet een van die grootste oorsake van spysverteringsongemak is. Ma se dieet, Baba se melkformule en Baba se drinkwyse kan wel alles ’n rol speel, maar spanningsiklusse, Baba se persoonlikheid en misverstande oor die seine wat sy aan haar ouers probeer stuur, is baie belangriker faktore. Daar is egter wel sekere voor die hand liggende verbande tussen kos en koliek, en van hulle mag jou miskien verbaas. As jy opmerk dat Baba spysverteringsongemak ervaar elke keer dat jy ’n sekere voedselsoort eet, moet jy jou dieet aanpas en dié kos daadwerklik vermy of verminder. Moenie sommer dadelik begin uitskakel nie; eet eerder matige hoeveelhede van ’n groot verskeidenheid voedselsoorte.
Beproef hierdie wenke:
•In die baarmoeder het Baba “saamgeëet” aan alles wat jy gedurende jou swangerskap geëet het, en as jy nou skielik al daardie voedsel onttrek, kan sy kolieksimptome vertoon. Die oplossing is dikwels om juis daardie kerrie te geniet waarvoor jy lus het of jouself te bederf met ’n ontbyt wat net uit lemoene bestaan!
•Indien ’n sekere voedselsoort of drankie simptome van ongemak by jou veroorsaak, is daar ’n goeie kans dat dieselfde met jou baba gaan gebeur.
•Tipiese gasserige kosse soos boontjies, kool en uie sal heel moontlik tot ’n pynlike, opgeblaasde gevoel lei as dit in groot hoeveelhede geëet word.
•Stimulante soos kafeïen kan Baba slapeloos en prikkelbaar maak en uiteindelik tot oormoegheid en ’n gehuil lei, wat die simptome van koliek naboots.
•Vermy ’n sogenaamde sagte dieet wat hoofsaaklik uit koring- en suiwelprodukte bestaan, aangesien dit juis heelwat krampe kan veroorsaak.
•Moet nooit melkformule met kokende water aanmaak nie. Die hitte verander die proteïenstruktuur en maak die melk moeilik verteerbaar, wat krampe veroorsaak – laat die water eers effens afkoel voordat jy die formule aanmaak.
•Die yster wat by melkformule gevoeg word, kan soms ongemak veroorsaak. As dit voortduur, is dit moontlik nodig om na ’n ander soort formule oor te skakel – gespesialiseerde formules gee gewoonlik die minste probleme.
•As Baba ’n gulsige drinker is of jou melk baie vinnig vloei, sal dit help om óf te stap óf te lê terwyl jy voed om te voorkom dat Baba te veel lug sluk.
•Die homeopatiese middels Rescue Digest en ColicCare help dikwels om simptome te verlig.
BABA MET ’N SPASMA
Dit is waarskynlik die letterlikste vorm van koliek aangesien die leë, gespierde kolon in ’n pynlike spasma verkeer. Die simptome kom tipies op dieselfde tyd elke dag voor. Baba hik gewoonlik baie, selfs terwyl hy nog in die baarmoeder is. Wanneer hy melk opbring, is dit gewoonlik kragtig, en sy stoelgange ontplof in sy doek.
Beproef hierdie wenke:
•As Baba in die baarmoeder hik, gebruik die weefselsout Mag. phos. as aanvulling – laat 2 tablette 3 maal per dag op jou tong oplos.
•Maak 1 Mag. phos.-tablet fyn, los dit op en gee dit vir Baba voor elke voeding.
•Vryf Baba se winde uit in die posisie wat in die skets gedemonstreer word: laat Baba op jou been sit, balanseer sy ken in die hoek tussen jou regterwysvinger en -duim met die nek effens vorentoe, lig sy linkerarm met jou regter- middelvinger op, laat leun hom effens vooroor met ’n reguit rug en vryf die ruggie met ’n opwaartse beweging.
•Gaan stap elke dag wanneer die moeilike tyd aanbreek – of beter nog, stuur iemand anders saam met Baba!
BABA WAT AANRAKING NODIG HET
СКАЧАТЬ