Название: Suster Lilian se babasorgboek: Tradisionele en natuurlike sorg
Автор: Lilian Paramor
Издательство: Ingram
Жанр: Секс и семейная психология
isbn: 9780798159043
isbn:
•Gaan voort om uitsluitlik te borsvoed.
•Moenie op dié vroeë tydstip vaste kosse gee nie.
•Gee jou baba hope liefde en interaksie, want ’n gelukkige baba sal meer waarskynlik ’n gesonde baba wees.
•Behandel dadelik oormatige slym.
•Dokter jouself so gou moontlik met natuurlike geneesmiddels as jy self siek word.
Toe neus
’n Toe neus is baie algemeen onder klein babatjies. Dit is dikwels nie so erg as wat dit klink nie en word meestal veroorsaak deur die feit dat Baba nog nie sy neus kan snuit nie. Dit kom meer dikwels snags voor aangesien Baba dan plat lê en die slym dus nie kan dreineer nie. ’n Druppel soutoplossing in elke neusgat is dikwels doeltreffend om Baba alles te laat uitnies. Soms kan dit ook veroorsaak word deur suiwel- en graanprodukte in ’n ma wat borsvoed se dieet, of ’n suiwel- en soms sojagebaseerde melkformule, selfs net snags. As dit nie vanself opklaar nie, mag dit nodig wees om aanpassings te maak. Jy kan ook homeopatiese MucoCare gebruik as die toe neus herhaaldelik voorkom, en/of gebruik snags ’n bevogtiger met ’n bietjie bloekomolie. Dit moet egter elke oggend deeglik gewas en afgedroog word. ’n Paar druppels bloekomolie onder die warmwaterkraan wanneer jy Baba se badwater laat intap kan ook help vir die nag wat voorlê.
Hardlywigheid
Hardlywigheid is nogal ’n algemene probleem wanneer Baba van borsmelk gespeen word en op die bottel oorgaan of te gou met vaste kos begin. Hardlywige stoelgange is hard en ongereeld. As jou baba uitsluitlik borsmelk kry, mag hy moontlik in dié stadium net elke vyf dae of so ’n vuil doek hê – dit is nie hardlywigheid nie, al druk hy ook hoe hard en raak sy gesiggie bloedrooi. Beproef hierdie voorsorgmaatreëls en wenke vir die behandeling van hardlywigheid:
•Moet nog nie in dié stadium vir Baba pap gee nie.
•Gebruik ’n spesiale melkformule as suiwel- of sojaformule hardlywigheid veroorsaak.
•Smeer ’n bietjie petroleumjellie rondom Baba se anus en “ry fietsie” met sy bene wanneer hy probeer druk.
•Hou Baba regop en vryf sy laer rug wanneer hy opelyf wil hê.
•Masseer die drukpunt in die middel van sy linkerhakskeen se sool met jou kneukel om die dermkanaal te stimuleer – dit is ’n baie nuttige refleksologie-tegniek.
•As jy reeds vaste kos gee, beperk dit tot seisoenale vrugte of geel groente, maar bied voorlopig verkieslik meer van Baba se melk aan en eers later vaste kosse.
•Voeg ’n paar druppels olyfolie by twee bottels per dag vir bottelbabas.
•Gebruik homeopatiese middels soos Rescue Digest in die onwaarskynlike geval dat nie een van hierdie wenke help nie.
Klewerige ogies
Klewerige of waterige ogies word soms veroorsaak deur ’n verstopping van ’n traanklier, maar dui selde op ’n werklike infeksie. Vee die klewerige afskeiding met afgekoelde kookwater en ’n stukkie watte af deur van die binnehoek na die buitehoek te werk. As jy borsvoed, druk ’n bietjie melk in ’n skoon houer uit en vee Baba se oë hiermee af, aangesien borsmelk ’n kragtige natuurlike ontsmettingsmiddel is. Masseer die onderste ooglid met sirkelbewegings van jou wysvinger van die buitehoek na die binnehoek om enige verstopping te help verwyder. Die weefselsoutmiddels Kali. mur. en Kali. sulph. (1 tablet van elk 3 maal per dag, opgelos in ’n bietjie water) is ook nuttig. As jou kleinding dikwels baie mukus afskei of aan allergieë ly, kan dit daarmee verband hou. Suiwel- en graanprodukte in die dieet (óf jou eie indien jy borsvoed óf Baba s’n) is algemene oorsake. Dien homeopatiese MucoCare mondelings toe vir hierdie toestand. As niks anders wil help nie en dit nie teen ongeveer ses maande vanself opklaar nie, sal jou dokter moontlik ’n klein operasietjie voorstel om die traanklier oop te maak en enige verstoppings te verwyder.
Hitte-uitslag
Hitte-uitslag kom tipies voor wanneer die temperatuur wissel. Dit laat die vel ligpienk en kollerig vertoon en kom meestal op die warmste plekke van die liggaam voor, soos die nek, gesig en velvoutjies of waar die klere teen die liggaam raak. Die uitslag verdwyn gewoonlik wanneer die liggaam teen die aand afkoel of wanneer Baba se klere uitgetrek word. Dit jeuk skynbaar nie, maar Baba mag wel rusteloos en ongemaklik wees vanweë die hitte. Moenie hom te warm aantrek nie en gebruik kleertjies van suiwer katoen. In die somer is slegs ’n frokkie en ’n doek of ’n ligte babapakkie dikwels genoeg. As die uitslag egter nie verdwyn nie of as Baba olik lyk en tekens van koors of griepagtige simptome vertoon, mag dit ’n allergie wees. Allergie-uitslag word dikwels deur dieet, wasgoedwasmiddels, badseep of lyfroom veroorsaak. Neem Baba dokter toe as sy olik lyk, sodat die toestand korrek behandel kan word. Voeg ’n pot rooibostee by Baba se badwater en gee vir Baba homeopatiese Calendula-tablette om die gejeuk te laat bedaar.
Ontwrigte heupe
Verskillende grade van ontwrigte heupe kom by babas voor; dit word by geboorte getoets. ’n Ligte mate van ontwrigting kan bloot vereis dat Baba vir ’n paar weke tot ’n paar maande lank ’n paar handdoekstofdoeke oormekaar moet dra om die heupbene teen die regte hoek met die holte van die bekkenbeen te hou totdat die ligamente sterker is. Die weefselsoutmiddels Ferrum phos. en Calc. fluor kan aanvullend gebruik word om die ligamente wat die heupbeen aan die holte van die bekkenbeen heg sterker en meer elasties te help maak. Heupontwrigting is taamlik algemeen, veral by brugbabas, en kan gelukkig behandel word. In die ergste gevalle word Baba se beentjies ’n paar maande in ’n omgekeerde-V-spalk geplaas, met ’n stut wat die knietjies uitmekaar hou. Dit verg baie geduld en moed van die ouers. Hou by die ondersoekprogram wat die dokter aanbeveel en vra al jou vrae oor jou baba se vordering. Onthou dat die prognose uitstekend is; moet jou dus nie te veel hieroor ontstig nie.
Geelsug by babas
Die meeste gevalle van geelsug by babas is van ’n fisiologiese aard en nie, soos by hepatitis, ’n simptoom van lewersiekte nie. Pasgebore babas het te veel rooibloedselle, wat ná geboorte deur die effens onderontwikkelde lewer afgebreek moet word. Hierdie oortollige rooibloedselle hou talle voordele in gedurende die eerste paar dae, maar namate hulle afgebreek word, word bilirubien gevorm – die geel pigment wat fisiologiese geelsug veroorsaak. Dit begin gewoonlik van die tweede of derde dag af en duur voort totdat dit heeltemal deur die liggaam uitgeskei is.
Geelsug net ná geboorte hou verband met die onversoenbaarheid van die Rhesusfaktor (die positiewe of negatiewe faktor van die bloedgroep) van die ma en baba se bloedgroepe. Dit is redelik seldsaam en word heeltemal anders behandel.
Soveel moontlik van Baba se lyfie moet tuis of selfs by die kliniek 2 maal per dag vir 5–10 minute aan sonlig blootgestel word. Wees versigtig vir sonbrand en beskerm Baba se ogies. Klinieke gebruik fototerapie, en ’n mens kan ook so ’n eenheid tuis gebruik onder toesig van ’n verpleegsuster wat jou daagliks sal kom besoek.
Dit is noodsaaklik om Baba dikwels te borsvoed, aangesien meer vloeistof nodig is om die bilirubien te help uitskei. Die geelsug duur soms langer by borsbabas, maar dit klaar vinniger op as jy nie die voedings skeduleer nie. Babas raak soms gouer moeg wanneer hulle geelsug het, dus mag dit nodig wees om hulle vir voedings wakker te maak. Borsbabas raak veral gouer moeg aangesien dit meer inspanning verg om aan die bors te drink.
Die jongste navorsing toon dat hoë bilirubienvlakke nie so gevaarlik is as wat voorheen gedink is nie, maar dit bly ’n goeie idee om te sorg dat dit gemonitor en behandel word.
Mukus
СКАЧАТЬ