Die Afrikaners. Hermann Giliomee
Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Die Afrikaners - Hermann Giliomee страница 17

Название: Die Afrikaners

Автор: Hermann Giliomee

Издательство: Ingram

Жанр: Историческая литература

Серия:

isbn: 9780624050759

isbn:

СКАЧАТЬ of any kind … The universal religious turn of the colonists, amounting almost to bigotry, is, perhaps, a principal cause to which this command of themselves is to be ascribed.”

      In die 1830’s het ’n ander reisiger opgemerk: “There are certainly no people in the world who are so truly God-fearing as the Afrikaner.”

      In die loop van die agtiende eeu het die Christelike kerk hoofsaaklik ’n wit kerk geword. Daar was min hulpbronne vir sendingwerk beskikbaar, maar daar was ook ander redes. Die Kompanjie het van die staanspoor ’n spesifieke stempel op godsdiens afgedruk deur in die instruksies aan predikante en onderwysers daarop klem te lê dat hulle die Gereformeerde Kerk en die Hollandse taal moet bevorder. Algaande is die burgergemeenskap en hul kerk gedefinieer deur ’n bepaalde geloof en taal.

      By die burgers het die oortuiging ontwikkel dat God ’n verbond gesluit het met hulle as ’n bepaalde gemeenskap en hul afstammelinge. Volgens hierdie verbondsteologie was daar ’n kontinuïteit tussen God se verbond met die Jode en die een wat Hy met Christene gehad het. Dit is versterk deur die doopteologie wat op die ou end in die NG Kerk aanvaar is waarvolgens kinders van Christelike ouers reeds in die moederskoot gered is. Die simbool daarvan was die kinderdoop. Ouers is slegs gevra om te beloof dat hulle die kind in die geloof sou opvoed. Wanneer die kind volwasse word, het hy of sy formeel ’n geloofsbelydenis afgelê om as lidmaat aangeneem te word. Slegs lidmate kon Nagmaal ontvang.

      Namate die verbondsteologie wortelgeskiet het, het die burgers oortuig geraak dat lidmaatskap van die kerk en die gebruik van die kerk se sakramente hulle as ’n gemeenskap saambind. Dit het terselfdertyd hul band met die Christene en Europeërs elders in die wêreld bevestig.

      As die vernaamste besluitnemende organisasie van die Gereformeerde Kerk in Nederland het die Sinode van Dordrecht in 1618 die basiese leerstellings en prosedures neergelê wat die kerk in die kolonies gevolg het. Die sinode het beklemtoon dat die evangelie aan almal gebring moet word, maar het die verantwoordelikheid op die hoofde van huishoudings geplaas om hulle slawe en ander werkers te laat doop. Diegene wat gedoop is, het dieselfde reg op vryheid as ander Christene geniet. Soos die sinode dit gestel het, moes hulle nie weer deur hul Christelike meesters “aan die mag van die heidene oorhandig word nie; sy dit deur verkoop of deur enige ander besitsoordrag”.

      Die sinode het egter nie onomwonde verklaar dat gedoopte slawe vrygestel moet word nie. Dit is verkeerd om aan te neem dat geloof aanvanklik die belangrikste skeidslyn in die Kaapse samelewing was. Die Kompanjie het sy slawe laat doop, maar nie vrygestel nie. Baie slawe in private hande wat vrygestel is, is nie vooraf gedoop nie.

      Die eienaars het die aanmaning om hul slawe te laat doop geïgnoreer, alhoewel dit teen die Calvinistiese geloof ingedruis het. Baie het verkies om Dordrecht verkeerdelik so te vertolk dat hulle verplig is om hulle slawe vry te stel as hulle gedoop is. In 1801 het Johannes van der Kemp, een van die eerste sendelinge, die posisie korrek opgesom: daar is geen wet wat bepaal dat ’n slaaf vry word nadat hy gedoop is nie, maar daar is ’n verbod op die verkoop van ’n gedoopte slaaf aan iemand wat nie gedoop is nie.

      Die belangrikste rede waarom eienaars hul slawe ongedoop gehou het, was hul vrees dat die doop hul beheer in gevaar sou stel. Om saam met sy eie slaaf in die kerk te sit, was ’n vorm van gelykstelling wat in die oë van ’n meester sy posisie van gesag en meerderwaardigheid ondermyn. Min eienaars het dus hul slawe vir doop of aanneming na die kerk gestuur, en die Kaapse predikante het dit ook nie juis aangemoedig nie. ’n Vader kon sy buite-egtelike kind by ’n slaaf bring om gedoop te word, maar baie min sulke vaders het by die kerk opgedaag. Die reisiger C.P. Thunberg het die situasie goed opgesom: “If the child is a bastard and its father does not discover himself, the infant remains unapprised. If the mother is a Black or a Hottentot, but the father a Christian, who requires it to be baptized, it is baptized”.

      Die Kompanjie het wel sy eie slawekinders laat doop, maar in die eerste vyftig jaar van die Kompanjiesbewind is slegs 319 slawekinders wat in private hande was en 124 volwasse slawe in private hande (minder as vier per jaar) gedoop.

      Om aangeneem te word, was selfs ’n strawwer toets vir ’n slaaf om af te lê. Gereformeerde predikante het geen beswaar daarteen gehad om nie-Europeërs aan te neem nie, maar as hulle vrede in hul gemeente wou hê, moes hulle sorg dat elke vereiste noukeurig nagekom word. Dit was seker dat ’n relletjie sou ontstaan as iemand wat nie gekwalifiseerd was nie, veral ’n nie-Europeër, toegelaat sou word om die Nagmaal te gebruik. Nie-Europeërs wat wel behoorlik gedoop en aangeneem is, is aanvaar as gewone lidmate van die kerk. In die gemeentes Kaapstad en Stellenbosch was daar ’n hele aantal nie-Europese lidmate. Ná 1750 het swart en bruin gesigte al hoe minder geraak in gemeentes dieper in die binneland.

      Aan die Kaap het die regering die predikante besoldig en die kerk het nóg die middele nóg die begeerte gehad om sy taak tot mense buite die Europese gemeenskap uit te brei. Die Kompanjie self het geen materiële gewin daarin gesien om slawe of Khoi-Khois te bekeer nie. Dit was gewoonlik slegs ’n buitengewoon vroom werkgewer wat gesorg het dat ’n nie-Europeër in sy diens gedoop word.

      Daar was aan die Kaap lank geen onafhanklike godsdienstige genootskap wat sendingwerk gedoen het, soos byvoorbeeld die Jesuïete, wat so ’n groot taak in die Katolieke Kerk verrig het nie. In 1799 het die koloniste in Kaapstad die eerste plaaslike sendinggenootskap gestig, maar dit was buitelandse sendinggenootskappe wat aan die spits sou staan van die groot sendingveldtog wat in die eerste dekades van die negentiende eeu van stapel gestuur is.

      Die uitwerking van slawerny

      In die Wes-Kaap was die basiese skeidslyn dié tussen slawe en vrye mense. Min Europeërs het handearbeid in diens van iemand anders gedoen. Baron Van Imhoff het in 1743 opgemerk: “As gevolg van die feit dat mense slawe ingevoer het, word elke gewone Europeër ’n heer wat verkies om bedien te word eerder as om te dien.” Selfs burgers wat te arm was om ’n slaaf te besit, het status gehad omdat hulle deel van die dominante gemeenskap was.

      Slawe-eienaars oor die hele wêreld was gretig om lede van hulle rasgroep op te vorder om slawerny en die maatskaplike orde wat daarmee saam ontwikkel het, te verdedig. Hierdie orde het selfs ’n arm Europeër se aansien verdedig. ’n Proklamasie van 1794 het byvoorbeeld die volgende bepaal: Slawe is verbied “om een Europees van hoe geringe qualiteit die ook mogten weezen, moetwillig teegen het lijf te loopen of anderzints qualyk te bejeegen”. Regulasies het slawe se kleredrag bepaal sodat almal kon sien wie slawe is en kon sorg dat hulle hulle soos slawe gedra. In ’n nedersetting waar daar feitlik geen polisiebeamptes buitekant Kaapstad was nie, het die burgers die orde gehandhaaf deur die statusonderskeid sterk op te dwing. Burgers, slawe en bediendes het goed geweet wat hulle onderskeie plekke in die samelewing is en wat geoorloof is en wat nie.

      Binne elke statuskategorie was daar informele onderafdelings. Daar was byvoorbeeld binne die burgergemeenskap ook wit knegte. Ook hulle was veronderstel om hulle op ’n manier te gedra wat by hul status pas. Daar was altyd burgers wat bereid was om iemand te straf of te vermaan wat nie ooreenkomstig sy status opgetree het nie.

      Een van die mees opvallende kenmerke van slawerny aan die Kaap was die feit dat slawe-eienaarskap so algemeen was. In 1750 was die helfte van die manlike burgers slawe-eienaars, een van die hoogste persentasies in die wêreld. In Kaapstad het twee derdes van die burgers teen die einde van die agtiende eeu ten minste een slaaf elk gehad en in Stellenbosch en Drakenstein het 70% van die boere ten minste een slaaf besit. Kleinskaalse slawebesit was die norm. Teen die middel van die agtiende eeu het 57% van die eienaars slegs een tot vyf slawe elk gehad en 25% ses tot tien. Minder as 5% van die eienaars in die kolonie het meer as 26 slawe elk besit. Die enigste groot konsentrasie van slawe was die Kompanjie se slawelosie, waar teen 1795 meer as 500 aangehou is. ’n Baie groot wanbalans tussen die geslagte in die slawegemeenskap het beteken dat baie manlike slawe sonder ’n vrou op die geïsoleerde plase moes bly – ’n onbenydenswaardige lot.

      Slawe СКАЧАТЬ