Название: Die Afrikaners
Автор: Hermann Giliomee
Издательство: Ingram
Жанр: Историческая литература
isbn: 9780624050759
isbn:
Ses maande later het die Kaap die dramatiese nuus gehoor dat die Here Sewentien in Amsterdam die burgers gelyk gegee en Van der Stel en sekere ander amptenare teruggeroep het. Hulle het die bevel herhaal dat amptenare nie in die Kaapse mark handel mag dryf nie en het ook beveel dat alle amptenare hul plase moet verkoop. Dit was ’n reuse-oorwinning vir die burgers. Hulle het die magtige amptenare verslaan. Hulle was nou onbetwisbaar die enigste verskaffers van voedsel.
Die burgers het egter maar ’n minderwaardige soort burgerskap geniet. Hulle moes ’n eed aan die State-Generaal sweer en ook aan die Kompanjie. Hulle was die Kompanjie se burgers en moes al sy verordeninge gehoorsaam. Die feit dat die Kompanjie ’n burger kon verban, soos in die geval van Biebouw, was ’n nagmerrie wat bly spook het.
’n Vestigingskolonie
Vir die Kompanjie het die hooffunksie van die Kaap dié van verversingspos gebly. Die regering se vernaamste belangstelling was die skepe en hul vrag. Tussen 1726 en 1750 het gemiddeld 75 skepe per jaar Tafelbaai aangedoen. Maar ten tye van die stryd teen Van der Stel was die Kaap al lank nie meer net ’n verversingspos nie. Dit het ontwikkel in ’n vestigingskolonie, toenemend gekenmerk deur bestaansboerdery. Selfs in die Wes-Kaap met sy koring- en wynboerdery was die landbou hoofsaaklik ekstensief van aard. Toe die regering in 1717 die stelsel van eiendomsplase staak, was daar 400 plase in ’n gebied van 2 500 vierkante myl.
In 1714 het die regering ekstensiewe boerdery ’n reusestoot gegee deur die toekenning van leningsplase. Dit was ’n nuwe vorm van grondbesit, wat vir die gebied anderkant die Wes-Kaap met sy gevestigde wyn- en koringplase bedoel was. Daarvolgens sou ’n boer ’n stuk grond van ongeveer 2 420 hektaar (of 6 000 acres) in lening van die regering ontvang. Dit is gemeet deur ’n perd ’n halfuur lank in elke rigting te laat stap. Die houer kon die plaas nie verkoop nie, maar slegs die opstal of geboue daarop. In die praktyk het die stelsel egter beteken dat ’n boer feitlik verniet grond gekry het en dit aan sy nageslag kon oordra. Feitlik net Europeërs het leningsplase gekry. Elke jaar moes die boer 24 riksdaalders huurgeld, genoem rekognisiegeld, daarop betaal.
In 1713 het ’n pokke-epidemie die westelike Khoi-Khois in ’n groot mate uitgewis. Daarna het die verset van die westelike Khoi-Khois teen Europese uitbreiding verkrummel. Daar was nou niks wat die boere kon keer om vinnig diep in die binneland in te dring nie. ’n Klein bolagie van Europeërs met ’n groot vraag na arbeid het oor ’n groot gebied versprei. Een van die oorsake van die vinnige uitbreiding was die erfreg, wat bepaal het dat die langslewende in ’n huwelik die helfte van die boedel erf. Die ander helfte is in gelyke dele onder die kinders verdeel.
Dan was daar ook die vinnige bevolkingsgroei. Die burgers het vroeg getrou en hul gesinne was gewoonlik baie groot. Schalk en Anna van der Merwe, die stamouers van die bekende Van der Merwe-familie, het ’n verstommende 135 kleinkinders gehad. (In 1900 het president Paul Kruger 156 kinders, kleinkinders en agterkleinkinders gehad.)
Die gebied wat deur die Europeërs aan die Kaap beset is, het tussen 1703 en 1780 omtrent tien keer toegeneem. Toe die regering in 1798 vir die eerste keer die grense van die kolonie vasstel, het die nedersetting 110 000 vierkante myl (286 000 vierkante kilometer) beslaan. Dit het gestrek van die Buffelsrivier in die weste tot die Nuweveldberge in die noordooste en van daar af na die see langs die Tarka-, die Baviaans- en die Visrivier.
Die leningsplase het groot nadele gehad, en was die grondslag van die onsistematiese kolonisasie van die binneland waardeur ’n klein klompie boere oor ’n groot gebied versprei geraak het. Wanneer ’n plaas oorbewei was, het die boer weggetrek of sy seuns gevra om die binneland in te trek op soek na nuwe grond. Polities het die Kompanjie egter met dié stap ’n belangrike veiligheidsklep geskep. Burgers kon na die binneland anderkant die eerste bergreekse trek en hulle daar vestig. Dit was veel beter as die lewe van ’n gewone blanke arbeider of kneg op ’n wyn- of koringplaas. Die “oortollige” burgerbevolking, waarvan Hendrik Biebouw ’n verteenwoordiger was, kon hier boer of bywoner word.
Die regeringstelsel het gedurende die Kompanjiestyd omtrent onveranderd gebly. In Kaapstad het die Politieke Raad, bestaande uit die goewerneur en senior amptenare, die beleid uitgevoer en as Raad van Justisie reggespreek. Die Kompanjie het beperkte magsmiddele gehad om sy gesag op te dwing. In Kaapstad was daar ’n garnisoen van ongeveer 500 soldate, wat die Kaap teen aanvalle van die see beskerm het, maar selde binnelands aangewend is. Die staatsaanklaer, genoem die fiskaal, het onder hom ’n klein polisiemag van sogenaamde “kaffers” gehad, maar buite Kaapstad was daar feitlik nie sprake van polisiëring nie.
In elke distrik het die regering ’n amptenaar, genaamd landdros, aangestel, wat die bestuur van die distrik moes behartig. Hy het slegs drie of vier amptenare tot sy beskikking gehad. Die landdros is bygestaan deur heemrade, wat vooraanstaande burgers was, en saam met hom ’n kollege van landdros en heemrade gevorm het. Die eerste heemrade is in 1682 in Stellenbosch aangewys en daarna het gevolg Swellendam (1743) en Graaff-Reinet (1786).
Aansoeke om grond en waterregte het voor die kollege gedien. Dit het siviele geskille besleg en kleiner strafsake soos aanranding verhoor. Dit kon weerbarstige slawe tot lyfstraf vonnis. In ernstige gevalle, byvoorbeeld wanneer ’n slaaf ná ’n loesing gesterf het, het die kollege getuienis aangehoor en dit na die enigste werklike geregshof, die Raad van Justisie in Kaapstad, aangestuur.
Die hoeksteen van die stelsel was die burgers. In elke wyk het ’n burger die amp van veldwagmeester (later veldkornet) beklee. Hy moes die regering se proklamasies aan die burgers bekend maak, misdade rapporteer en nadoodse ondersoeke hou. Van die begin af het burgers ’n sleutelrol gespeel in die kommando’s, wat die verdediging van die distrik behartig het.
Die kommando het sy oorsprong gehad in die beleid van die Kompanjie om soldate en burgers saam uit te stuur op ekspedisies om gesteelde vee terug te vind. In 1715 het die eerste kommando wat heeltemal uit burgervrywilligers bestaan het, uitgetrek. Hierna het die Kompanjie die verdediging van die binneland aan die burgers oorgelaat. Van 1739 was dit verpligtend vir elke burger met ’n belang in die buitedistrikte om kommandodiens te doen. Die landdros en heemrade het vir elke wyk ’n invloedryke boer as veldwagmeester (later veldkornet) aangewys, wat nie vergoeding gekry het nie, maar van belasting vrygestel is. Elke distrik het ’n krygsraad onder die voorsitterskap van die landdros gehad. Hierin het een of twee veldkommandante gedien — burgers met baie krygservaring – heemrade en oudheemrade.
Omdat dit dikwels nodig was om vinnig op te tree om gesteelde vee terug te kry, het die veldkornet die inisiatief geneem. Hy kon sy mense oproep sonder die landdros se verlof. Daar was selfs ’n verdere afwenteling van gesag. Die wyke was groot en die kommunikasie tussen burgers swak. Gevolglik is ’n burger toegelaat om ’n kommando’tjie uit te roep om veediewe te agtervolg op voorwaarde dat hy die veldkornet van sy wyk agterna inlig. Die meeste van die tyd het die Kompanjie sy oë gesluit vir die onvermydelike wanpraktyke wat hierdie stelsel meegebring het. Dit het die Kompanjie net die verskaffing van ammunisie gekos, wat op die ou end die swaarste geweeg het.
’n Komplekse samelewing
Saam met die vryburgers het die slawebevolking ook vinnig gegroei. Maar terwyl natuurlike aanwas die vryburgerbevolking laat groei het, het die slawegemeenskap hoofsaaklik weens immigrasie vermeerder. Die aantal vryswartes het klein gebly weens die eenvoudige aard van die ekonomie. Daar was ook klein Bastergemeenskappies, hoofsaaklik in die buitedistrikte. Die term Baster het nie iemand aangedui wat buite die eg gebore is СКАЧАТЬ