Die Afrikaners. Hermann Giliomee
Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Die Afrikaners - Hermann Giliomee страница 15

Название: Die Afrikaners

Автор: Hermann Giliomee

Издательство: Ingram

Жанр: Историческая литература

Серия:

isbn: 9780624050759

isbn:

СКАЧАТЬ het vir hierdie groepe gegeld.

      Hierdie stelsel klink baie na twintigste-eeuse apartheid, maar daar was twee belangrike verskille: dit was baie vloeibaar, die wetlike skanse tussen groepe het mettertyd verkrummel en daar was altyd ’n aansienlike getal mestiese mense, dit wil sê “halfbloed”-Europeërs.

      Aan die Kaap was die vernaamste statusgroepe die Kompanjiesamptenare, burgers en slawe. Formeel was daar ’n onderskeid tussen hierdie drie groepe in die kolonie en die Khoi-Khois, wat as buite die kolonie beskou is. Teen die einde van die agtiende eeu was die Khoi-Khois vir alle praktiese doeleindes deel van die kolonie, waar hulle ’n ondergeskikte status beklee het: mense wat tegnies vry was maar verplig om te werk. ’n Vyfde groep, die vryswartes, was daar van die begin af. Hulle was ook vry maar het heelwat minder status as die burgers gehad.

      Koloniale amptenare en die hof het op baie terreine van die daaglikse lewe – woonplek, reg om te trou, bewegingsreg, belasting, milisiediens, grondbesit en so meer – wetlik tussen die hoofgroepe gediskrimineer. Die amptelike siening was dat iemand se regstatus eerder as sy ras, godsdiens, herkoms, kultuur of kleur sy geleenthede vir bevordering bepaal. Die heel belangrikste was dat slegs Kompanjiesdienaars, vryburgers en vryswartes voor 1795 grond kon besit of politieke mag in die amptelike hiërargie van die kolonie kon bekom. Die burger-slaaf-onderskeid is verder versterk deur die Gereformeerde Kerk, wat baie min mense buite die geledere van die Europeërs gedoop het.

      Van besondere belang vir die latere geskiedenis was die feit dat elke statusgroep teen die einde van die sewentiende eeu met kultuur en voorkoms gekorreleer het. Die amptenare en burgers was feitlik almal Europeërs. Van die staanspoor was wit mense dus in al die leidende posisies. Daarteenoor was geen wit mens ooit ’n slaaf nie. Al die slawe het van lande buite Europa gekom en hul tale en kulture het aanvanklik heelwat van dié van hul meesters verskil. Slawe het geen status gehad nie; hulle was, soos die Amerikaanse historikus Orlando Patterson dit stel, “sosiaal dood”. Maar terselfdertyd het die burger se identiteit daarvan afgehang dat hy ’n slaaf het wat hom as sy meester beskou.

      Hierdie aanvanklike saamval van regstatus en ras is voortdurend in die loop van die agtiende eeu versterk deur die Kompanjie, wat voortgegaan het om Europeërs vry te stel ten einde burgers te word en om slawe van Asië, Madagaskar en Afrika in te voer.

      In Kaapstad was daar ’n sekere mate van vloeibaarheid, wat aan Batavia en Colombo laat dink het. Ook hier was mense in die dominante statusgroep teen die einde van die agtiende eeu omtrent almal wit, terwyl die mense in die laagste groep swart was. Maar op die middelste sporte van die sosiale leer was daar dubbelsinnigheid. Hier is vryswartes aangetref, wat selde burgers was, maar wat in die kerk kon trou en toegelaat is om kommandodiens saam met die burgers te doen. Daar was ook knegte en opsigters wat gewoonlik arm wit mense was. In die middelrange het ’n wit vel nog nie ’n groot verskil gemaak nie.

      Die burgers het mekaar as politieke gelykes beskou. Hulle het in dieselfde kerk aanbid en saam aan krygsoefeninge en kommando’s deelgeneem. Dit het nie beteken dat daar geen maatskaplike verskille onder hulle was nie. In die Kaapse distrik en op die dorp Stellenbosch het rang getel. Hendrik Cloete, eienaar van Groot Constantia en die rykste man in die kolonie, was trots op sy titel oudheemraad. Tog het hy neergekyk op die hoofsaaklik middelslagboere wat aan die spits van die stryd van die Kaapse Patriotte tussen 1778 en 1786 gestaan het. Hy het hulle bestempel as “niet de vernaamste colonisten, maar lieden van minder soort”. In die binneland is net burgers wat heelwat grond besit en belasting betaal het tot heemraad of lid van ’n kerkraad aangewys.

      Daar was egter geen elite-groep van burgers of heerserskliek van families wat op spesiale voorregte aanspraak gemaak of met mekaar ondertrou het nie. In 1805 het W.S. van Ryneveld, wat besonder goed ingelig was, opgemerk dat daar onder die koloniste nog “geen eigenlyk ondersceid van standen” is nie. Twintig jaar later het die reisiger George Thompson geskryf: “There is no or little gradation of ranks among the white population. Every man is a burgher by rank and a farmer by occupation.”

      Aangesien die korrelasie tussen kleur en sosiale status van vroeg aanwesig was, is die vraag nie hoekom die Kaapse samelewing kleurbehep geword het nie. Die groot uitdaging is om te verduidelik waarom dié korrelasie oor ’n lang tyd gehandhaaf is. Om dit meer spesifiek te stel: Waarom het die belangrike statusgroepe (amptenare en burgers) wit gebly en al die groepe met min of geen status swart?

      In die eerste plek het die geslagsamestelling van die Europese gemeenskap ’n belangrike rol gespeel. Gedurende die eerste 75 jaar was daar ’n groot tekort aan Europese vroue, wat ’n aansienlike mate van vloeibaarheid tot gevolg gehad het. Teen 1690 was daar 260 manlike burgers vir elke 100 vroulike burgers, maar hierdie wanbalans het bestendig afgeneem: Teen 1730 het die man/vrou-verhouding op 150:100 gestaan en teen 1770 op 140:100.

      Gemengde huwelike, wat aanvanklik redelik algemeen voorgekom het, het van ongeveer 1725 afgeneem. Europese vroue kon hul relatiewe posisie van mag gebruik om hul mans en hul seuns te verhinder om vaste verbintenisse oor die kleurgrens heen met slawe en vryswartes aan te gaan. ’n Europese man het eerder ’n oujongkêrel gebly as om te trou met ’n vrou wat nie as Europeër aanvaar is nie. ’n Studie van 1731 se sensus wys dat 59% van Kaapstad se Europese mans en 51% van dié in die landelike Wes-Kaap nooit getrou het nie. Dit het ook baie moeiliker geword vir kinders van gemengde huwelike, veral seuns, om in die Europese gemeenskap opgeneem te word.

      ’n Vergelykende perspektief werp lig hierop. Die sterk posisie van die vrou in Holland en ook aan die Kaap was waarskynlik ongeëwenaard in die Weste (as die agtiende-eeuse Kaap as deel van die Weste beskou kan word). Aan die Kaap het die Romeins-Hollandse reg van die provinsie Holland gegeld. Volgens Andreas van Wyk was hierdie reg, saam met die reg in Portugal, die enigste regstelsel in Europa wat die beginsel van die gemeenskap van goedere as die basis van eiendom in die huwelik erken het.

      Die Romeins-Hollandse reg was in die algemeen meer liberaal as enige reg wat in ander Europese kolonies gegeld het. Skeiding van bed en tafel of ’n egskeiding kon aangevra word op grond van owerspel. By egskeiding het die vrou kragtens die Romeins-Hollandse reg die helfte van die boedel gekry. Die vrou kon alle roerende eiendom wat die eggenoot aan ’n bywyf of minnares geskenk het, van die hand sit. By afsterwe van die man het die vrou die helfte van die boedel geërf en die seuns en dogters die ander helfte.

      Die vrou het volgens die Romeins-Hollandse reg die kontraktuele vermoë gehad om ’n beroep te beoefen en sake te doen sonder haar man se verlof. In die sewentiende eeu was vroue in Nederland ten nouste verbonde met hul mans se werk as dié ’n onderneming gehad het of ’n handelaar was. Die reg het egter geen perke geplaas op die man se mag om gemeenskaplike goedere van die hand te sit nie.

      Waar vroue volgens die Romeins-Hollandse reg eiendom gedeel het wat in die huwelik ingebring is, het die man in die Amerikaanse kolonies die eienaar van die vrou se roerende goed geword en sy het alle aanspraak daarop verloor, selfs al het sy hom oorleef. Edmund Morgan, ’n kenner van die vroeë Amerikaanse geskiedenis, stel dit so: “Women were excluded from any share in formal public power and even in the privacy of the family a woman’s very identity was subsumed in her husband’s; any property she brought into the marriage was his, any debt she owed was his, almost any tort she committed was his.”

      Anders as die Katolieke Kerk het die Gereformeerde Kerk egskeiding toegelaat, maar egskeiding was nie maklik nie. Sowel die kerk as die staat was sterk daarteen gekant, aangesien albei die huwelik as die hoeksteen van ’n geordende samelewing beskou het. Nigel Penn het vertel hoe die brouer Willem Mensinck vroeg in die agtiende eeu sy vrou getreiter het deur voortdurend met die slawe in die huishouding buite-egtelike verbintenisse te hê. Sy kon nie ’n egskeiding kry nie. Dit wil voorkom of hy spesiale beskerming van mense met gesag gehad het.

      Effens meer as ’n eeu later was daar die geval van Abraham Carel Greyling, wie se vrou hom verlaat het nadat Clara, hul slavin, die lewe geskenk het aan ’n baba wat sy vermoed het deur Abraham verwek СКАЧАТЬ