Die Afrikaners. Hermann Giliomee
Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Die Afrikaners - Hermann Giliomee страница 19

Название: Die Afrikaners

Автор: Hermann Giliomee

Издательство: Ingram

Жанр: Историческая литература

Серия:

isbn: 9780624050759

isbn:

СКАЧАТЬ Dit was meer om die heersersklas self gerus te stel dat dit regverdig optree. Nietemin het paternalisme soms ’n stabiele verhouding bewerkstellig. Die stabielste verhouding was dikwels dié tussen die nooi en ’n vertroude slawevrou. ’n Waarnemer het oor laasgenoemde soort slaaf opgemerk: “They are entrusted with everything that is valuable – more companions than slaves, but the mistress rarely and the slave never forget their relative situations, and however familiar in private, in the presence of another due form prevails.” Slawevroue het selde harde handearbeid in die landerye verrig soos in baie ander slawegemeenskappe. Hulle was soogvrou, kinderoppasser, kok, huisskoonmaker.

      Die slavin wat soogvrou was, was ’n sleutelfiguur in die burgerfamilie. In Holland is die gebruik afgekeur, maar aan die Kaap was dit algemeen. Die biologiese moeder kon gevolglik gouer weer ovuleer en met korter tussenposes kinders hê. Slawe wat soogvroue en oppassers was, het dit vir die burgergemeenskap moontlik gemaak om vinnig te vermenigvuldig. Slawevroue was letterlik die burgergemeenskap se boesem. Daarteenoor kon die slawebevolking aan die Kaap hom nie self laat aanwas nie, aangesien die gebruik die soogvrou se eie vrugbaarheid benadeel het.

      Die woorde “minnemoer” of “mina” en “aiya” of “aia” het oorgebly as nalatenskap van hierdie intieme verhouding. Daar is soms gegis dat die intieme verhouding tussen seuns en die vrou wat hulle gesoog en opgepas het, hulle meer op hul gemak met swart vroue laat voel het en dat hulle selfs seksuele omgang met swart vroue verkies het. Maar dit is blote spekulasie. Dit is opvallend dat wanneer die seuns volwasse geword het hulle selde hul soogmoeders bevry het. Dit was eerder die Europese vroue wat soogmoeders en vertroude oppassers en vertrouelinge vrygestel het.

      Geen slawestelsel is ooit anders as wreed nie. Ook die Kaapse slawerny was wreed en hardvogtig. Die ondraaglikste was dikwels die hegte en soms versmorende bande binne die uitgebreide familie wat die slaaf moes verduur. Slawe- en burgerkinders was speelmaats, maar wanneer hulle volwasse geraak het, het die burgerkind ’n baas geword en die slaaf het slaaf gebly. Selfs as volwassene is die slaaf aangespreek as “jong” (seun) of “meid” (meisie) en is hy of sy op hul eerste naam genoem. Slawevroue was dikwels baie lojaal aan hul “familie” en het dié se vertroue geniet, maar hulle het permanent kinders gebly.

      Soos die mans moes slawevroue hul eie familielewe opoffer vir dié van hul baas en nooi. Dikwels moes die slawevroue dit ook verduur dat die baas of sy seuns by hulle aanlê en hulle is soms verlei of verkrag. Dit was hierdie slawe wat die meeste gely het, want hulle moes sowel die intieme as die wrede kant van slawerny verduur. Dit was húlle wat die gouste gevoel het dat hulle deur die paternalistiese verhouding verkul word. Toe die Britte aan die Kaap in die 1810’s en 1820’s maatreëls ingestel het om die slawe se lot te versag, was dit slawevroue wat die meeste klagtes by die slawebeskermer ingedien het.

      Nuwe identiteite

      Die grootste deel van die agtiende eeu het die koloniste na hulle self verwys as “burgers” of “Christene” en partykeer ook as “Hollanders”, maar teen die einde van die eeu het twee ander selfkonsepte na vore gekom. Dit was “blankes” en “Afrikaners”. Gedurende die eerste 150 jaar aan die Kaap was daar geen dringende rede om kleurverskille te beklemtoon of om ’n rasse-ideologie te ontwikkel nie. ’n Slaaf is met minagting behandel omdat hy ’n slaaf was.

      Op die Wes-Kaapse platteland het die kloof tussen wit en swart in die loop van die agtiende eeu al hoe groter geword. Daar was min vryswartes wat hierdie kloof kon oorbrug en vryelik in die dominante gemeenskap kon beweeg. In Kaapstad was daar ’n groter vloeibaarheid. Teen die 1770’s het vryswartes in Kaapstad al hoe meer ’n sigbare deel van die bevolking begin vorm.

      Dit was die aansporing vir die regering om regulasies uit te vaardig om hulle te beheer en vir pogings deur die burgers om hulle sosiaal uit te skuif. Die eerste keer kry ons nou dokumente waarin rassevooroordeel uitgespreek word. Die regering en die kerk het al hoe meer afsonderlike lyste vir verskillende kategorieë van mense begin hou, byvoorbeeld vir basters of vryswartes wat gedoop is. In 1761 het die Swartlandse gemeente ’n aparte lys in sy doopregister geopen vir basters en Khoi-Khoi-werksvolk. In sommige gevalle is nie-Europeërs in aparte seremonies gedoop. Op Stellenbosch het sommige burgers in 1788 by ’n krygsoefening geweier om onder ’n bepaalde korporaal te dien op grond daarvan dat hy swart was en “van heidense oorsprong”. Die Kompanjie het daarop ’n spesiale eenheid gevorm vir “Basters en mistiches” en dit die Vrye Korps genoem. Alle vryswartes was verplig om hierin te dien.

      In 1793 het twee Nederlandse kommissarisse, S.C. Nederburgh en S.H. Frykenius, gewag gemaak van die “blankes” se gevoel van meerderwaardigheid, maar dit is moontlik dat dit hulle Europese agtergrond weerspieël. Dié term kom nou wel al hoe meer in die dokumente voor. In die loop van die agtiende eeu is al hoe minder mense wat as swart beskou is in die burgerfamilies opgeneem. Cillié de Bruyn se berekening toon dat in 1807 slegs 5% uit ’n monster van 1 063 kinders wat gedoop is ’n oupa of ouma gehad het wat deur genealoë as “nie-Europeër” aangedui word. Hierdie grootouer was gewoonlik ’n slavin.

      Die term “Afrikaner” het op die voorgrond begin kom. Teen die einde van die agtiende eeu het daar onder die burgers die gevoel bestaan dat eerder as om ’n Hollander of ’n Fransman of ’n Duitser te wees hulle Afrikaners is. J.S. Stavorinus was een van die eerste besoekers wat hierdie ontwikkeling geboekstaaf het. “Although the first colonists here were composed of various nations, they are, by the operation of time, now so thoroughly blended together, that they are not to be distinguished from each other; even most of such as have been born in Europe, and who have resided here for some years, changed their national character for that of this country.”

      Gedurende die 1790’s het Cornelis de Jong, ’n Nederlandse besoeker, van die Kaapse burger gesê: “Hy is trots op die naam Africaan en hy dink die titel Kaapse burger is iets besonders.” Die meeste mense in die burgergemeenskap was van Hollandse en Duitse afkoms. Volgens J.A. Heese was 36% Nederlands, 35% Duits, 15% Frans en 7% nie-Europeërs. De Bruyn, wat ’n ander metode gebruik het, bereken dat die samestelling teen 1807 soos volg was: Nederlands 34%, Duits 29%, Frans 25% en nie-Europeërs 5%.

      Hendrik Biebouw se kreet dat hy ’n Afrikaner is, is in die 1730’s weer gehoor, en weer van ’n enigmatiese persoon. Hy was Estienne Barbier, gebore in Orléans, Frankryk, en gedurende die 1730’s ’n soldaat in VOC-diens. Anders as Biebouw was hy geletterd en het hy inderdaad genoeg regskennis gehad om senior Kompanjiesamptenare met regstappe te dreig, wat noodlottig vir hom sou wees. Net soos Biebouw het hy die term Afrikaner binne die konteks van die politieke verset gebruik.

      Barbier se opstand het teen die volgende agtergrond afgespeel. Teen die 1730’s was selfs die westelike deel van die kolonie nog ver van ’n geordende samelewing. Soldate het gedros om weg te kom van die Kompanjie se ongenaakbare dissipline, wrede strawwe en karige loon; slawe het individueel of in klein groepies gevlug om vryheid te kon smaak; en “basters” het die gevestigde samelewing vaarwel toegeroep om aan diskriminasie te ontsnap. Baie van hulle was desperate mense wat soms met groot geweld ’n Khoi-Khoi-kraal aangeval en mense voor die voet vermoor het.

      Maar geweld was nie net tot hierdie “vabonde” en “drosters” beperk nie. Daar was burgers wat die Khoi-Khois se vee wou roof en hulle wou dwing om vir hulle te werk. Hulle sou lieg, bedrieg en ook moor. So het ’n ekspedisie teen die einde van die 1730’s na die Klein en Groot Namakwas aan die Oranjerivier gereis om vee te ruil. Aanvanklik het alles vreedsaam verloop en ’n burger, Willem van Wyk, het selfs “op die Hottentotmanier” met ’n Khoi-Khoi getrou (wat blykbaar ingesluit het dat daar op hom geürineer word). Kort daarna het die geweld losgebars. Die burgers het ’n kraal aangeval, verskeie inwoners, ook die kaptein, doodgeskiet en ’n groot aantal vee met hulle weggevoer.

      Die regering was onwillig om die burgers verlof te gee vir sulke veeruilekspedisies omdat dit dikwels net ’n dekmantel was vir rooftogte. Toe ’n aantal Namas in die Wes-Kaap opdaag om te kom kla oor skade wat hulle in hierdie strooptog gely het, het die Stellenbosse landdros СКАЧАТЬ