Название: Die Afrikaners
Автор: Hermann Giliomee
Издательство: Ingram
Жанр: Историческая литература
isbn: 9780624050759
isbn:
Die goewerneur het geweier, maar die afvaardiging, wat bestempel is as die “Verteenwoordigers van die Hele Burgerstaat”, veronagsaam die verbod en vertrek na Nederland. Hier kom hulle met die Nederlandse Patriotte in aanraking, en ook met ander teenstanders van die Prins van Oranje as stadhouer. Omdat die Kompanjiedirekteure sterk Oranjemanne is, wend die Kaapse afgevaardigdes hulle ook tot die State-Generaal, die Nederlandse parlement, wat teen die prins gekant was.
Die Patriotte het verskeie versoekskrifte ingedien. In die eerste deel van die belangrikste petisie het hulle die klaaglike posisie van die Kaapse vryburgers uiteengesit; in die tweede deel het hulle sekere amptenare van onbehoorlike gedrag aangekla en daarop aangedring dat Kompanjiesamptenare streng verbied word om handel te dryf; en in die derde deel het hulle versoeke gerig om vryhandel, beter produktepryse en laer pryse vir die goedere wat hulle van die Kompanjie moet koop.
Die Kaapse Patriotte se politieke eise was ambisieus. Hulle het sewe setels vir burgers in die Politieke Raad gevra wanneer sake wat die burgers raak, bespreek word, en die helfte van die setels in die Raad van Justisie. In stede daarvan dat die regering burgers in hierdie regeringskolleges koöpteer, moes hulle vryelik verkies word deur die burgers wie se termyn in die kolleges verstryk het. Die Kaapse Patriotte het ook ’n duideliker omskrywing van burgerregte gevra, die kodifisering van die wette en ’n verbod op die verbanning van burgers, behalwe as die burgerrade dit goedkeur.
Die Patriotte se dokumente belig ook sekere maatskaplike strydpunte wat akuut begin raak het. Hulle het byvoorbeeld gevra dat wit mans nie deur “kaffers” gearresteer mag word nie en dat die burgers toegelaat moet word om slawe lyfstraf toe te dien, waarmee waarskynlik bedoel is strawwer straf as wat hulle vir hul eie seuns as geskik beskou.
Die amptenare het die klagte teen hulle as afguns afgemaak en fiskaal W.C. Boers het onomwonde die standpunt gestel dat die amptenare die Kaap moet regeer, nie die burgers nie. In ’n eerste reaksie het die Here Sewentien die amptenare van blaam onthef, maar in 1782 het die Patriotte ’n “nadere memorie” voorgelê waarin hulle hul klagte verder uiteengesit het. In 1784 het die Patriotte ’n liggaam wat die “volk” verteenwoordig het, georganiseer. Dit het petisies aan die State-Generaal afgestuur en vier nuwe afgevaardigdes gekies om die saak in Nederland te stel.
Die Patriotte se leiers was redelik welgestelde mense wat in Kaapstad gewoon het of nie ver daarvandaan nie. Hulle het probeer bewys dat beperkings dit vir hulle moeilik maak om vooruit te gaan. Maar hul betoog is bemoeilik deur die opbloei van die Wes-Kaap omdat ’n Franse mag gedurende die eerste helfte van die 1780’s aan die Kaap gestasioneer was. Die amptenare het gewys op die welvaart wat die Kaap beleef. Hulle het die burgers ook beskuldig van luiheid en beweer dat hul eie handelsbedrywighede heeltemal binne perke was.
Die Patriotbeweging is van groot belang. Vir die eerste keer het burgerleiers besin oor die oorlewing van die burgergemeenskap op ’n manier wat verder as hul direkte belange strek. Hulle het betoog dat dit vir baie burgers onmoontlik is om van koring- en wynbou te bestaan en dat hulle dus verplig is om diep die binneland in te trek. In die grensdistrikte moet “verskeie huisgesinne in een hut saamwoon, terwyl jongmense wat nie ’n bestaan kan maak nie ongetroud moet bly”. Sommige het selfs met die Khoi-Khois vermeng, waaruit ’n geslag gebore kan word “wat selfs meer gedug as die Boesmans-Hottentotte sou wees”. Hulle het gewaarsku dat as daar geen hervormings kom nie die burgers se trek die binneland in sou uitloop op ’n algehele “verbastering van die moraal en die opkoms van ’n heeltemal gedegenereerde volk”.
Die Patriotte het nie veel vermag nie. Die Kompanjie het die sleuteleis, naamlik burgerverteenwoordiging in die Politieke Raad, verwerp. Dit het wel die burgers in die Raad van Justisie van drie tot ses vermeerder. Die Kompanjie het ook ingestem dat die burgers nie meer teen hul sin in die Kompanjiesdiens opgeroep en verban sou word nie. Die burgers sou nie toegelaat word om handel te dryf in hul eie skepe nie, maar handel met vreemde skepe sou toegelaat word nadat aan die Kompanjie se behoeftes voldoen is.
Die Patriotbeweging in Nederland is die nek ingeslaan toe die Prins van Oranje in 1787 die hulp van Pruisiese troepe ingeroep het. In die onderdrukking wat gevolg het, het ’n groot aantal Patriotte na ander lande gevlug, veral na die nuwe onafhanklike Verenigde State van Amerika. Die Kaapse Patriotbeweging het gedisintegreer.
In die agtiende eeu was daar geen intellektuele elite aan die Kaap wat stelselmatig en voortdurend kon dink en skryf oor die kollektiewe oorlewing van die Europeërs nie. Wanneer hulle oor die politiek besin het, het hulle hulle self as óf Kompanjiesdienaars óf burgers beskou. Senior Kaapsgebore VOC-amptenare was geneig om die eenvoudige grensboere te minag. Willem Stephanus van Ryneveld het hulle beskryf as mense wat grootgeword het “in idleness and in the unrestrained indulgence of the wild passions in nature”.
Dit was nie Kaapstad en die hoë amptenare wat die grootste invloed op die ontwikkeling van die boere in die grensgebiede gehad het nie, maar die burgergemeenskap van die Wes-Kaapse platteland. Hierdie burgers het ’n rigiede slawebesittende gemeenskap gevorm waarin baie min slawe ooit gedoop, aangeneem of vrygestel is in ’n kerk wat al hoe witter geword het. Dit was hier waar die model uitgekristalliseer het van ’n Afrikanergemeenskap wat hom maatskaplik as outonoom beskou, maar wat ten volle op bruin en swart mense se arbeid steun.
Dit was ’n gemeenskap wat op spesiale regte en voorregte vir die burgers aangedring het sodat hulle hulle kon handhaaf. Hier het die ideologie van paternalisme wortelgeskiet, met die mite van ’n welwillende baas en nooi wat vir “hul mense”, veral die huisslawe, sorg en hulle amper soos eie kinders behandel, maar wat hulle nooit kerk toe neem nie en straf as hulle te vrypostig raak. Dit was hierdie model wat die mense na die grensgebied saamgeneem en streng gevolg het wanneer hulle inboorlinge in diens neem.
’n Genadelose oorlog teen die Boesmans
Teen die 1770’s het die veeboere wat dieper in die binneland ingedring het, teenstand begin ondervind. Op die noordelike en die noordoostelike grens van die kolonie het die gedugte Boesmans gewoon. Die meeste van hulle het in klein bendetjies van jagters opgetree en soms Khoi-Khois wat hul vee verloor het in hul eie geledere opgeneem. Die trekboere op die voorpunt van die Europese uitbreiding het nie die Xhosas of Khoi-Khois probeer uitwis nie. Daarvoor was die boere te min en hul vraag na arbeid te groot. In die Khoi-Khois en die Xhosas se ekonomieë het vee dieselfde belangrike plek as in dié van die burgers ingeneem, en daarom kon hulle maklik in diens geneem word. Die ekonomie van die Boesmanjagters het egter drasties van die burgers s’n verskil en die veeboere het inderdaad geprobeer om Boesmans op groot skaal dood te maak.
Die stryd wat tussen 1770 en 1810 tussen Boesmans en burgers gewoed het, was fel en genadeloos, soos op elke plek waar veeboere en jagters gebots het. Boesmans het die burgers se vee doodgemaak en vermink of weggevoer, en veewagters vermoor. ’n Boer het een oggend wakker geword en agtergekom dat al sy veewagters doodgemaak is en dat 40 beeste en 200 skape (sy hele kudde) uitgewis is. In die aangesig van hierdie aanslag het boere ’n groot deel van die wyk Sneeuberg verlaat.
Diegene wat gebly het, het besluit om te veg. In 1774 het die regering ’n “algemene” of groot kommando onder leiding van kommandant Godlieb Rudolph Opperman uitgestuur. Die opdrag was dat die kommando die krisis vreedsaam moet besleg, maar as dit misluk, moet die Boesmanstropers “verdelg” word. Die kommando het teen die einde van 1774 teruggekeer nadat dit 503 Boesmans doodgemaak en 241 gevange geneem het.
Sekere aspekte van hierdie kommando moet beklemtoon word. Daar was 150 Khoi-Khois in die kommando, aan wie gewere en ammunisie uitgereik is. Dit bewys dat die beeld van die kommando as ’n gevegseenheid van wit mans heeltemal verkeerd is. Boere het van hul Khoi-Khoi-werkers gebruik om die kommando aan te vul of om in hul plek te veg. Dit was inderdaad die Khoi-Khois wat dikwels die spit in gevegte moes afbyt. Hoewel hy bevooroordeeld СКАЧАТЬ