Die Afrikaners. Hermann Giliomee
Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Die Afrikaners - Hermann Giliomee страница 14

Название: Die Afrikaners

Автор: Hermann Giliomee

Издательство: Ingram

Жанр: Историческая литература

Серия:

isbn: 9780624050759

isbn:

СКАЧАТЬ botter, was, droëvrugte, velle, horings en saad in Kaapstad te verkoop. Almal het ’n sekere minimum van goedere nodig gehad wat net by ’n winkel gekoop kon word: ’n geweer, ammunisie, wa, byle, grawe, hamers, lanterns, klere en kruideniersware.

      Teen die laaste twee dekades van die agtiende eeu het dit al hoe moeiliker geraak om nuwe grond te bekom en die meeste boere aan die grens was in die skuld. ’n Ekologiese krisis het begin byt. Wat die boere die “oud word” van die veld genoem het, was die uitputting van die weiveld weens oorbeweiding. Die grasse en die struike het verdwyn en renosterbos het opgekom, wat die vee en die wild nie wou vreet nie. Boere het selde probeer om die veld te laat rus of hul vee te verminder. Die gemiddelde waarde van leningsplase het bestendig gedaal van twee vyfdes van die gemiddelde waarde van ’n wyn- of koringplaas tot een tiende daarvan teen die einde van die agtiende eeu.

      Die vrees vir verwildering

      Al was dit ’n eensame lewe was dit tog vir ’n burger die moeite werd om die binneland in te trek en hom op ’n plaas te vestig. Hulle het hul rug vir Europa gedraai en het inheems probeer raak sonder dat hulle afvallig geraak het van die Europese kultuur en beskawing.

      Die eensaamheid op die afgeleë plase is moeilik om uit te beeld. Die reisiger Heinrich Lichtenstein, wat vroeg in die negentiende eeu ’n uitgebreide reis onderneem het, het dit amper onmoontlik gevind om te begryp hoe die boere so ver van die “plesier en voordele van vriendskap” kon leef. Hul enigste daaglikse taak was om toe te sien dat hul werkers soggens met die vee uitgaan en dit saans veilig terugbring. Die gesin het die dag deurgebring met “beuselagtige huiswerkies” en huisgodsdiens wat “oor en oor gehou is”. Met sy gesin om hom het die boer ’n eensame bestaan gevoer “sonder om iets te weet van die dinge wat die mensdom aangryp”.

      Anders Sparrman het in 1770 gerapporteer dat die meeste huise slegs twee kamers het: ’n slaapkamer vir die boer en sy kinders en ’n kombuis waar die Khoi-Khoi-bediendes en gaste op die vloer geslaap het: “We all lay pigging together”, het hy geskryf. Hendrik Swellengrebel, ’n tipiese figuur van die Europese Verligting wat ook in hierdie tydperk gereis het, het geskryf van die lewe in ’n eenkamerhuis waar mense op ’n “Hottentot-manier” almal op die misvloer slaap, “los en gemaklik”.

      In hul interaksie met die Khoi-Khois en die San (Boesmans) het die boere op groot skaal van hul kultuur geleen en in die proses baie meer as hul familie op die Wes-Kaapse platteland werklik deel van Afrika geraak. Soos die Khoi-Khois het hulle melk in velsakke gehou, biltong geëet, velskoene en soms diere se velle as klere gedra. Hulle het min obsessies gehad. Die uitdaging was om pragmaties in Afrika te oorleef.

      Besoekers uit Europa het getwyfel of die grensboere “beskaaf” sou bly. In die Europa van daardie tyd het stereotipes oor Afrika bestaan as die “Donker Kontinent” of “die land van Gam se geslag” waar die boosheid heers. Europese besoekers aan die Kaapse binneland was geskok toe hulle die eerste keer hierdie wit mense van Afrika teëkom. Die Europeërs het hulle as wild of ontaard bestempel. Predikante het gewaarsku dat hul lewenswyse ’n bedreiging vir die Europese beskawing is. In 1776 het Swellengrebel opgemerk “dat die meeste van die grensboere nie veel beter leef as die Hottentotte nie”. Daar was in die oë van hierdie waarnemers ’n werklike gevaar dat die grensboere ’n “heeltemal wilde nasie” sou word.

      Die boere op die grens was bewus van dié vrese. In ’n 1788-versoekskrif verklaar ’n groep boere van die Kamdeboo: “As gevolg van die groot afstand van [Stellenbosch] het baie van ons hier al van die bevele van God afgewyk en tot ons groot skade ongehoorsaam daaraan geword. Ons was tot dusver sonder onderwysers en predikante en die gevolg is dat baie mooi jong mense soos onkundige vee grootword.”

      Op die plase, wat meesal baie afgesonderd was en waar dikwels min gebeur het, het die boere ’n merkwaardige vasberadenheid van gees ontwikkel. Geen reisiger het ooit aangeteken dat die mense ontevrede was met hul lewens wat vir buitestanders so vervelig en vaal gelyk het nie.

      Dit was die vroue wat die deurslaggewende verskil gemaak het. O.F. Mentzel, ’n fyn waarnemer wat in die 1730’s en vroeë 1740’s in die kolonie gewoon het, het die mans in gedagte gehad toe hy opgemerk het: “Sommige van die boere is so gewoond aan die sorglose en luilekker lewe … en hul verkeer met slawe en Hottentotte dat daar min onderskeid getref kan word tussen eersgenoemde en laasgenoemde.”

      Oor die vroue skryf hy heeltemal anders. Hy merk op dat ’n soldaat op ’n veldtog in sy tent minder weerloos is as ’n jong paartjie in die “verre wildernis”. “Dink jou die situasie in van ’n jong vrou wat swanger raak en geen hulp het nie, behalwe van ’n ou Hottentotvrou wat sy nie eens kan verstaan nie.”

      Sy oordeel oor die boervroue is gunstig: “Hulle is baie selde spraaksaam, maar hulle is nie skaam nie, nie vrypostig nie, maar ook nie vervelig nie. Hulle praat op ’n reguit en natuurlike manier met die mense wat hulle die eerste keer ontmoet en kyk almal direk in die oë sonder om skroomvallig te wees … Hulle oortref die mans in gesonde verstand, goeie gedrag en die vermoë om te verstaan en te leer … Hulle is buitengewoon hardwerkend, goeie huishoudsters en uitstekende moeders. Hulle is nie so ambisieus soos die stadsmense nie en twis nie oor wie voorrang moet kry nie, en oor wie links of regs aan die tafel moet sit nie en of hulle eerste of laaste bedien moet word nie.”

      ’n Boer-ras en Boere-rassisme

      Die historikus Cornelius de Kiewiet het opgemerk dat “in die lang stiltes” van die agtiende eeu die “Boer-ras” gevorm is. “Their life gave them a tenacity of purpose, a power of silent endurance, and the keenest self-respect. But this isolation sank into their character, causing their imagination to lie fallow and their intellects to become inert. Their tenacity could degenerate into obstinacy, their power of endurance into resistance to innovation, and their self-respect into suspicion of the foreigner and contempt for their inferiors.”

      Ons kan hierdie beskrywing aanvaar en uitbrei. Die gebrek aan innovasie was waarder van die veeboere as van die wyn- en koringboere. Party van die hereboere in die Wes-Kaap het geprobeer om nuwe tegnieke en metodes in te voer om by die mark aan te pas. Vir die meeste boere was daar egter min aansporing om hul produksie met nuwe metodes te verhoog. Die Kaapse nedersetting was sonder ’n sterk uitvoerproduk en hoewel die plaaslike mark bestendig uitgebrei het, was daar dikwels oorproduksie. In die onmiddellike omgewing van Kaapstad het die boere die markskommelinge skerp dopgehou, maar hoe verder die boere van die mark was hoe meer was hulle geneig om slegs genoeg te produseer om in hul eie behoeftes te voorsien. In hierdie bestaansboerdery het hulle eenvoudig en sober geleef.

      Behalwe die Bybel het boeke nie juis ’n rol in die burgers se lewe gespeel nie. Die lewe in die binneland, maar ook in Kaapstad self, was een van selftevredenheid, eng horisonne en selfs intellektuele starheid. Reisigers het gerapporteer dat die burgers nie kan glo dat daar ’n mooier of ’n beter land as die Kaap is nie. Hulle sou eerder luister na ’n storie wat deur hul slawe of hul Khoi-Khoi-bediendes vertel word as een oor die pragtige Versailles-paleis in Frankryk.

      Historici het lank die mening gehuldig dat Afrikaners ’n diepgewortelde geloof in hul meerderwaardigheid ten opsigte van swart mense gekoester het. Hulle het dit toegeskryf aan ’n vorm van “primitiewe Calvinisme” wat aan die grens ontwikkel het weens die kultuurbotsing tussen wittes en swartes. Maar hierdie prentjie moet radikaal hersien word. Rassisme is in sy wese ’n regverdiging en selde ’n verklaring. ’n Verklaring moet verder gesoek word.

      Die eintlike faktor wat die samelewingstruktuur bepaal het, was nie mense se houding teenoor kleur nie, maar die regering se onderskeiding tussen verskillende groepe, elkeen met sy eie regstatus. Soos studies van Batavia getoon het, het die Kompanjie ’n manie gehad om mense te klassifiseer en registreer. Van ’n vroeë stadium was daar in Java en Ceylon ’n stelsel waardeur die koloniale bevolking deeglik geregistreer is. Groepe wat hoofsaaklik etnies gedefinieer is, is onder hul eie hoofmanne in bepaalde buurte gevestig СКАЧАТЬ