Название: Die Afrikaners
Автор: Hermann Giliomee
Издательство: Ingram
Жанр: Историческая литература
isbn: 9780624050759
isbn:
’n Spesiale soort burger
Teen 1706, toe die nedersetting net meer as vyftig jaar oud was, het die totale bevolking (uitgeslote onafhanklike Khoi-Khois) tot ongeveer 3 500 mense gegroei. Ons weet wat die uiteindelike lot was van 570 mense, of ongeveer ’n derde van die 1 613 vryburgers wat gedurende die eerste vyftig jaar in die Kaap gewoon het. Van hierdie 570 het meer as die helfte vryburgers gebly, 30 is verban, 39 is terug in die Kompanjiesdiens, 70 het hulle versteek in skepe wat weer verder gevaar het en 103 het verlof gekry om die Kaap te verlaat.
In hierdie stadium het die burgers hul identiteit uit verskeie bronne geput: hul Europese afkoms, wat nou gekoppel was aan hul Christelike geloof, die Hollandse taal en hul burgerstatus. Die vryburgers wat geboer het, het ’n spesiale soort burger geword. Anders as die burgers wat ’n nering in die hawedorpie beoefen het, het hulle vir iets meer as hul eie belang gewerk. Hulle was, in hul woorde van 1658, die “verdedigers van die land” teen die inheemse vyande, en hulle was ook die nedersetting se voedselprodusente. Hul oorlewing het daarvan afgehang dat die regering hul regte en voorregte eerbiedig. Hulle sou ’n nekslag toegedien word as die klein maar magtige groepie senior amptenare sou besluit om self te begin boer en die mark te voorsien. Juis so ’n bedreiging het vroeg in die agtiende eeu opgeduik.
Hoofstuk 2
Kompanjiesburgers
Hendrik Biebouw, die eerste Afrikaner?
Vroeg in Maart 1707 het Johannes Starrenburg, landdros van die klein dorpie Stellenbosch, vier jong mans gewaar wat soos “mal mense” in die straat afjaag. Hulle was dronk en rumoerig. In die Kompanjiesmeule het hulle met “veel gevloek” die skale rondgegooi. Starrenburg het hulle berispe en Hendrik Biebouw, sestien jaar oud, met sy rottang geslaan toe dié weier om sy bevele te gehoorsaam. Hierop het Biebouw geskreeu: “Ek wil nie loop nie, ek is ’n Afrikaner, selfs al slaan die landdros my dood en selfs al sit hy my in die tronk, ek sal en wil nie swyg nie.”
Die landdros het Biebouw en sy trawante in die tronk gestop en by die regering aanbeveel dat hulle verban word. Die regering het die mag gehad om enkellopende mans wat leeglê in die Kompanjiesdiens terug te neem en weg te stuur. ’n Maand later is drie van die jong mans in die openbaar lyfstraf toegedien. In die Stellenbosse “opgaaf” of sensus van 1708 is Biebouw se naam geskrap met die enkele opmerking “weg”. Biebouw is na alle waarskynlikheid na Batavia gestuur. Volgens een oorlewering het die skip waarop hy was noord van die huidige stad Perth gestrand en het hy sy lewe in wat vandag Australië is onder inboorlinge geslyt.
Biebouw se gebruik van die term “Afrikaner” is vreemd. Teen die begin van die agtiende eeu is dié term net gebruik vir sekere slawe, vryswartes of Khoi-Khois wat in die Kaap gebore is, byvoorbeeld Hottentot Africaaner en Jager Afrikaner. In die verslag van die gebeure op Stellenbosch kom dit vir die eerste keer as naam vir ’n Europeër voor. In Kaapstad het die gebruik van die naam Afrikaners vir gekleurdes wat deels van slawe-afkoms was, voortgeduur en saam daarmee die stigmatisering daarvan veral in Britse kringe. In 1877 het die Cape Times in ’n hoofartikel geskryf: “The name was originally applied to the half-bred offspring of slaves, and even in a word the mark of slavery is detestable.”
Daar is verskillende interpretasies van Biebouw se kreet “Ek is ’n Afrikaner”. F.A. van Jaarsveld dink dat dit histories net so betekenisvol is as De Crèvecœur se beroemde vraag in 1783 oor Amerikaneridentiteit: “What, then, is the American, this new man?” Maar daar is gronde om hierdie interpretasie te betwis. Dit is onwaarskynlik dat die jong Biebouw die soort mens was wat oor ’n nuwe politieke identiteit getob het. Sy vader kon sy eie naam slegs met ’n kruisie teken en was volgens alle verslae brandarm. Voor hy met Hendrik se moeder, ’n Hollandse weeskind, getrou het, was hy in ’n buite-egtelike verbintenis met ’n slavin waaruit ’n dogter gebore is. Verre van ’n etniese nasionalis te wees, was Hendrik Biebouw met sy ongeletterde Duitse vader, Hollandse moeder en swart halfsuster eerder iemand wat oor sy identiteit verward was.
Biebouw het hom self ’n Afrikaner genoem, maar het hy daarmee enigiets meer bedoel as ’n verwysing na die plek waar hy gebore is? Wou hy slegs aandui dat hy ’n boorling van Afrika is? Of wou hy meer doen en aandui dat hy as iemand van Europese afkoms wat in Afrika gebore is met meer respek behandel moet word as wat landdros Starrenburg, ’n Duitser, gedoen het? Historici kan hierdie vrae nie beantwoord nie. Al waaroor hulle kan saamstem, is dat die wanordelike gedrag op daardie Sondag in Stellenbosch simptomaties was van die toenemende wrywing tussen amptenare en burgers in die klein gemeenskappie aan die punt van Afrika.
“Onwettige basters sonder wetlike regte”
Die agtergrond van die voorval op Stellenbosch was die spanning wat tussen die hoë amptenare en burgers opgebou het. Die Kompanjie het van die staanspoor af beveel dat die amptenare nie self vir die mark mag produseer nie, aangesien die burgers andersins nie as boere sou kan oorleef nie. In 1685 het goewerneur Simon van der Stel egter by wyse van uitsondering die plaas Constantia (later Groot Constantia) ontvang en toe hy aftree, het die VOC aan Willem Adriaan, sy seun en opvolger, die plaas Vergelegen aan die voet van die Hottentots-Hollandberge toegeken. Hier het Willem Adriaan vir hom ’n plaas op die skaal van ’n groot adellike landgoed in Europa uitgelê, waar 200 slawe en 60 wit knegte gewerk het. Ander hoë amptenare en die goewerneur se broer het ook plase ontvang. Teen 1705 was ongeveer ’n derde van die bewerkte gebied van die kolonie in die hande van ongeveer twintig Kompanjiesamptenare.
Willem Adriaan van der Stel het planne beraam om vir hom en sy vriende en agente ’n monopolie in die verkope van wyn, vleis, vis en koring te bekom. Die goewerneur het self ’n vyfde van die totale koringoes geproduseer, en saam met familielede al die wyn wat deur die wynpagter benodig is. Sy kudde van 18 000 skape en 1 000 beeste kon al die vleis lewer wat die skepe, hospitaal en Kompanjiepersoneel kon gebruik. Van die amptenare het openlik gespog dat binne drie of vier jaar geen vryburgers meer nodig sou wees nie, aangesien die amptenare alles kon verskaf.
Dit het ’n botsing veroorsaak tussen ’n amptenare-elite en ’n burger-elite, op een vlak aangedryf deur botsende belange. Die leier van die rebelle, Henning Hüsing, was die rykste burger in die kolonie en soos sy vernaamste bondgenoot, Jacob van der Heyden, het hy ’n deel van die vleispag gehad. Daar was gerugte dat die goewerneur die vleishandel vir hom self wil bekom deur Hüsing en Van der Heyden uit te skakel.
Die rebelle se vernaamste woordvoerder was Adam Tas, wat met ’n niggie van Hüsing se vrou getroud was. Terwyl die meeste burgers arm en halfgeletterd was, was Tas ’n man wat in Nederland in die middestand gebore is en daar ’n goeie opvoeding geniet het voordat hy hom aan die Kaap gevestig het. In ’n versoekskrif aan die owerheid in Batavia het hy die Kaapse amptenare van wangedrag beskuldig.
Terwyl Hüsing, Van der Heyden en Tas se eie- of familiebelange op die spel was, was daar burgers wat teen die amptenare in opstand gekom het omdat hulle dit as in die algemene belang beskou het. Jacques de Savoye, ’n bejaarde Hugenoot, het die stryd bestempel as ’n poging om te verhoed dat die Kaap “geruïneer” word. ’n Ander Hugenoot, Guillaume du Toit, het die goewerneur meegedeel dat hy die versoekskrif onderteken het omdat hy deur die welsyn van die hele gemeenskap en sy liefde vir sy mense gemotiveer is. Die helfte van die mense wat geteken het, was Hugenote, wat twintig jaar tevore aangekom het, maar eers deur hierdie stryd ten volle in die burgergemeenskap geïntegreer geraak het.
Die СКАЧАТЬ