Die Afrikaners. Hermann Giliomee
Чтение книги онлайн.

Читать онлайн книгу Die Afrikaners - Hermann Giliomee страница 10

Название: Die Afrikaners

Автор: Hermann Giliomee

Издательство: Ingram

Жанр: Историческая литература

Серия:

isbn: 9780624050759

isbn:

СКАЧАТЬ Heese, bekende genealogiese navorser, het geskat dat 7% van die Afrikanerfamilies in die twintigste eeu ’n nie-Europese stammoeder gehad het. Gedurende die eerste jare was die situasie vloeibaar genoeg vir kinders uit gemengde huwelike om in die Europese gemeenskap aanvaar te word. Daar was twee besondere gevalle. Die een was die slavin Armosyn Claasz, die dogter van ’n slawevrou en ’n man wie se identiteit onbekend was. Sy het in die Kompanjieslosie die lewe geskenk aan kinders van vier verskillende vaders. Party van hulle is beskryf as halfslag, wat beteken dat hul vader wit was. Baie van hierdie kinders en hulle nasate is opgeneem in wat later bekende Afrikanerfamilies geword het, soos Volschenk, Du Plessis, Pretorius, Myburgh en Esterhuyzen.

      Die ander geval het betrekking op die verbintenis tussen Louis van Bengale en Lysbeth van die Kaap, albei nie-Europeërs. Drie dogters is uit hierdie verbintenis gebore en Lysbeth het twee dogters uit ’n ander verhouding met ’n Europeër gehad. Al die kinders het in verhoudings met Europeërs betrokke geraak, óf binne óf buite die huwelik, en die meeste van hul nasate is in die Afrikanergemeenskap van vandag opgeneem. Die families wat op die mees direkte wyse betrokke was, is Brits, Van Deventer, Slabbert, Fischer en Carstens.

      Daar was baie min gevalle van Europese vroue wat met nie-Europeërs getrou het. Die mees opvallende geval was dié van Marguerite de Savoye, ’n dogter van Hugenote-ouers, wat in 1690 met Christoffel Snyman getroud is. Volgens mondelinge oorlewering het hy ’n bestaan gemaak van wingerde snoei. Hy was die seun van Hans Christoffel Snyman, ’n Hollander, en Catrijn van Bengale, wat nie getroud was nie. Die bekende Snyman-familie stam van hulle af. Nog ’n geval was dié van Maria Roos, wat met David Simon Hoon getrou het, die seun van ’n slaaf van Madagaskar en sy vrou, Rachael, wat van Indiese afkoms was. Ander “gekleurde” mans wat tot die “wit” gemeenskap toegetree het, is o.m. die stamvaders van die families Antonissen, Jonker, Jacobs en Serfontein.

      In 1685 het ’n besoekende kommissaris huwelike tussen Europeërs en “heelslag”-slawevroue (dit wil sê mense van “suiwer” Asiatiese of Afrikaoorsprong) verbied. Hy het daarteenoor huwelike tussen Europeërs en “halfslag”-vroue toegelaat met die veronderstelling dat hulle in die Europese samelewing opgeneem sou word. Hierdie wetgewing is egter nooit streng toegepas nie.

      Die Europeërs het nie ’n hegte gemeenskap gevorm nie. Tussen 1657 en 1707 was daar altesame 1 613 vrye volwasse burgers wat op een of ander tyd aan die Kaap vertoef het. Van hulle was ongeveer ’n derde boere en ’n kwart knegte of voormanne. Ryk mense het knegte dikwels in ’n ongunstige lig beskou en soms selfs as gevaarlik. Daar was ’n regulasie wat mense verbied het om ’n kneg teen sy meester aan te hits. Op plase het knegte hul werkgewers as “baas” aangespreek en in buitegeboue gewoon. Daar was ’n paar gevalle waar blanke knegte vir vryswartes gewerk het en soms was daar ook vryswartes wat as knegte beskou is. Dit het besoekers aan Tafelbaai opgeval dat knegte saam met slawe, arm burgers en behoeftige soldate of matrose in kroeë gedrink en kaart gespeel het.

      Die belangrike punt was egter dat ’n Europese kneg heeltemal vry kon word en opgang kon maak. Pieter Visagie en Willem Schalk van der Merwe was albei knegte wat later onafhanklike boere geword het – die stamvaders van bekende Afrikanerfamilies. In die laaste dekades van die sewentiende eeu het Henning Hüsing van die posisie van kneg tot die rykste man in die kolonie gevorder.

      Hierdie gevalle was buitengewoon. Die kneg se posisie is deur die slawe en die Khoi-Khoi-arbeiders in die Wes-Kaap ondermyn. In die agtiende eeu het sommige knegte onderwysers op plase in die binneland geword. Hul status was nederig en hulle is min betaal. Party knegte was gelukkig genoeg om met ’n boer se weduwee te trou, maar die grootste gros was behoeftig en het swaar onder skuld gebuk gegaan. Sommige was van die kerk se aalmoese afhanklik. In Kaapstad het knegte verhoudings met vryswartes of slawevroue gehad, en aan die grens het sommige met Khoi-Khoi-vroue saamgeleef. Die kinders van hierdie verbintenisse is gewoonlik nie in die heersersgroep opgeneem nie.

      In sy beleid teenoor die Kaapse nedersetting het die Kompanjie nie juis idealistiese motiewe gehad nie. Sy hoofdoel was om ’n goeie opbrengs aan sy aandeelhouers te verskaf. Maar die Kompanjie se obsessie met wins het nie beteken dat hy onverskillig gestaan het teenoor sake soos die Hollandse kultuur en die sedelike welsyn van sy onderdane nie. Die Kompanjie het predikante, sieketroosters en onderwysers aangestel en het beveel dat in sowel die kerk as die skool die Gereformeerde geloof en die Hollandse taal onderrig moet word.

      Toe die eerste slawe ingevoer is, het die regering opdrag gegee dat slegs Hollands met hulle gepraat moet word. Slawe kon nie vrygestel word as hulle nie Hollands kon praat of skryf nie. Toe ’n amptenaar ’n woordelys van Khoi-woorde opstel, het die Kompanjie onderneem om dit te publiseer, maar bygevoeg dat dit belangriker is dat die Khoi-Khois die Hollandse taal leer as omgekeerd. Die regering was bekommerd dat die burgers kon ontaard en het dus die predikante ondersteun in hul pogings om die swak kerkbywoning, wat in die eerste eeu so opvallend was, te verbeter. Die aandrang van die kerk dat mense moes kon lees en skryf voordat hulle aangeneem word, was ’n belangrike aansporing vir die burgers om basiese onderrig aan hul kinders te gee.

      ’n Uitbreidende samelewing

      Die laaste dekade van die sewentiende eeu was ’n goue tydperk vir die kleiner boere in die Wes-Kaap. Daar was genoeg onbesette grond vir hulle om te gebruik en hulle kon Khoi-Khois goedkoop as arbeiders gebruik. Die opbrengs op kapitaal van die armer boere was aansienlik hoër as dié van die ryker boere, wat slawearbeid aangewend het.

      In die eerste dekades van die agtiende eeu het sake vir die kleiner boere begin skeef loop. Hulle het hul arbeidsmag verloor toe die Wes-Kaapse Khoi-Khois in die pokke-epidemie van 1713 feitlik uitgewis is. Die kleiner boere kon selde meer as een slaaf bekostig. Die Kaapse mark het klein gebly. ’n Groeiende deel van die bevolking het uit slawe bestaan, met geen of slegs ’n klein kontantinkomste. Toenemend het die groter plase die kleiner plase begin insluk.

      Die deel van die boere wat as welvarend beskou kon word, kon teen 1710 op omtrent 7% van die vrye bevolking gestel word. ’n Groot gedeelte was baie arm. In 1705 is gerapporteer dat twee vyfdes van alle huishoudings geen bates hoegenaamd het nie. Boere het daarop aangedring dat hulle toegelaat moet word om hul vee buite die grense van hulle plase te laat wei. Simon van der Stel het ’n voorgevoel gehad van wat dit sou beteken. Hy merk op dat as die burgers die vryheid gegun sou word om ekstensief met vee te boer, “die hele Afrika nie groot genoeg sou wees om hierdie klas mense te bevredig nie”.

      Die vrees was nie heeltemal ongegrond nie. Die veeboere wat sou wegtrek sou nie dikwels van woonplek verander nie, maar eerder hul seuns uitstuur om nuwe grond te vind. Daar was egter ook die nomadiese trekboere wat bly trek het agter weiveld aan en daarvan ’n lewenswyse gemaak het. Toe ’n veldkornet Kruger, 84 jaar oud, in 1834 aan die walle van die Oranjerivier gevra is hoe ver die mense nog sou trek, was sy antwoord: “Tot hulle by die see kom, soos Abraham, Isak en Jakob voor hulle.” Die persoon wat die vraag gestel het, het opgemerk dat die omstandighede nou heeltemal anders is en wou weer ’n keer weet hoe ver die boere sou trek. Die oubaas het sy hand gelig om ’n ver afstand te beduie en met ’n luide, besliste stem gesê: “Tot die anderkant uit.”

      Teen die 1710’s, toe daar omtrent 400 plase was, het die regering die grootste deel van die vlakte wes van die eerste bergreekse as ten volle beset beskou. Teen 1717 is besluit om alle toekennings van grond in hierdie streek te staak. ’n Klein vrye bevolking was oor ’n groot gebied uitgestrek. In die distrikte Stellenbosch en Drakenstein was daar slegs twee vry mense vir elke 2,6 km. Dit was te min om ’n behoorlike netwerk van paaie te onderhou. Die swak paaie het mense verder ontmoedig om intensiewe landbou te beoefen en produkte na die mark te neem. Van die 1680’s af was die Kaap selfonderhoudend in koring, hoewel net ’n derde van die burgers gesaai het. ’n Oorproduksie van die vernaamste gewasse het ontstaan. Die verskuiwing na veeboerdery wat vroeër begin het, was nou onomkeerbaar.

      Vroeg in die agtiende eeu het die regering alle beheer oor die buiteliggende gebiede laat vaar. In 1703 is die reël dat burgers hul vee nie verder as ’n СКАЧАТЬ